Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Rassisme en onkundigheid speel beslis 'n rol

Wo., 17 Desember 2003 18:43

Rassisme en onkundigheid speel beslis 'n rol
Charles Miller


Na aanleiding van 'n onlangse brief in die Herald rakende toets-
beamptes, wil ek graag my ervaring met lesers deel. Ses onderwysers
van Randfontein is onlangs deur toetsbeamptes van Carletonville se
verkeersafdeling vir Kode 10-lisensies getoets. Al die betrokke
persone het verskeie bestuurslesse ter voorbereiding ontvang. Die
eerste kandidaat se afspraak was om 08:00 maar hy moes wag tot 08:20
omdat die baan in orde gekry moes word. Toe hoor hy dat daar 'n
dubbele bespreking is en dat hy weer moes wag. Tien minute later het
sy toets begin met twee toetsbeamptes, en nog tien minute later was
sy toets verby. Volgens die twee toetsbeamptes wat tussen 40 en 50
meter van die voertuig gestaan en gesels het, het die voertuig 'n
millimeter terugbeweeg teen die bultjie. Nie die kommentaar van die
bestuurskoolpersoneel of ander ooggetuies kon hulle oortuig nie. Op
die toetsvorm is die kandidaat ook verskeie kere gepenaliseer vir
aktiwiteite wat wel korrek uitgevoer is. Ongelukkig was die hoof van
die lisensie-afdeling by wie hy 'n klagte aanhangig wou maak, op
daardie stadium nog nie op kantoor nie en kon die assistent-hoof,
mnr. Riaan Theunissen, slegs voorstel dat die saak na die
inspektoraat verwys word. Hy het wel genoem dat daar net een
toetsbeampte tydens die toets teenwoordig mag wees. Moes hulle mekaar
dan in hulle getuienis ondersteun? Die suksesvolle persone moes die
volgende dag terugkeer vir die uitreiking van die lisensies. Na vier
ure se rondstuur tussen bakoord na stuurboord met onvolledige vorms,
onkundige en onwillige personeel, kan niemand ons kwalik neem as ons
meen dat rassisme, algehele onbekwaamheid en ongeorganiseerdheid 'n
groot rol in hierdie martelproses gespeel het nie. Mnr. Moses
Maselesa, bestuurder: openbare veiligheid en sekuriteit van die
Merafong-munisipaliteit, antwoord: Daar word deeglik kennis gedra van
mnr. Miller se brief en al die frustrasies soos uiteen gesit. Hierdie
kantoor wil dit egter op rekord stel dat die provinsiale inspektoraat
dieselfde dag van die voorval in kennis gestel is. Daar is besluit
dat die betrokke toetsbeampte reg opgetree het om die applikant te
laat druip vir die aktiwiteit wat uitgevoer was. Die betrokke persoon
is genooi om 'n volgende afspraak kosteloos te maak vir sy
bestuurders-lisensie. 'n Ander toetsbeampte sou hom/haar toets. Die
kantoor wil egter inwoners aanraai om enige probleme en frustrasies
wat op grondvlak ervaar word, by die toesighoudende personeel van
daardie betrokke afdeling aan te meld. Daar word dringend aandag
gegee aan alle klagtes of probleme, soos omskryf deur die Bato Pele
(mense eerste) beleid.

http://www.news24.com/Regional_Papers/Components/Category_Ar ticle_Text
_Template/0,,348_1458325~A,00.html

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Boer woedend oor verlies van 13 beeste

