Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Beroemde (-rugte) families (Was "Vir Leendert")

Do., 11 Maart 1999 00:00

Ons het in Piet Retief weer die "Vuil Steyns" gehad (gaats ek wonder of een
van hule hier lees...) Hulle het eenslag vir 2 weke met vakansie gegaan
minus die twee jongste (van 'n hele boel) spruite. Laasgenoemde het die
twee weke maar so alleen aangesukkel (ek dink die grootste enetjie was so
5). Een van die ouens wat saam met my daar gewerk het, hett gereken hulle
het so baie kinders dat as jy 'n klip op die dak gooi lyk dit of die
laerskool uitkom.

S^e my, was tant Mien Robbertse dalk een van die van Namib:ie.

Groete,
Dries Venter

NS:Ek gebruik ^e, :e, ^o i.p.v die werklike diakritiese karakters. Ek is
heeltemal bewus van die [Alt]+nommer manier om die diakritiese karakters op
klinkers te kry, dis net dat ek vanaf 'n laptop werk en dis 'n vreeslike
schlep om so iets op hom reg te kry. Windoze laat jou toe om 'n ander taal
te installeer (Afrikaans ook) wat dan veronderstel is om jou 'n ander manier
te gee om die "dooie" karakters te tik maar ek kon dit nog nie mooi regkry
nie.

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Weer 'n taalkwessie

Do., 11 Maart 1999 00:00

Dagsê almal,

ek het weereens 'n taalkwessie. Kyk asseblief na die volgende sinne:

D: Das Schreiben kostet natürlich mehr Zeit.
NL: Het schrijven kost natuurlijk meer tijd.

Hoe sê 'n mens dit in Afrikaans? Ek het slegs volgende idee gehad:

Om te skryf kos natuurlik meer tyd.

Maar is dit ook moontlik - vergelyk met Duits en Nederlands - om 'n
werkwoord só te verander dat dit soos 'n selfstandige naamwoord kan
gebruik word? Of is dit ten minste moontlik om van die "om
te"-konstruksie ontslae te raak? Byvoorbeeld:

Skryf kos natuurlik meer tyd.
Skrywe kos natuurlik meer tyd.

Hoe klink dit vir julle?

Baie dankie,

Thorsten

Koeitjies & kalfies | 5 kommentare

" Ko lat ons sing" deur ADAM SMALL

Do., 11 Maart 1999 00:00

Kô, lat ons sing
ADAM SMALL

Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies -
o Allahoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan! -
yt die twiere boek van Mosas
yt die Exoras
yt die viere hoefstuk die ee'ste en die twiere verse -
o God
maak vi' ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! -

toe antwoord Mosas en hy sê : ma' wat
as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat
as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?

ma' die Here sê vi' hom: djy sal djou mense lei
wat's in djou hand?
en Mosas sê : 'n staf

nou vrinne
dit was al wat hy gahad het
hierie man van God
'n staf
'n dooie stok
en boenop het hy nog gahakkel ok

ma' die Here het toe lank moet hom gapraat
oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat
het die Egiptanaar
en Mosas het sy groote kop lat hang
en toe
toe skielak was daai selfde kierie in sy hand 'n slang!

nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat's in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar

kô, lat ons sing

Prosa & poësie | 2 kommentare

Artikels

Do., 11 Maart 1999 00:00

Lees gerus die volgende nuwe artikels op die webblad van Vryheid2000
te
http://members.xoom.com/vryheid2000


REMEMBER CEAUCESCU?
By Aida Parker

A COUNTRY GONE MAD
By Fred Rundle

WORSE THAN BARBARIANS
By our crime reporter


COMRADES IN ARMS
By Jim Peron
Chapter Two

Die Trojaanse Perd
Deur Fred Rundle

Boere Groete
Frikkie

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

"Doemanie" deur ADAM SMALL

Wo., 10 Maart 1999 00:00

DOEMANIE
Adam Small

'n Proefiet van Jesus djy?
'n proefiet?
djy moet djou palys-hys
djy moet djou aeroplane-motorkar
djy moet daai kamma sêd smile van djou
en djou tears
en djou woerawarra op die pulpit
moet djou skorrelsvol braai-atappels en -vleis?

djou hys 'n woestyn? nou sal mens djou verbeel!
en hoe lyk dit moet djou kale pote vi' daai streamline ding
hoe lyk dit moet djou toega vi' die vel van 'n kameel
hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi' sprinkane en wille hiening?

