I
Oorloë en gerugte van oorlog;
onsekerheid, middelmatigheid, vrees.
Om soos Popiel deur muise en miere
gevreet te word wag ook op mý vlees.
Jy verdwyn in mure en drome,
ek trek deure om my dig
en hoor net sirkels van slukkende gragte
hier buite. Geroeste skarniere
van tyd raak daagliks al meer wankelrig.
Dat aristokratiese koppe rol
in sulke tye, weet ons wel.
Tweede drome is die afsterf van herinnerings
aan my, aan jou, aan ons.
Te veel hande gryp, my valbrug is oor my keel.
Ek trek my terug in my kasteel.
II
In noordelike lande het ek kastele gesien
van marmer, graniet en klip.
Hier is alles termietkastele,
na die boonste deel van die kontinent gerig.
Aasvoëls, valke, giere, rawe
word deur my afgrond ingesluk.
Ek hoor hul krete oor my skanse hang,
donker teen die stropende wind van die aand.
Laatmiddae trek hadidas nog kakelend
verlate na neste in afgeleë heuwels.
Hier het ek jou vel en jou skedel gesoen.
(Geen nagtegaal hier wat begeleiding kon doen.)
Ek kyk af in 'n grag met swane
en dink hoeveel dieper weerkaatsings
as water is. 'n Visswiep
of draaktand verbreek die illusie.
Breek oop die kasteel na lewe ondergronds.
Daar is veraf trompette van buite my mure.
Eggo's moet ver en verder gehou word
saam met miere, mos en vretende ure.
Terug na opgegaarde skatte in my kamers:
skilderye, boeke, vrouens, musiek.
Soveel afleidings om my 'n lewe te verbeel;
ek trek my terug in my burg van fluweel.
III
Ek het deur talle nagte
waarin lig waterig terugkaats van agter
onbekende sterre, gekyk na 'n melkweg,
ruggraat van die nag, en geweet:
deur soveel lewens sal ek jou volg,
ek wat jou laaste liggaam geken het.
Hoe lank het dit jou geneem
om gewoond te raak aan my kasteel,
legendes oor vorige vrouens, asem
in mure wat uitruik en verwasem.
Jy is steeds hier, my vrou,
met warm, naderende donker in jou.
Hoe maklik breek die dinge, word alles breekbaar.
Deur kosmosblomme van die nag is al wat antwoord
gebuigde lig tussen planete en beperkte oë.
Jy het voluit geleef as jy die vermoë
het om altyd te kan onthou:
dít is die dag waarop jy gesterf het.
Die aarde breek uit sy baan, 'n vlieër
geswiep deur 'n dwarrelwind of komeet,
onbeheer deur water wat skepe verloor
bo en onder die grond.
Fondamente kraak en verdwyn, dakke
van ys skuif weer in oor ou vlakke.
Jy was reg: daar bly min oor vir ons hier.
Ek irek my terug in my burg van papier.
IV Liturgie van kristal
Elegie vir Marlene
As jy lank genoeg na mure kyk,
sien jy dalk 'n vonk, kristal of glas,
'n venster op dit wat is 'n dit wat was.
Voordat jy tussen sterre kan gaan lê,
is daar eers die mere van die slaap,
of dié van vrese, soos jy dit wil hê.
In jou langboot kyk jy nou na die noorde;
jou kop het altyd ooste toe gestaan.
Ek vou jou hande, sê die laaste woorde.
In Chinees kan 'n mens op honderd en dertig
maniere sê: jy het gesterf.
Jy verander in 'n kraanvoël en swerf
eenvoudig tussen planete,
wyer uitgedein as die vorige nag.
Jy vergeet van siektes en skete,
bedrieglik strelende vingers van water,
chemiese drome, sagte glip van 'n lem,
vertroostende staal teen jou lippe, later.
Jy vaar op die rug van 'n walvis
na 'n ander, geheime, suidelike land,
of staan in 'n wit boot, sterrekaart in jou hand.
('n Ligte boot van asem dryf
te vinnig na 'n eiland in die lug,
gestuur deur die loodsman van jou lyf.)
Teen hierdie tyd is al wat ons weet:
liefhê is te kort, dit duur soveel langer
om besonderhede te kan vergeet.
Ek het 'n hadida rustig sien klim
na verskuilde sterre agter die blou
van wolke in 'n westelike glim.
Voor die son wegraak, sak dit skielik vinnig.
Voorlopig dan, dié laaste reëls vir jou,
sagte een, met ons stigmata van liefhê, my vrou.
Daar is 'n paar goed wat ek nie mooi verstaan nie.
1) Ons het tog gereeld lokale kragonderbrekings, maar daar word nooit
gepraat van grootskaalse rowery en plundery tydens die kragonderbrekings
hier nie.
