Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " ses narratiewe uit die Richtersveld " deur ANTJIE KROG
" ses narratiewe uit die Richtersveld " deur ANTJIE KROG [boodskap #88209] Vr, 12 Desember 2003 22:17
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4795
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Antjie Krog

ses narratiewe uit die Richtersveld

1. die Groot Gariep
toe was die pole nie ys nie -
die see 'n stadig sirkulerende werweling van loue
water rondom Gondwana
- tot met die skeuring

die kontinent wikkel haarself saggies los
van ander
en sien hoe't wegdryf as horisonne

dis die geboorte van die Groot Rivier
die Oer-Oranje
'ons noem hom nie Gariep nie,' sê oom Jakobus de Wet
'ons noem hom die Oranje
maar ientlik vir ons is hy: Die Rivier'

los van ander skiet suider-Afrika die lug in
bibberend van losse vryheid
mere en seë dreineer die opgetilte landskap langs
afgeplat weggevreet
die oerrivier stroomroof deur trôe
gletsergleuwe lemme van kwartsiet
die rivier tel spoed op skuim verby Gloriegat se knakpunt
en roei uiteindelik met sliksagte fluweelafsettings
op die oewers af see toe

'die eentlike reddende ding is die mis,'
beweer Dawid Links
'dis hy wat ons as Namas: Huries noem
hy stoot uit die koue trogte van die Benguela
aan wal gewaai deur wind, en begint veldoor sleep hientoe
die koppe onderskep dit
so jy weet: bossies, klippe - ammil drink dou
maar te veel Huries maakie veld blou
daarom verkies ons landsweer - so vir die vlotter natmaakslag'

Dwyka-ys is 'n naam in my taal
en graniet van die Vioolsdrifsuite!

die slang
(sjuut! moet sy naam nie noem nie
hy figure fyn uit wie't jy is)
en as hy jou eers gehou en gehad het
kom jy nimmernooit los
moet jy terug
dieselle tyd, dieselle plek; elke jaar dring jy water toe terug
bak staan of bo leef
trug sal jy trug
soos die ander vrou
bak sy brood
sit sy kerk
as sy hom hoor fluit
staan sy op 'n loop
slaap-loop sy rivier toe

'n verskriklike krag is dit as die slang jou vat
soos dwing soos droom
daarna onthou jy niks
net die diamant op die voorkop
en dat hy snags uitkom om te wei
party sê hy krul in die Wondergat
waarvan niemand nog die bodem gekry het nie
(dis nou behalwe die man van Kubus
wat afgegaan en nog dieper afgegaan het
toe't opkom was sy hare spierewit
en sy stem weg
tot sy dood weet niemand wat hy't sien nie)

2. narratief van ou nomadiese trekpatrone
in die winter trek Paulshoek se mense na Moedverloor, Boggel,
Goeiemanskuil, Slootjies, Damme, Een Wilger en Kuile. Rooifontein
se mense maak staning by Matjiesgoedkloof, Kammassies, Dikkops-
kraal en Draai. Vanaf Klein Nourivier lê die trekpad deur Besitwater,
Khiribes, Bobbejaanshoek, Hosabes en Rooihoog. Afhangende van
die reën trek Spoegrivier om die beurt na Skêrberg, Koringhoog en
Patrysvlei. Klipfontein trek na Nuwekloof, Vaaldraai, Gowwerment-
sputs. Tweerivier na Golfkraal en Haasrivier. Oom Jakobus trek van
Ochta na Pokkiespram en later na Oena. Links lê Ploegberg en
Grootderm; regs Windwaai en Kabies.

This pattern was completely overturned by the establishment of eco-
nomic [identifiable] units.
Lala Steyn & Henry Krohne: Land Use in Namaqualand

