Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

SA hospitale - nog 'n episode

So., 29 Junie 2008 12:27

Alleen moes sy in stikdonker toilet kraam
Jun 27 2008 09:59:06:863PM - (SA)

Antoinette Pienaar

Sy het stoksielalleen en bewend van die koue in 'n stikdonker toilet
van 'n staatshospitaal geboorte gegee aan haar dooie baba.

Ná 'n halfuur se vergeefse geroep na verpleegsters het sy haar vriend
op sy selfoon gebel om haar te kom help.

Só vertel me. Hannie Venter (25) van Rustenburg in Noordwes oor haar
nagmerrie-ondervinding in 'n kraamsaal van dié stad se provinsiale
hospitaal.

Venter het 'n paar dae tevore uitgevind haar baba, waarmee sy agt
maande swanger was, is in haar baarmoeder dood.

“ 'n Ginekoloog in 'n private hospitaal sou 'n keisersnee doen, maar
ons het op die nippertjie uitgevind die mediese fonds betaal nie
(daarvoor nie).

“Op 11 Junie is ons na die provinsiale hospitaal waar 'n dokter gesê
het ek moet elke vier ure 'n induksiepil kry. Die verpleegsters het
dit egter elke ses ure toegedien.

“Daar lê en wag ek toe tussen al die ma's wie se babatjies se harte
nog geklop het.

“Teen 22:00 het ek aan die verpleegsters gesê die kraampyne begin
erger raak. Hulle het onderneem om terug te kom.”

Venter is later toilet toe. Op pad het sy glo gesien hoe een van die
verpleegsters, wat veronderstel was om haar te monitor, op 'n bed sit
en klets met 'n ander pasiënt.

“Toe ek wou opstaan van die toilet, het ek gevoel die baba kom uit.

“Die lig in die badkamer was stukkend. Ek het net die liggie van my
selfoon gehad om te sien.

“Ek het geroep en geroep, maar niemand het gekom nie. Ná wat soos 'n
ewigheid gevoel het, het ek my vriend op sy selfoon gebel by die huis
waar hy na my ander kind omgesien het.”

Mnr. Willem van der Westhuizen het hospitaal toe gejaag. Daar het
verpleegsters volgehou Venter is in haar bed, totdat hy hulle
gekonfronteer het oor die oproep uit die toilet.

Venter sê sy kon waar sy huilend in die stikdonker toilet gesit het,
hoor hoe hy met die verpleegsters praat. “Toe ek by haar kom, het sy
steeds daar gesit, met die dooie baba nog aan die naelstring in die
toilet. Dit was nie 'n mooi gesig nie.”

Venter is terug na die saal geneem waar 'n dokter die plasenta
verwyder het. Die dokter het opdrag gegee verpleegsters moes Venter
was, maar hulle is vort sonder om dit te doen.

Toe sy later met haar bebloede lyf na 'n ander saal oorgeplaas is, het
Venter glo gesien hoe 'n paar verpleegsters lê en slaap, toegegooi op
stoele wat teen mekaar geskuif is.

In die ander saal het 'n man glo poedelnakend, met net 'n drup in sy
arm, rondgeloop.

Die volgende oggend moes sy glo weer haar vriend bel om haar te kom
was.

Dr. Andrew Robinson, waarnemende hoof van die
Noordwes-gesondheidsowerheid, het gesê dié soort behandeling word nie
as aanvaarbaar beskou deur die departement nie. Die saak word glo
ondersoek.

Nuus | 0 kommentare

lekker om steeds kinnertjies te is

Sa., 28 Junie 2008 10:43

Terug van grouseries koop en petrol gooi ens.
'n Paar mense het netnou in La Lucia se Mall vraend agterna gekyk
toe my vrou en ek 'n slag weer kinders was:-)

Toe sy betaal by die parkeermasjien het ek met die motorweg langs kar
toe begin stap met die trollie. So langs die pad sien ek hoe sy tussen
die karre deur nael om eerste by die kar te wees.
Toe begin ek natuurlik ook hardloop. Met 'n gelaaide trollie, maar die
pad was oop. 'n Paar vrouens het van voor gekom en verstom gekyk na
die ou wat hardloop met die volgelaaide trollie. Miskien gedink ek het
dit geskaak:-) Toe ons so gelyk, uit verskillende oorde by die kar
aangehardloop kom, het 'n man pas stil gehou en langs sy kar gestaan
en kyk. Ons het gelag en ingeklim en gery, met mense wat wonder
waarmee op aarde ons besig is:-)

Toe kom die verassing toe ek petrol gooi. Die Toyota diensstasie wat
die laaste diens op my kar gedoen het, het beslis ongevraagd 'n groter
tenk ingesit. Dit was nog bo half gevul en ek het R300 se petrol
gegooi om vol te maak. (jy kry ook 'weer' 'n groter tenk Woensdag.:-)

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Die konsert in Hyde Park vir Nelson Mandela

