EK SAL GRAAG ALMAL SE OPINIE HIEROOR WIL HOOR. DIE MAN IS EEN VAN DIE MIN
AFRIKANERS WAT UITSTAAN TANS MET MURG IN SY PYPE. MAAR NET MY OPINIE. DIT
KAN GEKRY WORD BY http://www.praag.org
Die Afrikaner het geen roeping in Afrika nie
Dan Roodt
Voordrag gelewer voor die Bond van Oud-Jeugbonders, Pretoria, op 12 Oktober
2002
Een van die oudste en mees Calvinistiese idees van die Afrikaner is die
gedagte dat hy oor 'n roeping in Afrika beskik. Myns insiens is dit
onderliggend aan sy huidige identiteitskrisis en skynbare onmag om vorentoe
te beweeg.
Tradisioneel kan ons hierdie sogenaamde roeping van die Afrikaner in Afrika
sê opsom:
In terme van streng Calvinistiese prinsipes, beskik God oor alles in die
wêreld. Daarom het hy spesifiek die groep Europeërs wat hulself later
Afrikaners sou noem na Suid-Afrika gestuur om 'n volk te word. In terme
hiervan is die volkskap van die Afrikaner dus iets heiligs en
onveranderliks. Die groep mense wat die volk uitmaak, is as't ware geroepe
om hul kollektiewe identiteit in stand te hou en uit te bou. Ná die
oorwinning te Bloedrivier is die Afrikaner ook gebind in terme van die
Gelofte om God se gebooie te onderhou, en jaarliks dié datum te vier.
Daar is baie formulerings van hierdie idee en daagliks kom 'n mens dit nog
onder ons mense teë. Indien ek dus vir D.F. Malan daaroor aanhaal, is dit
nie omdat syne besonder tipies of beter as enige ander definisie is nie,
maar bloot omdat dit gewig dra as komende van een van die hooffigure uit die
Afrikaner se politieke geskiedenis onder wie die verkiesingsoorwinning in
1948 sy belangrikste toetrede tot die magspel in Suider-Afrika gesimboliseer
het. W.A. de Klerk het daardie verkiesingsoorwinning beskryf as 'n
Afrikanerrevolusie en die meeste van u wat vandag hier sit, sou dit
waarskynlik beaam. Hier volg die aanhaling uit D.F. Malan, uit sy beroemde
boek Afrikaner-volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen. Hy sê:
"Glo in jou God! Glo in jou volk! Glo in jouself!... vir die
Voortrekkers... was die Groot Trek veel meer as 'n blote gebiedsverowering.
Vir hul immers was dit ook 'n geloofsdaad, en die aanvaarding van 'n
Godgegewe taak."
Hy verwys dan na die Gelofte en meen dat die "Suid-Afrikaanse volk" met die
viering van Geloftedag "vir alle toekomstige geslagte te kenne [wil] geee
dat hy as 'n Christelike volk geken wil wees, en dat hy hom tot daardie
bepaalde lewensrigting verbind het."
En dan volg die woorde wat vir ons van belang is:
"Dis met ander woorde 'n volk met 'n roeping. Hy mag en wil dieselfde ook
aan geen ander volk ontsê nie, maar in sy eie geval wil hy dit openlik erken
en die verpligtinge wat daaruit voortspruit, blymoedig aanvaar."
Verder herhaal hy die gedagte: "Agter ons Suid-Afrikaanse volksbestaan en
geskiedenis sit daar 'n doel. Daarvan moet ons as volk bewus wees, en dit
na die beste van ons vermoë probeer uitlewe."
Hoewel Malan hier om ooglopende politieke redes die term "Suid-Afrikaanse
volk" gebruik omdat hy sekerlik nie die Engelssprekendes daarvan kon
uitsluit nie, weet ons egter dat hy eintlik besig was om van die
Afrikanervolk te praat.
Nou wil ek sommer met die deur in die huis val, en vandag vir u sê dat ek
geheel en al van D.F. Malan verskil. Daar is geen godgegewe plan vir die
Afrikaner nie. Hy het nie 'n roeping in Afrika nie, en as 'n groot klomp
Afrikaners vandag Australië en Nieu-Seeland en Kanada toe emigreer waar
hulle kinders sommer na die eerste paar jaar volkome verengels, dan
demonstreer hulle daarmee wat ek sou noem die fiksionele aard van hierdie
idee.
