Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Wat maak oom Kalie daar?

Sa., 21 Julie 2018 10:33

WAT MAAK OOM KALIE DAAR?

Woorde: Tradisioneel en C.J. Langenhoven: Vers 1, 2, 3, 4, 5
Musiek: S.A. Volkswysie; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN, 1978

[Tradisioneel]

Wat maak Oom Kalie daar?
Wat maak Oom Kalie daar?
Oom Kalie steek 'n stywe dop;
hy slaan sy vrou met die handsambok!
Wat maak Oom Kalie daar?

[C.J. Langenhoven]

Wat maak Oom Kalie daar?
Wat maak Oom Kalie daar?
Oom Kalie maak hom klaar vir trou
met Mietjie die kwaai jong wedevrou.
En sy is vir hom klaar.

Wat dra Nig Mietjie daar?
Wat dra Nig Mietjie daar?
Nig Mietjie dra 'n rooi sisrok
en onder die rok 'n handsambok
Oom Kalie dra 'n blaar.

Wat maak Oom Kalie daar?
Wat maak Oom Kalie daar?
Hy's besig om hom vet te smeer,
en sweer: so nooit as nimmerweer
hy's met Nig Mietjie klaar.

Wat skree Nig Mietjie daar?
Wat skree Nig Mietjie daar?
"Oom Kalie," skree sy, "kom tog weer
my hartjie is tog al te seer,
nog seerder as die blaar."

Wat maak die twee nou daar?
Wat maak die twee nou daar?
Oom Kalie steek 'n stywe dop,
Nig Mietjie slaan met die handsambok.
En goed kom hulle klaar.

Musiek & liriek | 0 kommentare

Die lied van jong Suid-Afrika

Hoor jy die magtige dreuning...; Vr., 20 Julie 2018 19:22

DIE LIED VAN JONG SUID-AFRIKA

Woorde: Eitemal; gewysig: P. McLachlan
Musiek: Hugo Gutsche; verwerk: Dirkie de Villiers

En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef:
die lied van 'n volk se ontwaking
wat harte laat sidder en beef.
Van Kaapland tot bo in die Noorde
rys dawerend luid die akkoorde:
Dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika.

Die klop van die Voortrekkerwawiel
het die eeue se rus verstoor;
die klank van die voorlaaierskote
het klowe en kranse gehoor.
Die diere het stil staan en luister,
die bome het bewend gefluister:
Dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika,
dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika,
dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika.

Waar songloed in glorie die berge
oor hul fronsende voorhoof streel,
waar ruisende wind oor die vlaktes
met grassaad kerjakker en speel,
die land wat ons vaders gekoop het,
met bloed tot ons eie gedoop het:
Dit is die LAND van Jong Suid-Afrika,
dit is die LAND van Jong Suid-Afrika,
dit is die LAND van Jong Suid-Afrika.

Die golwende veld is ons woning
en ons dak is die hemelblou;
die Vryheid alleen is ons koning,
sy wagwoord is: "Handhaaf en bou".
Die stryd wat ons vaders begin het
sal woed tot ons sterf of oorwin het.
Dit is die EED van Jong Suid-Afrika,
dit is die EED van Jong Suid-Afrika,
dit is die EED van Jong Suid-Afrika.


Musiek & liriek | 0 kommentare

Die Suidweslied / Das Südwesterlied

Hard soos kameeldoringhout...; Wo., 18 Julie 2018 19:30

Hier is die woorde van die bekende Suidweslied (deur H. Klein-Werner):

Hart wie Kameldornholz ist unser Land
und trocken sind seine Riviere.
Die Klippen, sie sind von der Sonne verbrannt,
und scheu sind im Busche die Tiere.
Und sollte man uns fragen:
Was hält euch denn hier fest?
Wir könnten nur sagen:
Wir lieben Südwest!

Doch uns´re Liebe ist teuer bezahlt,
trotz allem, wir lassen dich nicht,
Weil unsere Sorgen überstrahlt
der Sonne hell leuchtendes Licht.
Und sollte man uns fragen:
Was hält euch denn hier fest?
Wir könnten nur sagen:
Wir lieben Südwest!

Und kommst du selber in unser Land
und hast seine Weiten geseh´n,
Und hat uns´re Sonne ins Herz dir gebrannt,
dann kannst du nicht wieder geh´n.
Und sollte man dich fragen:
Was hält dich denn hier fest?
Du könntest nur sagen:
Ich liebe Südwest!


Musiek & liriek | 3 kommentare

Elkeen sterf volgens sy beroep

Ontslape maniere; Di., 17 Julie 2018 14:32

Volgens Fanus Rautenbach ons moet almal eendag sterwe, maar elkeen sterf volgens sy beroep:

1. Reisigers gaan heen.
2. Parlementslede op groen kussings gaan sag heen.
3. Die melkman en posman kom om.
4. Jagters gaan bokveld toe.
5. Kokke steek lepel in die dak.
6. Die horlosiemaker se tyd het aangebreek.
7. Die valskermspringer ontval ons.
8. Die tuinier is van die gras afgemaak
9. Die melkboer het die emmer geskop.
10. Die begrafnisondernemer sien sy gat.
11. Die dominee het die tydelike met die ewige verwissel.
12. Die ouderling is ontslape.
13. Die koerantman is direk hemel toe.
14. Die skeidsregter het sy laaste asem uitgeblaas.
15. Die dokter se hart het gaan staan.
16. Die elektrisiën se liggie is gedoof.
17. Die koster het die doodsklok hoor lui.
18. Die kleremaker se draad is geknip.
19. Die Springbokrugby-afrigter kom tot rus.
20. Die Bibliotekaris se laaste hoofstuk het aangebreek.
21. Skoonmoeder -- die duiwel het haar kom haal.