2) Daar word tog meer krag in die winter as in die somer gebruik - en dis
nou somer daar onder in die VSA/Kanada - so hoekom was daar nie 'n
grootskaalse kragonderbreking in die winter nie? Ek weet wel van 'n groot
kragonderbreking in Kanada 'n winter so twee jaar gelede, maar toe was die
VSA nie betrek nie.
3) Daar is tog nou minder mense in die VSA as in die winter - 'n hele paar
is mos nou in Irak. - of mors die mense daar onder met krag net soos wat
hulle brandstof mors?
Nogal 'n eienaardige argument om aan te voer mens is hipokrities as mens nie
die slagting van 'n dier op die verhoog van 'n teater goedkeur wat nie deel
van die opvoering is nie.
Geen dier is geslag tydens die speelvak nie, behalwe op die laaste aand nie.
Geen dier is geslag tydens die speelvak in London nie.
Die slagting van die dier was nie deel van die verhoogstuk nie.
Die bestuur het dit goedgedink om die aanskoue van die ritueel op die gehoor
af te dwing sonder enige vooraf aankondiging.
'n Ritueel is tog iets wat gereeld en onder alle omstandighede uitgevoer
word.
Nee, dit was 'n goedkoop publisiteitsfoefie, en ek dink nie die
niksvermoedende teaterganger is die hipokritiese diere hier nie, al eet
hulle hoendervleis.
Realiteits teater? Inderdaad. Maar enige teaterganger het tog die reg om te
besluit - voor hulle betaal - watse realiteite hul bereid is om te aanskou.
Jy drink tog medisyne - is jy bereid om na die lewendige slagting van 'n
kind te kyk op die verhoog om muti te maak?
Weet julle dat die satelietpolisiestasies van Noordgesicht, Dube en Lenasia
elke dag om 4nm sluit?
Maak tog seker dat alle misdade tussen 8vm en 3.50nm gepleeg word.:))
Daar is deur die Kaapse regering besluit om aan elke gesin van 'n visser wat
nie 'n lynvispermit gekry het nie, R500 te gee.
Dit is net van toepassing op die vissers van Kalkbaai, Arniston en
Struisbaai. Die vissers van die Weskus word nie in ag geneem nie.
Nou is daar probleme.
1) Die vissers van Struisbaai kan net by een winkel - Die Kosmandjie - hulle
koepon gaan omruil. Die winkel behoort aan 'n ANC raadslid.
2) Die raadslid beweer hy is net uit die bloute gekontak en gevra om kos te
voorsien in ruil vir die koepons - 'n eenmalige transaksie.
3)Die stadsraad ( ANC meerderheid) beweer hulle het 'n vraelys aan al die
winkels uitgestuur om uit te vind wie bereid is om die kos te voorsien in
ruil vir die koepon. En volgens hulle was die raadslid die enigste persoon
wat daarop reageer het.
Die ander winkeleienaars weet nie een van so 'n vraelys wat hulle sou gekry
het nie.
4) By aanbieding van die koepon, kon die vissers nie kies wat hulle wou hê
nie, en daar was geen pryse op die produkte aangebring nie. Dit was ook nie
opgelui nie - hulle moes die pak aanvaar in ruil vir die koepon.
5) Van die vissers het toe na 'n ander winkel met die pak ontvang gegaan,
wat die produkte
volgens hulle pryse opgelui het, en daar is bevind dat die mense produkte
ter waarde van nagenoeg R350 gekry het in ruil vir die R500 koepon.
Ek neem aan die R150 per koepon wat geneem is, was vir administrasie en die
koste wat gedra word totdat hy sy geld van die regering vir die koepons kan
kry.
Bietjie baie as mens weet die mense ly honger, en dat dit net 'n eenmalige
vergunning was.
Iemand het onlangs navraag gedoen oor nuttige boeke wat aangekoop kan word -
ek het die resensie van Thalyta Swanepoel (Beeld - Maandag 11.08.2003)
raakgeloop. Dit het onder die opskrif "Twee nuttige stylgidse vir die
Afrikrikaanse taalgebruiker" verskyn.
Skryf Afrikaans van A tot Z: Die essensie gids vir taalgebruikers deur
Dalene Miller. Pharos Woordeboeke (sagteband, 71 pp.), R175. ISBN 186890 037
1
Stylboek - riglyne vir paslik skryf deur Piet du Toit en Wanda
Smith-Müller. Van Schaik (sagteband, 170 pp.), R149,95. ISBN 062702503
"Taal is die skrywer se instrument, maar "nie almal het 'n oor vir taal soos
sommige mense 'n oor vir musiek het nie", het die digter Elisabeth Eybers
onlangs in 'n TV-onderhoud gesê.
Vandaar die behoefte aan taal en stylgidse. Omdat 'n deeglike onderbou in
taal op skool oënskynlik nie meer 'n gegewe is nie, het die gidse
onontbeerlik geword.