Die roeping van die Afrikaner is 'n fiksie. Niks meer en niks minder nie.
Miskien het dit op 'n stadium 'n doel gedien, en as ek by Bloedrivier was
sou ek ook graag wou glo dat God aan my kant was, maar ek is bevrees dit is
vandag so uitgedien soos die ossewa of die voorlaaier.
Nie net doen dit vandag oudmodies aan nie, maar dit is ook 'n belangrike
bron van die Afrikaner se huidige verlamming, sy onvermoë om verby sy
verstrengeldheid met die res van die Suid-Afrikaanse bevolking te dink, sy
skuldkompleks, sy gevoel van verantwoordelikheid vir ander wat sy eie
heropbloei en vooruitgang onmoontlik maak.
Apartheid was een vorm van roepingsbewustheid. Wat die buiteland ook al oor
apartheid mag sê of dink, of dit nou 'n misdaad teen die mensdom was of die
eerste fase van regstellende aksie, weet ons dat dit 'n stelsel van
voogdyskap oor swartmense was wat terug te voer is na beide die Britse
koloniale beleid en die Voortrekkernaturellebeleid van die negentiende eeu.
Gedurende die hele twintigste eeu is daar in dosyne boeke en waarskynlik
honderde proefskrifte en duisende koerant- en tydskrifartikels 'n debat in
Afrikaans en in Engels gevoer oor die politieke regte wat swartmense toekom.
Pleks van eenvoudig aan hulle die regte toe te staan wat hulle vereis het,
met dienooreenkomstige beveiliging van Afrikanerbelange, is die koloniale
beginsel van voogdyskap (Eng. "trusteeship") aanvaar. Verwoerd, wat die
meeste gedoen het om institusionele beslag aan apartheid of soos hy dit
genoem het, "afsonderlike ontwikkeling" te gee, was ook die persoon wat die
beginsel van voogdyskap die ernstigste opgeneem het. Niemand het meer vir
swart onderwys en opleiding gedoen as juis hy nie. Dit alles is
geboekstaaf.
Anders as koloniale Europeërs, wie se voogdyskap in ander Afrikalande
dikwels beperk was tot 'n paar sendingstasies terwyl hulle die res van die
tyd geheel en al in eiebelang opgetree het, het die Afrikaner voogdyskap tot
op die letter toegepas en 'n verantwoordelikheid teenoor die lot van swart
Afrikane aanvaar wat alle perke van eiebelang en redelikheid oorskry het.
Selfs die mees filantropiese Skandinawiese land het nog nooit meer as 3% van
sy Bruto Nasionale Produk aan ontwikkelingshulp in die Derde Wêreld bestee
nie. Die grote Amerika spandeer al vir baie jare heelwat minder as 1% van
sy BNP aan ontwikkelingshulp. Watter persentasie van Afrikaner-BNP is onder
apartheid aan die ontwikkeling van die tuislande en swart onderwys bestee?
Waarskynlik heelwat meer as 3%.
Indien Afrikaners hoegenaamd enige erkenning ontvang het vir die kolossale
rol wat hulle in die pas afgelope eeu gespeel het in die opheffing van
Suid-Afrika se swart bevolking, en nog steeds speel, sou dit miskien nog sin
gemaak het. Ons sou miskien beloon kon gewees het met allerlei
internasionale pryse, 'n reputasie kon geniet het soos dié van Moeder
Teresa, as 'n volk wat hulself selfloos opgeoffer het vir die welvaart van
ander. Maar helaas, u weet en ek weet dat geen ander volk op aarde vir so
lank internasionaal verguis is vir die koloniale voogdyskap wat hulle so
lank en so verkeerdelik na my mening oor swartmense aanvaar het nie.
In weerwil van 'n algemene opleidingsvlak wat vergelyk met dié van die mees
gevorderde Westerse lande, is ons vandag die armste mense van Westerse
afkoms ter wêreld, met waarskynlik 'n inkomste per kop wat kwalik met dié
van Portugal vergelyk. Dit alleen is getuienis van die groot opofferings
wat Afrikaners in die verlede gemaak het om die algemene welvaart van
Suid-Afrika te verhoog, altyd maar altyd ten koste van hulself.
