Onder vier oë: 'Ek wil die Afrikaner bevry'
Aug 18 2006 06:12:55:040PM - (SA)
Jo-Ann Floris
Wat is dit met name in Potchefstroom wat maar net nie dieselfde wil bly
nie?
Die burgemeester lag lekker uit die maag uit.
Want terwyl dit in die stad en in die media gons oor die voorgestelde
verandering van Potch se naam, het hy ook nie op hom laat wag om 'n
naamsverandering in die kleine op homself te trek nie.
Dit was as mnr. Andrew Maphetle dat hy aangeteken is toe hy op 1 Maart
vanjaar verkies is tot uitvoerende burgemeester. Maar dis as Maphetle
Maphetle dat hy deesdae op alle vorms verskyn.
"My pa wou my nie regtig Andrew noem nie, maar toe hy my destyds wou
registreer, het die beampte gevra ' What's his Christian name?'
Toe noem hy my maar Andrew," vertel dié seun van 'n bruin ma en
'n Pedi-pa wat homself 'n Noord-Sotho noem.
Dít was die maklike deel van sy naamsveranderingsproses. Nou om die
naamsverandering van Potchefstroom na Tlokwe deurgevoer te kry.
En om vure dood te slaat oor hy sou gesê het die jaarlikse
Aardklop-kunstefees wat in Potch gehou word, verteenwoordig nie genoeg
van die kulturele rykdom van die stad nie . . .
Maphetle (42) lyk koel en beheers in sy donkergrys pak en
lemmetjiegroen hemp waar hy by 'n tafel in sy kantoor gaan sit.
In die ander hoek van die kantoor lê die lessenaar wit van dokumente,
leggers en vorms. Hy was drie dae uit die kantoor vir 'n lekgotla en
kyk hoe lyk die plek, maak hy verskoning.
'n Geraamde foto van sy kinders klou aan 'n hoekie van die
lessenaar vas.
"Twee meisies en 'n seun," beduie hy. "Dis ook maar goed my
vrou, Busi, hou die huis aan die gang. My een dogter wat in gr. 8 is,
het nou die dag vir my gesê sy wil nooit enige van my beroepe volg nie
- nie onderwys nie en ook nie politiek nie, want dit maak dat jy jou
familie min sien."
Hy is die jongste van nege kinders, die enigste in die gesin wat kon
beskostig om matriek te voltooi en verder te gaan studeer - tale
aan die destydse Universiteit van Potchefstroom (nou die
Noordwes-Universiteit), toe 'n meestersgraad in menslike
hulpbronbestuur aan die RAU (nou die Universiteit van Johannesburg).
In 1996 is hy aangestel as kommunikasiehoof in die
Noordwes-onderwysdepartement se suidstreek en dien in die
ANC-streekbestuur se uitvoerende raad.
Dis nou net ná 09:00 en Maphetle kom pas uit 'n vergadering. Die
koel houding maak plek vir 'n verskonende glimlag: "So, kan ons
Afrikaans praat, want julle is mos 'n Afrikaanse koerant? As ek 'n
ander taal praat, dan verstaan julle my dalk nie so mooi nie en netnou
lees die mense goed waar ek ander dinge sê as wat ek bedoel het."
Mense sê juis die munisipaliteit dreig om hom aan Aardklop te onttrek
omdat die fees te wit en Afrikaans is?
"Nee, nee, nee," keer hy onmiddellik.
"Potchefstroom is die land van Aardklop. Toe ek gesê het dinge by
die fees moet verander, het ek nie bedoel daar moet weggedoen word met
Afrikaanse kultuur nie, ek het gesê die fees moet uitgebrei word om
alle kulture hier in te sluit."
Hy sien op vanjaar se Aardklop-program is daar weer jazz in Ikageng en
een dramastuk in Tswana. Hy skud sy kop.
"Waar is mense soos Joe Mafela ('n bekende komediant), waar is die
Indiër-kultuur wat so ryk en kleurvol is? Wat kan ons mense bied wat
vertel van die bruin mense se kultuur?" begin sy hande saamgesels.