'n Juweel onder die nuwelinge is Skryf Afrikaans van A tot Z wat oor tien
jaar saamgestel is deur Miller, 'n gesoute taalpraktisyn by Die Burger, met
die samewerking van Afrikaans se voorste joernaliste, subredakteurs en
skrywers by verskeie Media24-publikasies.
Deel I bevat sowat 5 000 alfabetiese inskrywings - hoofsaaklik turksvye
soos verwarrende woorde, wisselvorme, verkeerde voorsetsels en lomp
taalgebruik. In Deel II is 26 afdelings met inligting oor onder meer lees-
en skryftekens, syfers en getalle, vreemde woorde en sport.
Dis 'n boek wat jy eers saans stukkie vir stukkie sal moet verteer voordat
jy dit ten volle sal kan benut omdat dit 'n magdom inligting bevat en jy
eers jou pad deur die doolhof moet vind. Vir 'n geharde subredakteur bring
die afdeling oor woordsoorte verligting en antwoorde op soms moeilike vrae,
soos waarom skryf 'n mens
blondekop-trompetspeler maar kaalvoet kind.
Daar is heelwat inligting oor die regte voorsetsels - maar dit bevredig nie
die behoefte nie aan 'n ordentlik hersiene weergawe van P.J. Taljaard en
W.K. Smit se Voorsetselwoordeboek met Engelse vertalings (De Jager-Haum,
1987).
Benewens inligting oor taal bied die gids ander besonder nuttige inligting
vir veral joernaliste, studente en leerlinge, soos 'n internasionale
datumlyn en hoe tyd in die wêreld bereken word. Dit is dus nie net 'n lys
van woorde nie, maar 'n naslaangids wat terwyl jy leer jou algemene kennis
'n reusehupstoot gee - die vaardighede-oudit van die Suid-Afrikaanse
Nasionale Redakteursforum het juis bevind die gemiddelde joernalis se
algemene kennis is bra vrot.
Dit is prysenswaardig dat daar nie net aan Afrikaans en Engels aandag gegee
word nie, maar ook aan inheemse tale, byvoorbeeld wat die afbreek van woorde
betref.
Die boek is sekerlik nie die wet van Mede en Perse nie, maar dis 'n deksels
goeie hulpmiddel vir alle mense wat ernstig is oor skryf - korrek skryf. Dis
ook in pas met die 2002-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls
(AWS)."
"Stylboek - riglyne vir paslik skryf is ook 'n nuweling op die rak.
Daarin word taal- en stylbeginsels deeglik uiteengesit aan die hand van
duidelike voorbeelde.
Daar is egter 'n paar punte van kritiek: Die boek is styf en selfs plek-plek
hoogdrawend geskryf. Nie-moedertaalsprekers - vir wie die publikasie ook
aanbeveel word - kan probleme hê om die skrywers se gedagterigting te
verstaan. Daarbenewens is die oefeninge nie oral prakties genoeg nie en
boonop van so 'n aard dat dit eintlik 'n nasiener verg. Wie skryf nou vir
homself kommentaar?
Heelwat Nederlandse tekste word aanbeveel vir diegene wat verder wil lees,
wat die boek nog meer akademiese maak. Tog gaan Stylboek beslis nie mank aan
omvattende, nuttige inligting nie - en is 'n taalles op sy tyd ook nie te
versmaai nie."
Thalyta Swanepoel is dosent in kommunikasiekunde en was 'n redaksielid van
Beeld.
My man het besluit hy wil 'n apie van een of ander aard hê. Ek sweer my
huis gaan een van die dae soos die Osbournes s'n lyk - meer diere as mense.
In elk geval, hy wil met alle mag en krag 'n Marmoset hê, maar ek het gelees
hulle kan vreeslik aggressief raak wanneer hulle in hulle "tiener" jare is.
As hulle daai ouderdom bereik is dit soms beter vir hulle om 'n maatjie van
die teenoorgestelde geslag te hê, wat beteken ek sal twee Marmosettes moet
koop in plaas van net een.
Die vraag is nou, is daar nie ander apies wat ek kan kry nie? Ek sal darem
eers ordentelik navorsing doen voordat ek die diertjies gaan koop, ek wil
net nie wild en wakker gaan staan en apies koop en dan weet ek nie wat om
met die goedjies te maak nie. Voordat almal begin preek en worry, sal ek
julle gerusstel, ek het darem tussen diere grootgeword en het al met my eie
twee hande twee blesbokkies grootgemaak. Wanneer dit by diere kom het ek 'n
"natuurlike" instink en aangesien ek heeldag by die huis is, sal die apies
genoeg aandag kry. Ek weet net nie watter spesie die beste vir my sal wees
nie.
Die honde sal ook nie 'n probleem wees nie. Hulle is goed gesosialiseer en
kom goed oor die weg met ander diere. Net nie voëls en katte nie, maar
hulle het tot dusver geen aggressie teenoor ander mense of diere getoon nie
(behalwe vir voëls en katte). Enige raad sal waardeer word.