Terwyl die rassespanning op die Vrystaatse Universiteit se kampus
hoog loop, is 'n swart proponent opgewonde oor die beroep wat hy van
die NG Studentekerk in Bloemfontein gekry het.
Prop. Simon (Sigh) Melaletsa is Sondag deur dié gemeente beroep om hul
Sotho-talige bediening te kom behartig.
Hy het sy teologiese opleiding in Bloemfontein gekry en is 'n
gelegitimeerde proponent van die NG Kerk in Afrika. Ds. Christo Louw,
predikant van die Studentekerk, sê hulle wil 'n multikulturele
gemeente wees.
Daarom het hulle naas hul Afrikaanse bediening ook 'n Engelse en 'n
Sotho-bediening.
Louw sê elke taalgroep word in sy eie taal bedien, maar daar is ook
gesamentlike lofprysings- en ander dienste.
Daarby is daar een kerkraad en gesamentlike komitees waarop al die
studente dien. Louw sê hulle ervaar geen rassespanning in die gemeente
nie. Die gemeente is opgewonde oor Melaletsa se koms.
Melaletsa, wat al as student by dié gemeente betrokke geraak het, sê
hy het gebid vir so 'n beroep.
Kerke fokus volgens Melaletsa soms op wat mense wil hê. Hy dink dis
belangrik om te fokus op wat God wil hê. - Neels Jackson
Gesien en gehoor van die varksige video wat Afrikaanssprekende Kovsie
studente gemaak het?
Gesien en gehoor wat Afrikaansprekendes in Lady Selbourne met die vensters
gedoen het en hulle bromfietse?
Gesien en gehoor wat daardie Afrikaanssprekende man in die toilet in
Bloemfontein gedoen het?
Dis wat mense met julle houding bereik!!!!
Dis julle skuld dat Afrikaners steeds as skuim beskou word!!!
Dis julle en julle rassisme wat grotendeels die skuld moet kry oor die
wanopvatting wat in die wêreld oor wit Afrikaanssprekendes bestaan!!!
En ek hou julle en julle haat teen swartes verantwoordelik vir elke
plaasaanval waarin bejaarde wit Afrikaanssprekendes wreed aangeval en
vermoor word!!!
Julle wil nie vrede maak nie!!!
Julle wil nie swartmense as mense soos ek en jy erken nie!!!
Julle gun hulle nie hulle hul regmatige plek onder die son in hulle eie land
nie!!!
Dis julle en julle haat wat die vlam van wraak aan die brand hou!!!
Kovsies: Joernalis in eetplek aangerand
Mar 01 2008 01:21:23:513AM - (SA)
Llewellyn Prince
Kaapstad. - 'n Joernalis van die Engelstalige gesinstydskrif Drum is
in 'n vermoedelik rassistiese voorval in Bloemfontein deur 'n
"frisgeboude, wit man" in 'n restaurant aangerand terwyl hy oor die
rasse-herrie by die Universiteit van die Vrystaat (UV) wou verslag
doen.
Elmari Rautenbach, Drum se adjunk-redakteur, het gister in 'n
verklaring gesê Themba Makamo, wat Donderdag 26 geword het, het
dieselfde oggend saam met Lucia Swart, 'n joernalis by Drum se
sustertydskrif, Huisgenoot, van hul Johannesburg-kantoor na
Bloemfontein gereis.
Volgens Rautenbach sou die twee joernaliste vir hul onderskeie
tydskrifte verslag doen oor die rasse-woelinge rondom die omstrede
video van die Reitz-koshuis op die kampus van die UV.
Hulle is vergesel deur die fotograaf Papi Morake.
Volgens Rautenbach het die voorval kort voor middernag in die Café on
Second Avenue, van mev. Irna en mnr. Theunis Nortjé, plaasgevind.
" 'n Frisgeboude wit man, wat volgens teenwoordiges nie 'n student is
nie, het Makamo by sy tafel aangespreek en hom later na die badkamer
gevolg.
"In die badkamer het hy Makamo met die kop geslaan, geskop en met die
vuis in die gesig geslaan nadat die aanvaller ander mans in die
badkamer gevra het of hulle van k*****s hou."