In daardie sin was 1994 vir ons almal 'n geweldige bevryding. Mag
Afrikaners nooit weer oor enige ander volk of volkere heers nie, en mag ons
vergeet van die fundamentalistiese Protestantse gedagte dat ons oor 'n
roeping beskik. Vandag word Suid-Afrika hoofsaaklik deur swartmense regeer,
en dit is ons beurt om oorheers te word. N.P. van Wyk Louw was sekerlik een
van ons mees profetiese digters, en sy gedig "Julle is die oorheersers" uit
die reeks "Gedagtes, liedere en gebede van 'n soldaat" is vandag vir ons
geldiger as ooit:
Na aanleiding van Annette se berig uit Sarie oor die seksuele losbandigheid
onder jongmense en dan veral skoolkinders plaas ek hierdie nuwe thread. Ek
glo persoonlik dat dit die eintlike oorsaak is van baie probleme wat ons
deesdae mee te doen het. Natuurlik sal daar mense wees wat met my verskil en
ons postmoderne samelewing sal sê dat dit hulle reg is om van my te verskil,
maar net so is dit my reg om te pleit vir die herinstelling van die
huisgesin. Ja, jy het reg gelees. Ek praat van die herinstelling van die
huisgesin, want volgens my is daar amper glad nie meer so iets soos gesinne
nie. Ons kan die verindividualisering van mense straks as een van die
sterkste kenmerke van die een-en-twintigste-eeuse samelewing beskou.
Verbondendheid aan `n spesifieke groep is besig om in onguns te raak. Elke
mens word gesien as `n enkeling op sy eie, met groot klem op individuele
regte en individuele prestasie. In die plek van die groepsgebondenheid word
individue bloot deel van `n groot massa. Die uiteinde is `n samelewing van
identiteitlose enkelinge in `n massa.
Hierdie ontwikkeling word die duidelikste gesien in wat aan die gebeur is
met huisgesinne.
Pastorale beraders wys daarop dat verbrokkeling van huisgesinne een van die
basiese probleme van ons tyd is. Van `n samehorigheidsgevoel is daar by die
(post?)-moderne huisgesin min sprake. Die huisgesin is vervang deur `n
aantal enkelinge wat as `t ware toevallig binne dieselfde leefruimte
bestaan. Van die "vader"- en "moeder"-figure het daar bitter min oorgebly.
* Die pa is nie meer hoof van ie huis wat leiding en rigting op geestelike
en stoflike gebied gee nie. In die plek daarvan het die pa maar net die
huisgenoot geword wat moet sorg dat daar genoeg geld in die huis is.
* Die ma is nie meer die vaste anker in wie die huisgesin se praktiese en
geloofsbestaan saamtrek nie. Sy is nou maar net die een wat die finansies
moet aanvul deur `n ekstra inkomste te verdien en die een wat die logistieke
reëlings in die huishouding moet tref, soos maaltye en klere wat versorg
moet word.
* Selfs die onderlinge verbondenheid van pa en ma in die huwelik is deur
die gees van individualisme ernstig geknou. Die huwelik begin al meer die
gestalte kry van `n vennootskap van twee individue met gemeenskaplik
belange. Maar binne hierdie vennootskap het elkeen sy/haar eie belange en
eie agenda. As een of albei se individuele behoeftes nie meer deur die
huwelik bevredig word nie, is dit maar net `n kwessie van soek na `n nuwe
vennootskap wat elkeen se behoeftes beter pas.
Die oorsake van hierdie groeiende verindividualisering kan op baie plekke
gesoek word. Sosioloë meen dat televisie een van die groot oorsake is.
Televisie is soos `n gas wat `n mens in jou huis ingenooi het en wat kort
voor lank die hele huishouding oorneem. Die oorname het begin deurdat
televisie gevestigde patrone van die huisgesin versteur het: maaltye moes
verskuif word ter wille van TV-programme; saamkuiertyd van die gesin moes
noodwendig ingekort word om plek te maak vir TV-kyk; selfs huisgodsdiens
moes terugstaan vir goeie televisieprogramme.