3. narratief buite die park
Susara Domroch van Kubus
'nee Oupa Mandela vir hom stem ek
hoekom is om Nama te wees vandag om iets te wees?
omdat ons nou ons eie woord is
onder die ou regerings was ons hulle woord
oor jarre is ons uitgedryf na die bar plekke
Kleurling Reserves
ons was niks
maar vandag is ons iets
en dis hy, daai Ouman Mandela, dis hy
nee Mandela-goed het my stem gekry'
Kubus se kerk staan wit teen die kwartsiet lug
en stoot stem teen die rante uit
'o God blaas en bloei u liefde oor ons,'
sê oom Adam
hand op die hart sing die gemeente
'ja Jessus is 'n rots
in 'n dorr-stigge land
'n dorr-stigge land
'n dorr-stigge land'
'U is soos wasem vir my
Hiesus Hie-ie-ie-sus'
Kubus hêng aan die rante van Rosyntjieberg
dit vra baie God om hier te hou
Mev Farmer van Eksteenfontein
'ek's mos vreeslik vás aan vee
'n huis is vir my niks
maar die ope veld
ek het grootgeraak so in die ope veld
in 'n ronde huisietjie
toe ons hier kom, reën dit
en die gousblom staat so hoog
as ek hurk sit ek onder 'n blommevloer
daarvandaan het ek die plek aangeneem
dat ek hom nounog liefhet
vir die aard
vir die veld
die park-se-man het ons eendag kom oplaai
om ons die park te wys vroeër waar ons bees geloop het
hy wys ons die halfmens
maar dies ek mos gewoond
my oë bly net steek-steek
vir daai pol wat ons altyd geëet het in die veld
hy't sulke vingers gehad
en ek en Kowa was so lus vir hom
Kowa het nogals 'n mes gevat om skoon te maak die dorings en so
ons loop en loop terwyl die anders die halfmens kyk
hier kry ek hom, die pol, en breek hom af
toe sê die man jy mag nie goed afbreek nie
en ek sê die man
nou wat moet ek dan maak, ons eet hom hoeka
toe sê hy dit moet bly vir ons kinders
toe sê ek maar ons kinders eet nie polle nie
toe sê hy ek en Kowa kan elk enetjie kry
Kowa kon darem nog so 'n ou ekstra enetjie ingedraai kry
maar nou's ek tevrede - dit groei nog hier by'

4. narratief van die diamantsorteerder
'as my oë kyk, kyk my oë klip
die potjie gruis keer ons om
en skraap klipwaaiertjies oop met die skrapertjie
en jy kyk en jy sien hom
en jou hele lyf sê: diamant
ek is Jan Links van Kommagas
ek is 42 jaar oud
ek werk van my sestiende jaar op die myne
myngeld is bloedgeld
hier het ek hom die eerste maal kom sien
'n spoeldiamant - so besonderlik blink blínk hy
sy vorm of iemand hom al beetgehad het
al is hy bruin of groen of pienk
jy voel die blink jou lyf blindmaak
aan die kleintjies twyfel jy
die grotes wéét jy
nooit mag jy 'n diamant met die hand vat nie
jy lig hom met die swiezer uit die ander
sit hom eenkant vir tel en toesluit .
smokkel? by anders, maar hier in die Richtersveld, nié'
'natúúrlik smokkel mens ja,'
sê Kiewiet Cloete van Kubus
'mens kan lekk-ker smokkel
as die sienewies net hou
want steel, steel jy op die sorteertafel
jy hoes, jy val so effens oor die gruis
die gom aan die rand van jou palm tel die diamant op
en jy en ammil kyk so uit die wit van hulle oogkegels
die sekuriteit, die maime saam met jou, almal weet iets het gebeur
maar jy moet wragtig vinnig wees'

