Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

April Fool

Ma, 03 April 2006 12:19

Verlede Saterdag het omgegaan en nie eenkeer het iemand probeer
om met my April Fool te speel nie. Is die hele gewoonte besig om uit
te sterf? Ek weet dat dit meer 'n Britse kultuurding is as Noord-
Amerikaanse kultuurgewoonte, maar ek dink tog twintig dertig jaar
gelede was dit nog baie meer definitief hier gepraktiseer as nou.
Ek kan nog goed onthou hoe ek, kort nadat ons hier aangekom
het, ek eendag op Educational TV staan en kyk hoe hulle macaroni
oes. Dit het gelyk of dit in Italië is, en daar was 'n hele boord vol
bome met sulke lang wit wat gelyk het na peule. En die mense
het die macaroni van die bome afgesny en in mandjies gesit en
dit na waens geneem. Ek het verstom gestaan. Want ek het nog
altyd gedog dat mense macaroni en spaghetti op 'n ander manier
maak. Na 'n rukkie begin hulle 'n bekende klassieke deuntjie
speel, en toe skielik begin hulle alle soort kinkels daarin sit wat
so snaaks was dat dit mens moes laat lag. Toe skielik besef
ek, hulle is besig om my been te trek. Natuurlik dan ook seker
met die macaroni wat op bome groei.

Gloudina

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Sekulere Spiritualiteit deur CHRISTINA LANDMAN

Ma, 03 April 2006 12:10

Christina Landman
Hoe kan ons die Polisiekarre, Zuma op 'n kruis en die herrie oor die
Vrouemonument verstaan? Miskien deur 'n bietjie na te dink oor die term
sekulêre spiritualiteit.


Sekulêre spiritualiteit is wanneer 'n mens spirituele waardes najaag,
maar dit nie deur die kerk of geves tigde godsdiens doen nie.

Ons Christene voel nogal ongemaklik oor hierdie term. Want 'n mens kan
mos tog óf sekulêr óf spiritueel wees, nie waar nie? Maar veral in
die Weste is sekulêre spiritualiteit al 'n gevestigde term. Daar het
byvoorbeeld onlangs 'n boek verskyn, The Gospel according to Harry
Potter, wat die spirituele kant van Harry Potter bekyk, en ons weet
Harry was beslis nie godsdienstig nie.

En dis maar net een van 'n lys boeke soos The Gospel according to
Peanuts en The Gospel according to Tolkien.

Dit bring ons by die Polisiekarre. 'n Mens sou kon vra of hul liedjies
dan nie tog 'n spirituele kant het nie. As hulle in hul liedjies vir
god vra waarom god hom aan ons afvee, om dit nou maar so te stel, gee
hulle nie juis uiting aan jong mense se soeke na 'n spiritualiteit wat
vir hulle "truthful" is nie?

Hulle soek na 'n hemel, sê die Polisiekarre in een liedjie. 'n Mens
wonder of daardie soektog 'n "spiritual quest" is? (Nie dat die
Polisiekarre hul taal meng nie. Hulle sing en vloek in suiwer
Afrikaans.) Hul liedjies is vol godsdienstige simbole.

En hoe moet ons Jacob Zuma se foto teen die kruis vasgespyker,
verstaan? Vir ons lyk dit na godslaste ring. Nes die Polisiekarre. Maar
miskien kan ons dit verstaan vanuit sekulêre spiritualiteit, al wil
ons dit nie goedkeur nie.

As die Polisiekarre 'n sekulêre medium soos rockmusiek sou gebruik om
spirituele weerstand uit te beeld, dan is dit met Zuma op die kruis net
andersom. Met Zuma word 'n sekulêre opvatting (dat die media besig sou
wees om iemand te veroordeel) deur middel van 'n godsdienstige simbool
(Jesus wat onskuldig gekruisig is) uitgebeeld.

Dit is steeds sekulêre spiritualiteit. Dis hoe dit lyk wanneer die
sekulêre en die spirituele deurmekaar begin loop.

