Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Woestaards van Namibië

Ma., 10 Mei 1999 00:00

Oom Hans,

ek het die naweek weer 'n verhaal of wat gehoor van 'n rowwe spul van
Outjo-omgewing. Dit gaan oor die broers wat op 'n jagtog, teen die aand se
kant, na 'n hele paar drankies sg. 'Leeu-leeu' speel. Die een broer kruip
agter 'n miershoop weg en krap-krap met sy hand (soos 'n leeu sou maak) langs
die kant van die miershoop, waar die ander die hand net-net kan sien. Dan
skiet die ander na sy hand om te kyk of hulle kan raakskiet!

Een van hulle het ook glo patrone in die vuur gegooi, een van die patrone
het hom in die lies getref, maar hy het vir niemand gesê nie. Na 'n paar
dae moes hy toe dokter toe omdat dit begin sweer het!

Hierdie is aan my as die waarheid vertel, die verhale is skynbaar wel
bekend.

Groete

Shannon

Koeitjies & kalfies | 6 kommentare

Ek wil huis toe

Ma., 10 Mei 1999 00:00

7 jaar nou al rits ek rond. Gelukkig het ek my kop gebruik en myself deur
universiteit gesit terwyl ek hier oor die waters woon.

Nou wil die hart terugkeer daar na die land van sonskyn en boerewors en
biltong en Rooibos en droeewors en Castle Lager en groot oop ruimte en . .
.en . . .en . . .die kop se: "Nee, mannetjie, jy gaan daar vasval en nooit
weer uitkom nie, die Rand is te swak, salarisse te laag, rentekoerse te
hoog, inflasie te hoog, geweld te veel en . . . .en . . "

n' Vrou (kan nie 'n woord Afrikaans praat nie, hou nie van biltong nie,
drink nie Castle nie en het nog nooit 'n 9mm vasgehou nie) maar geen
kinders.

Die regering belet my om vir my eie land te stem want volgens hulle woon ek
te lank al oorsee (en ek dra nie eens 'n tweede paspoort nie)

Is dit 'n wyse besluit om terug te keer na die Vaderland?

Wat van my kinders, hulle gaan groot word sonder Afrikaans en sonder
biltong. Hulle gaan die slegte gewoontes leer van die jeug hier waar RESPEK
sommer iets heeltemal anders beteken.

Koeitjies & kalfies | 11 kommentare

"Voorspel" deur MARLISE JOUBERT

Sa., 08 Mei 1999 00:00

Voorspel
Marlise Joubert

Terwyl die jaar dof begin
en dagbreek grys oor dakke sleep

terwyl die see haar silwer heupe skud
geboortes gee en sterf

terwyl my vriende uit 'n vormlose nag
sirkels lag en hoeke huil
soos bekke van diere die pyn oopruk
en die lieflike flanke
van somer afskeur

terwyl die snawels van voëls
los reis en wit

is my dag pasgebore
en gewier in sand
my bruin begin warm en nakend
my mond wat bloei donker see-anemoon

terwyl die mossels ewig slaap
met swart boggels teen die son
gekeer

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bekostigbare web ontwerp

Sa., 08 Mei 1999 00:00

Adverteer jou besigheid op die internet.

http://users.iafrica.com/v/va/vangend

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Boodskap aan Bees

Sa., 08 Mei 1999 00:00

Bees, wanneer ek op meeste van jou poste kliek,
kry ek die boodskap: Your newsserver doesn't
carry that group. The attempt to load news:
OgdW#HRm failed. Dit gebeur met geen ander pos
nie. Wat gaan aan? Kan iemand vir my sê wat
Bees in sy laaste pos sê - iets oor Squirrel.

