Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Ironiese titel

Do, 30 November 2006 06:29

Ek weet nie of ek al een is nie, maar ek vind die volgende uitnodiging
baie snaaks:

"To all staff and students:

On Friday the 1st of December 2006, from 13:00 to 14:00, Adrian Konik
from the School of Languages will be conducting a seminar on the
significance of Nietzsche's The Birth of Tragedy in negotiating the
meaning of the 'African Renaissance'."

Miskien mis ek maar net die dieper betekenis...

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Pieter-Dirk Uys oor P.W. BOTHA

Do, 02 November 2006 13:07

'Ek gaan hom nie mis, want PW leef in my koor van narre'
Nov 02 2006 07:05:37:160AM - (SA)

Pieter-Dirk Uys


Ek was by die Edinburg-fees met 'n vertoning toe P.W. Botha bedank
het as Suid-Afrika se staatspresident.

Yskoud geskrik. My tentpaal was weg!

F.W. de Klerk was onbekend.

Die feit dat hy so na aan P.W. gelyk het - selfde kaalkop, selle
bril, amper dieselfde voorletters en beslis dieselfde probleem - het
min reaksie uitgelok.

'n Era was beslis verby. P.W. Botha was terug in die wildernis waar
hy hoort.

Sedert daardie dae was my spotbeeld van hom nommer een op my
slagparade.

Die groot krokodil. Vinger en tong.

"Suid-Afrika is . . . Suid-Afrika is . . . Suid-Afrika is . . . !"

Soos Frank Sinatra "I did it my way" moes sing, is ek vasgevang in
die sukses van my na-aapsel.

Sy kinders het saam met my en my suster in ons pa se koor gesing,
destyds toe oom P.W. minister van verdediging was.

Tannie Elize was altyd dierbaar en lief, maar die minister altyd besig
heen en weer, vinnige klapsoen op Mamma se wang en uit. Toe stuur sy
mense my weermag toe.

'n Nare kamp by Potchefstroom om trokke reg te maak.

Eina nee! My naels! Ek skryf toe aan oom P.W.

"Asseblief, kan ek vloot toe gaan?"

Hy't my nepotisties voorgetrek en ek was heerlik in die vloot vir
nege maande sonder om 'n voet op 'n boot te sit. En my naels behou!

1980.

Op die swart-wit-TV in Melville, Johannesburg. Eerste minister P.W.
Botha waai daardie vinger en bulder: "Adapt or die!"

My oomblik van inspirasie.

Vir al daardie jare van sy imperialistiese aftakeling van Suid-Afrika,
was hy altyd die hoogtepunt van my komedie.

Mense het begin lag vir hulle vrees. En dit maak daardie vrees minder
vreeslik.

Hulle't tot vir hom gelag op die SAUK-nuusflitse.

"Maar dis nie ek nie," het ek probeer oorreed.

"Dit was net so snaaks soos jou P.W.," was die antwoord.

As humor gehelp het om hom uit Tuynhuys te help, dan is ek bly.

Ek gaan hom nie mis nie, want P.W. Botha lewe nog steeds in my koor van
politieke hansworse. Daar is 'n ou man dood in die Wildernis laataand
op 31 Oktober.

My hart gaan uit na sy familie. Vanaand sit ek weer die hoed op, en die
bril, en die vinger begin waggel en almal sal lag, want hulle weet,
lewend of dood, is dit nie meer ter sake nie.

Die feit dat hy rustig in sy bed kon sterf en nie in 'n tronk of in
ballingskap nie ten spyte van alles, sê baie vir ons jong demokrasie.

P.W. is gister.

Ons is vandag.

Môre se Rubicon lê vir almal nog voor.

Koeitjies & kalfies | 6 kommentare

" Welkom in my kasteel" deur H.J. PIETERSE

Do, 28 September 2006 12:37

H.J. Pieterse
Welkom in my kasteel

Welkom in my kasteel. Jy lyk verbaas;
die mure brei uit, trek hulself weer in.
Jy raak aan klip, tas aan die begin
en einde van tyd wat déúr my vensters blaas.
Wat bly oor? Jy kyk terug.
Slegs die eggo van die eggo van 'n sug.

Trek die gordyne van jou oë oop
en sien my landgoed se grense in die lug.
Water ruis onder en deur my valbrug
na seë wat alle vastelande sloop.
Wat bly oor? Ek kyk terug.
Slegs die eggo van die eggo van 'n sug.