Want in Afrika lyk sekulêre spiritualiteit anders as in die Weste. 'n
Westerse mens sal die kerk verlaat om privaat 'n Boeddhis te word, New
Age-praktyke te volg of as 'n paganis sy/haar geestelikheid in die
natuur te gaan soek. Dis iets individueels.

Nie in Afrika nie. Die Afrikane in Suid-Afrika gee uiting aan hul
spirituele waardes as 'n groep en deur hul liggame. Hulle neem aan
optogte deel, hulle dans en betoog vir hoër salarisse en die regte van
werkers en vroue. Want menseregte is vir hulle 'n spirituele waarde.

In Suid-Afrika kom die sekulêre en die spirituele bymekaar soos seker
nêrens anders op aarde nie. En in Suid-Afrika word sekulêre
spiritualiteit betoog, beliggaam, bekruis en bedans soos nêrens anders
nie.

Geen wonder die verskillende groepe verstaan mekaar nie lekker oor die
Vrouemonument nie.

Die regering beskou die Vrouemonument as heilige grond. Die regering
sien die waardes wat die Vrouemonument verteenwoordig - soos om dank te
betuig vir oorlewing en te weeklaag oor vroue en kinders se lyding - as
spirituele waardes. En die regering wil die Vrouemonument se
spiritualiteit uitbrei na alle vroue.

Maar binne 'n sekulêre spiritualiteit wat die Grondwet sal eerbieding.
En dis waaroor die rusie nou sal gaan: Is die Vrouemonument heilige
grond binne die Christelike godsdiens of is dit heilige grond vir almal
binne die Grondwet?

Die Grondwet, tussen hakies, is in sy geheel 'n suiwer stukkie
sekulêre spiritualiteit. Die Grondwet buig die knie voor God, maar nie
binne 'n spesifieke godsdiens nie, terwyl dit die evangelie van
gelykheid verkondig wat, in Suid-Afrika, 'n wonderlike spirituele
waarde is.

Sekulêre spiritualiteit verklaar 'n paar verskynsels om ons. As ons as
Christene dit sou wou teëwerk, is daar maar een manier om dit te doen,
en dit is om ons eie simbole te versterk.

Dis nou amper Paasfees. In dié tyd dink ek kan ons byvoorbeeld dieper
nadink oor die feit dat Jesus ook 'n menslike liggaam gehad het.
Waarmee hy siek en bekommerde mense aangeraak het, honger mense kos
gegee het, by eensame mense gekuier het.

'n Teoloog het eenkeer 'n boek net oor Jesus se aanraking geskryf en
só afgesluit: "We can save the world through touching."

Dáár is nou vir jou 'n spirituele idee.

Prof. Christina Landman is 'n teoloog aan Unisa.

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Vakansie

Di, 28 Maart 2006 07:00

Die Paasnaweek is op hande , gee bietjie 'n paar name van
'n paar lekker plekke nie verder as 3 van PTA as (warm water)

Reis & vakansie | 1 kommentaar

"koloniale Christenskap die hoofstroomteologie"

Ma, 27 Maart 2006 13:38

Die gospel-groep Prophet het gister gesê hy verstaan die pyn waardeur
Fokofpolisiekar nou gaan met die kritiek wat dié groep kry, hoewel hy
nie die 'Karre se stellings steun nie.

Ds. Theo Geyser, een van die sangers in dié duo wat hoofsaaklik bekend
geword het met sy liedjie Houtkruis, het gister in 'n ope brief
gereageer oor Christene landwyd se "haatspraak" teen dié groep. "Ons
het nooit van die term gospel gehou nie (hoewel beide van ons
predikante is), bloot omdat ons nie regtig oortuig is dat Christelike
etikette noodwendig iets Christelik maak nie," sê hy. "Maar ons ken
van verbanning. Ons musiek was jare lank op radiostasies verban."

Volgens Geyser was Prophet, wat bestaan uit hom en ds. Koos van der
Merwe, in die verlede weens kritiek teen die kerk van godslastering
beskuldig. Tog ondersteun hy Fokofpolisiekar se musiek, al vereenselwig
hy hom nie met die "f** God"-aanmerking van die baskitaarspeler Wynand
Myburg nie.