Rautenbach het gesê Makamo het 'n klag van aanranding by 'n nabygeleë
polisiekantoor ingedien en is later na 'n hospitaal geneem waar hy
steke ontvang het. Volgens haar het die eienaars van dié uithangplek
hul spyt oor die voorval uitgespreek en bygevoeg dat dit altyd hul
beleid is en was om bakleiers en enigiemand wat rassistiese
aanmerkings in hul restaurant maak, uit te jaag.
Die Nortjés werk tans saam met die polisie om die identiteit van die
vermeende aanvaller vas te stel.
Makamo het ná die voorval gesê dit is nie die verjaarsdaggeskenk
waarvoor hy gewens het nie. "Ons is gewaarsku oor die geweld naby die
kampus, maar ek het nie dit verwag nie." Hy is sedert middel verlede
jaar 'n joernalis by Drum.
Rautenbach het gesê Drum veroordeel die voorval en "glo dat daar geen
plek vir sulke rassistiese gedrag is nie".
Vensters gebreek om inwoners uit te dryf
Mar 01 2008 01:20:37:997AM - (SA)
Virginia Keppler
"Ons gaan al die k*****s se vensters breek," het 'n groep mense
eergister om middernag geskreeu toe hulle sewe huise in die noordweste
van Pretoria se vensters stukkend gegooi het.
Mnr. Sipho Ntandane (45) van die woonbuurt Lady Selbourne, wie se
vensters ook in die slag gebly het, het gister gesê hul aanvallers het
in 'n paar motors daar opgedaag en inwoners uitgejou terwyl hulle die
vensters stukkend geslaan het.
Ntandane beweer 'n klein groepie jong mense van Suiderberg en Mountain
View, wat aan Lady Selbourne grens, wat nie hul (swart inwoners se)
teenwoordigheid in die woonbuurt goedkeur nie, is vir die aanval
verantwoordelik.
Lady Selbourne was sowat 44 jaar gelede 'n buurt waar swart mense,
bruin mense en Asiate saam gewoon het.
Nadat die Groepsgebiedewet ingestel is, is die mense na onder meer
Mamelodi en Eersterust verskuif.
Lady Selbourne was destyds die enigste woongebied in Pretoria waar
sogenaamde nie-blankes volle eiendomsreg gehad het. Dié gebied is in
1984 as 'n woongebied vir wit mense geproklameer maar ná 1994 het die
oorspronklike grondeienaars en hul nasate grondeise in Lady Selbourne
aanhangig gemaak.
In 2005 het die Tshwane-metroraad bouplanne oorhandig aan dié mense
wat in hul eise geslaag het. Van die 105 grondeise wat in dié gebied
ingestel is, is 102 afgehandel en die eiendomme is aan die nuwe
eienaars oorgedra.
Ntandane het gesê mense uit die aangrensende woonbuurte het voorheen
ook hul vullis in Lady Selbourne kom weggooi. "Kinders kom jaag ook
Sondae met hul kwadmotorfietse in ons strate.
"Die vullisstorting is byna heeltemal gestop, maar die kinders met hul
kwadfietse is nog hier. Elke Sondag moet ons eers die polisie bel
voordat hulle wegjaag."
Mnr. Tim Robertson van die Hercules-sektorpolisieforum, het die
voorval veroordeel en gesê hulle is baie teleurgesteld in die jong
mense se optrede.
"Ons werk hard saam met die inwoners van Suiderberg, Lady Selbourne en
Mountain View om die gemeenskappe veilig te hou en ons sal nie dié
soort optrede duld nie.
"Ons gaan nou met die polisie saamwerk om meer sigbaar te wees in Lady
Selbourne. Almal moet leer om saam met mekaar te leef. Dié mense gaan
nêrens nie," het Robertson gesê.
Kapt. Fana Khumalo, polisiewoordvoerder, het verskeie sake van
opsetlike saakbeskadiging bevestig.
Kanselier se seun verbind met Dr Death
Adriaan Basson
DIE KANSELIER se seun word geïmpliseer in die hofsaak teen dr Wouter
Basson, leier van die vorige regering se chemiese-en-biologiese
oorlogsprojek.
Dr Frederik Botha, seun van die kanselier, prof Elize Botha, en
broerskind van voormalige minister Pik Botha, se naam verskyn minstens
elf keer in die klagstaat van 250 bladsye.
