Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Re: 'n Groot Verrassing - Dankie!

Ma., 02 Junie 1997 00:00

Hello Julie

Ek het nou die dag ook 'n brief nes joune van my suster ontvang. Amper
dieselfde woorde. Sy het verjaar, en het dringend Simba skyfies en Stimorol
gevra, seker ook gedink mens mag nie vleis stuur nie. Toe haal ek 'n leë
kartondoos by Spar, en maak dit vol met 'n paar kilos droëwors en biltong. Die
biltong was van Woolworths (vakuumversieel?), maar die wors was net deur die
slagter in bruin papier toegedraai. Geen probleme met doeane nie. (Dalk ook
net gelukkig). Die grootste probleem was toe ek die pakkie poskantoor toe
schlepp, en hulle vra my sommer R600 posgeld! (Sy beter die smaak van daardie
biltong lank onthou!). Toe kom ek op hierdie gedig af:

AAN 'N STUKKIE BILTONG
(in Amsterdam) - deur J R L van Bruggen

Terwyl ek jou so stil-stil sit en kerf,
weet ek dat nooit so 'n knaende eensaamheid
'n mens se hart uit lid kan skeur, as hier,
waar honderduisend mense om jou woel,
en waar die troostelose winterswind
tot in jou murg kan sny. Hul sê dis hier
'n broeikaswêreld, waar die huise druk
en pak al om jou siel, totdat die toonloos
strateklowe vir jou word soos die
gesanik van 'n eensnaar-instrument.
Tog weet ek weer vanaand, die mensegees
is vryer as 'n voël in die lug,
wat, as die winter val, sy wieke uitslaan
na die son. As mens net vastrap-plek kan kry,
dan word jou siel weer ruim van hemelblou
en veld, en bulte bewend in die son,
en gloeiend golf op golf na verre berge.

Klein stukkie droë vlees, ek het my land
in jou geproe, en uit die winternag
van Amsterdam het jy met voorslagpietsies
my geruk, en my laat leef en asem,
waar die bosveld spog met sonnegoud
op buffelgras se vaalbruin branders
windgeroer ... Ek hoor die bosbok blaf,
en luister hoe die rooibokramme brul,
waar die mapaniebome luist'rend swyg.-
Jy het my weer die bosveldvrede diep
laat voel, wat uit 'n kampvuur in jou hart
kom kruip, die slegte dinge skroei, die goed
in jou aanwakker tot 'n vlam, wat heel
jou siel laat tintel. O, die wêreld gaan
mos oop, wanneeer so 'n bosveldvuurtjie praat,
en stil rus dan die mond, omdat geen taal
die diepste dinge in jou tong kan gee.
Dis God en liefde wat weer roer in jou,
en uit die roersels bot gevoelens teer
en sterk, wat met so 'n eindeloos verlange
soek na iets, dáár êrens bo die sterre.
En as die vuurtjie krimp, verkoolde stompe
reggeskuiwe word, en vonke soos vuurvlieë
spat die donker in, dan boei die klein
bekende ligkring weer, - en buitekant
die sirkel rek die magtig bosveld nag. -
Dan raak die tonge stil-stil los, en woorde
kom so warm vanuit die hart, want alger
voel die peilloos vrede en vreugd' van harte,
wat 'n krummel waarheid het gevind -
Dié kleinood, wat ons siel laat buig vir God,
en wat in liefde uitstraal oor die mens. -

Daarbuite hoes die wind die strate deur.
Die lug hang laag en grys, en ligte druil
deur amberklamme sirkels. Koulik gaan
so nou en dan 'n mens. Sy stap klink hol
en leeg, net soos 'n rammelende siel.
Die vensters van die huise anderkant
is dowwe oë, wat na my kyk, yskoud, -
en agter ieder raam leef lief en leed.-

Sê kyk so baie mense hier my aan!
Ek ken hul nie, en 'k wonder, wonder net,
of ook hul siele met my sou gesels,
wanneer die bosveld-vuur in jou kom roer,
en jou die pad wys na die sterrelug.-

(Kan iemand vir my sê wat beteken "voorslapietsies"?

Groete,
V.

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Comrades

Ma., 02 Junie 1997 00:00

Hello Almal,

Miskien moes ek liewer za.sport toe gegaan het met hierdie pos, maar ek voel
dat julle nou my vriende is , en ek wonder of daar van julle is wat my
gevoelens deel?

