Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

"Ketter" deur CHARL DURAND

Di., 11 April 2006 14:50

KETTER
Charl Durand

As ek aanhaal uit die bybel
sal jy verstaan
as ek ophou vrae vra
en niemand is hier
wie sal 'n boom hoor val?

Prosa & poësie | 2 kommentare

Nuwe ding

Ma., 10 April 2006 13:30

Mnet het afgekondig dat, in lyn met die feit dat hulle die 'Kanaal van
Kampioene' is, gaan alle Stormers en Cats wedstryde in die toekoms op die
Cartoon-kanale uitgesaai word.............

Koeitjies & kalfies | 6 kommentare

SMS Grappie

Ma., 10 April 2006 02:49

Ek het so pas 'n SMS ontvang wat so iets lui:

Daar is 'n nuwe sokkerspel vir blinde ouens ontwikkel. 'n Klokkie word
in die bal geplant sodat die manne kan hoor waar die bal is.
By die eerste wedstryd is die roomysverkoper doodgeskop....

Humor & grappe | 0 kommentare

" Portret: drie kinders by die dam, vroeglente " deur GERT VLOK NEL

Do., 06 April 2006 12:37

Gert Vlok Nel

portret: drie kinders by die dam, vroeglente

in herinnering aan Koos

(sy't die een liefgekry) die arm een met die groot bek.
en die een hartseer oog die dag 10 jare terug by die ingewikkelde dan
toe hy sy hemp uittrek teen die lug, wegkyk & wag dat sy uittrek
& na die swem in sy hemp sy wou sterf in die kleef
terwyl hy haar hare met sy
vingers
kam

(die ander een sou altyd daar wees) herkenning van bloed.
en die bestemde swawels wat elke jaar tussen hier & europa vlieg
altyd wetend & groeiend in hunkering, met noem-noem-bessies
wou hy haar
voed,
& donkernag toe hulle al 3 hand-aan-hand terugkeer & haar pa wag
sou hy vorentoe
tree &
lieg

(ver weg & lank terug) dit sou haar oë mistig maak soos die berg
in somer & bymekaarmaak sou sy nog die pyn van die vroeëre
droom kon
veel.
maar winter bring realiteit & krag, dié feite sou al haar aandag verg
een is weg & dood, sy i parapleeg, die ander i volslae homoseksueel

Prosa & poësie | 0 kommentare

Geskryf deur Herman Giliomee

Do., 06 April 2006 12:33

Herman Giliomee

In die vroeë 1950's het Piet Meyer, toe nog werksaam by Rembrandt,
maar later voorsitter van die SAUK-raad, die interessante oefening van
stapel gestuur om van die grootste geeste in die Westerse wêreld te
vra wat Suid- Afrika se grootste uitdagings is.

Een van hulle was die Duitse filosoof Martin Heidegger. Hy het
geantwoord dat dit in Suid-Afrika nie gaan om 'n rassevraagstuk nie,
maar om 'n politieke vraagstuk.

In hierdie eenvoudige opmerking van Heidegger dat Suid-Afrika eerder 'n
politieke probleem as 'n rasseprobleem het, lê 'n ontsaglike waarheid
opgesluit. Die groot Suid- Afrikaanse historikus C.W. de Kiewiet het in
die jare sestig iets soortgelyks gesê. Dit was ontsaglik moeilik, het
hy gesê, om 'n alternatief vir apartheid te kry.

Die liberaal soek tevergeefs vir 'n aanvaarbare alternatief tussen
"ekonomiese chaos en menslike wanhoop". Daarmee het hy bedoel dat die
gewone liberale oplossing van individuele regte nie op daardie stadium
van Suid-Afrika se ontwikkeling sou werk nie.

Meyer het sy vraag ook gestel aan Arnold Toynbee, die skrywer van die
grandiose A study of history waarin patrone en "wette" in die opkoms en
val van 26 beskawings in die wêreldgeskiedenis ontleed word. Toynbee
se antwoord was dat die Afrikanervolk gekonfronteer word met een van
die moeilikste, maar tegelyk ook die grootste, geestelike take wat dit
nie kon weier om aan te pak nie. Dit was die uitdaging geskep deur die
"uitwissing van afstand" as gevolg van die verspreiding van Westerse
tegnologie.

