Pa het, spaarsaam soos hy was,
agterop ‘n almanak geteken -
Hy het ‘n rolpuntpen gekies;
die ink het hier en daar gesmeer.
Maar die afmetings is presies.
Nog in duime en voete: 6’ x 18’’
op die breedste plek - daar
waar die borskas pas - dan wigvormig
weerskante toe om plek te ruim
vir die skerp en eiesinnige kop
en die voete wat wysie hou.
Hermeties
soos ‘n ruimteskip.
Niks aanskouliks nie; grafies
bloot korrek soos vir ‘n kaskar.
Dit was die maand April; versuim
wou hy nie langer nie, hy’t pas
tagtig geword. Winters is sag
op Onseepkans; hy sou kon skaaf
en timmer sonder dat vingers verkluim
of dat hy kort-kort bietjies-bietjies
sweet met die kakie sakdoek
uit sy oë vee. Gewone plankies
van greinhout sou gebruik word.
Hy het geweet dit sou onekonomies
en hopeloos te veel moeite wees
om ‘n glansmodel - fyn afgewerk
vernis, dalk selfs met silwerbeslag -
uit Kakamas te kry.
Ag nee wat,
vir dié soort ekspedisies
moet mens jou uitgawes bestry.
Hy het selde iets betyds
of vir homself gemaak.
Dié keer ruim
drie jaar te vroeg. Op die keersy
sê die kalender dit was die maand April.
Eintlik sou ek die tonika-solfa
daar verwag het, vir Funiculi Funicula.
Somers kon ons buite slaap: wit
hopies wasgoed ál om die huis geskik.
Dan het ons lê en kyk hoe glad ons skip
- dié ou skedonk genaamd aarde -
deur ‘n see van sterre en donkerte glip.
Ons kon soveel wys word uit die lug:
die jagter en sy hond, die Suiderkruis,
boogskutter en bok, die hele sodiak.
Die naaste ster was toe nog ver,
die eerste Spoetnik ‘n verdoolde Kosak.
‘n Verskietende ster is ‘n vonk verdwaal
uit die gode se smeltkroes;
miskien die melkweg se agteros;
of dalk, sou oupa knipoog, het daar
nou net ‘n siel uit die vagevuur gedros.
En iewers, hoog en diep daarbo, in die engelebak
‘n hemeling of twee wat hul aan óns vergaap:
bondels in die maanlig op die bleik;
skerp afgeteken teen die kolesak
die blou en bruin skip van ons skimmeryk.
So sou ek wegdut en wakker word
en my tot ligword verwonder oor
ons kantelende reis.
In die verte speel ‘n donkie doedelsak.
In die verte speel amazing grace.
Pella lê ‘n kruistog ver (‘n voorlopige
rekonstruksie van ‘n denkbeeldige gesprek
tussen Pella se eerste Rooms-Katolieke
sendeling en sy reisgids, anno 1875)
EX AFRICA SEMPER ALIQUID NOVI
deur George Weideman
u moenie kla oor die hitte nie, Vader Gaudeul,
dis nog nie naastenby die somer nie
en nou al lê die vuurklip en smeul
hier moet u maar die sagte groen van Lyons
uit die gedagtes weer
hier is die enigste groen perdalks die soom
van die verbeeldingstroom
varswater sal u, as balling hier,
uit die vate van die geheue moet tap
of wag tot eendag as daar na die reën
syferwater uit ‘n oog opwel
hier sal jy die sin van jou roeping leer ken
tot in die oerbetekenis: geofferde, oblatus
geoffer aan die son van Afrika geoffer
aan die smeuling van die amper-woestyn
(kan die brandstapel feller wees
as Pella in Desember? sou die Hindoes
dit warmer aan die sole hê?) geoffer
aan die slu klein slangogies
listig soos die xnabbo self
geoffer aan khoikhoinse spraakverwarring
ja - te veel rooiwyn; nee - te veel soetwyn
maar dié maak jou jou vergeet vergeet!
geoffer aan die dors land
wat sobyso net brakwater ken
(hier sal jy dalk moet wolfsmelk drink!)
ook jy sal die brak smaak se nabitter proe
jy vra dat ek moet vertel, van Pella -
hier staan alles bloot, oblatus:
winterstyd is son en wind weer kop-in-een-mis
as die veld julienagte oopgespêr en wyd lê en wit
en alles blootgewaai word
deur suidewind en oostewind
en wit vuursteen en bruin graniet
uiteindelik blus;
hier sal jy ook moet vure slaan
en blare en barste balsem gee
ysblomme van die oë smelt...