Jy voel vreemd; kom nader, kyk rond.
Uit jou drome ken jy reeds dié prent,
en waarop my kasteel se fondament
ook al gebou is, dit bly steeds grond.
Wat bly oor? Ons kyk terug.
Slegs die eggo van die eggo van 'n sug.

Prosa & poësie | 0 kommentare

Goed boek

Wo, 20 September 2006 20:47

Wie kent een goed boek over het afrikaans ? Met een uitgebreide uitleg
(grammatica/woorden) en een vergelijking met het nederlands.

Groeten,
Fons.

Language Help/ Taalhulp/ Sprachhilfe | 1 kommentaar

Soek Afrikaanse musiek

Sa, 16 September 2006 21:06

Waar kan ek Afrikaanse musiek aflaai? Ek wil nie pirate nie. Ek sal
betaal daarvoor. Soek veral na "Stoutgat treffers". Of as iemand vir my
kan aanstuur.

Musiek & liriek | 1 kommentaar

Vlok jou ook ....

Ma, 11 September 2006 15:37

Vlok het nou met die voete-wassery begin. Frank Chikane het dit aanvaar
- maar nou word daar vrae gevra. En tereg ook.
M.i. is Vlok se gebaar 'n baie persoonlike "ding".
Baie swartes glo dat die verskoning nie so simplisties gesien moet word
nie.
Blankes begin wonder om 'n verskoning nodig is - gesien teen die
vergrype van die huidige ANC./SAKP/COSATU-bewind.
Miskien is swart/wit-verhoudinge op 'n mespunt - waarheen nou?
Mandela se stem het vervaag. Waar staan Zuma in hierdie situasie?

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Slawerny in Suid-Afrika

Ma, 11 September 2006 15:32

Elna Boesak is tans besig met die finalisering van 'n reeks oor
slawerny in Suid-Afrika oor RSG.
Haar slawerny is bloot die van blankes wat as oor die
donker-gepigmenteredes mense.
Haar navorsing blyk ietwat gebrekkig te wees. Die swart "stamme" het
ook slawerny tooegepas - oor die boesmans (die sg. san). As u sou let
op die agterstewe van SA swart vrouens sal u sien wat ek bedoel - die
groot boude dui op vermenging tussen swart- en san-mense - die
klik-klak van die Xhosas (soortgelyk as die san/boesmans) dui ook op
hierdie vermenging ....
Volgens my (beskeie) mening was die swartes groter slawehandelaars as
die blankes.
Wat is u / die afleiding rakende swart slawehandelaars? Was dit meer
regverdig as die van die blankes?
Eienaardig dat Boesak dit probeer verswyg...

Koeitjies & kalfies | 4 kommentare

" Hoe di Hollanders di Kaap ingeneem het" deur S.J. du TOIT

Di, 08 Augustus 2006 11:28

S.J. du Toit

Hoe di Hollanders di Kaap ingeneem het

Fertel deur ou Danster, 'n Grikwa


Myn liwe basiis, glo fer my,
So waar as waar di waarhyd is;
Ons Grikwas het toen nog gebly
Dáár waar di grote water is,
Ja, ons wat Grikwas is.


Een dag sit ons by di Plat Kop, -
Jul Duusfolk roep hom nou di Kaap,
'n Ding kom uit di water op,
Daar waar di son al aand gaan slaap,
'n Wit ding, nes 'n skaap.


Hy kom op uit diselfde gat,
Waar saans di son steek weg syn kop,
Eers was hy klyn en laag en plat;
Ons kyk en kyk; hy rys syn kop
En rys al hoger op.


Di ding kom nader, hy word groot;
Ons Grikwas kom toen by makaar;
Ons raak al sutjiis in di nood;
Di ding di lyk mos reg-reg naar;
Ja, basiis, dis so waar.


Ons hou toen raad, en ons hou raad;
Party flug bang bang na di krans;
En hy wat Kiwiit was word kwaad,
En sê: "Jul's gek! Dit is 'n gans!
'n Grote watergans!"


Ons sê toen: "Ja," want hy is mos,
Kaptyn mos, hy wat Kiwiit is;
Hy roer syn kop nes 'n foor-os,
Toen hy ons sê wat dat dit is,
Ja, hy wat Kiwiit is.


En ons wat Grikwas was, ons kyk,
Ons kyk, di ding word banja groot;
En altyd leliker hy lyk;
Ons word nou reg-reg in di nood;
Ons denk ons moet nou dood.