Sa., 28 Junie 2008 02:22

Seker in sy wildste drome het Nelson Mandela, terwyl hy
daar in die kalksteengroewe van Robbeneiland gekap het,
nie kon dink dat hy 90 jaar oud sou word nie. En boonop
dan ook nog in Hyde Park, met die Britse Eerste Minister
naas hom, kon luister hoe mense van oor die wêreld vir
hom toesing nie. Dis die eerste keer dat ek Amy Winehouse
hoor sing, en ek kon in albei gevalle nie 'n woord verstaan
wat sy sê nie. Maar sy kap dit uit. Ek dink tog Mandela
moet westerse soort sing eentonig vind, net soos ek.
Deesdae is die klem mos op wat die mense sê, maak
nie saak hoe eentonig die musiek is wat daarmee gespeel
word nie. As mens dan nie kan volg wat hulle sê nie, is
die hele ding net baie oninteressant.
Selfs die kore soos die Soweto Gospel Choir sing
teveel goed waarvan mens die woorde moet volg. Ek hou
van tradisionele sang. Ek het altyd 'n punt daarvan gemaak
om na die studente se konserte toe te gaan toe ek nog in
SA skoolgehou het. Tradisionele swart sang is baie naby
aan die soort gekompliseerde toonsettings wat mens
terugvind in Westerse Musiek in mense soos Bach en
Mozart en dié snare. Dit wil sê, dit is nie romantiese
musiek nie. Dis klassieke musiek.

Gloudina

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

" Die Kalksteengroef " deur CHARL-PIERRE NAUDE

Sa., 28 Junie 2008 02:09

Vir Nelson Mandela se verjaarsdag

DIE KALKSTEENGROEF
Charl-Pierre Naude

“Wat sal ons verlos van ‘n terugkeer na die steenbed?
‘n Droom, selfs ‘n hersenskim, sal die mensdom red.

Op die duur. Maar môre weer, kap ek aan die wit
van ‘n klipharde volkshart; my oë swem verward
daaroor; al’s mes-skerp, dan satynsag, altyd hard.
‘n lyn wasgoed wat wit-fossiel in die klip vassit
spring onder my pik los. In die geheue se agterplaas.
Vandag verlang ek na haar, soos die eerste mens...
‘n Vreemde deernis laat die skerp eilandklip soggens
en saans fletser skyn in die dynserige waas”

Wagte roteer op die knap omtrek soos diakens
op hul skyfie skrik. In die middel, die Prisonier.
Die aarde word sag in sy oë wat tuur:
daardie klip, daardie klip, toegedraai in lakens.

Prosa & poësie | 0 kommentare

Uys Krige - "Die seemeeu"

Vr., 27 Junie 2008 22:57

Uys Krige was ’n besondere figuur in die Afrikaanse letterkunde. Hy
was die eerste sogenaamde boheemse kunstenaar hier en meer kosmopoliet
as enige van sy tydgenote. Hy was die eerste Afrikaanse skrywer wat
hom deur sy politieke uitsprake van die regeringsbeleid van daardie
jare gedistansieer het. Heelwat van sy werk het ontstaan buite die
grense van sy vaderland. Krige het bekendheid verwerf deur sy gedigte,
prosaverhale, reissketse en dramatiese werk.
M. Nienaber-Luitingh


Die seemeeu

Tussen die wit huis
en die wit huis,
teen die wit wolk,
teen die grys berg
hoog bo die see
silwer en grys
silwer en grys
van golwe aaneen
tot die verste vaal
horisonne heen,
styg en daal,
styg en daal
die wit seemeeu
aaneen
alleen …

Wat sing die see?
Wat kla die wind?
Wat roep die meeu?
Wat snik die hart
aaneen
alleen?

Die see sing,
die wind kla,
die meeu roep,
die hart snik
tussen die wit huis
en die wit huis
op die helder dag
silwer en grys,
silwer en grys;
waarheen?
waarheen
aaneen
alleen, alleen, alleen?

Prosa & poësie | 0 kommentare

'n Villanelle van Johan Lodewyk Marais

Vr., 27 Junie 2008 21:39

Nonnetjie-eend
Johann Lodewyk Marais

Donkeraand by die pan hoor ek hom luid
asof uit die niet oor my sip-sip-siee.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

Hy kom van ‘n kleiner pan verder suid
en was ‘n stippel wat teen sterre vlie.
Donkeraand by die pan hoor ek hom luid.

Alleen gaan hy by die ander aansluit
in die palmiet, skuins teen die aandwindjie.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

Hy daal om die nag op die pan te slyt
en vou sy vlerke as hy stil inski.
Donkeraand by die pan hoor ek hom luid.

‘n Skadu teen swart swem hy stadig uit:
nou sien niemand waar nie, of wat of wie.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

Veilig teen die wakker jagters se kruit
wei hy waar hulle hom nie sal kry nie.
Donkeraand by die pan hoor ek hom luid.
Oor die water weerklink sy helder fluit.

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Helen Zille koor ook 'genoeg is genoeg'

Vr., 27 Junie 2008 15:10

'genoeg is genoeg'. Ek wens ek kan verduidelik hoe dit my irriteer
wanneer iemand daardie holrug geryde uitdrukking uiter.
Mense wat net agter ander aan praat en nie 'n eie woordeskat het nie.
Dit is nog erger as die boere wat elke keer na 'n plaasmoord dreig om
die wet in eie hande te neem.