Wo., 17 Desember 2003 18:43

Boer woedend oor verlies van 13 beeste
Christine van der Westhuizen


"As 'n plakkershut afbrand, word daar net komberse en kos aangedra,
maar niemand gee om vir die boere nie. Niemand vra: kan ek help?" Dit
is die moedelose woorde van 'n boer in die Doornfontein-omgewing wat
dertien "lieflingbeeste" binne nege dae aan die hand van veediewe
verloor het. "Hierdie barbare steel nie omdat hulle honger is nie.
Dit is 'n besigheid. Geen mens kan soveel beeste opeet nie," sê die
boer wat verkies om naamloos te bly. In die eerste voorval is vyf
stoetverse wat pas vir die eerste keer gedek was, afgeslag. "Dit is
nie net vyf beeste nie. Hierdie verse kon nog vir veertien jaar
vorentoe gekalf het. Ek het dus vyf maal veertien beeste verloor." In
die tweede voorval is nege beeste geslag. Twee karkasse wat die diewe
blykbaar nie kon wegdra nie, het op die toneel agtergebly. Volgens
die boer steel veediewe eerder verse want bulkallers is te wild.
Skape word gesteel deur 'n plastieksak oor hul koppe te trek sodat
hulle nie kan blêr nie. "Ons boere meen die regering gee nie 'n duit
om nie en die polisie se hande is afgekap. Die regering moet die
polisie meer mag gee om veediewe aan te vat. "Dit lyk my die regering
geniet dit dat ons op pad is om in 'n tweede Zimbabwe te ontaard."
Die boer sê die woede wat hy in hom voel is genoeg om 'n
veedief "dood te ry" as hy op hom sou afkom. "Dan sal hulle seker sê
ek is 'n rassis, maar dit het niks met rassisme te doen nie, dit
is 'n misdaad." Hy moes noodgedwonge van sy 90 stoetbokke en al sy
skape ontslae raak omdat die diefstal daarvan eenvoudig hand uitgeruk
het. "Hoe moet ek aanhou boer as tussen R40 000 en R50 000 van my
stoetvee jaarliks gesteel word? Ons boer nie met gewone vleisbeeste
nie. 'n Stoetbees is 'n bees met identiteit, jy weet wie is sy ma en
sy pa." Hy verwys na 'n voorval vroeër die jaar in Kwa-Zulu Natal
waarin twee vermeende veediewe se ore en hande afgekap is en wonder
of plakkate van dié voorval nie veediefstal sal stopsit nie. "Ons
boere aanvaar die nuwe regering en die veranderinge wat aangebring
is. Maar hoe kan ons vir hulle stem as hulle niks doen om ons te help
nie?"

http://www.news24.com/Regional_Papers/Components/Category_Ar ticle_Text
_Template/0,,348_1458352~A,00.html

Landbou & veeteelt | 0 kommentare

Man vas ná seks met lyk

Wo., 17 Desember 2003 18:43

Man vas ná seks met lyk
Willie du Plessis


'n Pasiënt van die Carletonville Hospitaal is in hegtenis geneem ná hy
glo op heterdaad betrap is terwyl hy seks met 'n lyk in een van die
hospitaalsale gehad het. Hy het Maandag in die Oberholzer-landdroshof
verskyn waartydens sy borgaansoek geweier is. Die saak is vir verdere
ondersoek uitgestel. 'n Saak van poging tot verkragting (nekrofilie)
word tans teen hom ondersoek. Die man, glo in sy twintigerjare, is
Donderdag omstreeks 17:00 betrap. Die hoof uitvoerende beampte van
die Carletonville Hospitaal, mnr. Lungile Dukwana, het bevestig dat
die polisie besig is met 'n ondersoek na die beweerde verkragting.
Volgens hom is die hospitaal ook besig met 'n interne ondersoek
waarmee hulle hoop om meer feite oor die voorval in te win. Dit moet
ook nog vasgestel word hoe die pasiënt toegang tot die lyk kon gekry
het. Dukwana sê die hospitaal is geskok en betreur die beweerde
gebeurtenis. "Die welstand van ons pasiënte is vir ons baie
belangrik," sê hy. Volgens hom is die familie van die oorlede vrou
reeds oor die gebeurtenis in kennis gestel en die hospitaal se
simpatie is aan hulle oorgedra. Hy sê sienende dat die voorval tans
deur die polisie ondersoek word, kan daar nie verder kommentaar
gelewer word nie.

http://www.news24.com/Regional_Papers/Components/Category_Ar ticle_Text
_Template/0,,348_1458329~A,00.html

Koeitjies & kalfies | 3 kommentare

Afrikaners stroom om 'verlede te onthou'

Wo., 17 Desember 2003 18:43

Afrikaners stroom om 'verlede te onthou'
ALET RADEMEYER

PRETORIA. - Afrikaners het gister van heinde en ver na die
Voortrekkermonument buite Pretoria gestroom om die "verlede te
onthou", "ons kinders hul erfenis te leer" en "God se nabyheid op te
soek".

Sowat 6 000 mense het die Geloftediens bygewoon.

Die monument was stampvol en vroue en kinders, jonges en grysaards
het onder tente gesit. Honderde het gewag totdat die sonlig net ná
12:00 op die senotaaf geval het waarna Die Stem gesing is.