Die staat se saak teen Basson, ook bekend as "Dr Death", het reeds
verlede Oktober begin. Basson ontken skuld op al 61 aanklagte teen
hom. Dié aanklagte sluit in moord, bedrog en dwelmverwante
bedrywighede.
As voormalige mediese koördineerder van die Burgerlike
Samewerkingsburo (BSB) het Botha, 'n patoloog, glo onder die name
"Koos" en "Frans" opgetree. Hy het na bewering in 1989 die middel
digoksien aan 'n mede BSB-lid, mnr Slang van Zyl, beskikbaar gestel om
mnr Dullah Omar, tans Minister van Vervoer, te vermoor.
Botha word ook betrek by 'n opspraakwekkende voorval in 1989, toe 'n
aapfetus aan 'n boom by die huis van aartsbiskop Desmond Tutu opgehang
is. Botha het glo die fetus verskaf. Basson se hofsaak duur steeds
voort in die Pretoriase Hoër Hof.
Teen gister se tyd het ek al besef dat die "walgvideo" uit
Bloemfontein besig is om internasionaal te versprei. Maar
toe my dogter gisteraand vir my op die foon vra of ek die
video al gesien het, toe val ek byna van die stoel af. Want
dis gedurende die week en sy is een van die soort
onderwyseresse wat eers teen ses of sewe uur in die aand
by die huis kom en dan so moeg is dat sy nie tyd het vir
televisie kyk nie. Dus moes iemand by die skool al vir
haar daarop attent gemaak het, neem ek aan.
Die video het nou 'n lewe van sy eie, neem ek aan.
Mense wat dit nie gesien het nie, het opinies daaroor. Ek
vrees dat mense my hier in ons gebou in die gange gaan
stop en begin praat daaroor. Ek vrees dit gaan soos in die
ou dae wees, toe mense my hier in Noord-Amerika aangeval
het "oor wat in SA aangaan" sonder om eers te probeer
agterkom wat my agtergrond werklik is. Ek dink die joggies
daar in die koshuise van Bloemfontein het die wêreld weer
aan die praat oor die "slegte Afrikaners." Hulle het miskien
soveel skade aan die goeie naam van die Afrikaners
aangerig as daardie jong Afrikaners in die kaspirs op die
strate van Soweto.
Daar was 'n tyd toe mens jou kop hoog kon hou
as jy vir mense vertel jy is 'n Afrikaner. Die wêreld het
Afrikaners geassosieer met Jan Smuts, wat 'n geweldige
rol gespeel het in die jare na die Tweede Wêreldoorlog.
Ek is oud genoeg om van daardie tye te weet. Toe kom
die sestiger en die sewentiger en die tagtigerjare en
mens was soms so moedeloos, dat jy gevoel het jy moet
liewer jou Afrikanerskap wegsteek. Gelukkig kom daar
toe 1994 en kon mens weer jou kop hooghou. Maar
nou lyk dit vir my mens sal weer moet begin koes.
Beeld-deurloop: Wat loop ná apartheid in Bloem skeef?
Feb 28 2008 09:55:48:100PM - (SA)
Charles Smith
Presies 20 jaar terug is ek so byna uit 'n koshuis op die kampus van
die Vrystaatse Universiteit geskop omdat daar 'n bruin meisie in ons
kamer was.
Helder oordag. Sy het by ons koffie gedrink.
Dit is ironies dat die studente in Huis Abraham Fischer vandeesweek
die plek aan die brand wou steek omdat hulle probleme het met die
administrasie se integrasiebeleid.
Praat het in die Nuwe Suid-Afrika sy AWB gesien.
Die koshuisvader wat my aangespreek het oor my sonde is toevallig nou
hoof van die universiteit se integrasieprogram. 'n Program van
"rugbykoshuise" en "sokkerkoshuise'' is tot onlangs gevolg.
In my tyd - in die jaar van P.W. 1988 - was dit nog 'n wit
universiteit. Jammer - 'n Afrikaanse universiteit. Bruin
Afrikaanssprekendes was welkom - net nie in wit mans se kamers nie.
Natuurlik is die wit meisie met die koffiebeker in die hand misgekyk.
