Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Uit "Die Vlakte" van JAN F. E. CELLIERS

Vr., 02 Julie 1999 00:00

Uit "Die Vlakte"
Jan. F. E. Celliers

Soos 'n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom 'n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot 'n stapelblou
van marmer wat krul en leef -
kolossaal monument op sy swart fondament,
waar die bliksem in brul en leef.
En o, met my is die windjies bly:
hul spring uit die stof orent
en wals en draai en dwarrelswaai
oor my vloer, van ent tot ent;
die gras skud hul wakker om same te jakker,
tot hy opspring uit sy kooi
en soos mane en sterde van jaende perde
sy stingels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
kom die eerste druppels neer,
en dit ruis alom so deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en buit
jaag 'n haelwolk langs verby,
soos 'n perde-kommando wat dreun oor die lande
vertrap en gésel hy -
en sy lyke-kleed sien ek ver en breed
in die awendson gesprei.

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Forts Snelling Verwysings

Do., 01 Julie 1999 00:00

Kyk op die web by

http://www.mnhs.org/places/sites/hfs/index.html

vir 'n paar fotos oor die fort en verdere beskrywings.

Disclaimer: Wat ek hier beskryf is ..... die res ken julle.

=|:^)

Johan

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Voordat jy die Serbiers veroordeel, dink hieroor.

Do., 01 Julie 1999 00:00

Hierdie paragrawe kom uit De Kat van Februarie 1997.
Dit is uit 'n onderhoud wat Victor Munnik met Jacques
Pauw gehad het. Jacques is hier aan die woord:
"Eintlik gee ek nie 'n f** om of F.W. geweet het
of nie. Die gruwel kom al van D.F. Malan af. Die
ideologie van apartheid en die totale aanslag is
almal se verskoning. Maar dis rassisme wat swart-
mense so verontmenslik het dat dit maklik was om
hulle te martel en dood te maak. Weet jy, die Vlak-
plaas-ouens praat altyd van 'die onderwerp', nooit
van 'n persoon of mens nie.
" Jy kom tot die gevolgtrekking dat hulle dit moes
geniet het. 'n Adrenalien-trip. Met baie geld. En die
mag oor lewe en dood. Dit was wreedheid en boosheid
op sy ergste. Vat byvoorbeeld een van die moorde wat
De Kock in die tronk laat beland het; die vier mense
wat in die minibus op Nelspruit doodgeskiet is en toe
verbrand is. Daar was 'n vyfde slagoffer, Sweet Sambo.
Hy is ontvoer, en by 'n ou mynskag doodgeskiet. Toe
moes hulle van die liggaam ontslae raak. Eers het twee
Vlakplaas-ouens die horlosie en skoene van die lyk
afgesteel. Toe is hy opgeblaas. Nou moet twee Askari's
-swart ouens - die groter stukkies bymekaar maak, en
op 'n hopie sit sodat hy weer opgeblaas kan word. Of
in 'n ander geval, waar slagoffers 'n dag en 'n nag lank
oral aan hulle lywe geskok is. Voor hulle dood-geskok
is, is die een gedwing om regop te staan en 'Nkosi te
sing. Selfs in oorlog - as hierdie dan 'n oorlog was, wat
De Kock se regter nie geglo het nie - selfs in 'n oorlog
is daar reëls."

Koeitjies & kalfies | 40 kommentare

"Winternag" deur EUGENE MARAIS

Do., 01 Julie 1999 00:00

WINTERNAG
Eugene Marais

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van 'n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk' grashalm se vou
blink 'n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!

Prosa & poësie | 4 kommentare

Re: "Winternag" deur EUGENE MARAIS

Do., 01 Julie 1999 00:00

Ek dink hierdie is een van die mooiste gedigte wat nog in Afrikaans geskryf is.
Julle ander mense se gunsteling?

| WINTERNAG
| Eugene Marais
|
|O koud is die windjie
|en skraal.
|En blink in die dof-lig
|en kaal,
|so wyd as die Heer se genade,
|lê die velde in sterlig en skade.
|En hoog in die rande,
|versprei in die brande,
|is die grassaad aan roere
|soos winkende hande.
|
|O treurig die wysie
|op die ooswind se maat,
|soos die lied van 'n meisie
|in haar liefde verlaat.
|In elk' grashalm se vou
|blink 'n druppel van dou,
|en vinnig verbleek dit
|tot ryp in die kou!
|
|
|

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Kritiese koerante in Afrikaans

Do., 01 Julie 1999 00:00

Interessant die verskillende maniere waarop Beeld en Die Burger vandag die
stories rondom Mhlangu rapporteer.

