Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Ander siening oor die Sharpeville-gebeure

Di., 30 Maart 2010 19:30

deur Buurman van Cato Manor

2010-03-27 11:57

Wat 50 jaar gelede by Sharpeville gebeur het, was ’n groot jammerte.
Maar die laaste paar dae is ons gepeper met berigte van hoe die
“apartheidspolisie” so wreed was om soveel mense dood te skiet wat
“vreedsaam” betoog het.

Vyftig jaar gelede het ek in Westville gewoon, reg langs Cato Manor,
waar nege polisiemanne (wit en swart) ’n week voor die Sharpe­ville-
tragedie met pangas in klein stukkies opgekap is.

In daardie tyd wou die meerderheid swart mense niks met die ANC/SAKP
te doene hê nie en hulle wou in vrede woon. Maar hulle het in vrees
gelewe omdat die opstokers sulke weerlose mense vermoor het as hulle
nie wou saamwerk nie.

Destyds het die polisie almal gehelp, ook swart mense, al was hulle
hóé gevaarlik. Maar dié keer het die polisie hulle in ’n lokval bevind
met tragiese gevolge.
Die optog na die polisiestasie in Sharpeville was lank voor die tyd
gereël. Op pad is almal gedwing om saam te loop, anders sou hulle
daarvoor moes boet.

Ons moenie vergeet nie dat die opstokers van daardie tyd meer as 300
van hul eie mense lewend met die barbaarse halssnoer-metode
doodgebrand het.

Hoe sou enigiemand gevoel het in die skoene van daardie polisiemanne
met net ’n draadheining tussen hulle en die aankomende massas wat al
hoe nader gebeur het, met ’n opruiende dreunsang van “Cato Manor, Cato
Manor”?

Met die wete van hul makkers se lot die vorige week in Cato Manor kan
’n mens verstaan dat die jong polisiemanne in Sharpeville daardie dag
paniekbevange geraak het. Vandag, in ons gemakstoele, is dit maklik
vir ons om hulle te veroordeel.

Oorsprong:Rapport
( http://tinyurl.com/yk8x8ca )

Nuus | 0 kommentare

Wetstoepassers teister al meer, is baie aggressief

Di., 30 Maart 2010 19:28

2010-03-28 00:16

Johan Eybers

Omkopery en teistering van die publiek deur wetstoepassers is besig om
’n epidemie te word.

So sê mnr. André Snyman, koördineerder van die kuberbuurtwag
eBlockwatch.

“Die aantal klagtes wat ons deesdae hanteer van die publiek wat deur
metro- en polisiebeamptes geboelie word, het geweldig toegeneem en dit
kan as niks anders as ’n epidemie beskryf word nie,” sê hy.

Nagenoeg 500 mense het eBlockwatch die afgelope twee maande gebel
omdat hulle bang was vir sulke viktimisasie, sê Snyman.

Dit kom nadat eBlockwatch in Februarie sy program Polisiëring van die
Polisie in werking gestel het. Met dié program kan sy lede ’n
selfoonnommer skakel wanneer hulle deur wetstoepassers afgetrek word
en die oproep word dan opgeneem.

In vier van dié opnames kan gehoor word hoe wetstoepassers mense
afgeknou of gedwing het om omkoopgeld te betaal.

Die groot getal oproepe wat eBlockwatch al ontvang het, dui daarop dat
sulke viktimisasie gereeld voorkom en dat die publiek bang is vir die
polisie, sê Snyman.

“Mense het geen vertroue in wetstoepassers nie. Hulle tree op asof
hulle verhewe is bo die gereg. Hulle is skietlustig en onbehoorlik
aggressief teenoor die publiek, wat op die ergs moontlike maniere
geïntimideer word om omkoopgeld uit hulle te kry,” sê hy.

Volgens hom vererger die publiek ook die probleem deur die omkoopgeld
te betaal.

“Die publiek se houding hieroor maak dit vir korrupte
misdaadbestryders maklik en winsgewend om omkoopgeld te vra.”