As deel van Versoeningsdagvierings was me. Luli Callinicos, prof.
Willie Esterhuyse en me. Helen Sebidi, lede van die raad van trustees
van die Vryheidspark, gister gaste op die Geloftediens terwyl
uitvoerende lede van die Voortrekkermonument se historiese vereniging
op uitnodiging van die trustees van die Vryheidspark verrigtinge by
die Uniegebou bygewoon het.

Dit was gister die eerste keer dat nie-Afrikaners op die byeenkoms
ontvang is om die plegtigheid van 16 Desember mee te maak.

Vir talle was gister 'n eerste be soek aan die monument, terwyl
ander "op die paaie van die geskiedenis teruggeloop het".

Kleuters is aan die hand van ma's en pa's vertel van
Voortrekkertannies wat met ossewaens oor die Drakensberg getrek het
en wat by Bloedrivier gebeur het toe 464 Boere duisende Zoeloes
verslaan het.

"Dis vir my 'n hartroerende, hartseerdag. Ek is al oud en dis vir my
moeilik om te verander. Ek het vandag hier vergifnis gevra vir as ek
verkeerd was," het 'n emosionele mnr. Paul Bester (60) van Welkom
gesê.

"Ek is eintlik 'n Hollander, maar 'n mens voel saam met die Afrikaner
oor sy verlede," het Trish van der Poel (18) van Cullinan gesê .

Mnr. John Rodrich van Kimberley kom al vier jaar om sy "kinders van
hul erfenis te leer".

Me. Sam Scaife van Midrand het gekom omdat dit "iets is wat ek nog
altyd wou doen". Haar vriend, mnr. Arif Mahomed, het gesê dit pla hom
glad nie dat hy een van enkele anderskleuriges was nie. Hy sê dit
was 'n cool en insiggewende ervaring.

Marishka en Franco Breytenbach (9), 'n tweeling van Ermelo, was veral
beï ndruk met hoe goed die monument gebou is. Dit was ook vir hulle
lekker om te kan hoor en sien wat met hul voorouers gebeur het.

Mnr. Sampie de Beer (69) van Carletonville het onthou hoe hy in 1949
met 'n fakkel uit Potchefstroom gehardloop het vir die inwyding van
die monument. "Ek sê dit kan nog goed gaan. Ons moet net besef dit
help nie om om te kyk nie."

Prof. Piet Strauss, hoofleier van die Voortrekkerbeweging, het die
diens gelei. Hy het gesê die vraag is soos telkens in die
verlede: "Afrikaner, waar gaan jy heen? En die antwoord: Terug na U,
my God." Hy het gesê versoening is alleenlik bereikbaar as mense weer
na die wil van God vra en die samelewing op Christelike waardes begin
bou. "Die Afrikaner sal alleen reg op voortbestaan hê as hy sy
gemeenskap rig op die Bybel en Christelike waardes. Ons voortbestaan
hang nie af van die meerderheid wat bereid is om ons te verdra nie,
of van die Grondwet nie. Dit hang af of ons na die wil van God vra en
Sy eer soek."

http://www.news24.com/Die_Volksblad/Nuus/0,,5-83_1460448,00. html

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

'SA vorder, maar land bly verdeel'

Wo., 17 Desember 2003 18:43

'SA vorder, maar land bly verdeel'
Eagan Williamson en Mandy Rossouw

Die Suid-Afrikaanse samelewing bly verdeeld en min mense omhels die
idee van nasionale eenheid, het pres. Thabo Mbeki Dinsdag by die
Versoeningsdagseremonie by die Uniegebou in Pretoria gesê.

Hy het gesê baie vordering is gemaak om die land te herbou en
versoening te bewerkstellig, "maar ons moet ook erken dat baie nog
gedoen moet word".

Verskeie politieke leiers het die regering se uitnodiging aanvaar om
Dinsdag se viering by die Uniegebou by te woon.

Saam met Mbeki was mnre. Tony Leon, DA-leier, Daryl Swanepoel, NNP-
hoofsweep, en Cassie Aucamp, NA-leier. Dr. Pieter Mulder, leier van
die VF+, het die viering by die Voortrekkermonument bygewoon het.

Meer as 2 000 mense het by die Uniegebou opgedaag terwyl sowat 6 000
by die Voortrekkermonument was.

Die organiseerders van die Uniegebou-viering het sowat 20 000 mense
verwag vir die seremonie wat sowat R13 miljoen gekos het.