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Haai Shannon

Wo., 10 Maart 1999 00:00

Shannon wrote in message ...
> Ek wonder juis wanneer ons weer van Hennerietjie
> gaan hoor, oom Hans is ook baie stil, het seker maar probleme met sy service
> provider.
>
Tag, lekker om te sien mense wonner oor jou.............of het jy my net nie
in die fight raakgesien nie ???? :-))

Demmit - ek was maar net 'n week weg en die oomblik toe ek my rug draai, toe
raak julle aan't baklei. Hier kom loop ek my in 'n stofwolk vas en sukkel
om te sien waar kop is en watter rigting dinges is. Sal maar die lyke tel
na die Suidwester goed gewaai het want die "hot air" hier issie genoeg om
die stof (en reuk) te lig nie.............

Hennerie en sy pa'le het met die krokodille in 'n vol Oolfants gaan rondneuk
en as die kind uiteindelik oor sy skrik gekom het, sal ons sekerlik weer van
hom hoor.
Wonner hoekom hulle nie maar gewoonweg by die see gaan visvang nie..........

Selwers het ek laasweek in Windhoek gaan rondlê waar ek vir 'n pêl by sy
blindingsfabriek 'n nuwe boekhoustelsel gaan installeer het. Sy personeel
sal hopelik nou onthou dat "debit" links is en "credit" regs - het dit so
bo-oor die ingang geverf dat hulle dit elke dag kan raaksien.

Jy't reg gelees - op my oudag moet ek nog uitspring om siel en liggaam
aanmekaar te hou. Dis nou dat my ou pensioentjie se waarde effe verminder
het nadat julle regering die Rand so konfoes het en synde ons "Witbooi" note
aan julle Randjie gekoppel is, kry ons die verkoue wanneer julle nies.

Vier dae in Windhoek gewees. Suiwer onrus. Die stadslawaai, die muskiete
en die vreemde bed. Maar die Hochfeldt gemsbok het darem Vrydag opgemaak
vir al die ongerief en frustrasie van Windhoek.

In die rekenaarkringe van Windhoek is daar 'n paar pêre wat lelik geld maak
deur onkundige gebruikers op hol te jaag met die Y2K gogga. Toets kamma
die rekenaars en kondêm alles onder 'n Pentium. Maar hulle bied darem
"upgrades" aan wat glo sal sorg dat dinge nie op 1 Jan 2000 sal skeefloop
nie. Ek het hier 'n afskrif van 'n kwotasie (wat hulle aan my broer se
besigheid uitgereik het) om 'n 386 SX25 van die regte binnegoedjies te
voorsien sodat 1-1-2000 verteer kan word vir MAAR NET 4575,00.

Al wat EINTLIK nodig is, is om die datum op 1-1-2000 met die DOS instruksie
"date" reg te stel. Die spesifieke rekenaar het ek (sonder die hulp van
toetsprogrammetjies) vir die manne getoets en vir hulle gewys hoe hulle vir
'n "ride" geneem word. Die ander ng. lesers wat rekenaars ken, sal die
metode ook ken. Dis die PROGRAMME wat die groot gevaar inhou vir die
gebruikers........

Wil nog vir Hennerie vra of sy pa nie mirresyne het om gewetes bietjie te
dokter nie. Ek wil graag so bietjie meer SAMEWERKING hê van myne. In
Windhoek het party ouens al reggekry dat 'n gewete 'n medepligtige word.

