Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Oppergesag van die reg

Ma., 02 Junie 2008 09:32

Regter Hlophe se geregtelike doodsvonnis
Jun 01 2008 08:47:00:410PM - (SA)

Philip de Bruin

Die Regterlike Dienstekommissie (RDK) gaan waarskynlik 'n spoedsitting
belê om 'n klag van inmenging in die Zuma-Thint-saak in die
konstitusionele hof teen regter-president John Hlophe van Kaapstad te
oorweeg.

Die klag dat Hlophe regters van die konstitusionele hof "onbehoorlik"
probeer beïnvloed het in verband met hul nog ongelewerde uitspraak oor
beslagleggings op dokumente in verband met die Zuma- Thint-saak is
gister beskryf as "regter Hlophe se geregtelike doodsvonnis".

Mnr. Jacob Zuma, president van die ANC, het gister by navraag gesê hy
wil nie by die bewerings teen Hlophe betrokke raak nie.

"In die omstandighede dink ek nie dit lê op my weg om kommentaar
daarop te lewer of my hoegenaamd uit te laat oor die verdere hantering
van die saak nie," het hy gesê.

Die volgende geskeduleerde vergadering van die RDK is in Oktober, maar
'n aankondiging oor 'n spoedsitting word vandag verwag, het die
sekretaris van die RDK, me. Vuyelwa Masanghwane, gister bevestig.

"Die RDK beskou die situasie as baie, baie ernstig en sal waarskynlik
'n spoedsitting hou," het sy gesê.

Hoofregter Pius Langa, wat ook voorsitter van die RDK is, het gister
gesê dat 'n finale besluit oor 'n spoedsitting nog nie geneem is nie.

Op 'n vraag of hy hom as voorsitter van die RDK aan enige ondersoek
teen Hlophe gaan onttrek omdat die klag teen Hlophe ingedien is deur
regters onder sy beheer in die konstitusionele hof, het Langa gesê "jy
moet maar daaroor bespiegel".

Hlophe het sedert Saterdag nie sy selfoon beantwoord nie en het ook
nie gereageer op boodskappe wat gelaat is waarin hy om kommentaar
gevra is nie. Die naweek is berig dat hy alle bewerings van
"onbehoorlike inmenging by regters van die konstitusionele hof" in die
Zuma-Thint-geding ontken.

Die nuus van die klag teen Hlophe het gister nog skokgolwe oor die
land heen veroorsaak.

Mnr. Jan van Rensburg, president van die Prokureursorde van die
Noordelike Provinsies, het gesê as die bewerings teen Hlophe "enigsins
meriete" het, "mag regter Hlophe nie weer as regter optree nie".

"In die lig van die baie hoë profiel van die mense betrokke en die
ernstige implikasies van die bewerings behoort die RDK dringend te
vergader. Die een vraag wat by almal opkom, is wat presies gebeur het
en wat presies die bewerings teen regter Hlophe is. Dit behoort in die
belang van die regspleging so gou moontlik bekend gemaak te word."

Ook mnr. Koos van der Merwe, IVP-LP en een van die mees senior lede
van die RDK, het gesê die RDK moet dringend byeenkom, "want die hele
land is in rep en roer".

Hy en die nege ander politici wat lede van die RDK is, mag nie
teenwoordig wees wanneer die RDK oor Hlophe sit nie.

"Iets verskriklik ernstigs moes die regters van die konstitusionele
hof ontstel het, want met die bekendmaking van hul klag het hulle die
geregtelike doodsvonnis oor regter Hlophe uitgespreek."

Adv. Jannie Eksteen, SC, voorsitter van die Algemene Balieraad van
Suid-Afrika, het gister ook beklemtoon dat 'n verhoor deur die RDK
"spoedeisend" is.

"Intussen lyk dit regtens korrek dat regter Hlophe eerde...

Nuus | 0 kommentare

SêGoed van Mathews Phosa

Vr., 30 Mei 2008 18:55

Mathews Phosa (1952— )

SêGoed van
Mathews Phosa:

“Dit bly vir my ironies en pynlik ongemaklik dat ek selfs in die
moeilikste dae in Afrikaans gedig het, en diepste, diepste pyn daarin
verwoord het.”

”Poësie is ’n manier om deur ideologiese versperrings te breek en
harte te bevry.”