Kan julle aan enige ander dink?
- Die programmeerder se program het gecrash.
- Die drywer se trok het ontspoor.

Humor & grappe | 0 kommentare

Klapper-karringmelkbeskuit

So., 15 Julie 2018 10:05

Hier is 'n resep vir heerlike beskuit met 'n verskil:

Bestanddele:
2kg bruismeel
750ml klapper
750ml suiker
3 eiers
500g botter of margarien
1 liter karringmelk
2 teelepels sout

Metode:
Meng meel, klapper, suiker en sout saam en vryf botter met vingerpunte in.
Klits eiers en meng met karringmelk. Voeg by meelmengsel en meng goed.
Skep in panne en bak sowat 1 uur in voorverhitte oond by 180ºC.
Laat afkoel, breek in stukke en droog uit teen 100ºC (3-4 uur).

Kos & resepte | 0 kommentare

Roger slaan 'n bal ver, maar Kevin slaan hom "federer"

Do., 12 Julie 2018 15:42

Kevin Anderson het gister die wedstryd van sy lewe gespeel deur Roger Federer te klop, die eerste Suid-Afrikaner in 35 jaar om die halfeindronde van Wimbledon te haal. Federer het al agt Wimbledon-titels agter sy naam en het beslis nie verwag om teen Anderson vas te val nie. Die wedstryd het 4 uur en 15 minute geduur en die finale telling was 2-6, 6-7(5), 7-5, 6-4 en 13-11.

Suid-Afrika se Kevin Curren het laas in 1983 na die halfeindstryd deurgedring. Curren het in 1985 die eindstryd gehaal, maar was toe reeds 'n Amerikaanse burger.

Anderson kom Vrydag in die halfeindstryd teen John Isner van Amerika te staan. As hy wen sal hy teen Novak Djokovic of Rafael Nadal in die eindstryd speel.

Veels geluk ou Kevin, jy hou Suid-Afrika se naam hoog! Roger slaan 'n bal ver, maar Keven, jy slaan hom verder "federer". Nod

Ons hou duim vas dat hy die eindstryd sal haal...

Sport & ontspanning | 2 kommentare

Psalm 23

Do., 12 Julie 2018 06:38

'n PSALM van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.

Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.


-- Ou vertaling van Psalm 23.

Geloof & kerksake | 0 kommentare

Oom Sarel se windpomp

Wo., 11 Julie 2018 07:13

Die droogte in die Karoo het so erg geword dat daar niks meer oor is van oom Sarel se plaas nie.

Hy het al sy beeste laat slag, al sy skape verkoop. Die veld is so droog soos hy dit nog nooit in sy 65 jaar gesien het nie. Die plaaswerkers het verlede maand getrek om te gaan kyk of hulle nie kan werk kry in Zimbabwe nie, so sleg het dit gegaan.

Oom Sarel sit een oggend op die stoep, verby moedeloos. Skielik kom daar 'n helikopter oor gevlieg. Hy kyk die helikopter so, draai na tant Sarie en sê vir haar:

"Daar gaan ons windpomp nou ook!"

Humor & grappe | 0 kommentare

Twitter

Elke voël sing soos hy gebek is; Di., 10 Julie 2018 06:06

Ons het 'n voëltjie hoor fluit dat die forum nou op Twitter geregistreer is. Alle nuwe poste sal daar verskyn. Besoek ons asseblief by http://twitter.com/GeselligAfr, volg ons en her-tweet ons boodskappe.

Meer oor Twitter:

Twitter is 'n sosiale netwerk- en mikrojoernaaldiens wat gebruikers in staat stel om boodskappe, bekend as tweets, te versend en te lees. Tweets is teksgebaseerde boodskappe van tot 140 karakters wat op die outeur se profiel gepubliseer word en aan die outeur se subskripsiegehoor, sy sogenaamde volgelinge (Engels: "followers"), gestuur word.

Die verstekverstelling is dat boodskappe in die openbaar vrygestel word, maar gebruikers kan aflewering beperk tot diegene in hul virtuele vriendekring. Gebruikers kan tweets via die Twitter-webwerf, SMS of ander eksterne toepassings stuur en ontvang. Alhoewel die Twitterdiens op sigself niks kos nie, betaal die gebruiker wel vir toegangskostes soos internet- of SMS-fooie aan sy/haar persoonlike telekommunikasiediensverskaffer.


Sien Twitter op Wikipedia vir verdere inligting.

Kennisgewings | 0 kommentare

Gratis troue

So., 08 Julie 2018 12:54

Enige een van julle manne wat dalk belangstel?

My neef het geboek en reeds betaal vir 'n jagweek in Namibië. Hy het nie besef dit bots met sy troudatum nie. Indien enige iemand belangstel om sy plek in te neem kontak hom net.

Dis Saterdag by NG gemeente Brakpan om 14:00.
Sy is baie vriendelik en 'n bobaas kok.
Brunet en 62kg, 1.52m lank.
Sy sal die een wees in die wit rok.
Haar naam is Rita.

Humor & grappe | 5 kommentare

Bladsye (1834): [ «    38  39  40  41  42  43  44  45  46  47  48  49  50  51  52  53    »]
Tyd nou: Wo. Feb. 04 13:48:12 UTC 2026