Siende dat hierdie nuusgroep bykans volledig bestaan uit die pos van
sentimentele gediggies, pos ek maar my bydrae ook in dié vorm. Opgedra aan al
die ex-pats wat so baie te sê het omdat daar so baie kilometers tussen hulle
en Suid-Afrika is. Verskoon maar dat die ritme en die beeldspraak, dis nou nie
Breyten nie.
Ballade vir 'n vlugteling (a la SAUK TV)
Ek's 'n eks-Afrikaner en het fokkol te doen
ek sit in die buiteland wat my so erg verveel
so ek pos maar gediggies en resepte vir pampoen
want verder is ek met kennis maar karig bedeel
Ek maak maar asof ek na die suidergrond verlang
die mense, die plekke, die boeke en die weer
maar eintlik is ek vir die land skytbang
ek hoor dan die plek word deur swartes beheer
Ek sit in die vreemde en maak baie geld
vergeet daagliks hoe lyk 'n plakkershut
hoe droog is die karoo en die ou bosveld
hoe kraak die smiles tussen swart en wit
maar praat sal ek praat oor Suid-Afrika
my oordele vel oor die politiek
ek kom nie weer terug nie, maar sal bly kla
oor die verstokte wit ras en die Franskraal kliek
solank jy my uitlos en my net nie vra
om terug te keer na Suid-Afrika
Groete uit Suid-Afrika (dis so 'n kleinerige land aan die onderpunt van
Afrika, kaarte in nieu-seeland, kanada, australie en engeland behoort dit aan
te dui, soek maar)
Die afgelope dae staan ek meer en meer by die glas-
deur van ons balkon en kyk buite toe. Daar voor my is
die kaal bome op die walle van die Ottawa-rivier. Daar
is die rivier self, bevrore. Maar dit is nie wat my aandag
vra nie. Ek voel daar is iets anders wat opgemerk moet
word, iets wat verander het. Toe gister ontdek ek wat dit
is. Dis die lig wat anders is. Dis die hoek waarmee die
sonstrale val, wat verskillend is. En dit vervul my met 'n
groot vreugde. Skielik laat jy jouself toe om te fantaseer
oor die lente. Jy weet die lente is nog drie vier maande weg.
Jy weet daar kan nog maande van sneeu en storms voorlê.
Maar die lig het iets verander in die chemikalieë van jou
brein, en niks is meer dieselfde as 'n maand gelede nie.
Dit het my dan nie verbaas toe ek ontdek dat die pionier
van lig-terapie vir depressie 'n oud-Suid Afrikaner is wat
in New York gepraktiseer het nie. Ek dink mense wat in
Suid-Afrika grootword, is spesiaal ingestem op die effek
wat lig op jou het. Miskien het mense wat soveel helder dae
in hulle jaar het, 'n groter behoefte aan lig as die mense wat
gewoond is van geboorte af aan 'n sekere hoeveelheid van
donker in hulle dae.
Die hang natuurlik ook af van waar jy in 'n tydsone bly,
hoe vroeg dit lig word, hoe vroeg dit donker word. Dit lei
na vreeslike anomalieë. Die plek waar die son die eerste
in die VSA opkom, is Eastport in Maine. Kruis jy nou net
die Kanadese grens binne 'n paar minute, dan is dit 'n uur
later in New Brunswick, wat in die Atlantiese tydsone is.
Eintlik moet Eastport in die Atlantiese tydsone wees. Maar
hulle is nie, omdat daar besluit is: die hele Maine is in die
Oostelike tydsone. Dieselfde anomalie vind jy op die Gaspe-
skiereiland van Quebec, wat verder oos as New Brunswick
strek, en tog dieselfde tydsone deel as Montreal, heel verder
wes.
Dit bring my nou by die vraag wat ek myself al 'n lang
ruk afvra: was daar ooit 'n gedagte daaraan om Suid-Afrika
in twee tydsones op te deel? Ek het in die weste van Suid-
Afrika grootgeword, maar meeste van die res van my lewe
in Suid-Afrika deurgebring in die oostelike dele van die
land. Dit het my altyd so verbaas hoeveel vroeër dit in
Natal donker word as in die Noorkaap. En ek kan nou nog
onthou hoe desperaat dit my pa gemaak het as die son nie
wou ondergaan nie hier teen halfnege in die aand, en hy
wil eet en gaan slaap. En sy vrou wil nie binne toe gaan
nie. En van sy kinders is daar geen teken nie.
Ek het 'n boek van Dine van Zyl ontdek: "Afval en Afvalligheidjies",
daar skryf sy van "n Pofadder"
"Jy vat die vetderm en dop dit om dat die binnekant buite is. Dan krap
jy hom mooi skoon en dop dit terug. Dan vat jy jou lewer en wat jy
ookal wil van jou harslag, en jy stop dit binne-in die vetderm. Met so
'n bietjie worcestersous en sout by. Dan braai jy dit op die
kole....!"
Sy het honderde Afvalresepte in die boekie as iemand iets wil weet vra
maar dan sal ek dit uitskryf en plaas.
Ek hou van die digwerk van Antjie Krog. Sy gebruik
woorde soos iemand wat met pleister en bakstene werk,
en sy bou gedigte daarmee wat die toets van die tyd sal
staan.
Sy skryf 'n pryslied vir Nelson Mandela:
"...
hy maak die pante bymekaar
van 'n verskeurde land
hy draai ons na mekaar toe vir mekaar
hy, heelmaker van mense
hy stig vrede
vrede, wat die ma is van groot nasies"
Maar dan is daar Antjie Krog, feminis. Luister na die
volgende:
" Ek staan op 'n moerse rots langs die see by Paternoster
die see slat slingers in die lug
liggroen skuim
onverskrokke kyk ek elke donnerse brander
in sy gut voor hy breek
die rots sidder onder my sole
my bo-beenspiere bult
my bekken smyt die aangeleerde gelate knak uit haar uit
se moer ek is rots ek is klip ek is duin
helder sing my tiete 'n koperklepelgeluid
my hande pak Moordbaai en Bekbaai
my arms skeur ekstaties bo my kop!
ek is
ek is
die here hoor my
'n vry fokken vrou"
"ek kom agter dat ek mans begin bekyk
brutaal met die gedagte
hoe naai hy
sy breins en sieletjie interesseer my nie
die gesiggie wat glinster van try charm en oulik wees
let ek onberoerd op
sou nie eens met mans gepraat het
as dit nie toefallus was"
Soms as ek in die silwer skemering stap
met oë half toe, want die ligte reën
prikkel my wange, dans en trippeltrap
verby my lippe en om my oë heen,
dan sak die stilte in 'n klamme vlaag
oor alles, donkergroen en silwergrys
die denne, en ek slaan my jas se kraag
hoër om my nek. Daar's iets wat eis
dat ek meteens met ligter tred moet gaan,
met tintelende ekstase in my bloed.
Dalk aan die einde van die lange laan
gaan ek jou, liefste, ylings tegemoet?