“Ek skryf, in Antjie Krog se taal, sonder fênsie leestekens. Ek wil
soos, Van Wyk Louw, my siel sonder naakte skrome in alle eenvoud voor
julle oopmaak. Ek is nie ’n handboekdigter nie. My taal kom nie uit
woordeboeke of belese konferensies nie. My taal is Afrikaans, die taal
wat baie tale is, die taal wat plek het vir Opperman, en vir Phosa. Ek
het, in Fagan se woorde, ’n huis in Afrikaans.”

“Ons kan nooit genoeg doen vir versoening in hierdie land nie en ons
mag dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit is nodig dat ons
besef ons is een volk, al praat ons verskillende tale.”

“Afrikaans is my vrou, my minnares, my prostituut. Hierdie Afrika-taal
is ’n mooi ding wat ek wil omhels en vertroetel.”

“My aunt was die digter van die familie. Sy was ’n role model. Sy’t
niks neergeskryf nie, en ek is spyt ek het haar nooit op band gekry
nie. Sy was ’n natuurlike digter. By bruilofte en sulke funksies was
sy altyd daar. Deel van die kultuur.”

“Ek en baie van my mede-struggle-vennote sal toi-toi as Afrikaans
verneder óf benadeel word.”

Gebore en getoë

Nakedi Mathews Phosa is op 1 September 1952 in Mbombela, ’n township
buite Nelspruit in Mpumalanga, gebore as een van ses kinders. Sy ma-
hulle stuur hom as jong kind na Potgietersrus om sy oupa se “walking
stick” te word en ’n deeglike opvoeding in die plattelandse lewe te
kry. Sy pa, Paul, was ’n onderwyser wat daarop aangedring het dat daar
geen snobisme by sy kinders mag wees nie. Hy was ook deeltydse boer en
skrynwerker. Sy ma, Reshoketjoe, was ’n verpleegster. Die gesin was
getroue lede van die Lutherse Kerk en veral sy ma het ’n groot invloed
op sy politieke loopbaan gehad.

In 1966 slaag hy standerd ses aan die Tshaerane Primêre Skool in
Carlsruhe in die Potgietersrus-distrik. Hy voltooi sy skoolloopbaan in
Acornhoek naby Bosbokrand aan die Hoërskool Maripi. Hier is tagtig
persent van sy studies in Afrikaans en hy slaag sy Landbouwetenskap
met onderskeiding en met die hoogste punte in Suid-Afrika en Namibië.
Sy onderwyser, mnr Marais, speel ’n groot rol in die jong Mathews se
lewe, veral wat sy gevoel teenoor Afrikaans betref. As sestienjarige
skryf hy sy eerste gedig in sy moedertaal, Pedi, en word dit in die
skooljaarblad gepubliseer.

In 1970, toe hy in standerd nege is, neem Mathews die eerste keer aan
’n protesoptog deel. Die Afrikaanse skoolhoof het gereël dat die
skoolkoor twee maal moet optree – een maal voor die wit ouers en een
maal voor die swart ouers, sonder dat daar enige wit kinders in die
skool is. Die hele program misluk, aangesien ’n klomp lede van die
koor wegbly en op die betrokke aand met plakkate teen die program
betoog.

Verdere studie en werk

Na matriek gaan studeer Mathews B Proc aan die Universiteit van die
Noorde, waar hy in 1975 as prokureur kwalifiseer. Hy skryf in vir sy
LLB-graad en in 1977 slaag hy dit met ’n onderskeiding in Handelsreg.
Hy voltooi sy leerlingkontrak met welslae en in 1981 open hy sy eie
regspraktyk in Nelspruit (die eerste swart prokureursfirma in
Nelspruit), waar hy tot vandag nog gesetel is. In 1977 trou hy met
Pinky, ’n maatskaplike werkster.