5. narratief van klip
'n landskap soos dié maak my bang
reeds tussen Brandkaros en Bloeddrif steek dit jou onder klip
'dé ek is klip,' sê dit
'net klip
in sy lelikste klipste klip
ja vatso, ek is fokkenklipdiklelik
ék smyt die eerste klip en donnerswil trash wat jy dag berg is of klip
of klip of God is
om teen my uit te hou nodig jy
God 'n Jesus en 'n fokken klomp gees
óf drank
jy nodig verskriklik drank
so skiet ek mense oor die kranse weg
of skroei hulle godswart maer in die klipwoestyn'
ek tree terug op die parkeraad se stoep
klip is onsmeebaar lees ek
onoplosbaar
onbepaald
klip het 'n enkele identiteit
gee my taal vir klip pleit ek
na 'n dag roepend in die Richtersveld bergwoestyn
ek soek taal
soos: die skitterende wit gebit van klip
soos: klipwaterval kanteldam
hoe lê die klipkraag van verdriet
skrobbeer vandag die hanekam
'dit bliksemswil rym!
ek's ding, hoor jy!
kyk my in die oghe, face my
ek is ding
ek verweer brutaal
tot klipskilfers teen kaal helse skuinstes
vieslike deurmekaar klipbleddievlokke
geen klipwoorde gaan jy ooit uit my tap nie
nooit my tot taal kap en kaap nie
ek van hier
jil verby jou slagyster van skeurklip of deurmekaarklip
kots van 'n reël met smoltklip lekklip of striemklip
ek hoon die klipliewenheid van streelklip
die drolsagte bruikbaarheid van slypklip breiklip wasklip en hangklip
ek kak kliphard op jou skielik ontluikende kliphart
ek's my eie ding
ek verweer brutaal
ek's klipbefok
in my klipveld is ek
stoned'
dis lelik hier, dink ek by myself -
in die laaste bog wat die Oranje maak voor hy see in bloei
'jy staan nou op die mooiste plek in die Richtersveld'
sy stem trek my skoene van my voete
verby die fasade van klipretoriek
wys hy my pluime van magma
en olifantvelverwering op dolomiet
ek spoor doloriet op wat soos donker tandepasta die aardkors inpeul
ligter graniet wat afskil in reëlmatige kliplae
anderkant die verskuiwing lê dolomiet
uit die bymekaarkom van yspens en moddermatriks
'daar is basies drie soorte klip,' sê hy
'dit wat gestol het soos ysterklip en graniet
dit wat deur afsettings kom lê het
soos sandklip, skalie en moddersteen
dit wat 'n metamorfose ondergaan het soos marmer en kwartsiet'
daardie aand
skep die bot koppe vir die eerste keer lig
anderkant die tabeeboom
6. narratief van die parkboer
oom Jakobus de Wet praat poetry
'rondom Jerusalem is berge
hier alleen by die bokke in die veld
is ook berge
maar rondom ons is God
ek voel Hom heel aand aankom so van Akkediskloof se kant
die begin van my was by Tattasberg
bok opgepas jakkals vreet van die boud af maag toe
bobbejaan vang nie, hy vat
hy skeur oop hier by die heupe
waar hy derms trek en vreet
eers wil die myne die grond het
toe vra ek: hoe kan twee mans een vrou bestuur?
toe sê hulle: oom Jakobus julle bestuur bogronds
ons bestuur ondergronds
toe was daar die park-se-man
'n week lank het hy gesoebat om die jawoord te kry
ou trane huil hy, óú trane
maar ons sê dis onse land
hoekom moet 'n ander man ons land bestuur?
sê ek weer: hoe kan twee mans een vrou hê?
wie bestuur die vrou?
toe sê hulle: viennote - ons sal 'n vienootskap wees
toe sê ons as ons nie eers weet van park nie
hoe weet ons nou van viennot?
toe sê hulle die erwe van ons vaders moet vir ons kinders bly
nou dit verstaan ons
ek het die volheid van die park
my kleinkind Benjamin doen die weiwerk
sy mond het my dit vanoggend gesê
self gesê hy wil 'n veeboer wees
en ek is tevrede
God het vir elkeen 'n talent ingesit
saans by die staning hoef ons nie te praat nie
ons weet waar gewei is waar gewei moet word
dis 'n goeie lewe om aan 'n kind te gee
elke kind het sy eer
laat ek dit maar sê
dis baie smaaklik om saam met 'n kleinkind te wees
hy laat jou lag
hy laat jou goed praat wat nie heeltemal toepas nie
dis goed om by 'n kind te wees
want dag en nag is jy alleen hier by die staning met Christus
julle praat
jy kan agteroor lê
en met helder oë met Hom praat
jy kan maar net kyk