Die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) het in ’n ondersoek bevind dat
metropolisielede verlede jaar deur omkoopgeld tot R30 000 per week as
bykomende inkomste verdien het. Volgens die studie ­verdien sommige
beamptes tot R6 000 per nag aan omkoopgeld van dronkbestuurders.

Snyman sê korrupte misdaadbestryders se algemene werkwyse is om by
toegangsroetes na drinkplekke en in afgeleë gebiede op hul slagoffers
te wag.

Hul houding is geweldig aggressief wanneer ’n motoris van die pad
getrek word en dié word geterroriseer vir omkoopgeld, sê hy.

“As jy jou verset, word jy in hegtenis geneem en in ’n polisiesel
gegooi waar nog klagtes uit die lug gegryp word om jou bang te maak.

Sodoende word daar verseker dat jy groot bedrae omkoopgeld sal betaal
om los te kom,” sê Snyman.

Polisieer die polisie met eBlockwatch

eBlockwatch is ’n landwye teenmisdaadnetwerk.

Sy Polisieer die Polisie-program is om sy lede te help wat bedreig
word deur wetstoepassers of iemand wat hulle as wetstoepassers
voordoen.

Lede skakel die nommer 082 236 0003. Die oproep word as ’n klankgreep
opgeneem en na eBlockwatch en vier vriende se e-pos-adresse gestuur
sodra die oproep beëindig word.

Dié klankgreep kan later as bewys ingedien word. Lede word aangeraai
om die betrokke wetstoepasser se naam en nommerplaat te kry. Dié
inligting sal ook aan die polisie se teenkorrupsie-eenheid gegee
word.

Die diens kos R30 per maand vir ’n enkellid en R50 vir ’n gesin van
vyf.

- Rapport
( http://tinyurl.com/yjboe4u )

Nuus | 0 kommentare

Al vier bande van sy motor glo flenters geskiet

Di., 30 Maart 2010 19:27

Mnr. Miles Orbell verduidelik hoe sy motor deur Ekurhuleni se
metropolisie vol gate geskiet is nadat hy glo nagelaat het om by ’n
stopstraat stil te hou. (Foto: Bongiwe Gumede)

2010-03-27 16:32

Johan Eybers

Hy het gedink dit is ’n motorkaping toe daar op hom geskiet word, want
daar was geen sirene nie, net flikkerende ligte van ’n voertuig agter
hom.

Die skote het blykbaar begin klap toe mnr. Miles Orbell, ’n 53-jarige
oud-vlieënier, Maandagoggend oor ’n stopstraat in die afgeleë
Bapsfontein-gebied aan die Oos-Rand in Gauteng gery het.

Toe al vier sy motorbande flenters geskiet is en ’n patroon in sy
sitplek beland, het Orbell so groot geskrik dat hy oor ’n stuk veld
gejaag het om veilig by die Barn Stormers-klub uit te kom waar sy seun
Kallum (23) die oggend aan die nasionale kampioenskap vir
radiobeheerde vliegtuie deelgeneem het.

Dit was eers toe hy in die parkeerterrein van die klub stilhou en voor
sy seun en klublede geboei is, dat Orbell besef het hy is deur
Ekurhuleni se metropolisie agtervolg wat op hom geskiet het toe hy nie
vir hulle wou stop nie.

“Ek is rondgestamp, daarvan beskuldig dat ek as ’n wit persoon dink
dat ek kan doen net wat ek wil en vir ’n misdadiger uitgekryt.”

Eers 12 uur later is hy uit die Olifantsfontein-polisiekantoor se
selle vrygelaat nadat mnr. Howard Dembovsky van die Justice Project
South Africa (JPSA), ’n organisasie wat hom vir motoriste se regte
beywer, tussenbeide getree het.

“Ek was in ’n gebied wat bekend is as ’n kapingsbrandpunt en ek het
gedink ek word deur kapers agtervolg. Ek is ’n wetsgehoorsame burger
en ’n versigtige motorbestuurder met geen misdaadgeskiedenis nie.