In 1985 word Mathews geforseer om in ballingskap te gaan as gevolg van
moorddreigemente teen hom weens sy betrokkenheid by die ANC en MK. Hy
ontvang sy militêre opleiding in die destydse Oos-Duitsland. In 1986
keer hy terug na Suidelike Afrika as bevelvoerder van MK in Mosambiek,
waarvandaan operasies in die Oos-Transvaal beheer is. In Mosambiek kom
sy kennis van Afrikaans goed te pas deurdat hy Afrikaans aan
inligtings- en veiligheidsoffisiere van Frelimo moes leer. Hulle
gebruik handboeke wat by Van Schaik Boekwinkel in Pretoria gekoop is
en na Mosambiek gesmokkel is. Gedurende dié tyd het hy sy vrou, Pinky,
en hul oudste kind net drie weke gesien. Daarna is nog twee kinders
gebore. In 2005 was Pinky die een wat in die politiek gestaan het as
speaker van Mpumalanga se Wetgewer.

In 1990 word Mathews aangewys as ’n permanente lid van die ANC se
onderhandelingspanne tydens die Groote Schuur- en Pretoria-minuut,
sowel as die Kodesa-werkgroepe. Na die eerste demokratiese verkiesing
in 1994 in Suid-Afrika word hy aangewys as die premier van Mpumalanga,
’n posisie wat hy beklee tot April 1999 toe hy as premier vervang is.
Hy bly wel aan as ANC-LP. In Julie 1999 verlaat hy die Parlement vir
die private sektor. In Desember 2007 keer hy terug na die politieke
arena met sy aanstelling as tesourier-generaal van die ANC,

In 1994 word Mathews Phosa as Internasionale Man van die Jaar
genomineer deur Cambridge (UK) Biographical Studies en in 1995 ontvang
hy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Boston in Amerika.

Hierdie voormalige bokser en karateka skryf al gedigte vandat hy
sewentien is en sy gedigte verskyn in publikasies soos New Classic,
Staffrider, San Francisco Chronicle, Ophir en Standpunte. In 1996
verskyn sy eerste digbundel met die titel Deur die oog van ’n naald,
’n bundel waarin versoening een van die deurlopende temas is. Baie van
die gedigte is geskryf terwyl hy in sy ampsmotor op pad was – soms
sommer agterop sigaretdosies. Mathews raak skoon liries oor die
invloed wat Afrikaans op hom het. “Dit is die taal waarin ek geleer
het van die geskiedenis, die land en die berge en die riviere van die
wêreld.” Afrikaans is vir hom soos ’n tweede moedertaal.

In 1997 ontvang Mathews ’n oorkonde van die ATKV vir die merkwaardige
bydrae wat sy bundel gelewer het tot versoening in die nuwe Suid-
Afrika. In 2005 word hy deur die ATKV aangewys as Afrikoon. Hy word
ook in 1997 genooi om van sy poësie te gaan voorlees by ’n kultuurfees
in Nederland en Brussels. Hy word ook gevra om die Antwerpse
Boekebeurs in 1997 te open. Dit is die grootste boekemark in die Lae
Lande en in dié jaar was Suid-Afrika die hooftema. Hy word na Praag
genooi om van sy gedigte daar te gaan voorlees en is verstom oor die
feit dat daar Pole is wat Afrikaans verstaan.

Phosa senior vennoot van sy prokureursfirma in Nelspruit en beywer hy
hom al meer vir die kunste. Tydens die Ukkasie Kunstefees in Londen in
2001 ontvang hy ’n eerbewys vir sy Afrikaanse poësie en vanaf 2004 is
hy voorsitter van die Feesdireksie van die InnieBos Kunstefees wat
jaarliks in Nelspruit gehou word. In 2001 is sy bundelDeur die oog van
’n naald verwerk tot verhoogstuk wat by die KKNK op die planke gebring
is. Die poësie en opstelle in die bundel word vervleg met
gemoderniseerde Afrikaanse volksmusiek.

Na ’n termyn as visepresident van die Afrikaanse Handelsinstituut word
Phosa in 2005 as president aangewys. Hy is ook die president van die
Kamer van Handel en Nywerheid van Suid-Afrika (Kamsa). Hy word ook
aangestel as derde beskermheer van Beeld se Kinderfonds saam met Kobus
Wiese en Carike Keuzenkamp. Intussen skryf hy volstoom voort aan sy
gedigte – in Afrikaans – en hoop hy om ’n tweede bundel Afrikaanse
gedigte te publiseer. Hierdie verse is nie meer struggle-verse nie,
maar lewer kommentaar op ons nuwe samelewing.