Toynbee het die volgende voorspelling gedoen: "There will never again
be room in the world for the different fractions of mankind to retire
into isolation from one another again." Suid-Afrika met sy
verskeidenheid van rasse, kleurgroepe en kulture was net die ander
lande en nasies ver voor.

Suid-Afrikaners was die mense wat heel eerste te doen gekry met die
samedromming van mense uit verskillende agtergronde wat in beperkte
ruimte en met die uitwissing van grense 'n vorm van vreedsame
saambestaan moes soek. Die groot historikus het afgesluit met die
woorde: "Now history has given you the honourable mission of being the
spiritual pioneers in trying to find the solution of a spiritual
problem that is soon going to face the rest of the human race as well."


Hoe waar klink dit nie vandag nie! Televisie, vliegtuie, die internet
en so baie ander uitvindsels het, soos Toynbee dit stel, het "the
annihilation of distance" meegebring en daarmee saam die woede of die
afguns of die bewondering van mense in wie se lewens die prentjie van
Westerse weelde ingebring word.

Soos die verarmde inwoners van die platteland, Mosambiek en Zimbabwe
stroom hulle na die dorpe en stede om hulle lewens te verbeter. Sommige
van die bittere pille wat die Westerse wêreld sluk en nog moet sluk,
het die Suid-Afrikaners al klaar geneem.

Kyk na die ooreenkomste tussen "blanke" Europa en Suid-Afrika. Die
demografiese verhouding tussen Europeërs en nie-Europeërs in die
wêreld is baie dieselfde as dié in Suid-Afrika. Die
inkomsteverdelinge is baie dieselfde, kultuur, kleur en ras val in
albei gevalle saam, en ten einde terrorisme te beveg, skort die VSA
belangrike aspekte van sy menseregte op.

Die ontwikkelde wêreld as 'n persentasie van die wêreldbevolking het
in die laaste paar dekades afgeneem van 30% tot 20%. Moslems het in
dieselfde tyd van 15 tot 20% gestyg. In die laaste drie dekades het
Europa amptelik 13 miljoen Moslems as immigrante toegelaat, en baie
sypel onwettig in. Hulle kry werk omdat Europa met sy krimpende blanke
bevolking nie in al sy mannekragbehoeftes kan voorsien nie. Bernard
Lewis, een van die wêreld se beste kenners van Arabië, voorspel dat
Europa teen die einde van hierdie eeu deel van die Arabiese Weste, die
Maghreb, kan word.

Tussen 1900 en 1960 was dit vir blanke Suid-Afrika moontlik om
segregasie en apartheid te handhaaf. In hierdie jare het die blankes
konstant 20% van die bevolking gevorm. Van 1960 het die blanke
persentasie vinnig gedaal en dit staan tans net oor die 11%. Die
blankes se verswakkende demografiese posisie is die grootste enkele
oorsaak van die disintegrasie van apartheid.

'n Mens wonder of die grensmure wat blanke Europa bou nie oor die
volgende eeu net só gaan disintegreer nie. Dit wil sekerlik lyk of
Europa nie die oplossing gevind het vir die probleem wat deur die
uitwissing van afstand geskep word nie.

Koeitjies & kalfies | 3 kommentare

Afskeid

Ma., 03 April 2006 12:37

Saterdagaand het ons ons horlosies een uur aangeskuif. Ons
het een uur in die nag verloor. Die oggende is nou effens
donkerder wanneer ek wakkerword, maar skielik is dit sonlig
tot om en by ses-uur en nog ligterig hier teen half-sewe.
Daar is ook net 'n ses-uur verskil tussen ons en SA, in plaas
van die sewe vir die laaste ses maande.
Lente is nou ernstig besig om hier aan te breek. Nog
geen blomme hier by ons nie, wel verder suid in Ontario. Hierdie
tyd van die jaar is ek eintlik bietjie weemoedig dat ons besig
is om die laaste tekens van die winter te verloor. Ek hou daarvan
as daar nog sulke plate wit sneeu tussen die bome lê, en die
baaitjies van die rivier nog vol ys is. Vir die afgelope paar weke
kon ek my verwonder aan die meeue was so in hulle duisende
sit waar die rivier nog verys is teen sy walle. Dit lyk kompleet soos
kant wat aan die soom van 'n wit rok gewerk is. Ongelukkig, toe
ek vanoggend deur die venster kyk, het al hierdie ys die baaitjie
hier naby verlaat en met die rivier afgedryf.
Daar is natuurlik dinge om na vooruit te sien. Soos die
eerste krokus. Of die daffodils wat half wild groei langs die
rivierpad wat ons volg na downtown Ottawa. Maar totdat ek die
eerste daffodil sien, bly ek effens weemoedig. Sneeulandskappe
is eintlik baie meer interessant as somerlandskappe hier in
die oostelike deel van Noord-Amerika.