Aanvanklik was daar die "troos" van "huisgodsdiens"-programme wat oor
televisie gebeeldsend is. Die programme het egter net lank genoeg gehou om
gesinne af te leer om self hulle huisgodsdiens in stand te hou. Toe
"huisgodsdien"-programme op televisie tot `n einde kom, was die skade klaar
gedoen. Huisgodsdiens was iets van die verlede vir meeste huisgesinne.
Tegelykertyd het huisgesinne ook afgeleer hoe om met mekaar te kommunikeer.
Die huisgesin het saans versplinter in `n aantal enkelinge wat toevallig
maar net na dieselfde televisiestel sit en kyk.
Mettertyd het die televisie se aanhang darem begin afneem en het mense al
minder vasgenael gesit voor die skerm. Maar die skade was klaar gedoen.
Huisgesinne het vergeet wat dit is om as gesin saam te wees. Hulle het bly
voortbestaan as `n versameling van enkelinge.
Die televisie kan egter nie as enigste sondebok uitgesonder word nie. Die
tydsgees van die 21ste eeu is ook teen die huisgesin. Die post-modernisme
met sy oormatige kelm op die menslike subjek (elkeen sien die waarheid op sy
eie manier) het baie bygedra tot die situasie van verindividualisering
waarin elkeen dink en doen soos hy/sy wil. Van `n samehorigheidsgevoel het
daar bitter min oorgebly. `n Pa wat pa en `n ma wat ma vir hulle gesin
probeer wees, word vanuit die feminisme aangestaar byna asof hulle aan `n
halsmisdaad skuldig is, Nee, elkeen moet individu in eie reg wees!
Die prestasiedruk van die samelewing eis ook sy tol. Pa en Ma moet, om die
finansiële eise van ons tyd by te bly, al beter in hulle werk presteer. Dit
beteken al langer ure by die werk en al minder tyd vir hulle huisgesin.
Nie dat die kinders dit aldag agterkom nie, want by die skole word daar
soveel prestasiedruk op kinders geplaas dat die kinders in elk geval selde
tuis is. Daarby gaan tieners gebuk onder geweldige groepsdruk wat van hulle
verg om eerder tyd met maats deur te bring as met die gesin.
In praktyk is die huisgesin besig om `n bedreigde spesie te word.
Die gevolge van die vernietiging van huisgesinne is verdere vernietiging van
die samelewing. Dat ons samelewing ontaard het in `n massa-versameling van
vereensaamde enkelinge is al ou nuus. Vereensaming te midde van `n groot
skare van ewe eensames is die siekte van ons tyd. Die wonderlike "vryheid"
van op jou eie wees, haal baie mense wat van hulle gesinne weggebreek het op
die lang duur in. Dikwels eindig so iemand in depressie en minderwaardige
gevoelens. Die veilige bande van `n huisgesin is immers minder "knellend"
as die betekenisloosheid van maar net op jouself aangewese wees.
Van dissipline binne gesinsverband het daar bitter min oorgebly. Ouers wat
wel dissipline probeer handhaaf, word maklik daarvan beskuldig dat hulle die
individuele regte van hulle kinders aantas. Sielkundiges stem saam dat
kinders die veilige grense van `n goedgedissiplineerde huishouding nodig
het. Daarsonder verval hulle in onsekerheid en kom allerlei
gedragsafwykings na vore.
Hierdie gebrek aan dissipline in die gesin kring uit na die skole, waarin
dissiplinêre optrede al byna `n vergete mite geword het. Uiteindelik,
wanneer die ongedissiplineerde kinders grootword, gee hulle die pas aan in
`n ongedissiplineerde samelewing waarin wet en orde kwalik gehandhaaf kan
word. Daarom is die verval van die huisgesin tegelykertyd die verval van
die samelewing.
Hierteenoor laat God in Sy Woord geen twyfel nie dat Hy die gesin ingestel
het om die grondslag van die samelewing te wees en om tot heil en seën van
almal te dien. Die seën van die huisgesin word digterlik beskrywe in Psalm
128. In Josua 24:15 hoor ons die aangrypende uitroep van Josua namens sy
huisgesin: " Ek en my huis, ons sal die HERE dien." In Psalm 127:1 hoor
ons: "As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan
bou." In 1 Timoteus 3:4 word dit as deug beskou as iemand sy eie huis goed
kan regeer en sy kinders in alle waardigheid in onderdanigheid hou.