"Dit sal vir my en Koos moeilik wees om Wynand se uitspraak te
ondersteun omdat ons Jesus liefhet. Dié uitspraak maak my seer.

"Wat net so seer maak, is Christene se reaksie op die hele sage. Dit
verterk my vermoede dat koloniale Christenskap vandag steeds die
hoofstroomteologie in ons land is.

"Christelike kruistogte soos dié bring groter verdeeldheid ."

Geyser reken sonde behoort nie gekategoriseer te word nie.

"Kan ek sonde kategoriseer?

"Indien ek f** jou sê en Christus reken dat wat ek aan mense doen ek
ook aan Hom doen, dan behoort ons konsekwent te wees. "

Koeitjies & kalfies | 9 kommentare

Kom ons trek terug:))

Ma, 27 Maart 2006 09:56

Sedert Donderdag 23/3 het daar nog geen Hollander daar deelgeneem nie.
En wat gaan ons doen as ons hier is, en iemand wat so nou en dan deelneem of
kom kyk wat ons aanvang kan ons nie kry nie?
--
Groetnis
Annette

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

" Wat het die Karre eintlik gevloek?" deur FERDI GREYLING

So, 26 Maart 2006 15:00

Wat het die Karre eintlik gevloek?
Hulle volg dalk in die tradisie van Nietzsche
Ferdi Greyling

Baie mense was die afgelope tyd in verskeie grade van ontsteltenis
vasgevang nadat 'n lid van die Afrikaanse punkrockers Fokofpolisiekar
aangehaal is dat hy God gevloek het.
Alles het 'n konteks - en dinge wat die samelewing skok wanneer dit by
godsdiens kom, het baie beslis 'n konteks.
Mense is verweef in godsdiens. Dit is - seker meer as wat baie mense
wil weet - in groot mate die konstruksie waarmee hulle die werklikheid
om hulle en wat met hulle gebeur (of nie gebeur nie), interpreteer.
Die Afrikaanse digter N.P. Van Wyk Louw het by geleentheid geskryf 'n
volk moet nie bekommerd word as die jong mense dinge bevraagteken nie,
hy moet eerder bekommerd word as die jong geslag nié dinge
bevraagteken nie.
Dit is 'n amper evolusionêre uitspraak. Ons leer dinge wanneer ons dit
self ervaar. Ons is niks as ons nie ons eie gedagtes het nie, as ons
nie self besluit wat ons dink nie en daar is nie juis enige nuwe
gedagtes nie. Elke geslag herhaal maar die gedagtes wat reeds bestaan -
spesiaal verpak in konsepte en ontledings wat hom pas. Só word dit
nuut.
Sonder dít is ons nie veel nie. Elke geslag moet sy eie ontledings
doen, sy eie waarhede en insigte vind. Daarom was so baie van my geslag
se Afrikaners tot die dood toe verveeld met volksfeeste op 16 Desember.
Daarom is daar nou 'n jong geslag swart Suid-Afrikaners wat hul oë rol
as hul ouers van die "struggle" begin praat.
Elke jong geslag breek die oue(r)s se wysheid af en bou dit weer op met
die stukke wat op die grond lê. Die stukke is grotendeels tydloos. Dit
was gebou word, is elke keer 'n nuwe konstruksie.
Om terug te kom na Fokofpolisiekar toe - dit lyk vir my of hulle
hulself ten minste tot 'n mate met só iets besig gehou het.
Die uitspraak was wild en was waarskynlik sonder twyfel bedoel om te
skok waar dit seermaak (hulle is op die ou end 'n punkrock-groep -en 'n
goeie een), maar mense vir wie dit kwaad gemaak het, kan gerus na die
konteks kyk.
Vir my is dit noodsaaklik om te vra wat word bedoel met die term (in
taal) "God". Daar is natuurlik die werklike betekenis - die wese wat
hemel en aarde om ons geskep het. Wat presies die aard daarvan is, hou
filosowe en teoloë nou al eeue besig. Dit kan bitter kompleks word.
Daar is ook die vals betekenis. Dit is wanneer "god" eenvoudig die
samelewing se middelklaswaardes verteenwoordig.
Enigeen wat eens jonk was, ken dit.
'n Mens word met vrese grootgemaak omdat dit die beste manier is om
kinders te beheer wat van beter behoort te weet, maar dit nog nie wil
doen nie.
Iewers tussen 'n jubeling oor die bestaan en die noodsaaklikheid om
jong tieners te kry om te doen wat hul ouers sê hulle moet doen, sluip
'n tyd se middelklas-etos die begrip "god" binne en begin dit soms
bepalend word.
Dan raak "god" die een of ander baie groot en sterk denkbeeldige mens
wat soos jou oom of pa of ma lyk. Hy of sy leef iewers in die lug en
kan álles sien wat jy doen. En hy gaan jou straf as jy bier drink, jou
meisie soen of nie jou huiswerk doen nie.
Miskien is dit dié "god" wat die lid van Fokofpolisiekar gevloek het?
Net hy sal weet hoe ver en verfynd sy godsbegrip deurdink en
geformuleer is. Maar as hy die omie agter die wolke gevloek het wat
kinders dophou om te kyk of hulle huiswerk doen (en as sulks maar met
'n mitologiese vergestalting van ouerlike gesag word), dan is wat hy
gedoen het, nader aan Van Wyk Louw se opstandige geslag as wat baie
mense seker sal wil weet.
En miskien nader aan onskuld ook?
Hy sal natuurlik nie die eerste een wees wat dit doen nie. Hoeveel
mense van oor 50 kan nog onthou dat hulle soms gesukkel het om iewers
in 'n kerk te onderskei tussen die mitiese vergestalting van ouerlike
gesag uit hul kindertyd en 'n werklike poging om iets van 'n
skeppingswese te begryp en te ervaar?
Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche was seker een van die eerstes
in die moderne Westerse denke wat dit met groot vertoon en in
akademies-filosofiese en literêre konteks gedoen het toe hy sy
beroemde stuk "God is dood" geskryf het. Volgens interpreteerders het
hy gesê ons het die god wat die Europese moraliteit van die dag se
vergestalting was, doodgemaak. Nou kan ons nie meer deur die dag gaan
met die gemaklike kierie van slagspreuk-moraliteit nie. Ons moet nou
meer word as die mense voor ons, ons moet morele wesens word wat self
dink.
Dalk kan iemand by die Polisiekarre uitvind watter god dit was wat
hulle gevloek het?