Ons het so bietjie van ons eie koshuis in die groter koshuis gehad.
Die meeste studente het in Abraham Fischer-koshuis gebly (genoem
Vishuis). Ek en Delarey Wagener het in "Bram Fischer-koshuis'' gebly
(vir diegene wat hul geskiedenis ken). As 'n grap, sien.
Maar in die jaar van onse P.W. van '88 het jy nie sulke grappies
gemaak nie. Jy het ook nie gepraat oor dinge soos die End Conscription
Campaign nie (al was ek klaar deur P.W. & Seuns). Die kadette het nie
van sulke opstokery gehou nie.
Een van die soort ouens wat die video's gemaak het, het ook nie
daarvan gehou dat 'n bruin meisie in ons kamer was nie.
Ons deur was oop. Daar hardloop hulle toe na die prof en word ons
aangetree.
Ek moes toe die woorde aanhoor: "Ek kan dit nog verstaan as daar
meisies in jou kamer was, maar hoekom 'n BRUIN meisie? Wat sal jou pa
hiervan sê?!" My pa was toe 'n NP-LP.
Ons was nie modelstudente nie, maar ons het nie brande gestig voor die
koshuis nie. Ek dink die UV-bestuur - en elke universiteit in die land
- moet hare op hul tande hê om al die opstande, brandstigting, getoi-
toi, aaklige video's en druk van die regering te hanteer.
Die prof destyds het seker net sy joppie gedoen. Ek is seker sy kop
sou gerol het as dit bekend geword het dat 'n bruin meisie in een van
sy koshuise was.
'n Sekere tweede-in-bevel van die huidige polisiediens wat toe 'n
staatsleer-dosent aan die UV was, het in 'n klas woedend teen die ANC
te kere gegaan. 'n Jaar of twee later is die ANC ontperk en raai wie
kry 'n senior possie in die SAPD? Die einste.
Die UV is 'n barometer van Suid-Afrika. Dat swart en wit mekaar uit
koshuisforte aangluur, is skrikwekkend.
Maar dit is nie net studente se skuld nie. Die land beleef 'n ernstige
leierskrisis. Mense moor, kaap, verkrag, plunder - en niks gebeur nie.
Dan kry jy sulke waansinnige gedrag soos in die video.
Twintig jaar terug het wit studente aan die UV - inwoners van die
einste Vishuis - naweke in townships gaan bly.
Wat het ná apartheid skeefgeloop?
My pa het my al op skool geleer om respek vir alle mense te hê. Dit is
die les wat te veel mense in Suid-Afrika nou nie meer kry nie.
) Charles Smith is Media24 se verteenwoordiger in Washington, DC.
Die waarheid blootgelê maak bitter seer
Feb 29 2008 11:28:55:360AM - (SA)
Louise Luttig
Ná dae van lees oor die sogenaamde walgvideo, waaroor ook hier in Nieu-
Seeland berig word, en nadat die ouers van die studente dit afgemaak
het as studentepret, het ek gaan kyk waaroor die video uiteindelik
gaan.
Ek skaam my. Regtig. My arme, arme alma mater.
Maar die gevoelens wat in my wakker gemaak word, is meer as een van
skaamte.
Iewers, iewers het dinge verskriklik skeefgeloop as jong mansstudente
na al die jare van post-1990 - en selfs vooraf - reken hulle kan so
omgaan met ander mense, en spesifiek dan ook mense van kleur, en van
'n ander geslag.
Swart vrouens.
Op hulle kniee.
Kos opgedwing soos vir 'n dier.
Ingesleep by 'n sogenaamde spel van onderdanigheid en sinspeling op
seksuele aspekte.
Deur jong mans, sowat vier jaar ouer as my oudste kind.
Die rouigheid daarvan wil nie weggaan nie, dit druk swaar op my. Ook
die implikasies vir die Afrikaneragtergrond waarop ek steeds trots
hier waar ek bly in Nieu-Seeland. Ons is mos goed grootgemaak.
Of is ons?
En skielik wonder ek, wie is ons, dan nou regtig. Afrikaners. Want
eenders in uitkyk is ons as groep - net omdat ons Afrikaans praat -
duidelik nie.
