Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Ekonomie & geldsake » Sa Ekonomie-vooruitsigte
Sa Ekonomie-vooruitsigte [boodskap #117520] Di, 03 Junie 2008 11:18
Ferdi  is tans af-lyn  Ferdi
Boodskappe: 561
Geregistreer: Maart 2007
Karma: 0
Senior Lid
Private sektor verswak met 6,6%
02/06/2008 21:27 - (SA)

Ryk van Niekerk
Gauteng se private sektor het in April 'n treurige maand beleef.
Ekonomiese aktiwiteitsvlakke was 'n beduidende 6,6% swakker as 'n jaar
gelede.

Dít blyk uit Sake24 se Gauteng Barometer wat in April tot 147
indekspunte teruggesak het.

Die barometer is 'n unieke Sake24-indeks wat sakeaktiwiteit in Gauteng
meet. Dit is deur Sake24 in samewerking met die ekonoom Mike Schüssler
en Standard Bank ontwikkel. Dit gebruik 79 verskillende
statistiekreekse van verskeie bronne om die gesondheid van Suid-Afrika
se voorste provinsiale ekonomie te peil.

Die Gauteng Barometer wys duidelik hoe die provinsie se private sektor
sedert 2006 stoom verloor, terwyl April se syfer daarop dui dat
rentekoerse en die Eskom-krisis besig is om sake vir ondernemings
moeilik te maak.

Uit die sewe ekonomiese sektore wat die barometer meet, kon net die
vervoer- en vervaardigingsektor op hul vertoning in April verlede jaar
verbeter. Aktiwiteitsvlakke in die vervoersektor was 4,3% hoër, terwyl
die vervaardigingsektor s'n 0,5% beter af was.

Die sektor wat die swakste gevaar het, was die mynbousektor – wat met
'n wesenlike 19,2% teruggesak het.

Die eiendom-, sake- en finansiëledienste-sektor het met 8,4% verswak,
terwyl die handelsektor, wat klein- en groothandelaars, asook
toerismebesighede insluit, 6,5% laer was. Die konstruksiesektor was
ook 1,4% swakker.

Schüssler sê dit is duidelik die Gauteng-ekonomie verloor vinnig stoom
en verskeie ekonomiese sektore loop deur.

Dít is duidelik te sien uit 'n paar statistiekreekse wat deel uitmaak
van die 79 reekse wat die barometer gebruik:

- Die getal besoekers wat in April deur die O.R. Thambo-lughawe se
deure geloop het, was net 1,8% meer as dié wat dit in April verlede
jaar gedoen het. 'n Paar maande gelede het dié syfer nog met meer as
10% gegroei.

“Dit beteken dat baie hotels en restaurante nie meer soveel kliënte
kry nie. Daar is 'n noue verwantskap tussen hotelle se
besettingsvlakke en die aantal mense wat vlieg, en dit is duidelik dat
minder mense na Gauteng reis,” sê Schüssler.

- Die volume petrol wat in April verkoop is, het met net 2,4%
toegeneem teenoor April verlede jaar. 'n Paar maande gelede het dié
syfer met 4% tot 5% gegroei, wat daarop dui dat aktiwiteitsvlakke
onder druk is.

- April se voertuigverkope in Gauteng was 16,1% laer as in dieselfde
maand verlede jaar. Dit is die 13de agtereenvolgende maand dat dié
syfer daal. “Dít het 'n wesenlike impak op die kleinhandel- en
finansieringsondernemings. Dit is ook een van die redes hoekom die
finansiële-dienstesektor in April so swak gevaar het,” sê Schüssler.

- Die hoeveelheid eiendomme wat in April in Gauteng verkoop is, is
15,1% minder. Die aantal nuwe verbandlenings en krediettransaksies is
ook 12,1% laer.

- Die aantal koerant- en radioadvertensies was 3,4% laer, en omtrent
alle mediagroepe in die provinsie het 'n moeilike maand beleef.

- Sementverkope was net 0,2% hoër as in April verlede jaar, terwyl die
aantal geboue wat voltooi is, 1,9% minder was as 'n jaar gelede.

- Gauteng se inflasie het in April op 10,7% gestaan, wat hoër is as
die nasionale gemiddelde van 10,4%.

Schüssler sê dit is duidelik dat Gauteng moeilike ekonomiese tye die
hoof moet bied en dat die uitwerking van hoër rentekoerse en die
elektrisiteitskrisis duidelik sigbaar word.

“Sake gaan ook nie oornag verbeter nie. Ons behoort eers weer lig te
sien as rentekoerse begin daal, en ek verwag dat dít op die vroegste
einde volgende jaar sal gebeur,” het hy gesê.
Vorige onderwerp: Olieprys $127.34
Volgende onderwerp: Afgedwingde Gewilligheid
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Apr 18 03:40:52 MGT 2024