Gloudina

Koeitjies & kalfies | 12 kommentare

" Swartkomyn " deur P.W. BUYS

Ma., 03 April 2006 12:23

SWARTKOMYN
Jesaja 28:27
P.W. Buys

Die landman weet hoe fyn
die klein swart saadjies is -
hy saai hul met 'n ligte hand
in vakkies in 'n sagte land.
Wanneer die oes- en dorstyd kom,
word swartkomyn nie met die skop
soos koring, gars en spelt wyd op
die dorsvloer oopgestrooi
waar beeste trap en perde draf,
wawiele oor die stoppels gaan,
die dorsslee stamp en skeur en skok -
komyn word in 'n sak gegooi
en saggies met 'n ligte stok
geslaan.

Prosa & poësie | 0 kommentare

April Fool

Ma., 03 April 2006 12:19

Verlede Saterdag het omgegaan en nie eenkeer het iemand probeer
om met my April Fool te speel nie. Is die hele gewoonte besig om uit
te sterf? Ek weet dat dit meer 'n Britse kultuurding is as Noord-
Amerikaanse kultuurgewoonte, maar ek dink tog twintig dertig jaar
gelede was dit nog baie meer definitief hier gepraktiseer as nou.
Ek kan nog goed onthou hoe ek, kort nadat ons hier aangekom
het, ek eendag op Educational TV staan en kyk hoe hulle macaroni
oes. Dit het gelyk of dit in Italië is, en daar was 'n hele boord vol
bome met sulke lang wit wat gelyk het na peule. En die mense
het die macaroni van die bome afgesny en in mandjies gesit en
dit na waens geneem. Ek het verstom gestaan. Want ek het nog
altyd gedog dat mense macaroni en spaghetti op 'n ander manier
maak. Na 'n rukkie begin hulle 'n bekende klassieke deuntjie
speel, en toe skielik begin hulle alle soort kinkels daarin sit wat
so snaaks was dat dit mens moes laat lag. Toe skielik besef
ek, hulle is besig om my been te trek. Natuurlik dan ook seker
met die macaroni wat op bome groei.

Gloudina

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Sekulere Spiritualiteit deur CHRISTINA LANDMAN

Ma., 03 April 2006 12:10

Christina Landman
Hoe kan ons die Polisiekarre, Zuma op 'n kruis en die herrie oor die
Vrouemonument verstaan? Miskien deur 'n bietjie na te dink oor die term
sekulêre spiritualiteit.


Sekulêre spiritualiteit is wanneer 'n mens spirituele waardes najaag,
maar dit nie deur die kerk of geves tigde godsdiens doen nie.

Ons Christene voel nogal ongemaklik oor hierdie term. Want 'n mens kan
mos tog óf sekulêr óf spiritueel wees, nie waar nie? Maar veral in
die Weste is sekulêre spiritualiteit al 'n gevestigde term. Daar het
byvoorbeeld onlangs 'n boek verskyn, The Gospel according to Harry
Potter, wat die spirituele kant van Harry Potter bekyk, en ons weet
Harry was beslis nie godsdienstig nie.

En dis maar net een van 'n lys boeke soos The Gospel according to
Peanuts en The Gospel according to Tolkien.

Dit bring ons by die Polisiekarre. 'n Mens sou kon vra of hul liedjies
dan nie tog 'n spirituele kant het nie. As hulle in hul liedjies vir
god vra waarom god hom aan ons afvee, om dit nou maar so te stel, gee
hulle nie juis uiting aan jong mense se soeke na 'n spiritualiteit wat
vir hulle "truthful" is nie?