In 2006 is Phosa se aanstelling as besoekende professor aan die
Universiteit van die Vrystaat vir drie jaar goedgekeur. Hy sal nou
betrokke wees by die opleiding van die UV-Bestuurskool se MBA-
studente.

In 2006 lewer Phosa ’n toespraak oor Afrikaans tydens die
bekendstelling van die voltooiingsfase van die WAT. In November 2007
is hy, saam met die premier van die Vrystaat, die hoofspreker tydens
die beraad wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
gereël het om te besin oor die toekoms van die Nasionale Afrikaanse
Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein.

Koeitjies & kalfies | 2 kommentare

Uit Litnet - Xenophobia-oplossings a la OZ

Vr., 30 Mei 2008 18:24

Xenophobia-oplossings ala OZ
Francois Williams

My Ozzie-vriend, Doug, wat klasgee hier in 'n Internasionale Skool, sê
die manier wat die OZ-regering sogenaamde vlugtelinge hanteer is baie
eenvoudig ...
Eerstens word almal deur die bank in kampe aangehou ... vir 'n baie
lang tyd ... dis nou om hul aan te moedig om gatvol te raak en dan
self terug te gaan ... As dit nie werk nie, dan word die meeste in elk
geval ge-re-patrieer. As daar wel diegene is met grondige redes vir
asiel dan word hulle uitgestuur na naburige eilande ... hy het bv die
eiland Nauru genoem. In ruil vir OZ finansiële bystand word hierdie
klein eilandjies dan ge-pressurize om die vlugtelinge te absorbeer ...
slinks né!

Miskien met die SA regering dan maar soos in OZ maak, en plekke soos
die VSA met sy Guantanamo bv ... en ons vlugtelinge dan eers aanhou,
sé maar op Robbeneiland ... dalk vir so 27 jaar lank ... as daar dan
nog nie genoeg mense is wat besluit het om terug te gaan nie, dan kan
die oorblywendes weldra aangestuur word na Marion-eiland toe of so ...
ek glo dit sal die truuk doen, want die wat dit oorleef - bygesê - sal
blitsig terugskuif Zim of waarnatoe ookal. Ek is seker die regering
kan selfs 'n paar Bybel-versies bygooi, net om alles te regverdig. Ek
meen, as die NP dit kon regkry met Apartheid dan kan die haas seker
weer uit die hoed geruk word ...

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

opper en opper en opper

Vr., 30 Mei 2008 11:17

petrol gaan volgende week styg met 50c en diesel met 71c.

Wiele | 0 kommentare

" Seekoevlei " deur N.P. van Wyk LOUW

Vr., 30 Mei 2008 01:46

SEEKOEVLEI
N.P. van Wyk Louw

Die swart bleshoenders dryf verby
agter die skraal wit riet
en die hele grys vleilandskap word
vol ou verdriet

ek staan weer by ‘n wit poel
waar ‘n wintermiddag sneeu
en ek is klein en hoor verskrik
‘n jakkals uit die rante skreeu

Prosa & poësie | 0 kommentare

die blêddie apartheidsvarke..!

Do., 29 Mei 2008 09:29

'Onderdrukkers van swartes agter geweld'
May 28 2008 08:18:35:913PM - (SA)

'n Jong vrou se skadu val gister op 'n onderstebo vlag van die
Ivoorkus in 'n optog in Durban ter bekendstelling van 'n veldtog teen
xenofobie deur die KwaZulu-Natalse regering. Die mense wat dié vlag
gedra het, het nie geweet watter land s'n dit is nie. Foto: Dries
Liebenberg
Click here to find out more!
Verwante Berigte
# Gesloer keer glo dat krisissentrum help
# Dalk 14 kampe vir dié wat onder geweld ly
# 'Vergoed ons arme burgers!'
# Eetstaking 'totdat VN tot redding kom'
# 'Sien toeriste in 2010 as beleggers'
# SA se mense dalk in gevaar in Kenia
Dries Liebenberg

drieslb@worldonline. co.za

Durban. - Dit is die onderdrukkers van swart mense wat agter die vlaag
van geweld teen buitelanders in Suid-Afrika sit.

Só het premier S'bu Ndebele van KwaZulu-Natal gister aangevoer toe hy
'n veldtog bekend gestel het om Afrika se diversiteit te vier.