Daarom wil ek pleit dat daar ernstig gewerk moet word aan die rehabilitasie
en herstel van die huisgesin as ruggraat van die samelewing.
Die verval het al so ver gevorder dat `n mens moet dink aan heel onder optel
en weer oor begin bou. Dit sal inspanning vra van alle betrokke partye.
*Elke huisgesin kan byvoorbeeld besluit om een aand per week vir gesinsbou
opsy te sit. Laat elkeen `n afspraak maak in sy/haar dagboek vir `n
bepaalde weeksaand wanneer geen lid van die gesin iets mag aan hê nie (nou
nie van hul klere gepraat nie). Daardie aand bly die hele gesin tuis. Die
televisie en die radio word glad nie aangeskakel nie. Die rehabilitasie
vind plaas deurdat die gesin op sulke aande weer moet aanleer om met mekaar
te praat. Maak huisgodsdiens gerus maar weer een van die agendapunte.
*Die pa en ma van die huis kan nog `n ekstra aand van die week net vir hulle
as egpaar opsy sit - nie om saam uit te gaan nie (dit kan soms ook wel),
maar om met mekaar te praat. Egpare het ook al verleer om met mekaar te
praat.
1 Timoteus 5:4 "Die kinders moet leer om teenoor hulle eie huis eerbied te
betoon en hulle ouers te vergoed. Dit is goed en aangenaam voor God."
Daar is die verwarde besnyde boertjie toe die wenner. Ek is bly vir sy part.
Eintlik moet hulle die hele ding verander sodat daar nie diskriminasie
plaasvind nie.
Die miljoen moet in die totale aantal ure van al die huismaats vedeel word -
dat kry elkeen prorata 'n deel van die totale ure wat hulle in die huis
gebly het kry.
Dan sal mens sien hoe almal lieg en bedrieg om so lank moontlik binne te bly
Dis nou vrouens wat hul mans dik tik - neem ook nou glo drasties toe hier in
ons land.
Dis alles Rugby se skuld - dis die prima donnas wat altyd eerste slaan as
hulle fer en skwer getekkel word..;))
Annette
Uiteindelik. En hy het ook sommer hier in die kaap rond gebly - seker dat hy
deur sy mense beskerm sou word. Iewers het dit tot iemand deurgedring dat
die bommery en skietery op polisie opgehou het toe Jeneker agter tralies
was.
Hoop net Lennit Max hou by sy belofte dat diegene wat aan hom huisvesting en
skuilplek verskaf het tydens sy ontsnapping vervolg sal word.
Annette
oftewel faalangst skyn die gemeenskaplike deler op 'n sekere ng. te wees.
Die onderstaande adres lys dan ook alle karakters op daardie besondere
speelgroepie.
Op sommiges is bykans die hele lys van toepassing. :-)
Ek meen, wie sal nie bang wees vir 'n woord soos
hippopotomonstrosesquippedaliophobia nie?
Moet tog net nie lei aan leukophobia nie.
Oor die algemeen lei die Internet Polisie self aan paralipophobia.
Ek verstaan Karen Zoid het 'n innoverende manier gevind om haar gehore
opgewonde te kry - sy't vir 'n kamera geflash. Die koerant beskryf dit in
ietwat sappiger taal.
Nou weet ons hoe kry sy haar Afrikaners plesierig (en dan maak hulle sê...).
Nou wil ek weet - is die noodsaak van so 'n aksie 'n refleksie op haar
Potchefstroomse gehoor, of op haar?
In die Sarie van September kom ek toe op hierdie artikel af wat baie stof
tot nadenke het:
Wit, ryk, getroude, voorstedelike, Afrikaanssprekende vroue kry nie vigs
nie. Dink weer.
Afrikaners is plesierig, dit kan julle glo. Hul hou van partytjies, en dan
maak hulle so.
My matras en jou kombers en daar lê die ding.
Twee welbekende volksliedjies wat al hoe meer beslag het.