“Die hele affêre het my geweldig geskok. Ek kan nou nie slaap nie en
ek het geen meer vertroue in wetstoepassers nie,” sê Orbell.

- Rapport
( http://tinyurl.com/ylzurhl )

Nuus | 0 kommentare

Pa, seun koes vir koeëlreën

Di., 30 Maart 2010 19:24

Mnr. Kobus Erasmus (40) van die plaas Jakkalsdans naby Moloto, noord
van Pretoria, sê sy hond Rufus het een van hul aanvallers
eergisteraand gebyt. Foto: Jaco Marais

2010-03-28 22:15

Virginia Keppler

’n Bende gewapende rowers het eergisteraand twee huise op die plaas
Jakkalsdans naby Moloto “omsingel” en talle skote op die eienaars
geskiet in wat soos ’n “klein oorlog” geklink het.

Mnr. Kobus Erasmus (40) het gesê hy en sy seun, Corrie (18), moes vir
die koeëls weghardloop wat uit alle rigtings op hulle geskiet is.

Die pa en seun het gaan ondersoek instel nadat hul honde omstreeks
21:30 erg begin blaf het.

“Corrie het eers deur die venster gekyk en gesê daar is mense in ons
erf. Ek het eers gedink dit is een van ons werkers en ons het gaan
ondersoek instel,” het Erasmus gesê.

Op daardie oomblik het Erasmus se pa, mnr. Lukas Erasmus (64), ook uit
sy huis op die erf gestap om te gaan kyk waarom die honde blaf. Die
twee huise is ’n klipgooi van mekaar.

“Toe ek en my seun om die motorhuis se hoek kom, het my hond, Rufus,
’n verdagte gegryp. Die volgende oomblik het ’n ander verdagte op ons
begin skiet. Hy was so 5?m van ons af,” het mnr. Kobus Erasmus gesê.

“Skielik was daar meer as vier mense wat op ons geskiet het. Ek het
vir my pa geskreeu om terug huis toe te hardloop.

‘Gryp jul gewere en skiet!’ het ek geskreeu. In werklikheid het ons
nie ’n vuurwapen van ’n dag oud nie. Ek het maar net gehoop hulle
skrik as hulle dink ons gaan terugskiet,” het hy gesê.

Terwyl hy en Corrie huis toe gehardloop het, het die koeëls aanhou
kom.

Mnr. Kobus Erasmus se vrou, Tessa (46), het hul ander twee kinders (17
en 10) gegryp en na die hoofslaapkamer gehardloop.

Hulle het op die vloer langs die bed gaan lê.

Mnr. Erasmus se pa en stiefma, Marie, het ook in hul huis die ligte
afgeskakel en op die vloer gaan lê.

“Ek en Corrie het die die huis ingehardloop, ligte afgeskakel en
gordyne toegetrek en plat gaan lê. Ons het ’n ruk lank bly lê totdat
dit doodstil was,” het Erasmus vertel.

Hy het gesê dit is ’n wonderwerk dat niemand raak geskiet is nie. Een
van die koeëls het sy bakkie se modderskerm getref.

Die polisie het op 9?mm-pistool- en haelgeweerdoppe beslag gelê.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/yhbkeqe )

Nuus | 0 kommentare

‘Jy moet mooi na Mamma kyk ...’

Di., 30 Maart 2010 19:21

’n Geskokte me. Elsie Smit vertel hoe haar lewensmaat, mnr. Assie van
As, in hul huis doodgeskiet is. Foto: Wayne Coetzee

2010-03-25 22:50

Virginia Keppler

’n Pa van East Lynne, Pretoria, wat vyf keer in die bors geskiet is,
het eergisteroggend tot die dood baklei om sy lewensmaat en seuntjie
teen drie gewapende rowers te beskerm.

“Dêdda se groot seun, jy moet mooi na Mamma kyk. Ek is lief vir jou,”
het die sterwende mnr. Jan (Assie) van As (49) vir die vyfjarige
Daniël gesê.