“Dit is die onderdrukkers wat vir mense wysmaak dat Mosambiekers ons
vyande is,” het Ndebele by die bekendstelling van die Love for
Africa-veldtog gesê.

“Sê vir hierdie mense wat deur ons onderdukkers gestuur is, hulle kan
ons net onderdruk as ons verdeeld is,” het hy voorts gesê.

Ndebele wou weet waarom net swart mense van Afrika-state in die vlaag
van geweld en intimidasie as buitelanders gebrandmerk word. “Niemand
hier sê dat 'n wit Engelsman, Duitser of Portugees 'n buitelander is
nie.

“Niemand het ooit gesê dat dit maklik gaan wees om demokrasie in die
Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap te vestig nie. Ons vyande
rus nie.

“Nie een van julle behoort in 'n bus te klim om terug te gaan na jul
land van herkoms nie,” het Ndebele gesê.

Dié uitsprake kom nadat Ndebele en mnr. Bheki Cele, LUR vir
gemeenskapsveiligheid en -skakeling, verlede week die skuld vir een
van die eerste aanvalle op buitelanders in die stad op die IVP gepak
het.

Misdadigers het toe en sedertdien ook die skuld vir die geweldvlaag
gekry.

Ofskoon slegs buitelanders in daardie aanval in die Durbanse buurt
Umbilo uitgesonder en gemaan is om pad te gee, het Ndebele en Cele
voet by stuk gehou xenofobie het geen rol in die geweld gespeel nie.

Eergister het Ndebele gesê dit is nie in die aard van Suid-Afrikaners
om xenofobies te wees nie en dat dit ondenkbaar is dat die geweld
spontaan uitgebreek het.

Die bekendstelling van die Love for Africa-veldtog het musiekgroepe en
kultuurvertonings van verskillende Afrika-state ingesluit, asook 'n
sokkerwedstryd tussen beroep- spelers van Suid-Afrika en ander lande
wat aan KwaZulu-Natalse klubs verbonde is.

Onder die toeskouers was buitelanders wat die afgelope week by die
Cato Manor-polisiekantoor gaan skuiling soek het toe die geweld na dié
provinsie uitgebrei het.

Al het die sokkerspanne in rooi en blou truie met die woorde “Africa
United” daarop gespeel, was die kennis oor die vlae van Afrika
gebrekkig.

Niemand het eens opgemerk dat die vlag van die Ivoorkus onderstebo
gedra is in die optog nie.

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2330866,00. html

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Uit 'n brief van SA

Wo., 28 Mei 2008 22:45

Ek kry gister 'n brief van my jonger suster. Sy
weier om op die internet te gaan, so haar briewe
is maar skaars. ( Gelukkig kom sy in Julie darem
vir ons kuier met haar oudste dogter.) Toe sy nou
oor SA begin praat, toe kla sy dat Mbeki nou maar
'n taamlike swak president is, en hoe hulle hoop
Zuma is beter. Sy skryf onder andere ook die
volgende - ek haal dit verbatim aan: "Ons land
floreer absoluut. Richard ( haar seun) het verlede
week in en om Durban gaan golf speel en hy sê
Durban en Umhlanga Rocks is nou een groot stad
aanmekaar en alles is pragtig."
Bostaande het my effens dronkgeslaan. Sy
het geen geheime agenda nie. Sy weet ook dat
sy nie dinge vir my hoef weg te steek nie. Ek weet
ook dat haar dogter en dié se man elke nou en
dan oorweeg om na Australië te emigreer, wat hy
maklik kan doen, want hy het al as metallurg in
die mynbedryf verskeie kere daarheen gegaan vir
korter of langer periodes.
Ek neem aan dat die hoër rentkoerse haar
minder hard sal tref, want sy het nie meer verbande
om te betaal nie, en het seker taamlik geld in die
bank wat dan groter rente trek. Maar dis vir my
nogtans interessant dat sy dit nodig vind om vir
my te sê dat die land vooruitgaan. ( Ek het erens
gelees dat SA se groeikoers erens in die 6% was
'n jaar of wat gelede, wat baie beter is as wat die
VSA en Kanada die afgelope jare ondervind het.)
Ek kan nie verstaan hoe strook haar opinie met
dié van sommige mense op hierdie nuusgroep,
wat vir 'n mens laat verstaan dat die land en sy
ekonomie in duie stort nie.