Vigs is mos die siekte vir swart mense, gays, dwelmslawe, arm mense, en die
ongelukkige hier en daar wat 'n ruk gelede moes bloedoortappings kry.
Sewe keer meer wit Suid-Afrikaners sterf aan vigs as wit mense in ander
Eerstewêreldlande.
MIV/Vigs onder Afrikaners is 'n bom wat wag om te bars, volgens Prof
Christina Landman by Unisa en Jo Viljoen, 'n berader van Pretoria.
Hulle het 'n opname in gegoede, tradasioneel wit woonbuurte in Pretoria
gedoen. Verskanste buurte. Verskeie wit Afrikaanssprekende vroue het met hul
MIV-status vorendag gekom.
By verdere ondersoek is bevind dat in 'n bekende private hospitaal in
Pretoria, is 30% van hul MIV pasiënte wit, gegoed en getroud. Op navraag
hoekom die vrouens nie daaroor praat nie, is die deursnee antwoord: Ons is
van kleins af geleer om nie uit die huis uit te praat nie en om nie die
familie in die skande te steek nie.
Tine van de Maas, van Health Educational Services, beweer dat wit Afrikaanse
vroue die groep is wat die moeilikste uit die MIV-kas klim. Hulle vertel
dikwels nie eers vir hul man nie. Sy reken dis omdat daar in die Afrikaanse
kultuur nie juis oor seks gepraat word nie.Die seksvoorligting wat hulle
gekry het was ook nie te waffers nie.
Afrikaanse vroue ( en mans - A) word groot met die idee dat sekspraatjies
taboe is. Die meeste vrouens, selfs jonges, sê dat hul ma nooit met hulle
oor hul private liggaamsdele of oor seks gepraat het nie. Volgens Tine praat
vrouens nie eers openlik daaroor as hulle verkrag is nie- hoeveel te meer
nog oor vigs, met 'n geurtjie van losbandigheid wat daaraan kleef.. Want
hoor mense jy is MIV- positief, is die eerste gedagte dat jy los van sedes
is.
Wittes beleef die stigma wat aan Vigs kleef erger as ander bevolkingsgroepe.
Ouers met sulke kinders ervaar dit soos buite-egtelike swangerskap 'n paar
jaar gelede. Tine weet van twee meisies, uit Afrikaanse gesinne, wat na 'n
hospies in 'n ander stad gestuur is. Hul ouers het gesê hulle is oorsee. Na
hul dood is vertel hulle was in 'n motorongeluk en erg vermink, sodat die
kis kon toe bly en niemand kon sien hoe hul lyk nie. Die ouers se grootste
bekommernis was : Wat sal die dominee sê as hy uitvind? En die familie, bure
en vriende?
Tog word die kat lekker in die donker geknyp ( A - en dit is ook 'n ou
tradisie waaraan selfs die stoere voortrekkers lustig deelgeneem het).
Volgens Landman toon statistieke dat 50% van wit mans en 30% van wit vroue
in SA die een of ander tyd in 'n buite-egtlike verhouding betrokke raak.
Tine sê toetse vir MIV-vigs is lukraak onder grotendeels wit Afrikaanse
mynwerkers op 'n dorp in Noordwes gedoen. Twaalf mans se uitslae was
positief, maar hulle het almal volgehou hulle was nog nooit ontrou nie. En
hulle was toe reg - dit was toe die vrouens wat stout was. Daar was toe al
die tyd 'n sexy manlike tennisafrigter wat die vroue meer as tennis geleer
het. Hy was MIV-positief en het 22 vroue aangesteek.
Tine reken wit Afrikaanssprekende vroue bo 40 slaap minder rond as hul
Engelse eweknie. As hulle skei en een of twee verhoudings aanknoop, beskou
hulle dit nie as rondslaap nie.
Boonop gaan min paartjies - jonk en oud- wat op trou staan vir 'n MIV-toets.
Die jong Afrikaanse generasie het nie remme nie. Seks is so normaal soos hop
in die bed. Landman skryf sowat 50% van alle 15-jariges in SA is seksueel
aktief, en op 17 het 70% min of meer gereelde seksuele kontak.
Net 'n rassis sal dink dit sluit nie wit kinders in nie.