Die feite is omtrent alles identies.

Maar Beeld swyg soos die graf oor Mbeki se aanval op die Openbare Beskermer.

Lyk my mens moet maar Die Burger lees.

Totdat Naspers daardie redakteur ook vervang met een wat die ANC goedgesind
is.

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

SA familie in Kanada het dringend hulp nodig

Do., 01 Julie 1999 00:00

Jammer vir die Engels...
There is a South African family here in Prince Rupert, BC, Canada that
needs help from fellow South Africans. Johan and Maggie Vivier have 2
children: Heloise (11yrs) and Domonic (13yrs). Johan and the children
suffer from porphyria, a rare genetic metabolic disorder. They have
arrived in Prince Rupert on holiday visas, to see whether the weather
here would help their condition. So far, the weather is helping them and
they are able to live a more normal life. They have now applied for
immigrant status in Canada.
They only brought their suitcases with them. There's a couple of boxes
left in South Africa. Johann and Maggie cannot work until they get a
work permit or their landed immigrant visas. They are a very average SA
family, without much financial resources. This is a call for help. If
you can help out with a donation towards their rent, a box of groceries
or any unwanted furniture/household goods, please contact me for further
details.
This appeal is a genuine one and their story has been receiving coverage
in the Canadian media this past week. I visited the family myself.
Thanks for your time.
Anne Lehmkuhl
Boerewors Express publisher
Email: lk...@citytel.net
Web page: http://www.rupert.net/~lkool/

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Fort Snelling Deel 2

Do., 01 Julie 1999 00:00

On Wed, 30 Jun 1999 22:19:14 +0200, "Shannon"
wrote:
| Johan, ons ander lees graag.
|
...........Dan staan almal weg en skiet hulle 'n loskruit skoot af
(sonder kanon koeël).

Die soldate is aangetrek in die uniforms wat hulle daardie tyd
aangetrek het, selfs in die heersende hitte - die ou kommandeur
Snelling was glo baie progresief en het vir die manskappe 'n
somersuniform ontwerp - wit seil langbroeke en wit seil baadjies oor
hulle hemde - nog steeds baie dik en warm, maar ten minste nie wol en
donker blou soos die standaard Amerikaanse uniform van daardie tyd was
nie.

Loop jy by 'n slaapkwartier in, dan sit daar so drie of vier van die
soldate, besig om hule muskets skoon te maak - al tot 'n fyn kuns die
ding ontwikkel dat jy hulle nooit met 'n moderne gesprek sal vang nie.
Hulle groet jou baie beleef en waar een of twee volgens ons aksent vra
waar ons vandaan kom, sal hulle antwoord: "Oh, that must be a very
long journey on the boat!!"

Stap jy weer by 'n ander kamer in, sit daar een van die soldate se
vrouens wat ook as wasvrou indiens geneem is en drie keer 'n week 17
soldate se univorms onder by die rivier moet gaan was. Die mense
speel hulle rolle so goed dat hulle nie eers met moderne Amerikaanse
aksente praat nie en ook 'n ouerige woordeskat handhaaf - hulle sal
jou byvoorbeeld nie groet met "Hi" nie en dit is opmerklik.

Die ou wasvrou het so lekker gepraat en oor alledaagse goed. Oor hoe
die vrou in die hospitaal baie meer soldate se uniforms moet was en
hoe sy meer betaal word en hoe sy self seep maak en eerder ook haar
eie kerse maak as om by die winkeltjie te koop want daar is hulle so
duur en sy wil bietjie geld spaar en sy leer haar seun kos kook want
sy het gesien hoe die soldate vir hulleself moet kook en nie almal ewe
goed kook nie.