Hy het ook vir me. Elsie Smit (37), sy lewensmaat, gesê hy is baie
lief vir haar. “Toe hoor ek hom roggel.”

Die aanvallers het Van As en Smit eergisteroggend net voor 03:00 in
hul bed in hul huis in Uilstraat wakker gemaak.

“Die volgende oomblik het ek die drie elk met ’n vuurwapen in die hand
sien staan. Hulle het gesê ons moet stilbly en het geld en vuurwapens
gevra.”

Van As het dadelik die kluis oopgesluit en vir hulle R4 000 wat daarin
was en vier selfone gegee.

Smit het gesê toe Van As die kluis wou toemaak, het een van die rowers
die sleutel gegryp.

“Assie het dit terug probeer gryp en op daardie oomblik het hy vir een
van hulle geskreeu: ‘Is jy nie die een wat gister in my erf was nie?’
Toe klap twee skote.”

Smit het haar kop met die duvet toegetrek en hardop gebid. Terwyl Van
As met sy aanvallers baklei het, het hy daarin geslaag om Daniël se
kamerdeur toe te trek.

“Nog twee skote het geklap. Toe was dit ’n ruk stil terwyl hy die
diefwering in die sitkamer wat die aanvallers oopgebuig het om in die
huis te kom, weer toegebuig het. Toe klap nog ’n skoot.”

Smit en haar seun het by Van As gebuk waar hy langs die bank gelê en
bloei het. Hy het hulle toe gegroet.

Smit het daarna deur die venster om hulp geroep en ’n buurvrou en
polisievrou wat toevallig in die straat verby gery het, het kom help.

“Ek het my vingers in sy wonde gesteek en die bloeding probeer stop.
Ek het vir hom geskreeu ‘jy het die eerste keer toe hulle jou gekaap
en geskiet het oorleef en jy kan dit weer doen’, maar dit het nie
gehelp nie.”

’n Geskokte Smit het gesê Van As is ’n paar jaar gelede tydens ’n
motorkaping geskiet.

Mev. Elsa Smit, Smit se ma, het gister gesê hul dominee het mooi vir
Daniël verduidelik sy “dêdda is nou by Liewe Jesus”.

Volgens Smit het inbrekers ’n week gelede kabels van sowat R7 000 uit
hul erf gesteel.

Van As, ’n elektrisiën, se begrafnisdiens is Woensdagoggend om 10:00
in die Hervormde kerk East Lynne.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/yfdt3nj )

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Afrikaans mag nie verdwyn op universiteit

Di., 30 Maart 2010 19:18

2010-03-28 22:09

Afrikaans is nie op die punt om uit te sterf nie, maar
Afrikaanssprekendes kan gerus die digter Breyten Breytenbach se
waarskuwing oor die taal ter harte neem.

Geen kleiner taal is in die vinnig veranderende en toenemend
globaliserende wêreld 100% veilig nie.

Afrikaans het die verdere nadeel dat hy nie deur die ANC-regering as
een van ons inheemse bates beskou word nie.

Afrikaans se hedendaagse prestasie as inheemse Afrika-taal is
ongeëwenaard op die vasteland.

Dit het tot ’n kuns- en wetenskapstaal ontwikkel waarin werke van
wêreldgehalte geskryf kan word.

As algemene spreektaal in al sy verskillende variante is Afrikaans
waarskynlik so gesond soos selde tevore.

Duisende stroom na Afrikaanse kunstefeeste en populêre Afrikaanse
musiek en boeke bloei.

Die probleem is nie op straat of in die kombuis – waar die
verskillende soorte Afrikaans soos kosbare kleinode bewaar moet word
nie.

Dis by wat genoem word die hoër funksies van taal: aan universiteite,
in howe, hospitale, skole en in die regering.

Weliswaar het Afrikaans sy hoër funksies onder ’n NP-regering tydens
apartheid verwerf. Kan dit teen ’n taal gehou word?