> Die politieke gebabbel is besig om ernstige spysverteringsprobleme te
> veroorsaak, veral wanneer sommige mense so al in kringe praat en nie direkte
> vrae wil beantwoord nie.

Politiek, kerk en skietysters - hou jou bek en bly heel. Hierso sien ons
ook al die onheilighede duskant en anderkant die grense maar ons lewe darem
al so op 'n manier saam. Kyk nou net - daar't ek klaar my bek
oopgemaak.................

Gegroet

Omie

Koeitjies & kalfies | 2 kommentare

"Dis Al" deur JAN F. E. CELLIERS

Wo., 10 Maart 1999 00:00

DIS AL
Jan F.E. Celliers

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en 'n voël draai bowe in eensame vlug -
dis al.

Dis 'n balling gekom
oor die oseaan,
dis 'n graf in die gras,
dis 'n vallende traan -
dis al.

Prosa & poësie | 0 kommentare

Vir Leendert

Wo., 10 Maart 1999 00:00

Leendert van Oostrum wrote in message ...
>
> Noorde van Namibië waaroor daar vreeslik baie staaltjies vertel word. (Hul
> van is "Robberts").
> As Hans nog lees, sal hy sekerlik meer kan vertel van die mense van die
> Noorde.
>

Daar is die "bekende" families en hulle indeling is soos volg :

Outjo het die Robbertses gehad.
Grootfontein het met die Potgieters gesukkel.
In Gobabis het die Noltes weer hare laar rys.

Dalk weet Shannon iets van die Suide se karakters - ek is 'n "Noorde" man.
Ook Bees sal dalk bydraes kan maak oor Outjo se span.

Maar dit was l a n k a l. Nou-se-dae het genoemdes se nasate al
makgeword en is oral verspreid.

Eendag in Outjo gesien hoe 'n dorpshond die wilde weghol kry toe hy
naderstap om een van die Robbertses se bakkiewiele te merk. Hoe moes die
arme brak dan weet dat ou Robberts AL die vellings met leeumis besmeer het
juis om die honde van die wiele af weg te hou ?? Tog te mooi om te sien
hoe die brak enige rigting kies solank dit net WEG van daardie bakkie af is.

Aangesien daar van tyd tot tyd ook goeie geselskap hier op die ng vertoef,
sal ek my weerhou van die ander verhale wat meesal kerk, drank, tronk,
baklei en skiet as temas het..........

Gedurende die "bosoorlog" dae het ene Potgieter van Grootfontein weer 'n
"kanon" gemaak van 6 duim waterpyp - omtrent so twee meter lank - waarmee hy
sy plaasopstal wou verdedig. Die ding het amper soos die ou skeepskanonne
gelyk : Agter toegeswys met net 'n gaatjie waar die dinamietkers se lont
moes uitsteek en die gedagte was om soos met 'n voorlaaier die ding van voor
af te pak met eerste 'n kers of twee dinamiet en dan klippe, moere, spykers
en alles wat teen 'n spoed dalk kan seermaak.

Of die kanon ooit getoets is, glo ek nie want dan sou ons die berigte in die
koerant gesien het. Die kanon het ek gesien op die plaas omtrent so 90 Km
van Grootfontein af op die Rundu pad uit - toe ek daar gaan jag het. Die
ou wat die plaas by die Potgieters gekoop het, het dit destyds vir 'n
vertoonstuk aangehou.

Groetnis
Omie

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Briefie vir Oom Kaspaas

Wo., 10 Maart 1999 00:00

beste oom Kaspaas

Oom moet verskoon lat ek so min skryf. Dis nou rakbie tyd en as my pa nie
rakbie kyk nie sit hy die hele tyd agter die kom pewter en praat oor rakbie
met mense wat hy nie eers ken nie. Laas naweek het hy 8 wedstryde gekyk en
weet oom hoe baie nat strooi kan hy praat oor 8 rakbie wedstryde. Hys net
klaar gepraat dan is dit weer Vrydag dan begin die volgende wedstryde.