Is dit waarvoor vrouens en kinders gesterf het in die groot oorlog 'n
honderd jaar gelede - vir slegte maniere, en disrespek teenoor ander?
Is dit waarvoor jong mans dood is op die grens destyds - sodat ons
mense op hulle knieë kan dwing en verneder?
Is dit hoekom Afrikaanssprekendes al die jare die grond bewerk het, en
gebou het aan die land, waarvoor mense soos Anton Rupert en Elise
Botha, om maar enkeles te noem, 'n Afrikanersskat opgebou het en
Afrikaanse instellings gevestig het, sodat jong Afrikaners,
bevóórregte jong Afrikaners, steeds nie kan opgroei met 'n besef dat
elke mens 'n mens is nie.
Selfs in die donkerste dae van apartheid, was die algemene verhouding
tussen mense van kleur en my mense meestal een van begrip en respek.
Ten spyte van ons verlede. Ten spyte van die optrede van sommige, sou
die optrede van baie 'n verskil maak.
Of so wou ek tot onlangs nog glo.
Hoekom weet so baie jong mense, post apartheid en al, dit nog steeds
nie. 'n Mens is 'n mens is 'n mens, as dink hy nie soos jy nie, al
doen hy nie soos jy nie, al praat en lyk hy nie soos jy nie.
Jy hoef nie met hom saam te stem of selfs van hom te hou nie.
Maar hy bly steeds 'n mens.
Daar was natuurlik uitsonderings, meestal polities, a la Jimmy Kruger:
Dit laat my koud. En Eugene du Kock se gewraakte braai van 'n lyk, of
was dit nou Dirk Coetzee? "The horror, the horror..."
Maar dit was oorlog, kon 'n mens sê, en in oorlog vervaag die grense
tussen dit wat reg en verkeerd is. Maar dit was oorlog, kon mens sê,
en in oorlog vervaag die grense tussen dit wat reg en verkeerd is.
Maar daar was ook die aanranding van 'n swart voetganger deur standerd
nege seuns aan my skool destyds - waarvoor hulle geskors is, as ek reg
onthou, en met 'n misdaadrekord opgeeindig het.
Daar was vele, vele berigte van die mishandeling van aangehoudenes,
die verdwyning van aktiviste, en later die vele stories van die
Waarheids en Versoeningskommissie wat mens, as jy dit nie meer kon
hanteer nie, kon beskou as ongetoetste getuienis.
Maar in die eeu van die televisie oog, van Facebook en Youtube, van
openbaarmaking van die kleinste, intiemste detail, word ek skielik
gekonfronteer met 'n waarheid oor my Afrikanerskap en identiteitsoeke
waarvan ek nie hou nie.
Daar is 'n donker, donker smet op die Afrikaner, en ek voel om te vlug
daarvan.
Die vraag is of ek kan. Twee vriendinne wat hier in Nieu-Seeland
skoolhou vertel nou die dag van die rassisme by Afrikaanse kinders
hier wat hulle verslae laat. Uitgesproke, rou rassisme, van kinders
wat miskien al twee, drie jaar of langer uit Suid-Afrika is, en dit
saamgebring het in hulle bagasie. 'n Erfenis van hul ouers en hul
samelewing wat hulle hier, sonder enige voorbehoud, luidkeels
verkondig: We don't like K**s, miss."
En vir 'n Kiwi meisie met 'n Indiese vriend - "Can't you get a white
boyfriend?"
Dis om van te ween.
Waar kom hierdie geslag vandaan, post-1990, om soos 'n siekte oor die
wereld te versprei?
Waar is hulle ouers, wat moet toesien dat hulle van kleins af weet wat
is reg en wat verkeerd?
En waarom wonder ek deesdae of ek iets het om trots te wees oor my
erfenis?
NS. Na werk ry ek by 'n koffiekroeg aan vir 'n koffie. Hulle is toe,
die koffiemasjien skoongemaak, alles weggepak vir die dag.
Maar die man agter die toonbank hoor my aksent. "You Afrikaans?" sê
hy. Ja, sê ek, en jy? "I'm Yugoslavian", sê hy, "but my girlfriend is
South African. From Pretoria." En net daar maak Ilya van Joego-Slawië
vir my koffie, gratis, net omdat ek Afrikaans praat. En skielik is my
dag sommer beter.