Meer as die helfte van Afrikaans se sprekers is bruin.

Hoe drasties Afrikaans se verlies was, blyk uit Afrikaanse onderrig op
skool en universiteit.

Afrikaans-enkelmediumskole het van 1 396 in 1993 tot 667 in 2010
afgeneem.

Is daar nog enige ingenieur, dokter, veearts of wetenskaplike wat hul
graad van die eerste tot die finale jaar in Afrikaans voltooi?

Met Engels se stewige houvas as internasionale en akademiese taal is
groter tale soos Nederlands en Duits ook hieroor bekommerd.

Afrikaanssprekendes kan nie toelaat dat Afrikaans sy posisie as
akademiese taal prysgee nie.

Dit sal tot die skande van die huidige geslag besluitnemers wees as
Afrikaans oor tien jaar ’n vergete taal op universiteit is.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/yhj2skg )

Onderwys & opvoeding | 0 kommentare

Mense, word wakker en ruik die rose!

Di., 30 Maart 2010 19:16

deur Tina van der Walt van Groenkloof

2010-03-28 22:08

In reaksie op Neels Jackson se artikel verlede week: Hy sê ons moet
onsself nie ’n rat voor die oë laat draai dat dinge erger is as wat
dit regtig is nie.

Hy sê ook dat die persepsie-probleme waarmee baie Afrikaanse mense
juis vandag sit, is omdat die koerante nie in die 1980’s vir hulle
vertel het wat regtig in die land gebeur nie.

Ek stem saam: As die koerante alles moes vertel wat werklik gebeur
het, sou geen regdenkende mens sy wapen vrywillig by die polisie
ingegee het nie.

As die koerante alles vertel het, sou meer mense lankal uit hul gemak­
sones en staat van ontkenning gekom het.

Hulle sou beslis geen “persepsie-probleme” gehad het om te sien dat
Suid Afrika reeds ’n mislukte staat is nie.

Hy verwys terug na die “goeie dae”, wat eintlik maar ’n kookpot was
wat gewag het om te ontplof.

Ja, Neels, as jy lank genoeg ’n leuen herhaal, begin jy dit later self
glo. Jy weet self die ANC doen dit ook altyd.

Al die jare is ons in die pers gebombardeer met die feite dat
apartheid so sleg was; dat ons moes mag oorgee aan die ANC om ’n
ongekende bloedbad te verhoed.

Word wakker en ruik die rose!

Gelukkig het die heer Julius ’n klomp van die slapendes met ’n skok
laat wakker skrik.

Afrikaners gaan hulself moet geestelik voorberei op die ergste.

Dit gaan kom soos ’n dief in die nag. En terloops, ek maak geen
verskoning daarvoor dat ek uiters pessimisties – of sal ek sê
realisties – is nie.
( http://tinyurl.com/yzy22d2 )

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Mugabe gaan Julius touwys maak

Di., 30 Maart 2010 19:11

2010-03-29 21:45

Cobus Coetzee

Mnr. Julius Malema, ANC-jeugliga-leier, is op pad na Zimbabwe om onder
meer te gaan kyk hoe nasionalisering daar werk.

Luidens ’n verklaring wat die jeugliga gister uitgereik het, gaan hy
en ’n afvaardiging van nog agt jeugliga-lede met pres. Robert Mugabe
vergader en jeugdiges van sy Zanu PF-party ontmoet.

Malema en sy gevolg sal op Goeie Vrydag na die buurland vertrek en
beoog om Maandag, op Gesinsdag, na Suid-Afrika terug te keer.

Die ANC-jeugliga wil later vanjaar ook na China, Chili, Venezuela,
Brasilië en Kuba toer om dié lande se “suksesse en mislukkings” in
nasionalisering te ondersoek.

Malema en die jeugliga eis sedert einde verlede jaar Suid-Afrika se
myne moet genasionaliseer word.