Mbeki het gesê dit is nou die tyd vir alle Suid-Afrikaners om hulle
tot 'n mense-kontrak te verbind vir die verbetering van die land,
onder meer om rassisme, armoede en dakloosheid te beveg. "Ons het 'n
stewige fondament gelê om op te bou."

Hy het gesê dis belangrik dat die helde van die stryd teen apartheid -
diegene verantwoordelik vir die geboorte van die nuwe Suid-Afrika -
erkenning kry en geëer word.

Aucamp het gevra dat die dag nie gepaard gaan met "volkshoogmoed
en 'n beskouing dat Afrikaners God se uitverkore volk in Suid-Afrika
is nie".

Hy het gesê die dag is 'n "teken van roepingsbesef" en het Afrikaners
herinner aan die "taak en roeping wat Afrikaners steeds in Suid-
Afrika het".
Leon het gesê politici moet gewoond raak aan die idee van politieke
opposisie omdat dit gesonde politieke wrywing veroorsaak en daarom
tot nuwe en konstruktiewe idees lei.
Volgens Leon is die ware toets vir versoening eerder die "oorgee van
mag".

"Toe die ANC aan die bewind gekom het, was dit 'n kritieke tyd in die
land se geskiedenis. Die klimaks sal wees wanneer hy sy mag afstaan
aan 'n opposisie wat 'n oorwinning by die stembus behaal het."

Swanepoel het elke Suid-Afrikaner uitgedaag om te help met die proses
om die nasie byeen te bring.
Mulder het in sy verklaring na die vakansiedag as "Geloftedag"
verwys en gesê as Afrikaners "feeste soos Geloftedag" moet
prysgee, "is die prys te duur en die versoeningsresep verkeerd".

Mulder het sy besorgdheid uitgespreek oor apatiese Afrikaners en
gesê "hul negatiwiteit verlam mede-Afrikaners omdat hulle kritiseer
sonder om oplossings aan te bied".

http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_1460303,00. html

Nuus | 0 kommentare

NG ouers wil stokkie steek voor 'kettery'

Wo., 17 Desember 2003 18:37

NG ouers wil stokkie steek voor 'kettery'
16/12/2003 22:17 - (SA)

NG ouers wil stokkie steek voor 'kettery'

Predikant het na bewering kinders van kerkraadslede op jeugkampe
herdoop

COBUS GROBLER

KAAPSTAD. - Enkele ouers het reeds aangedui dat die NG gemeente
Brackenfell-Wes se geskorste ds. Chris Swart nie volgende jaar hul
kinders mag katkiseer nie.

Dit is nog een van die skokke wat dié verdeelde gemeente die afgelope
twee maande getref het.

In die jongste stap het die gemeente se ring Swart verlede week oor
sy "siening van die doop" van sy predikantspligte onthef.

Die besluit sal hersien word as die ringskommissie en Swart voor 20
Januarie vergader.

'n Sweer het oopgebars toe mev. Cobie Swart, leraarsvrou, die
gewraakte kerktoring in 'n brief 'n "manlike fallus"genoem het "wat
voortdurend met die godin van die lug seksuele gemeenskap" het.

Ds. Swart het ook al gepreek: "Die Here sê die toring moet verwyder
word."

'n Besluit van die kerkraad om die toring af te breek, is later
herroep en daarmee saam is die egpaar Swart se siening oor dié
kerkgebou se toring verwerp.

Verskeie gegriefde lidmate het gekla oor "kettery" met wederdopery,
handopleggings in 'n klein vertrek, vervulling met die Heilige Gees,
vlagswaaiery, 'n charismatiese bedieningstyl en ander dwaalleringe
wat in die gemeente onder die vaandel van verandering posgevat het.

Selfs senior kerkraadslede se kinders wat as babas gedoop is, is glo
op jeugkampe herdoop.

'n Voormalige kerkraadslid, wat nie sy naam genoem wil hê nie omdat
almal die swye opgelê is en daar teen senior lidmate opgetree is wat
met die media gepraat het, het gesê sy kind moet volgende jaar deur
Swart gekatkiseer word. "Ek weier dat dit gebeur. Ons vertrou hom nie
meer nie."

Daar is ook klagtes dat 'n groepie meelopers of vertrouelinge van
Swart glo ander gemeentelede intimideer en selfs ander kerkgroepe
help om pamflette, onder meer teen die toring, in die omgewing te
versprei.