Prosa & poësie | 1 kommentaar

'n Vraagjie oor geskiedenis

Sa, 25 Maart 2006 12:35

'n Vraagjie vir die Afrikaners hier om my kennis oor die geskiedenis
van Suid-Afrika te verbeter:
Daar het 2 Boereoorloge gewees teen Engeland. Die Boere was gesettled
in Boererepublieke en hulle het baie dapper gewees.
Ek wil slegs weet waar toe die Boere hulle wapens vandaan gehaal het.
Soos ek kan lees in julle geskiedenis was Namibië nog nie belangrik
vir die Duitsers nie tot in 1906 daar koper en diamante gevind is,
ofskoon hulle toe Namibië al in besit gehad het en die laaste
Boereoorlog was toe al verby.
Ek vra me eie dus af of Namibië al in die laaste Boereoorlog 'n
belangrike leweransier van wapens kon wees vir die Boere.
Watter een hier ken hieroor 'n bietjie die geskiedenis?
Ek sal 'n antwoordjie baie waardeer.

Norbert die strandkruier (uit Vlaandere)

Koeitjies & kalfies | 9 kommentare

Respek

Vr, 24 Maart 2006 16:32

Alwyn:
Dankie Jonas. Nee, ek wil nie meer faait nie. Dit is in my temperament
om altyd anders te wees, en skoor te soek. Ek het nog altyd maar
bietjie dwars getrek. Maar ek wil nie meer nie. Op 'n besadigde
ouderdom van 47 jaar dink ek die laaitie het dalk nou groot geword,
uiteindelik. Ek wil nou die strydbyl begrawe. Ek leef in harmonie op
ander nuusgroepe, in Afrikaans, en die vader weet hoe hulle my daar
verdra het al die tyd. Daar geld een groot reel, en dit is wedesydse
respek. Daarsonder is die nuusgroep gedoem.
Mense sal altyd van mekaar verskil, en dit is goed. Maar kan ons op
hierdie nuwe blaadjie probeer om mekaar te akkomodeer met wedersydse
respek, tewyl ons tog drasties mag verskil op geselspunte (topics).

