Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Die weelde van die vroeg-winter.

Sa, 30 November 1996 00:00

Wanneer iemand hier in Kanada hoor dat ek in Suid-Afrika
grootgeword het, dan vra hulle gereeld hoe ek die winters hier
kan staan. Hulle voel dan heeltemal verbysterd as ek vir hulle sê
dat ek hou van hulle winters, maar dat dit hulle somers is wat ek
nie kan vat nie. Die somers hier in die suidelike deel van Kanada
is glad te warm, te vol goggas. Al die groen om jou word ook na
'n rukkie effens eentonig. Dis eers wanneer die herfs kom, dat ek
weer geinteresseerd raak. Wanneer die herfs verby is, is daar dan
die verskillende fases van die winter, indien moontlik nog meer
verruklik as die herfs, net op 'n meer delikate manier.
As jy in 'n park rondstap, vind jy bome waarvan die blare nie
afgeval het nie, net ivoorwit verbleik het in die koue. Daar is bome
waar al die blare afgeval het, maar hulle dieprooi of helder oranje
sade skok jou as jy hulle teen die blou van die lug sien. Wanneer
jy nou verby struike loop wat net egalig groen was in die somer,
ontdek jy die geheime van die struik se binnekant, die hele somer
weggesteek deur 'n klomp groen blare.
In die somer is die immergroen bome so een met die algemene
groen dat jy hulle eintlik nie opmerk nie. Dis eers in die vroegwin-
ter dat jy bewus van hulle word, as hulle groen takke belaai word
met wit sneeu. En watter vreugde kan selfs 'n boom sonder blare
wees, as die mis van die rivier op hulle vries en hulle daar soos
wit spookbome staan. Of nog meer verruklik : as dit ree�n en die
bome word nat en dit kom vries dan in die nag, dan staan elke
boom in die oggend met 'n yslaag wat met al die kleure van die
ree�nboog vonkel.
Die Canada geese het toe verlede week op die Ottawa-rivier
gearriveer, 'n maand later as verlede jaar. Hoe weet hierdie voe�ls
wanneer die swaar sneeu kom, (verlede jaar vroeg, vanjaar laat)?
Dis so snaaks om hulle in die skemer (4:30) te sien. Al wat uit-
steek, is hulle stertvere. Hulle eet plante onder die water. As een
moeg word, klim hy op die ys wat langs die rivieroewer begin
vorm en sit daar ewe tevrede. Later spring hy van die ys af in die
water in en begin weer eet, stert in die lug. Een van die mooi dae
sal hulle suid-waarts vertrek in hulle tipiese V-formasies en met hul
kenmerkende honk-roepe, en so vir ons vertel dat hulle eintlik
maar net toeriste was wat vir 'n rukkie van ons gasvryheid gebruik
gemaak het.

Gloudina Bouwer

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

'n Winterdag en heimwee

Vr, 29 November 1996 00:00

Jy praat van ons winter sonder
tempregulasie, jy jou afrikaner
kanadees, ek vertrek binnekort
na Bahrain in die persiese golf,
daar is dit soos in Kanada
ekstreme temp, vir 6 maande
woon mens binnehuis want
buite is dit 40+- cel.

Ek 'n ou skiereilander
verlaat die kaap,
die wind, die see
en die locals.....

nimmermeer ou afrika
suid-afrika, my moeder,
grond van verlange
tog, ek kom terug... eendag
-----vyg

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Biltong, Boerwors, Melktart, Sunny Skies and Chevrolet.

Vr, 29 November 1996 00:00

Hello/Dag All,

My Afrikaans is very rusty, so here goes in English. I am sure that this
has been covered before but if anyone could supply recipes for Biltong,
Boerwors or Melktart I would really appreciate it.

Thank you/Dankie,
Kevin.