Swart self wou nie kommentaar lewer nie omdat die besluit oor sy
skorsing nog hangende is.

http://www.news24.com/Die_Burger/Nuus/0,,4-75_1460347,00.htm l

Koeitjies & kalfies | 4 kommentare

" Plaashek " deur UYS KRIGE

Wo., 17 Desember 2003 14:46

Uys Krige

Plaashek

Bloedrooi die aalwyn langs
die slingerpad.
Dis of daar vonke uit
elk vuurpyl spat.
Maar niks, niks roer nie . net
'n luggie wat
skrams aan die ritselende
grassate vat.

Daarbo die blou, blou lug,
daaronder die rivier
wat deur die boorde kronkel met
'n groene swier.
Niks stoor die yle swewende
bergstilte hier.

Ná al die jare maak ek weer
'n plaashek oop.
Waar het my paaie
tog nie geloop
om my hier by 'n hek te bring
van al my waan gestroop,
maar met my denke helder
en in my hart die hoop?

Die hek staan in die skad'wee van
'n kremetart.
Die stilte in my's volkome met
niks troebels, niks verward.
Ek lig die knip . Ek maak
'n hek oop in my hart.

Prosa & poësie | 7 kommentare

Geloftedag

Wo., 17 Desember 2003 05:44

Ek lees dat hulle beplan het vir 20 000 mense by die Uniegeboue gister en
toe net sowat 2 000 opgedaag het? Nou's Mbeki nie lekker daaroor en voel
dat die mense in SA nie wil versoen nie? Dieslefde ding gebeur jaar na
jaar hier by ons in Nam. Swapo huil omdat die blanke mense nie hul
onafhanklikheidsvierings wil bywoon nie en dat die mense nie wil versoen
nie.
Nou wil ek nie reguit sê politici is oor die algemeen mense wat nie in
gewone beroepe kon slaag nie, maar mens wonder oor hul 'common sense'. Hoe
kan iemand die een dag die blankes sleg sê vir alles wat moontlik verkeerd
kan wees en die volgende dag verwag hy moet by 'n politieke byeenkoms gaan
'versoen'? Alles op sy eie koste ook nogal: Hy moet self daar kom met sy
eie vervoer en wat is die kans dat by sy kar ingebreek of sommer in die
geheel gesteel gaan word? Alles net vir die voorreg om 'man op man' by die
grootbaas te hoor hoe sleg jy en jou mense dan nou is? Dalk moet iemand
vir hierdie intellektuele reuse in die oor fluister dat dié manier van hulle
juis die teenoorgestelde bereik? Praat redelik, en jy kry redelikheid.

Koeitjies & kalfies | 13 kommentare

" Maria " deur ELIZABETH EYBERS

Wo., 17 Desember 2003 02:17

Elizabeth Eybers

Maria

'n Engel het dit self gebring,
die vreugde-boodskap - en jy het
'n lofsang tot Gods eer gesing,
Maria, nooi uit Nasaret!

Maar toe Josef van jou wou skei
en bure-agterdog jou pla,
het jy kon dink eenmaal sou hê
die hele wêreldskande dra?

Toe jy soms met 'n glimlag langs
jou liggaam stryk . die stilte instaar .
wis jy met hoeveel liefde en angs
sou hê sy hellevaart aanvaar?

Die nag daar in die stal - geeneen
om in jou nood by jou te staan -
het jy geweet dat hy alléén
Getsemane sou binnegaan?

Toe vorste uit die Ooste kom
om nederig hulde te betoon,
wis jy hoe die soldate hom
tot koning van die volk sou kroon?

En toe hy in jou arms lê,
sy mondjie teen jou volle bors,
het jy geweet dat hy sou sê,
toe dit te laat was: Ek het dors!

Toe dit verby was en jy met
sy vriend Johannes huis toe gaan -
Maria, vrou van smarte, het
jy tóé die boodskap goed verstaan?

Prosa & poësie | 1 kommentaar

Noudat Saddam gevang is

Di., 16 Desember 2003 06:09

Moet ons begin regmaak vir 'n VSA inval via ons kus om Bob Mugabe beet te
kry? Of is daar iemand anders wat die Amerikaners eerder wil vang, net om
die vind van Osama op die agtergrond te skuif?

--
Annette

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Bladsye (1834): [ «    476  477  478  479  480  481  482  483  484  485  486  487  488  489  490  491    »]
Tyd nou: So. Apr. 05 18:55:32 UTC 2026