Hierdie is altyd 'n spesiale tyd van die jaar vir my, wanneer die Comrades
Marathon plaasvind. Dit was nog altyd meer as net 'n wedloop. Dis vir my
simbolies vir die menslike strewe - Ons het almal 'n doel in die lewe, iets
waarvoor elkeen van ons op sy eie gebied hard werk om 'n doel te bereik, en ons
is hopelik ook bereid om 'n hand uit te strek na die ander een wat ook maar
sukkel om daar te kom.

Dit was nog altyd die gees van Comrades. Comradeship/Kameraadskap. Kompeteerend
op 'n hoë vlak van die menlike siel, met ander waardes wat net soveel beteken
het as die wen van die wedloop.

Ons is almal wenners, as ons onse eie grense oorwin, selfs met die geringste
hoeveelheid. In 'n mate, was ook almal wat aan Comrades deelgeneem het wenners,
as hulle hul bes gedoen het, gewerk het daarvoor, en veral as hul voor daardie
laaste skoot dit oor die lyn kon maak.

Wat ek die afgelope twee jaar aanskou het, is besig om Comrades te bederf. Ek
week internasionale kompetisie is gesond, is goed vir ons land, ens., maar in
hierdie geval weet ek darem nie. Die mense bv. wat nou weer op pad is van
Rusland om hier te kom hardloop, wil wen teen alle kostes. Goed, miskien is
hulle beter as ons ouens, dan aanvaar ek dit. Miskien is hulle professioneel,
waar ons ouens dit net deeltyds kan doen. En dit lyk vir my, of al waarvoor
hulle omgee is teen alle kostes te wen. Dit het verlede jaar vir my gelyk of
hulle bereid is om ander uit te buit, oor te loop, en skaamteloos te gebruik,
enigiets, om net eerste klaar te maak. Hulle aanskou dit blykbaar net as 'n
pure wedren, sonder dat hulle die gees van Comrades verstaan, of in die minste
daarvoor omgee. (Díe Comrades is nie ware Comrades nie!) Ek dink ons is besig
om iets te verloor wat baie mooi, en baie spesiaal was.

Ons wenners van die verlede het dit meestal op 'n goedgunstelike manier gedoen.
Hulle het dit reggekry om kompeterend saam te werk - elke ou op sy eie op die
lang pad, en tog het hy nie sy medemens in die grond getrap nie. Dit is alles
besig om te verander.

Miskien stem julle nie saam nie, en ek sal dit so aanvaar. Dis maar net my
persoonlike gevoel, en ek hoop ek is verkeerd.

Mens moet maar vorentoe kyk, maar weereens verlang ek terug na die dae van
Brucey, Nic Bester, Sean Mieklejohn, en al daardie manne wat met 'n grote gees
en menslikheid oorwin het. Ek probeer nou net om die naam te onthou van die
ander Afrikaanse outjie wat altyd onder die voorstes was ...? Hy't verlede
jaar ook 'n lang ruk in tweede plek gehardloop as ek reg onthou... Karel ...?

Beste Wense,
Vira.

Sport & ontspanning | 0 kommentare

Groete van Duitsland

Ma., 02 Junie 1997 00:00

Ek is 'n student wat in Duitsland woon, en ek het sommige jare gelede
begin met Afrikaans leer. Verskoon wanneer ek iets vals skryf, maar dis
die eerste maal dat ek 'n e-pos aan die nuusgroep stuur en ek het nogal
geen Afrikaanse woordeboek nie.

Dis moeilik om die taal hier in Duitsland te oefen (die meeste het ek
geleer deur lees van afrikaanstalige koerante op die Internet), en toe ek
verlede jaar in Suid-Afrika was het die meeste Afrikaners ook net in
Engels met my gesels.

Deur leer van Afrikaans het ek ook baie oor my eie moedertaal geleer,
omdat ek baie daarvan hou om die twee taale te vergelyk en om uit te vind
hoe sommige woorde ontstaan het. Indien daar iemand is wat graag oor die
verskeidenheid van Duits en Afrikaans wil gesels (of miskien is daar
iemand wat my 'n bietjie kan help met my Afrikaans), stuur asseblief 'n
e-pos.

Alles van die beste,

Thorsten

(muel...@mail.uni-mainz.de,
muel...@t-online.de)

P.S.: Ihr koennt mir natuerlich auch in Deutsch schreiben; messages in
English are welcome, too.