Toen fou di ding syn flerke op,
En hy gé klyntjiis af een kant;
En ons hou toen fer hom mar dop,
Hy gé meer klyntjiis, ander kant,
Hul sak af o'er di rant.
Ons kyk, ons kyk, wat Grikwas was,
Ons siin di klyntjiis, en ons beef;
Ons weet nou nog ni wat dit was;
Dit lyk fer ons di ding di leef,
Wat somar klyntjiis geef.


Di klyntjiis kom, hul kom nou an,
En ons wat Grikwas was, ons kyk,
En in di klyntjiis sit Duusman,
Wat naar en aardig fer ons lyk,
Toen ons hul reg bekyk.


Di Duusfolk kom, hul waai di doek,
Hul waai, en wys di koperdraad;
Hul wys di koper, waai di doek;
Maak tekens, plek fan praat;
Hul wys di koperdraad.


En ons wat Grikwas was breng fet,
Tamaai fet skaap en bok en bees:
Hul gé ons klyn stuk koper net,
Ons gé tamaai fet skaap en bees;
Ons was nog dom gewees.


En hul wat Duusfolk is, hul sê, -
Dis waar wat Danster jul fertel, -
Hul wys toen hul wil grond ook hê,
So klyn mar nes 'n beestefel, -
Dis waar wat ek fertel.


Hoor nou hoe skelm di Duusfolk is,
Hul sny di fel in riimpiis rond.
En net so lank as di riim is
Sê hulle toen: dis hulle grond!
Hul meet al in di rond.


En ons wat Grikwas was loop weg,
En ons hou raad, en ons hou raad;
Ons maak toen plan ons wil nou feg:
Want ons was nes 'n slang so kwaad,
En ons hou lang tyd raad.


Mar foor ons met bakly begin,
Daar laat di Duusfolk fat en loop;
Hul kruip weer in di klyntjiis in;
Di groot ding maak syn flerke oop
Daar laat di Duusfolk loop.


En ons wat Grikwas was ons sê:
"Duusmanners! jul het ons gepirr!"
En ons hou raad en ons o'erlê
"Kom jul ooit in ons land weer hiir,
Dan frek jul almal hiir!"


En ons wat Grikwas was maak plan,
Ons maak toen reg ons boog en pyl,
Ons smeer di slang syn gif daaran,
Ons slyp toen skerp di fuurklip byl,
Wi Grikwa is, het pyl.


En hy wat Duusman is bly weg!
Di nuwe maan kom twaalfmaal weer;
En ons wat Grikwas is wil feg;
Mar Duusman hy kom nou ni weer;
Hy weet glo, hy kry seer.


En ons wat Grikwas was, ons wag,
Ons kyk, en kyk, di ding moet kom;
En wrintig, ja, ons kyk een dag,
Ons siin hom uit di gat uit kom;
Dis hy! ons ken fer hom.


Ons sê: "Duusman! jy frek fan dag!
Jou harslag, lewer, long moet waai!
Hiir in di sand sal ons jou slag,
En op di fuur jou fet uitbraai!
Jou harslag moet nou waai!"


Di ding fou weer syn flerke op,
Hy gé weer klyntjiis af, een kant:
En ons hou toen fer hom weer dop,
Hy gé weer klyntjiis, ander kant,
Hul sak af o'er di rant.


Di klyntjiis kom, hul kom nou in.
Di Duusfolk waai, hul waai di flag;
Ons siin groot koper lê daar in;
Ons Grikwas was toen bly, ons lag,
En dog ons sal nou wag.


En ons wat Grikwas was maak plan,
Ons wil eers di groot koper kry;
En dan frek jy net gou Duusman!
Dan sal ons jou an riimpiis sny;
Di Duiwel sal jou ry!


Di Duusfolk maak toen tekens weer:
Hul waai di doek, hul swaai di hand;
Hul wys ons moet hul help di keer
Groot koper uitsleep op di land,
Daar op di droge sand.


En hy wat wit mens is breng tou;
Hy span ons in en skré toen: "Trek!
En dan sal ons mooi handel nou!"
En ons trap fas dat ons wou frek;
Dis bo ons fuurmaakplek.


Di Duusfolk skré, hul maak lawaai;
Ons trek; hul steek fuur agter an; -
Di Koper hoes; - di derrems waai;
En in di lug di laaste man!
Wat leef di hardloop wat hy kan.