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

PIETIE, OUMA EN DIE FOTO

Do, 28 November 1996 00:00

Pietie is vyf. Ouma blaai deur 'n tydskrif en sy wys hom 'n
foto van 'n vet dame wat besig is om te verslank. Hy vlie
weg en gaan haal 'n ander tydskrif met die foto van 'n
bekende grooooooooot kêrel. Hy wys na die oortollige
gewig wat so oral verby die kort broekie uitpeul, en eindig
by een spesifieke, strategiese plek en vra vir Ouma wat dit is.

"Dis 'n vetrol" probeer Ouma die saak beredder.

Ewe droog antwoord hy: "OOO!. Ek het gedog dis sy
Creepy Crawly wat uithang."

Hier naby ons is 'n kleuterskool en die een
onnie vertel my die volgende een:

Die juffrou vra aan die klas:
"As seuntjies groot word dan word hulle........"
Antwoord die klas in 'n koor: "Pappas of ooms."
Juffrou: "As dogtertjies groot word dan word hulle........."
Struan: "Dan word hulle 'n klomp merries."

Vir nog heerlike en kostelike dinge wat kleuters kwytgeraak
het kan jy gerus gaan kuier by:

http://www.pix.za/nakkie-die-nar

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

'n Gedig van DONALD RIEKERT oor 'n vrou.

Do, 28 November 1996 00:00

Die kersgety kom nader en daarmee gedagtes aan die
wonder van die geboorte. 'n Mens vergeet dat daardie
gebeurtenis somtyds ook vir die vrou 'n gevreesde lot
kan wees. Hieroor skryf Donald Riekert.

GEBED VAN 'N VROU

Here sy oë slaan sweep
as ek praat dat die wit
pil help Die vyfspan lek
al die swartpot leeg Jaar
vir jaar lek geen lepel meer
Sy bakhand sal tog nie
die hardevet stort as dalk
weer in hierdie jaar 'n
kleintjie in die kaia se hoek
op 'n baie klein maketaantjie sit

Prosa & poësie | 0 kommentare

Klara Majola - gedig is 'n monument in Afrikaans

Wo, 27 November 1996 00:00

Gloudina pos die volgende:

KLARA MAJOLA
D. J. Opperman

Klara Majola wou haar vader
toe die skemer sak, gaan haal
waar hy, die blinde, hout vergader;
maar Klara Majola het verdwaal.

Klein Klara Majola lê verkluim
in die Bokkeveld se bros kapok,
haar arms en bene bruin
en kromgetrek soos wingerdstok.

Klare Majola, die koue geweld
sif stadiger oor my uit die ruim,
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.

--------------------------

Dit is darem maar vreeslik aangrypend, laat 'n knop in my keel.
Digters is woorde-towenaars, maar ekself kan nie dig
om my bleddie lewe te red nie,
en baie van die nuwe gedigte is te slim/pretensieus vir my.
maar in bg. word so baie oorgedra, in so 'n paar woorde.
So 'n gedig is eenvoudig 'n monument. (In Afrikaans).
Dit was seker 'n werklike storie, dalk iets wat Opperman in 'n koerant
gelees het?

Dit herinner my ook aan Racheltjie De Beer.
(dis nou die dogtertjie wat verkluim het in die bek van die erdvarkgat
om haar broertjie se lewe te red ?).
Ek onthou my pa het dit vir my gelees/vertel toe ek nog 'n snotkop
kind was, en toe het dit my ook aangegryp.

Vriendelike groete
|
| ___/////
| / \ /|
| / O \ \/ |
J > / /\ |
\_________/ \|
\\\

Prosa & poësie | 0 kommentare

'n Wintergedig van DONALD RIEKERT

Wo, 27 November 1996 00:00

In hierdie gedig word daar gepraat van 'n mossie in
die winter wat op die ys van 'n bevrore rotspoel staan.

