Die Louis Luyt saak se uitspraak [boodskap #26217] |
Mon, 13 September 1999 00:00 |
ferdinand
Boodskappe: 1462 Geregistreer: September 1997
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Hier is n paar opsommings (uit Beeld) van die grondwetlike hof se
uitspraak oor die Louis Luyt-saak:
____________________________________________________________ _
Oudpres. Nelson Mandela was ``regverdig ge¨rriteerd en kwaad'' oor die
omstandighede waarin hy na die Sarvu-verhoor ontbied is en ook oor die
manier waarop hy in kruisverhoor geneem is.
Só het die konstitusionele hof gister bevind in sy uitspraak in die
Sarvu-geding.
Dié bevinding bots regstreeks met die bevinding van regter William de
Villiers in die hoë hof in Pretoria dat Mandela 'n ongeloofwaardige
getuie was.
Volgens gister se uitspraak ``is dit korrek dat Mandela soms rusie
gesoek het en dat hy neerhalende opmerkings oor die kruisondervraer
(adv. Mike Maritz namens dr. Louis Luyt) gemaak het''.
``Die president se houding was egter nie van so 'n aard dat dit die
bevinding (van De Villiers) regverdig dat die president oneerlik was
nie.
``Die president was klaarblyklik diep seergemaak dat sy getuienis oor
wat hy alles aan die minister (Steve Tshwete) gesê het in twyfel
getrek is. Dit is duidelik dat hy . . .verneder gevoel het oor die
kruisverhoor en dat hy die aanval op sy geloofwaardigheid as
persoonlike aanval beskou het.
`` 'n Afleiding van oneerlikheid kan nie gemaak word van die president
se verklarings waarna die regter (De Villiers) as teenstrydig verwys
nie. Na ons mening is dié weersprekings hoogstens van mindere belang
en het dit geen relevansie tot die belangrike regsvrae in die geding
nie.
``Die president se getuienis in kruisverhoor dui vir seker daarop dat
hy soms ongeduldig, seergemaak, kwaad en selfs beledigend was.
``Geeneen van die reaksies, individueel of saam beoordeel, regverdig
egter die afleiding dat die president se getuienis oor 'n belangrike
saak die vraag of hy self die aanstelling van die kommissie na rugby
oorweeg het onwaar was of dat nie daarop staatgemaak kan word nie.''
``Al wat nog (oor dié onderwerp) bygevoeg moet word, is dat die
kritiek op die president se getuienis geen regverdiging bied vir die
verwerping daarvan nie,'' het die hof bevind.
_______________________________________________________
 Philip de Bruin Â
In 'n uitspraak wat deur grondwetkenners bestempel is as die mees
toonaangewende uitspraak oor grondwetlike kwessies in die land se
bestaan, het die konstitusionele hof gister kaalvuis ingeklim en
bevind dat die erg omstrede kommissie van ondersoek wat oudpres.
Nelson Mandela in 1997 na rugby ingestel het in alle opsigte
grondwetlik was.
Tien regters van die hof het daarmee finaal die gordyn laat sak oor 'n
vete tussen dr. Louis Luyt, gewese president van die Suid-Afrikaanse
Rugbyvoetbalunie (Sarvu), aan die een kant, en Mandela en die gewese
minister van sport en ontspanning, mnr. Steve Tshwete, aan die ander.
Die geding gaan Luyt na raming R1 miljoen kos nadat die hof gelas het
dat hy van die koste dra.
Regter Arthur Chaskalson, president van die hof, het die uitspraak,
wat 199 bladsye beslaan, presies om tienuur gelewer. Dit was 'n
eenparige uitspraak.
Nóg Luyt nóg Mandela of Tshwete het die verrigtinge bygewoon.
Die geding het as 'n appèlsaak in die konstitusionele hof beland nadat
regter William de Villiers verlede jaar bevind het dat Mandela se
kommissie ongrondwetlik was. Ander kwessies, soos Mandela se
geloofwaardigeid en die feit dat hy gedwing is om in Pretoria te gaan
getuig, is ook deur die konstitusionele hof onder die vergrootglas
bekyk.
In gister se uitspraak is geen doekies omgedraai nie.
Veral De Villiers en Luyt en sy regsverteenwoordigers (onder leiding
van adv. Mike Maritz, SC) loop kwaai deur. Die konstitusionele hof het
op enkele uitsonderings na al De Villiers se bevindings tersyde gestel
as ``gebrekkig''. In 'n stadium verwys die regters só na De Villiers
se uitspraak: ``Daar is wesentlike wanopvattings wat die hele
uitspraak bederf.''
Die hof het ook De Villiers se bevel dat Mandela persoonlik moet kom
getuig as ``verkeerd'' bevind, hoewel ``selfs nie die president bo die
Grondwet verhewe is nie''.
Wat betref De Villiers se bevinding dat Mandela nie 'n eerlike getuie
was nie, het die konstitusionele hof gesê dié bevinding word verwerp .
Dit blyk ook uit die uitspraak dat Luyt op die randjie was van 'n
bevel teen hom om alle regskoste op 'n kliënt/prokureur-grondslag te
betaal ('n sogenaamde strafkostebe-vel). Die hof sê onder meer: ``Die
taktiek wat dr. Luyt gebruik het . . . was dié van 'n respondent wat,
welwetende dat die appèluitspraak teen hom kan wees, die grondwerk
doen om die (appèl-)hof te diskrediteer met die oogmerk om 'n
bevinding wat teen hom uitgebring kan word by voorbaat te
diskrediteer.''
Die konstitusionele hof het dié opmerking gemaak veral met verwysing
na Luyt se aansoek kort voordat mondelinge betoog aangehoor is dat vyf
regters van die hof hulle behoort te onttrek. In dié aansoek is
``skandalige'' bewerings gedoen.
Oor die nodigheid van 'n kommissie van ondersoek na rugby het die
konstitusionele hof bevind dat rugby van groot nasionale belang is,
maar dat mense anders as wittes in die apartheidsera uit die sport
gedwing is en dat bitter min geriewe vir hulle beskikbaar gestel is.
``Daar is by ons geen twyfel nie dat die Sarvu-sake wat die kommissie
moes ondersoek van openbare belang is. Die rassistiese manier waarop
sport in die verlede bestuur en gefinansier is, is 'n erflating wat
vandag nog 'n regstreekse invloed op die bedryf van sport het.''
____________________________________________________________ ___-
|
|
|