Ek is versigtig opgewonde dat ons baie interessant kan gesels, stry,
lag, verskil en sosiaal verkeer hier. Met wedersydse respek.

Danielle:
Alwyn, hierdie was 'n mooi boodskap en moeilik om te knip en net op
een spesifieke gedeelte te reageer. Daarom herhaal ek maar die hele
boodskap. Skuus. :)
Maar weet jy, dit is nogal iets waaroor ek nog altyd gewonder het.
Die woordjie "respek" en wat dit nou eintlik behels en hoe dit ook kan
misbruik word om vrye uitruiling van idees en denke te onderdruk in
veral die Afrikaanse gesprekforums. Of nie.
Uit die aard van die saak stem ek natuurlik heeltemal saam met jou, en
glo ook dat mens maar altyd die onderliggende Rorschach "realiteit" in
gedagte moet hou, en altyd probeer om algemeen aanvaarde
waardes/denkrigtings te waardeer en sensitief daarom te wandel wanneer
jy probeer kommunikeer, want dit maak dinge net soveel makliker en
gemaklik vir almal *MAAR** ek is nie altyd so seker dat dit die
"regte"ding is om te doen nie? En of dit 'respek' reflekteer nie?
Die wesentlike konsep van die woordjie "respek" is tog sekerlik 'n
kultuurspesifieke gevormde konsep? Of stem jy nie saam nie?
Elkgeval, ek dink so, en dit is juis waarom hierdie tipe van ding my
so erg interesseer. :)

Meer eenvoudig of anders gestel ter verduideliking -
Die gevoel wat ek nog al die jare op die Afrikaanse gespreksforums
gekry het (veralgemeen nou), is dat die meeste mense nie juis
belangstel om idees uit te ruil nie, maar eerder 'n klankbord te soek
om hulle eie idees (of slegs woorde) daar te stel, en nie juis
belangstel in ander opinies nie. Wanneer daar 'n ander sterk opinie
teengelê word, word dit beskou as "skoor soek" of "dwars trek" of
ongeskik wees of een van die ander hondertalle clichés.
Die gevoel wat ek altyd gekry het is dat solank jy met almal saamstem
is jy okay. Gesels oor rugby en die weer en modes en kosmaak ens ens,
en jy word beskou as "respekvol" teenoor ander, maar moet tog net
nooit 'n ernstige/akademiese gesprek probeer voer wat teen die stroom
van algemeen aanvaarde denke/waardes, is nie. Dit is dan wanneer jy
gou 'n etiket aan jou nek gehang kry as 'n moeilikheidmaker en
skoorsoeker. Dit is dan wanneer die "bedreigdes" cliche's teen jou
slinger soos "kom ons gooi 'n klip in die bos en sien wat uitspring"
en "ons sal haar/hom uitrook" en vele ander wat jy sekerlik al gelees
het?
Dit is dan wanneer die mafia netwerk in sy glorie in werking tree, en
voor jy jouself kan kry, is daar 'n netwerk van mensies wat
naarstigtelik privaat eposse rondstuur onder mekaar om jou te
"ontbloot" - wie is jy, waar woon jy, wie was jou ouers, wat doen jy
ad anfinitum. Alles natuurlik seker om daardie natuurlike proses van
"ek het meer mag as jy en hou 'n swaard oor jou kop" tipe van
mentaliteit te bevestig. Hopelik om jou te neutraliseer en jou
woorde/denkrigting ens. as "minder belangrik" af te maak. En dan kan
almal weer rustig sit en klets en hulleself op die skouers klop. Ja
nee - ons is darem oulik en weet hoe om mekaar met respek te behandel.
Ons het weer die morele hoë grond....
kloek kloek...

Ag ja, soos Hamlet vir Polonius bgesê het: "Words, words, words.'"