want gees gewaar gees
my bokke is deetlik gelittekenmerk: swawelstert en halfmaantjie voor
winkelhaak en swawelstert by die ander oor
die staat het my 'n stoetram gegee
'n vleishouerram 'n regte prysbok
onder my bokke maak ek nooit apartheid nie
my bokke is een
dan is die seën van die Here daar
maar as ek verdeeldheid maak
is daar 'n einde'
middagoor sak die hitte tussen die koppe vas
klippe word die bloute in geblaak
by die paaltjiestaning tussen ebbehout en krie
dop oom Jakobus die dikderm om
en sprei niervet dun oor 'n tak
'die koeltetjie is maar vlak,' brom hy langs die afgeslagte orrobok
oor die radio op 'n blik
lees Cobus Bester die middagnuus
ek loop agter Benjamin Cloete aan as hy die bokke veld toe vat
ligvoets fynvoets stryk hy die duine oor
haii-haii klap sy sweep
die bokke sak die oewers in
jong rivierriet kriedoring rosyntjieboom
hulle's stil gevreet
Benjamin syg sag 'n rivierwilgkoelte in
en nou? vra ek
'mevrou kan nou 'n sluimertjie vang'
weerloos lê die rivier
oop aar in die hitte
die landskap ondenkbaar sonder die bruingroen sny
onverwoesbaar ouer as die oudste mensasem op klip
hy voed die bokke van maak en die bokke van dood
hier's van niks te veel
hier's van niks te bittermin
die berg aan die oorkant lyk soos iets wat lek
teen middaguur blus dit in blou
beur weg in aangetaste brons
sianied sis die vygies
en as die son uitkyk is ek daar is ek daar in lavender blue
ek kyk op my horlosie
dis twintig minute voor drie
en dit beteken absoluut niks nie
ons dommel tussen koelte en vreet en hitte
die son kantel eindelik
die rante galm van blêr soos die groot bokke staning toe kom
die vasgebinde lammertjies spook aan hulle riempies
niks so saf soos boklam
(onthou my taal)
niks so soet snoetíg
fynbekkig weerloosogig soos boklam
teen die aand se kant
party kry tiet party kry vreemde tiet
dis grootblêr tot platblêr tot kleinverloorblêr
tot mofblêr tot sanikblêr tot bederfblêr
tot vererg se baasblêr
die fluweel van 'n boklam se oor
glip deur my hand
'hoe lê ek die lyne af na jou toe lief
as die laat lig so kliplangs knel
hoe herinner ek my 'n bewende lyf in jou hand
soos jy my rugstring afknabbel
hoe bring ek jou hier lief
tot langs die groot rivier
dat ons die later jaar se brak en bitter
weer tot liefde sedimenteer?'
die bokke kom huis toe
kort wolwit watervalle stort uit die bome
teen die laatmiddagstof
lammertjies en staning en bokbaarde
straaltjies pis en kantige kutteltjies
soos diamante het ook die drolle vorm hier
twee tepeltjies, deurgeknielde knieë
waar hulle gewei het laat hulle poep vannag
die horinkies soos verhoringde vlerkies
wat sou kon wees die ene engel
buitendeur loop Joseph en preek
doer op die kop staan hy en arms waai
sy stem kom in tekste na ons aangewaai
Joseph preek vir die klippe die klowe
vir die rivier gaan sing hy
vir die bokke die nag bid hy
'die kind steek my so 'n die skanne,' sê oom Jakobus
' 'n kleur kom nooit alleen nie,' sê sy
toe die rante teen skemer losraak en wegval in blou kantvalle
die plooiings omsit in vuur
en amber
die rivier verstil tot weerkaatsing
dit raak voeltyd en voëltyd
deur die geweld van kleur en riet
vlieg 'n reier stil die vallei af
bontrokkies kuifkoppies sysies
bondel in tossels op die grasbank langs my tent
die berg bêre sy klip in die water
jong oker en goud en rooi wat opdryf uit die nagkoelte
daar's 'n trilling van klip en rivierwilgers en riet
'n duif in die krans val verskrik in klank
die lug raak skulp
agter die nagdonker berge is die son raakgesny
en begin die wit lug deurbloei
ek slaap op die wal van Die Rivier
die hele nag vloei dit stil en breed by my verby soos bloed
uit 'n wond - bokant lê die gruis van sterre
maak die nag haarself oop -
dadelik is kleur die oerkluts kwyt
Vorige onderwerp: " Kersliedjie " deur D.J. OPPERMAN
Volgende onderwerp: " Die boodskap aan Maria " deur NP van Wyk LOUW
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Nov 28 20:30:57 MGT 2024