Gloudina

Koeitjies & kalfies | 63 kommentare

Nog nuus oor die voorbeeldige Afrikaners tussen die swart barbare

Wo., 28 Mei 2008 12:49

Cassandré: 2 verskyn agter geslote deure
May 27 2008 10:10:37:043PM - (SA)

Amanda Roestoff

Krugersdorp. – Die saak teen twee tieners, wat van die moord op ’n
donkerkop matriekmeisie van die Wes-Rand aangekla is, is gister na die
direkteur van openbare vervolging (DOV) verwys vir beslissing.

Die twee tieners, mnr. Ken Maree (18) en ’n 15-jarige seun, het gister
agter geslote deure in die landdroshof hiér verskyn.

Hul verskyning hou verband met die dood van Cassandré van Rooyen (17),
’n matriekmeisie van Hoërskool Bekker op Magaliesburg, wat op 18
Februarie met ’n klein kaliber vuurwapen op ’n hoewe in Tarlton, buite
Krugersdorp, in die agterkop geskiet is.

Haar lyk is twee dae ná die moord in lang gras ontdek waar sy agter ’n
sementdam op die Garlic Growers-hoewe versteek was.

Maree het saam met ’n minderjarige seun (15), wat weens sy
minderjarige ouderdom nie geïdentifiseer mag word nie, kort ná 09:00
by die hof opgedaag.

Die jonger beskuldigde het saam met sy ma in die geselskap van die
Maree-gesin opgedaag en skuiling agter ’n serp en ’n tydskrif gesoek.

Weens die in camera-sitting is dit nie duidelik of die DOV moet beslis
oor verdere vervolging van die beskuldigdes en of die saak vir die
bepaling van ’n hooggeregshofdatum verwys is nie.

Die moordwapen is reeds drie maande lank soek.

Die saak is tot 3 Julie uitgestel.

Nuus | 13 kommentare

Riaan

Wo., 28 Mei 2008 11:52

Riaan, ek het nou gesoek na dit wat jy 'n tyd gelede geskryf het oor
huisverbande en kon dit nie kry nie. Ek kan ook onthou dat my reaksie
daarop nie werklik was wat jy wou hoor nie.

Ek dink somtyds weer aan wat jy gesê het, veral wanneer ek sien dat
daar weer (*na bewering:-) twee (verwagte) koersverhogings op pad is.
Een in Augusts en een in Oktober. Én jy het gesê dat jou premie reeds
met R3000 verhoog is. Hoe betaal jy dan meer af om die kapitaal te
delg?

My dogter se man het met sy werk gereël om te bedank en weer in
dieselfde pos aangestel te word. Dit het hulle in staat gestel om om
die pensioenbydraes (minus belasting natuurlik) in die hande te kon
kry, en daarmee is hul verband kompleet afgelos.

Ons het dit bespreek en selfs met die verlies in die vorm van
belasting wat hulle betaal het, gereken wat hulle oor die jare sou
betaal + rente, was dit 'n score. Sy werk het van sy beplanning geweet
en hulle daarmee ondersteun. Verder is hulle so jonk dat 'n baie goeie
pensioenwaarde weer kan opgebou word en dit sonder die spanning van
'n aanhoudend verhogende huisverband.

Ek dink jy werk erens op 'n tegniese gebied, so drie faktore is
belangrik: Versekering dat jy in dieselfde beroep sal heraangestel
word, hoe lank jy moet bedank eer jy jou hande daarop kan lê
en natuurlik of jy werklik lid is van 'n maatskappypensioen.

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Rol van koerante

Wo., 28 Mei 2008 09:25

Die volgende link sal sommige so bietjie aanstoot gee, maar dit maak nog
steeds vir 'n goeie storie, en klop aan die vraag oor 'n koerant se
verantwoordelikheid tov sekere goed.

http://southafricanhell.blogspot.com/2008/05/witch-doctors-d oing-roaring-trade.html

Koeitjies & kalfies | 4 kommentare

Bladsye (1834): [ «    125  126  127  128  129  130  131  132  133  134  135  136  137  138  139  140    »]
Tyd nou: Ma. Feb. 02 04:58:06 UTC 2026