Die besoek kom te midde van struwelinge tussen Zimbabwe se
parlementslede en die land se minister van mynbou, mnr. Obert Mpofu,
asook ander ministers van Mugabe se party, oor ’n ondersoek na die
diamantmyn buite Chiadzwa in die Marange-
distrik van die Manicaland-provinsie.

Me. Venitia Govender, ’n koördineerder van die Zimbabwe Blood Diamond-
veldtog wat uit talle nie-regeringsorganisasies (NRO’s) bestaan, glo
daar is bewyse van menseregtevergrype deur die Zimbabwiese weermag en
smokkelhandel in ongeslypte diamante.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/ydb4ypg )

Nuus | 0 kommentare

Edwill in sy huis oorval

Di., 30 Maart 2010 19:10

2010-03-29 21:45

Magdel Fourie

Edwill van Aarde (71), voormalige radio-omroeper en TV-aanbieder, is
gister in sy huis in Krugersdorp oorval en aangerand.

In sy swakheid het hy probeer terugbaklei, maar gou besef die rower is
“te jonk en sterk”, het die voormalige sportkommentator en aanbieder
van die vasvraprogram Flinkdink, gister in trane vertel.

“Ek het net geweet ek kan nie. Ek kan níks doen nie.”

Van Aarde se vrou, Piena (67), was net weg winkel toe toe hy omstreeks
11:30 ’n geraas by die kombuisdeur gehoor het. Die Van Aardes woon al
37 jaar in die huis.

By die kombuisdeur het hy ’n skraal, jong man aan die veiligheidshek
sien werk. Die man het aan hom gesê mev. Van Aarde het hom gestuur om
die slot te herstel.

Die man het ’n tuinvurk, ’n geroeste vyl en moersleutel by hom gehad.

“Toe ek hom vra waar my vrou is, het hy gesê sy is in die motorhuis by
haar geel motor – sy is op pad. En toe dink ek maar sy rý ’n geel
motor,” het Van Aarde vertel.

Hy het die deur toe oopgesluit.

“Toe slaan hy my plat. Hy het my toe aan my voete in die gang
afgesleep en my heeltyd geskop en geslaan,” het ’n geskokte Van Aarde
vertel.

Hy het aanvanklik probeer terug- baklei, maar gou gevoel hy het nie
die krag nie. Die mes in die rower se hand het hom ook afgeskrik.

Toe die rower hom tot by sy slaapkamer gesleep het, het Van Aarde
regop gebeur.

Die rower het laaie en kaste in die slaapkamer omgekeer en sowat 30
juwelekissies in ’n sak geprop.

Die Van Aardes het dié kosbare juwele in die kissies tydens oorsese
reise in stede soos Parys, Londen en Wene gekoop.

“Dit is onvervangbaar. Ons sal nóóit weer oorsee gaan nie,” het Van
Aarde vertel.

Die rower het ook Van Aarde se kamera en verkyker gebuit.

“Ek het so mooi gevra dat hy nie my kamera vat nie, want daar’s foto’s
van my kleinkinders en hondjies op.”

Die egpaar se geliefde honde is kort gelede weens ouderdom dood.

Terwyl die rower besig was met sy plundertog het Van Aarde die
noodknoppie gewaar en daarin geslaag om dit in die hande te kry.

Al het hy besef hy waag ’n groot kans, het hy dit nogtans gedruk.

Toe die alarm begin loei, het die rower “net ’n vloekwoord gegee” en
gevlug.

“Wat ek nooit sal vergeet nie, is die kyk in sy oë. Aan die begin het
hy nog vriendelike geselsies gemaak. Maar toe hy eers inkom, was daar
net haat in sy oë.”

Die polisie en ’n paramedikus was kort ná die voorval op die toneel om
na Van Aarde, wat oor borspyn?gekla het, om te sien.

“Ek is maar verpletter. Ek het darem nie letsels in my gesig nie, maar
ek het erge lyfseer. Tog is ek dankbaar ek het nie seerder gekry nie,”
het Van Aarde gesê.

Dié aanval moet as voorbeeld vir ander dien, meen hy.