Volgens Tine gebruik Afrikaanse meisies nie graag voorbehoedmiddels nie,
want dan was dit hul plan om seks te hê en is hulle "skuldig" aan onsedelike
gedrag. Maar as dit net "gebeur" pla hul gewete nie.
Wit kinders loop ook nie met 'n kondoom in die sak rond nie, uit vrees dat
hul ouers daarop sal afkom. Die gewilde keuse is die morning after pil.
Tine vertel van 'n gr 9 leerling wat al so dikwels die morning-after pil
gebruik het, dat dit nie meer effektief was nie. Toe sy swanger raak, het sy
'n aborsie gehad sonder haar ouers se medewete. ( meisies bo 14 kan 'n
aborsie sonder die ouers se toestemming kry, maar vir 'n blindedermoperasie
is toestemming nodig.)
Elke jaar is daar 'n groot vraag na morning-after pille tydens en na die
jool-vlotbouery by US. ( Universiteit Stellenbosch), gevolg deur 'n toeloop
vir die behandeling van geslagsiektes. Jong meisies en vroue sê dikwels
hulle gebruik nie kondome nie, want hul vriend is "skoon".
Nelly van de Maas, Tine se moeder, het eendag 'n vroulike bergie ontmoet. Sy
het vigs en ander geslagsiektes gehad. Sy vertel dat sy deeltyds 'n
sekswerker is. Haar kliënte is skoolseuns, leerlinge aan model C-skole met
uitstekende slaagsyfers. Vrydagmiddae staan 30 - 40 seuns met 'n bottel
tequila tou om van haar en haar kollegas se diens gebruik te maak. " Ek is
tevrede mevrou, want ons kry darem 'n paar bob, 'n dop of twee en 'n paar
entjies(sigarette)"
Nelly het dit aan die skoolhoofde vertel en een was woedend vir haar. Dit is
dan ordentlike kinders.
"Ongelukkig weet ons van seuns wat gereeld in die bergie-tou getaan het, wat
vigs gekry het, en hul vriendinne aangesteek het."
Die tradisioneel wit Afrikaanse kerke knyp net oë en ore styf toe, sê Tine.
"Ons praat baie in kerke, maar baie min in tradisioneel wit Afrikaanse
kerke. Hulle is nie lus vir vigs nie." Ten spyte daarvan dat sy berading aan
3 predikante uit hierdie kerke gee wat MIV-positief is.
'n Jong vrou met vigs wat sterwend was, wou graag met 'n NG predikant praat.
Daar was sowat 80 predikante in die omgewing, maar Tine moes sukkel om een
te kry wat bereid was om dit te doen.
Ek luister na wat hy sê en dis net sonde hier en hel en verdoemenis daar. Ek
sien sy raak teneurgedruk en roep hom eenkant toe. Dominee, jy gaan nou
praat oor God se liefde, sy genade, die hemel, blommetjies en engeltjies. As
jy dit nie kan doen nie, moet jy maar liewer loop. Hy het toe terug in die
kamer gegaan. Die blommetjies was maar klein, die engeltjies stillerig en
God se liefde wou net nie straal nie.
Sy is dood, en geen Afrikaanse predikant wou haar begrawe nie. 'n
Anglikaanse predikant het die begrafnis gelei.
Die opsomming: Getroud wees en Afrikaans wees kan jou nie teen die MIV-virus
beskerm nie. Jou kerklidmaatskap, status in die gemeenskap en bankbalans ook
nie. En beslis nie jou adres nie.
Hierdie artikel het diep tot my gespreek, en ek voel verplig om dit onder
soveel as moontlik tradisioneel wit Afrikaanse kerke, hul gemeentelede, en
skole tuis te bring.
Ons praat van opvoeding onder die swartes, en ons kan nie die ernstige
tekortkominge in ons eie gemeenskappe raaksien nie.
Annette
In die lig van die konstitusionele hof se beslissing, waarin die wil van die
kiesers heeltemal geignoreer word, hoekom sal daar in die toekoms geld en
tyd gemors word op verkiesings?
Ons kan tereg sê ons land het 'n nuwe tipe "demokratiese verkiesing"
ingelui.
Annette