"Hulle moet nie daar doer op die rante gelos word nie. As ons praat
van Potchefstroom, moet dit outomaties wees van al die inwoners wat die
stad maak wat dit is. Noordwes is ryk aan cultural diversity; dis nie
reg dat ons nie alles met almal deel nie,"
Maphetle skuif gemaklik in sy stoel, die praat-kraan nou goed
oopgedraai.
"Afrikaans, Afrikaans. Ek praat hom, jy praat hom. Die taal gaan
nooit doodgaan nie, ons kinders gaan hom ook nog praat, want hy is mooi
en hy praat lekker.
"Hoekom nie die fees uitbrei nie, wil ek weet. Al is daar hoeveel
ander produksies, die dag nadat die fees verby is, sal die
Afrikaner-kultuur steeds daar wees. Niemand word bedreig nie; hul
kultuur word tog nie bedreig nie."
Hy wys die vinger na politieke partye wat sy opmerkings oor die fees
gebruik om vrees by veral wit inwoners in te boesem.
"Daai soort politici doen meer skade as enigiemand anders, want hulle
maak dat mense verdeeld bly en laer trek. En ek wil juis hê mense moet
uit daai laers kom sodat ons mekaar 'n slag kan vind."
Die raad se voorstel dat die dorp se naam moet verander word ook deur
sommige mense gesien as iets wat die dorp verder kan verdeel?
"Ek sien my grootste uitdaging as burgemeester as die emancipation
van die Afrikaner hier. Daar is van hul leiers wat speel op die mense
se gevoelens; speel op sagte plekkies soos taal, kultuur, godsdiens.
Hulle gebruik pogings om dié dinge reg te stel wat in die verlede
verkeerd gedoen is, om mense te manipuleer en hulle só bang te praat
hulle wil terugkruip in hul veilige omgewing."
Natuurlik kan hy verstaan dat mense bedreig voel - dis 'n
natuurlike ding as dinge verander en jy word skielik gekonfronteer met
nuwe, onbekende dinge.
"Maar dan is dit mos die tyd om te vra as jy nie verstaan nie - en
dit geld nie net wit mense nie. Ek is bereid om daai investment te maak
in mense, en dit was nie vir my maklik om op dié punt te kom nie."
En op dié punt raak hy ook weer aan hoekom hy dink 'n groot deel van
die inwoners ten gunste daarvan is dat die stad se naam verander. Hy
gaan haal die geskiedenis in 1835, toe die Voortrekkerleier Andries
Hendrik Potgieter hier aangekom het.
" 'n Paar dae later, toe is die plek se naam Potchefstroom en die
mense wat hy hier gekry het, is uitgeskuif Makweteng toe. En toe kom
die 1950's en Makweteng word Willem Klopperville en daar moet
Makweteng se mense wéér hulle se goed vat en trek."
Die mense wat nou spot dat die voorgestelde nuwe naam 'n soort bier
is, sluk uit die verkeerde beker, sê Maphetle.
Toe die swart mense uit Makweteng geskuif is Ikageng toe, is die
hoërskool daar genoem Tlokwe Secondary ter ere van die Batlokwe-stam,
een van die oorspronklike inwoners van die gebied.
Toe die destydse regering vroeg in die 1970's 'n brouery begin het
waar sorghumbier gemaak is, is dit eers Mooirivier Sorghumbier genoem.
Die naam is later verander na Tlokwe Sorghumbier.
"Die regering het gesê dis om die inwoners te laat onthou waar hulle
vandaan kom, maar ek weet darem nie. Wat ek wel weet, is dat die geld
wat uit die brouery gemaak is, die dorp help bou het, maar dis net
gebruik om een deel van die bevolking te help. Die swart mense wat die
sorghumbier gekoop het, kan ek jou nou sê, het nie die voordeel van
daai geld gesien nie."
Dít is vir hom die pad wat die stad geloop het tot hier waar die raad
wil hê die stad moet Tlokwe word.