“’n Mens kan nooit oorversigtig wees nie, al is dit helder oordag.”

Dié aanval is uitgevoer enkele weke voordat ’n konsert ten bate van
Van Aarde op 21 April gehou word. Verskeie kunstenaars, onder wie
Steve Hofmeyr, gaan in die konsert optree.

Hofmeyr het hom ná die voorval woedend uitgespreek oor aanvalle op
weerlose kinders en bejaardes.

“Hy is regtig ’n goeie vriend van my – ’n ou man, lamgelê deur
ongesondheid, wat homself nie kan verdedig nie. Dit is trágies,” het
Hofmeyr gesê.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/yavaz3u )

Nuus | 0 kommentare

‘Amptenare sê dis rassisties om wit armes te help’

Di., 30 Maart 2010 18:46

2010-03-29 21:45

Sonja Carstens

Net 160 voedselkoepons is van 2008 aan ’n groep van 600 000 wit armes
uitgedeel.

Die uitdeel van sulke koepons aan die inwoners van Bethlehem, ’n arm,
informele wit nedersetting in Andeon, in die noorde van Pretoria, is
gestaak ’n week nadat mnr. Jacob Zuma dit op 18 April 2008 as ANC-
leier op uitnodiging van Solidariteit besoek het.

“Staatsamptenare het gesê dit is rassisties om honger wit mense te
help,” skryf dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Solidariteit
Helpende Hand, in ’n brief aan Zuma.

Dié brief gaan môre as deel van ’n verslag oor die “gesigte van
Afrikanerarmoede” aan Zuma oorhandig word tydens sy opvolgbesoek aan
Bethlehem.

Luidens die verslag is die uitdeel van voedselkoepons aan arm wit
mense gestaak ondanks die bevindings van ’n onafhanklike ondersoek
deur die destydse Umsobomvu Youth Fund, tans die National Youth
Development Agency (NYDA).

Daarvolgens is bevind die regering se definisie van voorheen
benadeelde mense moet uitgebrei word om die wit jeug tussen 18 en 35
jaar met ’n inkomste van R500 tot R3 000 per maand in te sluit.

Volgens die ondersoek is die arm wit jeug beslis een van die mees
gemarginaliseerde groepe in Suid-Afrika.

Langner skryf vir Zuma hy glo die president sal geskok wees om te hoor
dat me. Heila Rothmann, ’n siek en sterwende kankerlyer, etlike dae
lank van 06:00 tot 17:00 in ’n ry moes staan net om op 6 Maart te hoor
haar vyfde aansoek vir ’n ongeskiktheidstoelae is van die hand gewys.

Rothmann het haar stryd teen kanker ’n week later verloor.

Luidens die verslag toon navorsing wat Helpende Hand gedoen het dat
63% van die inwoners in die 77 wit informele nedersettings in Pretoria
60 jaar en ouer is.

Boonop ondersoek die Centurion-raad vir bejaardes tans sowat 2 100
armoedesake terwyl sowat 1 000 gevalle van bejaardeverwaarlosing per
maand by die Pretoriase Bejaardesorg aangemeld word.

Langner het gesê hul navorsing dui daarop dat daar slegs een
maatskaplike werker vir elke 4 000 Suid-Afrikaners is.

Uit die NYDA se verslag blyk dit is “ongelooflik moeilik” vir wit
gemeenskappe om toegang tot ongeskiktheidstoelaes te kry.

“Die meeste arm swart gemeenskappe het toegang tot satellietkantore
van die departement van maatskaplike ontwikkeling wat aansoeke vir
toelaes verwerk.

’n Soortgelyke diens is nie vir behoeftige wit gemeenskappe beskikbaar
nie,” het Langner gesê.

Oorsprong:Beeld
( http://tinyurl.com/y9s6mw5 )

Nuus | 0 kommentare

Bladsye (1834): [ «    83  84  85  86  87  88  89  90  91  92  93  94  95  96  97  98    »]
Tyd nou: Sa. Jan. 31 19:22:56 UTC 2026