Die fort is gebou waar die Minnesota rivier by die Mississippi
aansluit en sy doel was om te dien as millitere basis vanwaar die
Britte gekeer is om suid uit Kanada uit te kom. Dit was 'n klompie
jare na die Revolutionary War toe die Amerikaners die Britte uitgeskop
het. Fort Snelling moes die hele gebied van die groot mere in die
ooste tot by die wesgrens van die Dakotas in die weste dek en dan
noord tot by die die Kanadese grens en ook baie ver suid af.

Die fort het ook die Indian Agency gehuisves waar 'n Majoor Lawrence
Taliaferro vrede moes help bewaar tussen die Ojibwe en Dacohtah
Indiane. Hulle het ook glo soontoe gekom om handel te dryf.

Ons stap by die Kommandeur se huis in en daar sit hy, Kommandeur
Snelling, en die Indian Agent, Majoor Taliaferro, en eet - donker
graan brood, kool, cider en water en botter by die brood, met gemmer
koek vir nagereg. En weereens baie vriendelik en word jy so tussen
die happe kos in vertel hoe hulle maak en wat sy beleid is. Solank jy
vrae vra bied hy nie self inligting aan nie - ek neem aan as jy nou
daar met jou bek vol tande staan en na hom staar, sal hy aangaan asof
jy nie daar is nie of hy sal dalk iets uit sy eie begin vertel. Dis
soos om lewendig in 'n fliek rond te loop.

Ek was toe ook al teen die tyd gewoond aan die 1827 ding en vra toe
die kommandeur oor verskillende dinge uit - die vroue in die fort,
hulle kos, sy manskappe se uniforms, die winter, hulle doel in die
omgewing, sy manskappe se moraal en nog so paar dinge en nie een keer
het hy gehuiwer nie - hy leef hom 110% in sy rol in en antwoord nie
asof hy die antwoorde moet uitdink nie, maar asof dit regtig met hom
besig is om te gebeur.

So het die hele middag gou omgegaan : by 'n reisiger en sy vrou wat
buite by hulle oskar gesit en eet het - hoender vars van die vuur af -
by die skoenmaker wat net nuut by die fort gekom het en besig was om
sy werkswinkel skoon te maak - so ons kon nie veel leerwerk gesels nie
- by die grofsmid waar die kinders sy blaasbalk moes werk om die staal
in die kole rooiwarm te kry sodat hy kon werk - by die skrynwerker
verby wat net 1827 gereedskap het - almal tot by hulle skoene
oorspronklik aangetrek. Natuurlik is alles replikas, maar daar is
nerens plasties gebruik waar seil en leer gebruik moet word nie.
Slegs van die offisier kwartiere het uitstallings binne wat meer
modern is. En daar is drie badkamers wat heel modern is en wat jou so
'n kultuurskok gee as jy daar ingaan of uitkom. Om so 170 jaar heen
en weer te spring is nie maklik nie!

Die seuns het natuurlik alles baie geniet. Dis so lewendig en amper
bonatuurlik dat selfs hulle meegevoer is. Ons sal seker weer 'n paar
keer gaan, veral op spesiale dae soos dalk nou die 4de Julie.

Disclaimer: Wat ek hier beskryf is ..... die res ken julle.

=|:^)

Johan

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Fort Snelling Deel 1

Do., 01 Julie 1999 00:00

On Wed, 30 Jun 1999 20:30:02 +0200, "Johann de Jager"
wrote:

|
|vertel ons meer van jou museum. Ek, vir een,
|sal meer daarvan wil weet.

Ons was die naweek by 'n ou historiese fort hiernaby (reg langs die
lughawe - so 15minute se ry van die huis af). Nou ja, oor die
algemeen is museums en historiese plekke nie iets wat my baie
opgewonde maak nie, maar baie mense het Fort Snelling al by ons
aanbeveel. Op pad van die parkeerterrein af gaan 'n mens deur 'n
besoekerssentrum wat ondergronds begrawe is, sodat daar nie moderne
geboue te naby aan die fort is nie. Binne is die gebruiklike toeriste
winkeltjie en 'n groot film teater waar elke halfuur 'n film oor die
fort aangebied word en dan ook die toonbank waar jy jou
ingangskaartjies koop. Jy kry 'n kaart van die terrein en die dame
waarsku jou dat binne die hekke van die fort, jy teruggaan in tyd na
die jaar 1827 - die mense daarbinne is volgens daardie tyd aangetrek
en leef daarbinne volgens 1827 se gewoontes.