"Van die ou inwoners van Makweteng het met sukses grondeise ingedien,
party het al hul geld gekry. As ek vergaderings met die mense hou, sê
hulle hulle is dankbaar vir die geld, maar wat hulle eintlik wil hê,
is dat hul waardigheid herstel word.
"Dignity . . . as jy dáái ding van iemand wegvat, het jy als van
hom gevat. So as mense vir ons sê 'n naamsverandering kan daai
waardigheid herstel, moet ons dit net meet aan geld, hoeveel dit gaan
kos? Dis 'n priceless thing, priceless," raak sy stem amper 'n
fluistering.
Hy vlam vinnig weer op. Ontken dat die geld vir die naamsverandering
van 26 strate in die stad geld wegvat by ander noodsaaklike dienste.
Ontken daar gaan ontwrigting en verwarring wees.
Sê die voorstede se name gaan nie verander word nie, so inwoners sal
nie hul titelaktes hoef aan te pas nie.
Gryp weer terug na Aardklop.
"Ek weet dié jaar gaan ons die fees met baie spanning afskop, juis
omdat daar al die stories gepraat word oor wat die fees moet wees en
wat hy nie is nie."
Hy krap sy ken, dink so 'n bietjie na. "Ons gaan nie opgaan om
feesgangers te boelie net omdat hulle van 'n ander kultuur is nie.
Almal moet leer om meer verdraagsaam te wees. We must learn to become
our brother's keeper."
Maar dit beteken nié hy gaan net toekyk as iemand met 'n T-hemp hier
rondloop wat sê: "As jy nie Afrikaans praat nie, hou jou bek."
"As ek na die stad kyk, sien ek 'n plek met groot groeipotensiaal,
waar ontwikkeling moet wees tot voordeel van alle gemeenskappe. 'n
Plek waar ons kan terugkyk and can see that we have left a true,
inspiring legacy."
En op dié noot groet hy. Hy moet hom voorberei: die Potchefstroomse
inwonersvereniging kom hom om 14:00 sien om hul besware te bespreek . .
.
Beeld-forum: Die ANC dryf weg van sy eie ideale
Aug 17 2006 07:20:58:627PM - (SA)
Ferdi Greyling
Die African National Congress is vandag voor die keuse om die gees van
nie-rassigheid te red of om dit vaarwel toe te roep.
Hy het voor dié keuse gekom omdat hy in die toepassing van
regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (wat nodig is) die
maklike uitweg gevolg het en die ou apartheid-klassifikasie van rasse
aangewend het.
Daar is natuurlik ook meer as net 'n vae vermoede dat mense in die
ANC - en van sy ondersteuners - hulle hierin net so 'n bietjie
deur idees van wraak laat lei het.
Nie-rassigheid vereis dat mense nie aan die hand van hul ras geoordeel
word nie, maar aan die hand van wat hulle as individue is en wat hulle
as individue doen of gedoen het.
Die toepassing daarvan in byvoorbeeld regstellende aksie is eenvoudig:
Is jy onregverdig deur apartheid benadeel? As die antwoord ja is,
verdien jy regstelling. As die antwoord nee is, verdien jy nie
regstelling nie.
Dit sal daartoe lei dat loshande die meeste nie-wit Suid-Afrikaners
regstelling verdien.
Maar baie belangrik, dit sal ook daartoe lei dat sommige wit mense
regstelling verdien en dat verskeie swart mense dit nie verdien nie
(byvoorbeeld ministers van die ou tuislande wat groot salarisse gekry
het).
Die ANC het egter verkies om nie sy eie ideaal van nie-rassigheid
suiwer te dien nie.
In plaas daarvan het hy die ou rasse-kategorieë van apartheid gaan
haal - swart, bruin, Indiër en wit - om regstelling mee te doen.
Maar dit kom saam met die rasse-duiwel en deesdae stap die ANC reeds
plesierig saam met daardie duiwel.