Afrika is wyd en groot
fonteine min - ons sal u leer gorra maak
kleimisvloer smeer witgatwortel maal
daardie plante daar? word “halfmense”
genoem hier langs die rivier is baie
hoe goed kan u skiet? hiers nog tiers
in die berge en boesmans hel! die boesmans
en moenie Pella se skepsels vergeet nie....
o u weet wat skepsels is? nou ja die soort
onthou maar: vir ‘n geweer
is hulle skytbang amper soos vir die bomeesterslang
en natuurlik die basilisk
nee, u moenie sug oor die hitte nie, Vader Gaudeul,
hierdie is maar ons voorland, die Voor-Boesmanland
ons moet die hinterland nog in
voor die son so menshoog staan
moet ons
die Here weet
vir Vagevuurskloof nog deur.
dies my laaste sleepmiswinter
die voornagwindjie stoot snaardun
die ou blootsvoet se breivoetsole
verlang vanaand ‘n toemaakding
dies my laaste sleepmiswinter
ou bokveldsberg lê dig toegedraai
selfs hantam se uitsoekwaboomkole
kon nog nie my vingers laat katspoor maak
dies my laaste sleepmiswinter
ek voel dit aan my opstaanseer:
as die sleepmis weer so oor die sandveld streep
is dit rus myn siel jou god is koning
en ek lê my hoof vir oulaas neer.
Weideman verloor stryd
Aug 28 2008 09:46:37:400PM - (SA)
George Weideman
Kaapstad. – Hy het die lewe vir haar soos ’n palet ingekleur, met
helder kleure soos dié in ’n reënboog.
So het mev. Celine Weideman, vrou van wyle George Weideman (61),
bekende Afrikaanse skrywer en letterkundige, gister gesê terwyl sy
vertel hoe hy twee jaar vir haar gewag het om te trou. Sy was in st. 9
toe hulle ontmoet het; hy was ’n nuwe onderwyser in Fraserburg.
Weideman is gisteroggend ná ’n lang stryd teen kanker dood.
Sy vrou het gesê hy was dapper tot aan die einde.
“Ná elke operasie het hy opgestaan en voortgeveg. Dis net ná die
laaste operasie wat ek kon sien hy kan nie meer nie.”
Sy het gesê haar man se dood is vir hul twee dogters, Melita en
Siobhan, baie moeilik.
Hulle het volgens haar sy skeppingsvermoë geërf, die een op die
verhoog en die een met ’n kamera in die hand.
Die skrywer Elsa Joubert beskryf Weideman as ’n minsame, dog sterk
mens. ’n Liefdevolle vriend wat vir sy vriende omgegee het. Selfs toe
hy baie siek was, het hy die leiding geneem om meer as 100
handtekeninge van skrywers bymekaar te kry om te protesteer teen die
vermeende verengelsing van die Universiteit van Stellenbosch (US).
Haar gunsteling onder sy boeke is Draaijakkals.
Prof. Dorothea van Zyl, direkteur van die Universiteit van
Stellenbosch se Woordfees, het gesê hy was ’n besonderse skrywer en ’n
mens wat vir Afrikaans geleef het. Hy was volgens haar ook van die
begin krities oor die vorige bedeling en het hom vir die taal beywer.
Dít het gewys in sy harde werk in gemeenskappe. Hiervoor het hy ook
die ATKV-Afrikoon-toekenning ontvang.
Van Zyl beskryf Weideman as iemand wat in alle vorms van die
Afrikaanse letterkunde uitgeblink het – drama, poësie en kortverhale.
Hy was ’n begaafde en bekroonde skrywer wat vir die jeug én
volwassenes geskryf het.
Nog net bietjie meer as twee maande, en dan sal ons weet
wie die volgende Amerikaanse president is. Alhoewel dit
lyk asof die Demokrate goed sal doen en meer lede in die
twee huise kry, lyk dit nogtans nie so seker dat Barack
Obama 'n sure thing is teen John McCain nie.
Gisteraand by die Demokrate se konvensie in Denver
het CNN 'n onderhoud met 'n swart vrou wat so kwaad is
dat Hilary nie die kandidaat is nie, dat sy sê sy weet nie
of sy in November vir Obama gaan stem nie. Dit lyk dus nie
of alle swart Amerikaners vir Obama ondersteun nie.