:))

Koeitjies & kalfies | 2 kommentare

Vir Jonas

Vr, 24 Maart 2006 11:35

Digter in sy Slaap Oorlede
Lina Spies

In memoriam: Wilhelm Knobel

Toe ek op die koerant se voorblad lees
jy's dood
het ek skielik hardop begin huil
met die onmiddellike skuldgevoel:
dis nie net om jou nie -
dis oor die katedraal waar mense in en uit loop,
oor die kerk wat toe staan,
oor die hospitaal wat geen ontslag gee nie,
maar slaap verseker
en die wakkerbly verbied
dat jy kan skape tel
totdat die Herder kom...

Later het ek jou gedigte herlees
en hulle was meteens anders
as toe ek oor hulle gefrons het,
verleë oor my ongeraaktheid en onbegrip,
in die dae van vriendskaplike verpligting:
die skemerwêreld van web en vin en wier
het jou vir my afgekamp.

Maar nou was die dood die toegang,
want vir die eerste keer het ek geweet
hoe vol jou verse daarvan is
en as jy oor sterwe skryf,
van woorde wat in jou keel gestik het,
dan vervloei dit tot
vinkeierblou
rooskleur van die kinderkamer
ligter-as-houtskool groen van seewier

Dit word soos die liefde
waarvoor jy gevlug het op straat
en gedink het ek sou ook,
sonder om te weet van 'n nagwandeling
en hoe van lamppaal tot lamppaal
'n winkelpop mens laat verlang.

Daarom was ek eers werklik hartseer
toe ek kom by daardie vers
wat jy vir my geskryf het
met die bietjie spot, die baie erns, die groot eensaamheid,
want sien, ék het dit wel gehad:
die skuilplek, die toevlugsoord,
die slaap met bevredigde sinne,
en vir jou wat so gereed was
om lief te hê,
het die lewe daarsonder verbygegaan
tussen jou mure van mos.

Nou slaap jy in die klein swart kluis:
jou liefdesbed,
jou duifblou kinderkamer

Prosa & poësie | 3 kommentare

Oppad terug na SA

Vr, 24 Maart 2006 10:03

Wel, dis sulke tyd. Ons gesin is DV uiteindelik oppad terug na SA
middel-Junie. Ons was nou amper 8 jaar oorsee en het Amerika vreeslik geniet
en België "ervaar". Ons het aangeneem dat "veiligheid" die aspek is wat ons
na Amerika t.o.v. S.A. trek, maar met al die veiligheid in België is
algemene lewenskwaliteit weer tekort! Al word mens 'n fantastiese werk hier
aangebied, het ek en my vrou besluit ons sal vir geen geld in die wêreld
hierdie spesifieke 1ste wêreld samelewing op langtermyn wil beleef nie. En
dit was my 'n baie interessante persoonlike vurk in die pad: Ons gaan VEEL
eerder terug na SA waar ons kultuur, mense, vryheid, natuur en so aan is, as
om in 'n sogenaamde veilige 1ste wêreld land te bly. Dit het vir my 'n
duidelike balans-effek uitgelig, dat ons saam met baie van SA se "foute" sal
kan leef eerder as om van ons inherente S-Afrika-persoonlikheid op te gee.

In die VSA sou ons gebly het sonder om te skroom, al het ons nooit SA
verlaat met die gedagte om nie weer terug te gaan nie. Ons is gelukkig daar
(SA) weg om vir twee jaar verder te gaan swot. Twee jaar het ses geword en
ons het besef dat jy in die VSA alles van SA kan beleef, min die Afrikaanse
kultuur en familie. In kort, ons het 'n fantastiese land in Suid-Afrika,
soveel so dat as mens net iets aan misdaad kan doen, sal dit een van die
mees gesogte plekke op aarde wees. Maar selfs met misdaad, bied dit 'n
lewenskwaliteit wat selfs in baie "gevorderde" lande altyd iets van 'n droom
sal bly.

Groete aan al die sonsproete

Basjan

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Bladsye (1839): [ «    1676  1677  1678  1679  1680  1681  1682  1683  1684  1685  1686  1687  1688  1689  1690  1691    »]
Tyd nou: Vr Nov 15 06:28:49 MGT 2024