Dus regverdig hy sy siening dat swart Suid-Afrikaners meer voordeel uit
regstellende aksie moet trek as bruin Suid-Afrikaners deur die argument
dat bruin mense in die apartheid-hiërargie hoër as swart mense geag
is.
Behalwe dat dit nie altyd so in die praktyk uitgewerk het nie, is die
ANC klaarblyklik blind om te sien dat hy, deur dinge so te doen, bruin
mense benadeel omdat hulle nie swart is nie en dat dit ook maar
apartheid op 'n verkeerdom manier is.
Dit is wat gebeur as jy 'n valse groepvisie aanhang en iemand
bevoordeel (of nie) bloot omdat hy geoordeel aan sy velkleur aan 'n
bepaalde groep behoort.
'n Mens wonder wanneer daar onthou gaan word dat bruin mense in die
Wes-Kaap onder apartheid bevoordeel is bo swart mense wanneer dit by
werk gekom het. En dat dit nie vir bruin mense elders in die land
gegeld het nie.
Wanneer dit onthou word, gaan die ANC dan insien dat sy kaartehuis van
rasse-etikette à la apartheid vals is? Of gaan hy die apartheid-kas
verder oopmaak en ook begin praat van "Cape Coloureds" en "Other
Coloureds" en onderskei tussen hulle, soos apartheid gedoen het?
'n Belangrike faktor vandag is natuurlik dat die ANC kan wegkom met
die apartheid-manier van doen.
Die ou NP het altyd 'n probleem gehad omdat die mees bevoordeelde
groep - die wittes - (en nie almal is natuurlik bevoordeel nie,
soos hierbo gesê is) 'n minderheid in die land was. Die mees
benadeelde groep, die swartes (en weer eens, nie almal van hulle is
deur die bank benadeel nie) was die meerderheid en omdat ons in 'n
eeu leef waarin die meerderheid uiteindelik aan die hand van die
demokrasie die botoon voer, was dit onvermydelik dat mag na hulle sou
verskuif.
Vandag verteenwoordig die ANC hoofsaaklik swart Suid-Afrikaners en die
meeste mense wat regstelling vra en verdien, is ook swart. 'n
Gerieflike verstandhouding het tussen die regering en reggesteldes
ontwikkel. Hulle deel rykdom en mag vir mekaar uit.
Dié verhouding kan maklik politieke druk weerstaan, want, anders as
die geval met die wit NP-regering was, is die ANC se ondersteuners die
swart meerderheid.
Die ANC kan dus eenvoudig klagtes ignoreer dat hy baie soos die
apartheid-base maak en dat dit onregverdig is. Die NP was onregverdig
teenoor 'n meerderheid en dit het gevaar vir hom gespel. Die swart
beheerde ANC is onregverdig teenoor minderhede en dit hou geen
politieke gevaar is nie.
Behalwe dat hy dan - as hy dit sou doen - sy eie helder ideaal van
nie-rassigheid sal verloën. En 'n politieke beweging wat lank
oorleef en 'n bepalende en positiewe invloed op 'n land het, behou
sy ideale. Dit is sy gees.
Die lewe gaan sy kringloop op die swart
bank van die ewigheid, God druk die hart
versigtig daarop vas en slyp dit met
die donker, skerp klein helsteen van die smart.
Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart
Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots
Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpeville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met 'n koeël deur sy kop
Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte
van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat 'n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat 'n reus geword het reis deur die hele wêreld
In hierdie komende week gaan daar 'n massiewe konferensie
oor Aids in Toronto gehou word. Bill Clinton sal daar wees.
Bill en Melinda Gates sal daar wees. Daar sal nie net oor
die probleem van Aids gepraat word nie. Wetenskaplikes
sal verslag lewer op die mediese front.