Hyt darem vir my gesê antie Sharrin sê jille vir lang na my. Dit het nou
opgehou reen op tsanien. Omtrent nou al 'n week droogte hie bie ons, ma
danksy die genade loop die oorle Fanie Botha dam nog oor. Ma' nou is hie
ander moeilikheid oom. Van al die reens is ons paaie nou meer pothouls as
teerpad. Die mense vrek soos vliege soos hulle ongelukke maak. My pa sê die
pad oor duiwelskloof Moeketsie toe gaan dalk een van die dae 'n grondpad
wees. Dit sal nie sleg wees as dit soos oom Hans hille se grondpaaie in
Duitswes is nie, ma' het oom al gesien hoe lyk Tsanien se rooi grond na 300
milliemeter se reen. Nie eers boeldousers kan daar deer nie.

Die ander aand ry oom Jon duiwelskloof toe. Toe sien hy iets wat soos kat
ogies in die middel van die pad lyk. Hy dink toe nog dis naais van die
afdelings raad om kat ogies op die pad te sit toe ry hy in 'n gat in. Toe is
dit allie tyd kameelperd oge wat hy gesien het. Hy het in 'n pothoul gestaan.
Laf Rassie se pa het gedink hy gaan sommer bo oor die haas met die lang ore
in die pad ry toe beland hy bo op 'n donkie wat ok in 'n pothoul gestaan het.

Die mense is woerend vir die provinsie se regering oor hille nie die paaie
regmaak nie. Hille sê daar is nie geld nie. My pa sê hille moenie warrie nie,
as die lorries wat die vrugte en hout Jansberg toe moet vat nie meer kan loop
nie oor daar nie paaie is nie sal daar nog minder geld wees. Dan hoef die
ooms van die teksies wat so stikkend gery word ook nie meer te kla nie want
dan hoef hille nie meer mense aan te ry werk toe nie. Yteindelik sê my pa sal
Tsanien 'n baie lekker plek wees want niemand sal hoef te werk nie.

Nou die aand toe my pa en oom Jon sit en rakbie kyk vra my pa of oom Jon
gehoor het van die ouens wat in die ou Syd Afrika in die selle by die hof
sit. Die een ou vra vir die ander een waarvoor hy in is. Gewapende roof sê
hy, en hy het 5 jaar gekry. Hy sê die landdros sê hy moet bly wees lat hy 'n
speelgoed rewolwer gebruik het anders sou hy 15 jaar gekry het. Die ander ou
sê hy is in vir ryp en het 10 jaar gekry, ma' die landdros sê hy kan bly wees
lat die meisie oor 21 was anders sou hy 20 jaar gekry het. Oorkant hille sit
'n swart man in sy eie sel en hille vra hom waarvoor hy in is. Vir ry met 'n
baaisiekel sonder 'n lig sê hy. Hy sê hy het 15 jaar gekry ma' die landdros
sê hy kan bly wees lat dit nie in die nag was nie.

koebaai oom kaspaas, oppas vir pothouls en baaisiekels sonder ligte

Hennerietjie

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

MJVNet

Di., 09 Maart 1999 00:00

Hier is 'n fantastiese Bemarkingsgeleentheid sowel as 'n uitstekende manier
om 'n ekstra inkomste te verdien! Deur slegs in te teken by 'n Internet
Diensverskaffer & andere te werf om dieselfde te doen kan jy tot soveel as
R5000 binne 6 maande verdien.

MJVNet is deel van die SAIX netwerk & het tot soveel as 70 Pops landwyd(tans
net in Suid-Afrika)

Vir meer inligting kontak my gerus.

Groetnis!
Hein

Hein van Wyk / Port Elizabeth (S.A)
hei...@mjvn.co.za
Cell: 083 310 1963
Fax: 0838 310 1963
ICQ: 7733122

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Bladsye (1835): [ «    1250  1251  1252  1253  1254  1255  1256  1257  1258  1259  1260  1261  1262  1263  1264  1265    »]
Tyd nou: Di. Jun. 02 03:15:49 UTC 2026