Vandaar af stap jy so 200 meter na die fort toe, waar daar 'n soldaat
jou inwag. Hy kyk dat jy betaal het en vertel jou watter dinge watter
tyd gaan gebeur. Tydens ons besoek was daar byvoorbeeld die afvuur
van die kanon en die dokter se "sick call" vir die soldate. Ons is
eers na die hospitaal toe - net betyds vir die dokter se spreektyd.
Die ou het regtig sy storie geken - ek reken hy is of 'n afgetrede
historikus of 'n afgetrede dokter. Hyself, terwyl hy met jou gesels,
- en jy kan hom enige tyd vrae vra - tree op asof hy in 1827 is en jy
'n besoeker uit die toekoms is. Met die hoogste uitsondering sal hy
dalk sê "You will know that as aspirin" of so iets. Verder "verlaat"
hy nooit sy rol van 'n 1827 dokter nie.

Terwyl daar so 20 besoekers om hom in sy spreekkamer sit, kom die een
siek soldaat in en die dokter verduidelik hoe hy die man vir
ongestelde maag behandel en wat sy eie vlak van kennis is en dit was
maar baie primitief. Al die groot uitvindings in die medisyne sou
eers meer as vuftig jaar later volg. Hy sê ook, ouens wat daardie tyd
oud geword het, het oud geword omdat hulle sterk gestelle gehad het en
nie omdat hulle goeie mediese hulp kon kry nie.
Wat interesant was, was sy statistiek oor alkoholisme. In 1827 was
dit die hoogste wat dit nog ooit in Amerika se geskiedenis was.
Vandaar het die Temperance Society ontstaan waar mense petiesies
geteken het dat hulle minder sou drink en die wat geheel en al sou
ophou, het 'n "T" langs hulle name geskryf vir "Totally abstain" en
vandaar die term van 'n "T-totaller".

Die plaaslike boer het ook ingekom met 'n gekneusde arm wat in 'n
houtspalk gesit is. Die res van die dag kon jy hom in die fort sien
rondloop met die een arm in 'n slingerverband. Ons het 'n goeie
halfuur by die dokter gesit en vrae vra. 'n Mens voel eers aardig om
met so 'n "akteur" te praat, want hy hou nooit op om deur die dag sy
rol te speel nie, maar as jy dit eers aanvaar, raak jy dit gou gewoond
en dan aanvaar jy maar die ou is in 1827.

Vandaar is ons na die winkeltjie waar die vrou half Skots en half
Indiaan was en ons suikerkristalle op 'n stokkie en koue koeldrank kon
koop (dit was buite 40°C). Daar was natuurlik al die outentieke
artikels en 'n groot 1827 pryslys (Lang leer stewels vir $4 - 'n
soldat het $5 per maand gekry).

Toe is ons almal nader geroep vir die afvuur van die kanon - eers
versamel al die besoekers om die kanon en hulle vertel hoe dit gaan
werk en wat hulle doen. Dan staan almal weg en skiet hulle 'n
loskruit skoot af (sonder kanon koeël).

(word vervolg....)

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Re: Fort Snelling Deel 2

Do., 01 Julie 1999 00:00

Dankie Johan, ek het jou vertellings terdee geniet.

Alwyn -uit Perth

> |
> ...........Dan staan almal weg en skiet hulle 'n loskruit skoot af
> (sonder kanon koeël).
>
> Die soldate is aangetrek in die uniforms wat hulle daardie tyd
> aangetrek het, selfs in die heersende hitte - die ou kommandeur
> Snelling was glo baie progresief en het vir die manskappe 'n
> somersuniform ontwerp - wit seil langbroeke en wit seil baadjies oor
....................

Koeitjies & kalfies | 3 kommentare

Bladsye (1834): [ «    1193  1194  1195  1196  1197  1198  1199  1200  1201  1202  1203  1204  1205  1206  1207  1208    »]
Tyd nou: Do. Jan. 29 04:39:40 UTC 2026