WINTER

Die mossie pik
vroegoggend by
die rotspoel teen
sy eie snawel vas
skop met sy pootjies
teen sy pootjies vas
en bly praat met
sy maat wat koud bly
le^ in harde water

Vir my hier in die vroegwinter langs die Ottawa-rivier
is hierdie gediggie besonder oulik. Dis omdat ys en die
groeiende ysoppervlaktes 'n bron van genot en wonder
word. Jy stap in 'n park en 'n lagie ys het op 'n water-
poel gevorm en jy wonder hoe dun die lagie ys is. Ek
toets dit deur 'n pennie daarop te sit en te kyk of dit
deur die ys val. Dan dink ek terug aan my kleindae daar
in die Noordweste, en die ontdekking van 'n yslaag op 'n
emmer water wat in die nag buite gelos is. Dus moes die
temperatuur die nag onder vriespunt gedaal het! Hoe kon
ek sulke koue nagte staan, dink die bedorwe Kanadees
wat in 'n egalige sub-tropiese binneshuise temperatuur
bly, en seker nooit weer 'n Suid-Afrikaanse winter in 'n
onverhitte huis sal kan oorleef nie.

Gloudina Bouwer

Prosa & poësie | 0 kommentare

'n Gedig oor broers van DONALD RIEKERT

Di, 26 November 1996 00:00

Donald Riekert sê boekdele in baie kort gediggies.
Hier is 'n elegie, 'n vaarwel sê aan daardie intieme tyd
wat broers en susters ondervind in die ouerhuis, voordat
hulle van mekaar moet afskeid neem soos hulle van me-
kaar wegdryf.

BROERS
Donald Riekert

Na die jare kon ons
nie meer praat nie
Hulle voetstappe verby
Gamasep se grootfontein
weggeraak Ons vinknes-
saamsit by die blou water
en die soetriet-eet het
opgebreek in 'n paar stuk
soet herkouseltjies

Hoe het hierdie gedig my weer herinner aan die bestaan
van "soetriet." Ek ken die gekweekte suikerriet op die
plantasies in Natal. Maar die "soetriet" van my kinderdae
was anders. Dit was 'n groot vreugde om somtyds een van
hierdie soet riete te ontdek. Die vonds het 'n mens status
gegee, jou 'n kans gegee om daarvan te deel met andere.
Die suikergehalte was nie so hoog soos in suikerriet nie.
Maar die kou daarvan, en dan die uiteindelike uitspoeg,
was een van die soetste herinneringe van my kinderdae.

Gloudina Bouwer

Prosa & poësie | 0 kommentare

Re: 'n Held - Herold Sefola, Vlakplaas moordenaars

Di, 26 November 1996 00:00

Dankie Koos:
Ek het die storie oor Harold Sefola wat deur die vuiligheidspolisie
van Vlakplaas-faam doodgemartel is gelees.

Dit is 'n gruwelike, afgryslike storie, dat mense sulke dinge
aan ander mense kan doen. Dit is ook 'n storie van 'n ware held,
van mense wat in beginsels bly glo het en hul lewe daarvoor
opgeoffer het. Ek is bly hierdie stories kom nou uit.
Ek hoop hierdie man en ander kry 'n monument, en ek wens
iemand wil 'n gedig oor hulle skryf.

Maar anders as baie ander, glo ek dat mense wat sulke wreedaardige
dade gepleeg het, die geregtigheid moet kry wat hul verdien,
naamlik die doodstraf. Ek het hoegenaamd nie simpatie met
"mense" wat so laag daal (benede die vlak van enige dier)
dat hulle sulke goed doen nie. En hoeveel swartes is nie
doodgemartel en vermoor in die Apartheidsera nie ?
Geregtigheid moet geskied, vir almal om te sien.

Vriendelike groete.

Koeitjies & kalfies | 2 kommentare

Bladsye (1839): [ «    1573  1574  1575  1576  1577  1578  1579  1580  1581  1582  1583  1584  1585  1586  1587  1588    »]
Tyd nou: Ma Okt 07 09:23:11 MGT 2024