Stephen Lewis, wat 'n aantal jare gelede deur Kofi
Annan as sy spesiale gesant vir Aids aangestel is, sal
natuurlik ook daar wees.( Lewis is vanplan om eersdaags
uit hierdie pos te bedank, en 'n pos te neem in die Clinton
Foundation.) Hy is maar taamlik krities oor die rol wat
regerings in Kanada speel in die geveg teen Aids. 'n
Aantal jare gelede het die Kanadese regering gesê dat
hulle aan die voorfront staan deur veranderde wetgewing
om goedkoop retrovirale medisyne in die hande van die
armes te bring. Maar tot dusver het niks nog hiervan
gekom nie, heelwaarskynlik onder druk van die
farmaseutiese industrie.
Omdat die konferensie in Toronto is, lees mens
baie stukke oor Aids. Een van die interessantstes vir my
was die bevinding dat Aids tot 'n groot mate bekamp kan
word deur mans te besny. Nou, ek het nog altyd aangeneem
dat dit 'n algemene praktyk is onder swartmense in SA.
Maar blykbaar is dit nie so onder die Swazis nie. Hulle
sê dat daar lang toue by hospitale in Swaziland is vir die
prosedure. Nou wonder ek of dit net die Xhosas is wat
hierdie praktyk in SA beoefen.
Die ATKV en Artéma, die Instituut vir Kunstebestuur en Ontwikkeling, bied
vanaf 5 - 7 September 2006 'n Entrepreneurskursus in die Kunste aan by die
ATKV-Klein-Kariba Vakansieoord.
Wie en wat is 'n kunstenaar? Wat verstaan jy onder die kunste? Het ons die
kunste enigsins nodig?
Kom gesels saam met van Suid-Afrika se top kunstenaars en kunstebestuurders
oor jou eie besigheid (van finansies en bemarking tot die arbeidswet),
loopbaan, en "image".
Alles oor die organisering van "events"' en "gigs", teaters, "venues" en
feeste. Die CD -industrie, -opnames en kopiereg.
Die kursus beloop R2 900 vir 3 dae en sluit in die akkommodasie, etes en
kursusmateriaal. Vir meer besonderhede en registrasie kontak Johan
Esterhuizen by 011 919 9000 voor of op 22 Augustus 2006.
EINDE
Onderhoude kan gevoer word met: Johan Esterhuizen
Kontaknommer: 084 513 5196
ons bly nie meer op sanien nie, my antie. ma' antie moet nou nie bly
word oor antie dalk dink my pa wil kannadaar toe nie. nee antie dis
ergerliker as dit want oom oujei ons burggemeester vannie aas-en-see
het ons dorp se naam loop staan veranner antie. ons bly nou op maak
shôpie antie.
antie sal sekerlik weet lat maak shôpie 'n gerekende aktievis vannie
aas-en-see was innie straggel antie. toe willie aas-en-see hom vereer.
toe sê hille gapanie hospietaal annerkant dywelskloof moet maak
shôpie
word ma' die mense van gapanie sê oor hille dooije liggame. toe sê
hille oukei dan noem hille die skool by mamietwa maak shôpie ma' die
mense van mamietwa sê ok nie oor hille liggame wat gedooi het nie.
toe kry oom oujei 'n bruinwyf antie en hy sê biedêm die konsulterende
gesprekke wat hy lat hou het om aan te beveel lat sanien sanien bly hy
ry met 'n stoomroller oor ons en toe is ons maak shôpie. wat is nou
fout met 'n mooi boere naam soos sanien antie.
my pa is natierlik nie 'n biekie bemoerd nie antie en die jele dorp
saam mit hom. hy sê hille gat hof toe met oom oujei ma' ek het nie
hoop nie antie want antie weet hoe lat 'n hof maak as jou naam oujei
is. ma' een geluk is lat die baas van die oom van die koerant se
koerant ok van sanien af kom. hy skryf stink stories oor oom oujei so
miskien assie hof sien lat oom oujei skillig is aan iets erger as
moort sal ons oom oujei kan aanpaas vir oom robber moegapie lat hy
simbabwie se naam kan loop veranner.
koebaai antie
hennerietjie (antie moet beswaar maak by antie se pelle by die
ambassade oor die naamgatmakery)