En hy wat Danster was en ek,
Ons merk toen eers ons is gepiir;
Ons hol tot hiirso by di plek;
En fan di tyd af boer ons hiir,
Hiir by di Grootrifiir.

Prosa & poësie | 0 kommentare

Kolonialisme

Vr, 04 Augustus 2006 12:01

Beeld-forum: Die kolonialiste van Suid-Afrika
Aug 03 2006 07:33:32:293PM - (SA)

Ferdi Greyling

In die begin van die vorige dekade, net nadat F.W. De Klerk se regering
die ANC ontban het en die organisasie die land weer amptelik binnegekom
het, het baie wit Suid-Afrikaners met skok uitgevind hoe sleg die ANC
- as verteenwoordigers van swart Suid-Afrikaners - deur die NP
behandel was.

Dit het veral seergemaak om te hoor dat die ANC vroeg in die jare
vyftig met die eerste minister, dr. D.F. Malan, gaan praat het om hom
te oortuig om hulle ordentlik te behandel.

Daar is vertel hy het hulle te woord gestaan - vir baie kort - maar
hulle nie eens stoele aangebied om op te sit nie.

Later het H.F. Verwoerd glo nie eens die moeite gedoen om te reageer op
versoeke van die ANC vir gesprekke nie.

Dit was baie verkeerd van die NP. Praat is beter as bomme en swart
Suid-Afrikaners was 'n feit van die fisieke werklikheid. Net diegene
wat aan ernstige grade van verwarring gely het, het daardie feit omseil
of, nog erger, eenvoudig geïgnoreer.

Die feit het natuurlik nie weggegaan nie en in 1994 het Suid-Afrika
demokraties geraak met die kinders van diegene wat nie eens met die ANC
wou praat nie, in besit van 'n morele rekening wat nou nog nie klaar
betaal is nie.

Dis soos die wêreld aanmekaargesit is - vir goed of vir kwaad -
dat morele rekeninge die een of ander tyd betaal moet word.

Dit is baie kere nasionalistiese arrogansie wat tot sulke rekeninge
lei.

Nasionalistiese arrogansie kan die geheue van mense ook beïnvloed. As
mense in die greep van nasionalisme is, leer hulle baie kere nie. Hulle
kan om die een of ander rede dinge nie in 'n konteks sien wat wyer as
hul nasionalisme strek nie.

So kon die Afrikaners, wat groot onregte aangedoen is deur veral die
Engelse, toe húlle in die greep van nasionalisme was, nie sien dat
hulle dieselfde soort ding aan hul swart landgenote doen nie.

In hierdie konteks was dit interessant om in die afgelope naweek 'n
berig uit Oudtshoorn te lees dat die Khoi-leierskorps woedend is omdat
die huidige regering glo nie die moeite wil doen om hulle eens te woord
te staan nie.

Die groep sê pres. Thabo Mbeki het 'n gesprek met hulle geweier.

Hulle soek erkenning as die land se eerste inwoners.

'n Mens kan seker aanvaar dat hulle ook op pad is na 'n eie
variasie van nasionalisme, maar as dit waar is dat Mbeki hulle nie wil
sien nie, is daar iewers 'n ironie wat baie snaaks sou gewees het as
dit nie so treurig was nie.

Die Khoi en die San ís natuurlik die land se eerste inwoners. Hier
moet 'n mens seker sê "eerste" in die moderne tyd aangesien
antropoloë vandag sê die mens het waarskynlik iewers in Suider-Afrika
as 'n nuwe diersoort ontwikkel en van daar oor die wêreld
uitgesprei.

Politiek word egter vandag op grond van "eerste" gevoer. Groepe eis
'n soort eerste seggenskap oor 'n gebied op as hulle reken hulle
was in die moderne tyd eerste daar. Dié konstruksie is seker ook 'n
funksie van hoe ver die mens se kollektiewe geheue strek, hoe ver terug
ons vinnig met die kop kan gryp as ons skielik wonder waar ons moderne
samelewing vandaan kom.

Só het die Afrikaner in sy nasionalistiese fase in die vorige eeu 'n
stuk of 200 jaar terug gegryp. Genoeg om hom duidelik voor die Engelse
hier te plaas.

Die Engelse het die Afrikaner gekolonialiseer, sien.

Swart Suid-Afrikaanse nasionaliste gryp vandag meer as 350 jaar terug.
Genoeg om die fondamente van húl nasionalisme 'n eeu of wat voor Jan
van Riebeeck hier aangekom het, te plaas.