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Die Bokke

So., 01 Junie 1997 00:00

Ek sal graag wil hoor wat is die kommentaar oor die Bok span. Ek dink
dit is nie sleg nie!! Ons het 'n bul van 'n voorry!!!!

Sport & ontspanning | 2 kommentare

Hollands : (was: Engels (twee van ons)}

So., 01 Junie 1997 00:00

On 5/31/97 12:12PM, in message , "Arthur
Hagen" wrote:

>
> wordt het als vervelend ervaren wanneer ik
> op deze nieuwsgroep post in het nederlands?
>
>
Nee Arthur, inteendeel - ek vind dit baie interessant, en hou daarvan om
sommige woorde wat ek nie goed ken nie uit te "puzzle". In die geheel verstaan
ek die Nederlands wat jy skryf baie goed. My twee beste vriendinne op skool was
Hollands gewees, en ek het so saam met die taal groot geword. Hou asb aan
skryf!

Ek moet sê, ek't ook gewonder oor "al vaker". Dankie vir die verduideliking.

Groete,
V.

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Boerewors en nog meer

So., 01 Junie 1997 00:00

Ek het so rukkie terug geskryf oor hoe moeilik dit was om "Gem Squash" hier
in Engeland te kry. Ek het gekry, maar teen £1 per pond - omtrent R15 per
kilo op vandag se wisselkoers! Wat kos die goed in SA nou?

Nog 'n ding wat ek nou al lank soek is Boerewors. Ek het so 'n klein
winkeltjie in Oxford gekry wat beweer hulle verkoop dit, maar dit maak my
net meer lus vir die ware Jakob. Het enige iemand 'n resep vir egte
Boerewors?

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

"Wie is ek?" deur MATTHEWS PHOSA

So., 01 Junie 1997 00:00

WIE IS EK?
Matthews Phosa

Wie is ek in my geboorteland?
Ek is die kneg van die immigrant;
hy wat my verniel en verwoes,
op my spoeg met wette
wat my soos kanker laat verval.

Wie is ek in my geboorteland?
My oupagrootjie was 'n kaffer,
my oupa 'n naturel,
ek is vandag 'n bantoe,
my seun wat de hel?

Wie is ek in my geboorteland?
Ek is die mees onderdrukte,
die mees gekulde,
die mees ontroue -
die mees gevreesde "vyand."

Ek sou aanneem dat 'n mens eers met 'n
tweede bundel sal kan sien of hy werklik
'n digter van formaat is.
gloudina

Prosa & poësie | 0 kommentare

Nuwe Uitgawe - AHS Sasolburg Koerant

So., 01 Junie 1997 00:00

Hallo,

Afrikaans Hoërskool se koerant DIE PADDA, wat ook op die Internet is,
is weer opgedateer en is beskikbaar by:
http://www.cyberserv.co.za/users/~jako/knews.htm

Besoek ook gerus die nuwe AHS KONTAK bladsy waar oud-AHS leerlinge wat
op die Internet is hul name en adresse kan instuur. Laat weet ook asb.
ander oud-leerlinge wat ook op die Internet is, om die bladsy te
besoek.
http://www.cyberserv.co.za/users/~jako/kontak.htm

Groete
Jako

----------------------------------------------------------
JAKO OLIVIER
E-Mail : ja...@cyberserv.co.za
HOMEPAGE: http://www.cyberserv.co.za/users/~jako/jako.htm

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

"Vaalvalk" deur W.E.G. Louw

Vr., 30 Mei 1997 00:00

VAALVALK
W.E.G.Louw

Wit is die wereld
van outydse wee.
en 'n treurige wals
is die vroemoresee;
dou oor die duine, geen windjie wat waai,
net 'n vaalvalk wat sing soos hy draai, soos hy draai....

(gepos deur gloudina bouwer)

Prosa & poësie | 0 kommentare

Afrkaners wat uitwyk

Vr., 30 Mei 1997 00:00

Pas 'n brief gelees van 'n Afrikaner in Auckland
NZ. Daar is al 20 000 Suid-Afrikaners daar en hulle
kom aan teen 75 per dag. Hardloop almal weg?

dew...@fast.co.za

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Bladsye (1838): [ «    1514  1515  1516  1517  1518  1519  1520  1521  1522  1523  1524  1525  1526  1527  1528  1529    »]
Tyd nou: Vr. Apr. 25 08:13:25 UTC 2025