Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Die ystervarkie" deur C. Louis Leipoldt
"Die ystervarkie" deur C. Louis Leipoldt [boodskap #126677] Ma, 17 Junie 2019 20:17 na volgende boodskap
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
Die ystervarkie
deur C. Louis Leipoldt

Uit 'n gat in 'n miershoop, ver op die veld,
Het ek eenmaal 'n klein ystervarkie gekrap met geweld,
By die ou wit populier-bos, vlak by die sloot,
Met 'n kawelgaar-toutjie geknoop om sy haar-agterpoot,
Het ek hom toe gebinde, en vir hom gesê:
‘Kyk, varkie, jy voel dit is beter om hierso te lê
As om daar in 'n miershoop ver op die veld
Te skuil in 'n gat waar 'n jakkals jou vang met geweld.
Hier word jou van alles gegewe,
Hier's water, toktokkies, en kos:
Hier kan jy nou salig bly lewe,
En slaap onder blare en mos.
Hier word jy so lekker en vet, jy
Dink nooit aan jou jammer voorheen;
Geniet nou jou lewe, al het jy
'n Kawelgaar-boei om jou been!’

Maar vroeg in die môre - verbeel jou reg!
Die kawelgaar-toutjie was deurgevreet en varkie was weg.
En 'n maand of twee later het ek uitgegaan;
Die veld was so mooi en die wêreld van gras gekleurd groenspaan.
In 'n gat in 'n miershoop, verskuil teen reën,
Met die res van die kawelgaar-toutjie nog vas om sy been
Was my vrindjie, die klein ystervarkie, vry, salig, alleen!
Re: "Die ystervarkie" deur C. Louis Leipoldt [boodskap #126679 is 'n antwoord op boodskap #126677] Di, 18 Junie 2019 05:46 Na vorige boodskap
Jan die Man  is tans af-lyn  Jan die Man
Boodskappe: 514
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 22
Senior Lid
As ek 'n interpretasie kan waag:

Die ystervark personifieer geharde Boerevroue en -kinders wat met geweld van hulle plase na konsentrasiekampe geneem is. Daar is vir hulle vertel dat dit vir hulle eie beswil is, maar hulle is met geweld in toue (kawelgaar = kabelgaring, 'n soort tou) weggelei. Die wat kon het ontsnap en ná die oorlog is almal terug na hulle eens verwoeste tuistes. Die metaforiese toue kon hulle egter moeilik afskud ("vry, salig", maar met die "kawelgaar-toutjie nog vas om sy been").

Dit kan natuurlik ook van toepassing gemaak word op ander gebeure, soos die Israeliete wat in ballingskap na Egipte weggelei is.
Vorige onderwerp: Die Koperkapel
Volgende onderwerp: Kinders grootmaak
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 08:45:29 MGT 2024