Die woorde 'genoeg is genoeg' beteken, vir die mense wat te dom is om
dit te verstaan, dat daar 'n spesifieke hoeveelheid moes wees, maar
dat dit nou genoeg is.

Koeitjies & kalfies | 3 kommentare

Survivor

Vr., 27 Junie 2008 13:20

Hessie skryf

> Ek het maar sommer (tussen hakies) gewonder omdat jy die rigting wat
> ek met my "kruisondervraging" beplan het, so netjies vooruit gelees
> het.

Ag, spaar my. Hou op om vir jou op
die skouer te klop. Almal kan sien
wat aangaan.

Tant Hessie van Riviersonderend

Ek het gehoop die Antie het uiteindelik die boodskap gekry en dat sy
die bietjie beskaafdheid aan die dag sou le om my wense te
respekteer.

Ek het duidelik nie met haar gepraat nie, maar sy kom so waar weer
haar vrot eier le.

Ek beskou dit as die antwoord op my vraag of sy "survivor" wil speel.
Sy wil!!!

Nou nooi ek almal uit om te stem.

Torreke loop

of

Hessie loop

As die meerderheid se "Torreke loop", dan vat ek my hoed en ek loop.
As die meerderheid se "Hessie loop", dan verwag ek dat sy die bietjie
selfrespek sal oorhe om haar hoed ook te vat en te loop.

Koeitjies & kalfies | 22 kommentare

Petrol 93c?

Vr., 27 Junie 2008 11:12

Wel, dit is wat Dawie Roodt nou net gesê het..!

Ekonomie & geldsake | 1 kommentaar

Hospitale SA style

Vr., 27 Junie 2008 07:56

Hospitaal laat nie besoekers dán toe nie
Jun 26 2008 08:35:46:853PM - (SA)

Antoinette Pienaar

Die Johannesburgse Algemene Hospitaal gaan van Maandag af geen
besoekers soggens of saans op die perseel toelaat nie.

Om veiligheidsredes is besoekure slegs tussen 15:00 en 17:00 en daar
sal geen uitsonderings wees nie, het mnr. Sagie Pillay, hoof van die
hospitaal, gister gesê.

Dit kom ná 'n reeks voorvalle waarin dokters, verpleegsters, pasiënte
en besoekers die afgelope maande in staats- en private hospitale oor
die land aangeval of beroof is. In een van die jongste voorvalle is
werknemers by Sunninghill- private hospitaal in Sandton vandeesmaand
deur rowers aangehou en beroof.

“Ons gaan effektief ons hospitaal snags sluit,” het Pillay gesê.

Mnr. Jack Bloom van die DA het gister gesê die besoekure smiddae is
uiters ongerieflik vir mense wat werk en steeds hul geliefdes wil
besoek.

Pillay sê hy het geen keuse nie.

“My personeel word bedreig en ek sal nie toelaat dat hulle groener
weivelde gaan soek net omdat hulle onveilig voel nie. Misdaad is besig
om ons van ons gewone vryhede te ontneem, maar ons het nie 'n keuse as
om die veiligheid van ons personeel en pasiënte voorop te stel nie.”

Die hospitaal bestee R1,3 miljoen per maand aan 'n tender om die
veiligheid op te knap. Daar is reeds draagbare metaalverklikkers en
veiligheidsbeamptes op vierwielmotorfietse. Binnekort kom kameras,
skandeerders wat vingerafdrukke lees, en beter beligting op die
perseel. Die plan is ook om slegs twee besoekers per pasiënt op die
perseel toe te laat.

Toegangskaarte sal aan elke besoeker uitgereik word. Volgens Pillay
het pasiënte in 'n opname getoon smiddae pas hulle. Ander misdade die
afgelope twee jaar by hospitale:

Op 5 Mei is me. René Burger (20), suster van die rugbyspeler Schalk
Burger, by die Tygerberg-hospitaal in die Wes-Kaap ontvoer en verkrag.

'n Dokter was op 23 Maart die derde slagoffer van 'n gewapende rooftog
in een van die Johannesburgse hospitaal se hysbakke. Enkele weke
tevore was dit 'n dokter en 'n pasiënt.

In November verlede jaar is 'n man in sy bed doodgeskiet in die Chris
Hani Baragwanath-hospitaal.

Kort daarna is 'n swanger verpleegster by 'n toonbank in die
Pretoriase Akademiese Hospitaal glo hardhandig rondgeruk.

In Oktober verlede jaar het 'n afgedankte drywer glo vier senior
amptenare by die Seshego-hospitaal buite Polokwane in Limpopo
doodgeskiet.

Kort daarna is 'n verpleegster in die Oos-Kaap deur ses mans beroof en
aangerand.

Vroeg verlede jaar het 'n mediese student beweer sy is by Baragwanath
verkrag.

Gesondheid & boereraat | 0 kommentare

Bladsye (1835): [ «    117  118  119  120  121  122  123  124  125  126  127  128  129  130  131  132    »]
Tyd nou: So. Mei 31 23:42:49 UTC 2026