Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » zoeloe-liefdesbriefie
zoeloe-liefdesbriefie [boodskap #139817] Do, 28 Julie 2022 12:00
Louis Basson  is tans af-lyn  Louis Basson
Boodskappe: 200
Geregistreer: Junie 2022
Karma: 4
Senior Lid
'n zuluman stuur my 'n briefie
maar dit kom per hand by my aan
dit is 'n zulu-liefdesbriefie
wat net die zulu kan verstaan

dis nie geskryf met pen en papier
maar wel met vele kraletjies
die boodskap is baie duid'lik hier
van liefde en mooi dingetjies

hy't elke kraaltjie met sorg geplaas
om so die boodskap oor te dra
sy liefde betuig hy sonder haas
so wil hy ook my liefde vra

daar is kraletjies van elke kleur
in die metafoor van sy taal
elke wens, elke vrees, elke geur
word in die briefie aangehaal

'n wit kraletjie dui op reinheid
skoon en eg en ongeskonde
'n rooie bring opgewondenheid
warm liefde elke stonde

'n bloue dui op diep verlange
hy kan nie wag om my te sien
maar groen bring 'n traan oor sy wange
hy kwyn weg 'dat hy my nie sien

pienk sê weer hy is baie ontsteld
want ek bestee my geld verkeerd
geel is 'n kleur wat dui op geweld
sy jaloesie raak onbeheerd

swart plaas my altyd op my hoede
omdat dit nooit iets goeds inhou
jaloesie, probleme en woede
daarom is dit die kleur van rou

ek lees die zuluman se briefie
en druk dit styf vas teen my hart
die kleure van sy liefdesbriefie
beteken liefde en geen smart
Vorige onderwerp: ware demokrasie, ware vryheid
Volgende onderwerp: meiringspoort
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Apr 18 12:16:27 MGT 2024