Hulle soek na 'n hemel, sê die Polisiekarre in een liedjie. 'n Mens
wonder of daardie soektog 'n "spiritual quest" is? (Nie dat die
Polisiekarre hul taal meng nie. Hulle sing en vloek in suiwer
Afrikaans.) Hul liedjies is vol godsdienstige simbole.

En hoe moet ons Jacob Zuma se foto teen die kruis vasgespyker,
verstaan? Vir ons lyk dit na godslaste ring. Nes die Polisiekarre. Maar
miskien kan ons dit verstaan vanuit sekulêre spiritualiteit, al wil
ons dit nie goedkeur nie.

As die Polisiekarre 'n sekulêre medium soos rockmusiek sou gebruik om
spirituele weerstand uit te beeld, dan is dit met Zuma op die kruis net
andersom. Met Zuma word 'n sekulêre opvatting (dat die media besig sou
wees om iemand te veroordeel) deur middel van 'n godsdienstige simbool
(Jesus wat onskuldig gekruisig is) uitgebeeld.

Dit is steeds sekulêre spiritualiteit. Dis hoe dit lyk wanneer die
sekulêre en die spirituele deurmekaar begin loop.

Want in Afrika lyk sekulêre spiritualiteit anders as in die Weste. 'n
Westerse mens sal die kerk verlaat om privaat 'n Boeddhis te word, New
Age-praktyke te volg of as 'n paganis sy/haar geestelikheid in die
natuur te gaan soek. Dis iets individueels.

Nie in Afrika nie. Die Afrikane in Suid-Afrika gee uiting aan hul
spirituele waardes as 'n groep en deur hul liggame. Hulle neem aan
optogte deel, hulle dans en betoog vir hoër salarisse en die regte van
werkers en vroue. Want menseregte is vir hulle 'n spirituele waarde.

In Suid-Afrika kom die sekulêre en die spirituele bymekaar soos seker
nêrens anders op aarde nie. En in Suid-Afrika word sekulêre
spiritualiteit betoog, beliggaam, bekruis en bedans soos nêrens anders
nie.

Geen wonder die verskillende groepe verstaan mekaar nie lekker oor die
Vrouemonument nie.

Die regering beskou die Vrouemonument as heilige grond. Die regering
sien die waardes wat die Vrouemonument verteenwoordig - soos om dank te
betuig vir oorlewing en te weeklaag oor vroue en kinders se lyding - as
spirituele waardes. En die regering wil die Vrouemonument se
spiritualiteit uitbrei na alle vroue.

Maar binne 'n sekulêre spiritualiteit wat die Grondwet sal eerbieding.
En dis waaroor die rusie nou sal gaan: Is die Vrouemonument heilige
grond binne die Christelike godsdiens of is dit heilige grond vir almal
binne die Grondwet?

Die Grondwet, tussen hakies, is in sy geheel 'n suiwer stukkie
sekulêre spiritualiteit. Die Grondwet buig die knie voor God, maar nie
binne 'n spesifieke godsdiens nie, terwyl dit die evangelie van
gelykheid verkondig wat, in Suid-Afrika, 'n wonderlike spirituele
waarde is.

Sekulêre spiritualiteit verklaar 'n paar verskynsels om ons. As ons as
Christene dit sou wou teëwerk, is daar maar een manier om dit te doen,
en dit is om ons eie simbole te versterk.

Dis nou amper Paasfees. In dié tyd dink ek kan ons byvoorbeeld dieper
nadink oor die feit dat Jesus ook 'n menslike liggaam gehad het.
Waarmee hy siek en bekommerde mense aangeraak het, honger mense kos
gegee het, by eensame mense gekuier het.

'n Teoloog het eenkeer 'n boek net oor Jesus se aanraking geskryf en
só afgesluit: "We can save the world through touching."

Dáár is nou vir jou 'n spirituele idee.

Prof. Christina Landman is 'n teoloog aan Unisa.

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Vakansie

Di., 28 Maart 2006 07:00

Die Paasnaweek is op hande , gee bietjie 'n paar name van
'n paar lekker plekke nie verder as 3 van PTA as (warm water)

Reis & vakansie | 1 kommentaar

Bladsye (1834): [ «    1673  1674  1675  1676  1677  1678  1679  1680  1681  1682  1683  1684  1685  1686  1687  1688    »]
Tyd nou: Di. Jan. 20 11:38:05 UTC 2026