Die Afrikaner (met sy wortels by Jan van Riebeeck) het die swart
Suid-Afrikaners gekolonialiseer, sien.

Nou sê die nasate van die Khoi en die San ons refleksiewe teruggryp
die geskiedenis moet eerder 'n duisend jaar of so teruggaan. Want dan
het die swartmense (die magshebbers wat vandag gunste uitdeel op grond
van hul visie van kolonialisasie) natuurlik die Khoi en die San
gekolonialiseer (en daarna die wittes ook), sien.

Volgens die Readers Digest se hoogaangeskrewe Illustrated History of
South Africa, het die voorvaders van vandag se swart Suid-Afrikaners
waarskynlik tussen die 300 en 700 n.C. die gebied inbeweeg wat vandag
Suid-Afrika is. En die San en die Khoi was toe reeds hier.

Nuus | 49 kommentare

Wit misdaad

Wo, 26 Julie 2006 14:11

1 van W'Kloof-4 wou paspoort glo onwettig kry

Jul 25 2006 08:35:43:653PM - (SA)

Neldi Faure

Die moontlikheid word ondersoek dat 'n onwettige paspoort vir een van
die Waterkloof-vier gereël word, maar weens die sensitiewe aard van
die ondersoek is nie bekendgemaak vir wie nie.

Dít het gister aan die lig gekom toe kapt. Lynn Evans,
ondersoekbeampte, in die Pretoriase streekhof getuig het tydens 'n
aansoek deur Christoff Becker, wat vroeër skuldig bevind is aan moord,
dat sy paspoort aan hom teruggegee word.

Becker se aansoek om sy paspoort terug te kry, is gister afgekeur en
sy, Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt se
vonnisoplegging is uitgestel.

Dié vier mans is in Junie verlede jaar in die Pretoriase streek­hof
aan moord skuldig bevind nadat hulle 'n man in Desember 2001 in 'n
park in Moreletapark, Pretoria, doodgeslaan het. Du Preez is voorts
skuldig bevind aan aanranding en die res van die groep aan aanranding
met die doel om ernstig te beseer nadat hulle vroeër dieselfde aand
'n ander onbekende man in Constantiapark aangerand het.

Adv. Jaap Cilliers, vir die verdediging, het gevra dat Becker se
paspoort teruggegee word, omdat hy 'n dramakursus in die VSA wil
bywoon. Becker studeer aan die New York Film Academy en moet in
September glo 'n prak­tiese kursus daar bywoon.

Cilliers het gesê dat Becker al twee keer gedurende die saak oorsee
was en telkens teruggekeer het. Becker het in die getuiebank gesê hy
verstaan dat hy skuldig bevind is aan 'n ernstige misdryf en dat hy
moontlik gevangenisstraf sal moet uitdien, maar dat hy onderneem om
terug te keer vir sy volgende hofverskyning.

Evans het getuig Becker se woord kan nie "goedsmoeds" aanvaar word
nie. Sy het verwys na adv. Dirk Prinsloo wat ook in die hof onderneem
het om terug te keer na 'n besoek aan Rusland, maar dit toe nie
gedoen het nie.

Evans het voorts getuig daar is 'n indruk onder die publiek dat die
Waterkloof-vier "met handskoene" hanteer word weens hul gegoede
agtergrond.

Landdros Peet Johnson het gesê 'n ernstige misdryf is ter sprake met
swaar gevangenisstraf wat oor die beskuldigde (Becker) se kop hang.

"Becker het geen werk of bates in die land nie, ek aanvaar dat dat hy
familiebande het, maar niks wat hom sal noop om terug te keer nie."

Johnson het daarna die aansoek geweier, omdat dit volgens hom nie in
die belang van geregtigheid is nie.

Hy het die vier se borgtogvoorwaardes gewysig en hulle hoef nou net op
die eerste Woensdag van elke maand by die polisie te rapporteer.

Na die hofverrigtinge het die vier jong mans buite die hofsaal
ontspanne saam met vriende en familielede gesels. Die vier sal weer op
20 November in die Pretoriase streekhof verskyn.

Koeitjies & kalfies | 25 kommentare

Bladsye (1839): [ «    1670  1671  1672  1673  1674  1675  1676  1677  1678  1679  1680  1681  1682  1683  1684  1685    »]
Tyd nou: So Okt 06 09:20:33 MGT 2024