By voorbaat dankie.
Gloudina

Koeitjies & kalfies | 4 kommentare

Re: Boodskap aan Bees

Sa., 08 Mei 1999 00:00

ha...@mbnet.mb.ca (SH) writes:

> Liewe Gloudina,
>
> Dit is net 'n ingeboude meganisme om jou en Bees uit mekaar te hou. ;-)
>
> Maar, laat ek vet op die vuur gooi, en vir jou die gevraagde boodskap aanhaal:
>
>> Hey Doudie

>> Neewat, jy oorskat hom. Hy is nie brigtht genoeg om regtig lank te kan jok
>> nie. In elk geval, sy boodskap se kuber-DNA se dit kom uit doer-onder.
>>
>> Bees

Nouja, Stefan, wat dink jy oor Bees
se opinie van jou? Jy bly mos nie
te ver van hom nie. Hoekom gaan jy
hom nie opd#*d#8r nie. Of sit hom
onder narkose.

> Die ding wat my nog steeds ietwat verwonder, is dat jou boodskappe soms
> met abnormale afkappingstekens (soos in: 'n) hier by my aankom het, maar
> nou is dit beter. Wat het gebeur?
>
>
Ek het niks gedoen nie. Kom 'n
'n nog steeds abnormaal by jou
aan? Het iemand anders probleme
met my geskrifte, behalwe nou
op ideologiese en intellektuele
vlak?

Gloudina

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Oop voordeur

Vr., 07 Mei 1999 00:00

Ons - dis nou Vrou en ek en die twee dogters wat nog in die huis is - sit
vanaand in die gesinskamer en reminiseer oor die "goeie ou dae". Dis 'n
heerlike en 'n gesellige aand. Hulle - die dogters - wil hulle dood lag oor
Ma en Pa wat in die sestigerjare studente was, en oor al ons wedervarings.
Skielik stap die bure se kat by ons voete verby. Ek kyk op die horlosie.
Sommer net. Nie hieroor of daaroor nie. Dis byna nege-uur in die aand.
Lekker donker al. Vrou is heel verbaas: waar kom die kat dan vandaan? (Ons
is almal allergies vir katte.) Toe onthou sy skielik: o ja, die voordeur
staan oop omdat die pan effe aangebrand het op die stoof. Maar dis al 'n
paar ure gelede! En die voordeur staan nog steeds oop. En al wat ingestap
het van die straat af is die kat. Ons voordeur maak so te sê direk op die
straat oop.

Daar is nie 'n muur of 'n hek tussen ons en die straat nie.

Ons woon nou in Pennsylvania.

Ons woon nie meer in Pretoria nie.

In Pretoria was daar 'n muur van meer as ses voet en 'n ysterhek met 'n slot
aan tussen ons en die straat. En 'n diefalarm met bewegingsensors en 'n
direkte radioverbinding na 'n gewapende reaksie-eenheid. Want daar is twee
keer by ons huis ingebreek. Daar is by drie ander geleenthede by ons motors
ingebreek. Ons wasgoed is 'n paar keer van die draad af gesteel. Een aand,
terwyl Vrou staan en stryk het in die kombuis, het iemand die agterdeur
probeer oopmaak. Een nag het iemand by my kamervenster probeer inklim. Een
dag omtrent eenuur die middag het iemand vir Vrou van haar motor probeer
beroof in ons inrit.

Toe omsingel ons naderhand ons huis met staal en elektronika.

Skielik onthou ek dat ons oudste (getroude) dogter nog in Pretoria woon. En
my hart ruk. Vir 'n oomblik is ek uitasem van die skrik.

Toe ek elf jaar oud was, het my suster en ek alleen in Johannesburg met die
bus van Linden af stad toe gery en gaan fliek. Ben Hur, The Ten
Commandments, Spartacus. Niemand het omgegee nie.

In Pretoria wou my vrou nie dat ek alleen na die kafee op die hoek stap om
te gaan sjokolade koop na donker nie. Een van ons gemeentelede is in sy
inrit van sy motor beroof een Sondagoggend na die erediens. Sy klein
kindertjies was nog in die motor.

Dis drie jaar gelede, toe ons nog in Pretoria gewoon het. In 'n "goeie" en
"veilige" woonbuurt.

Nou woon ons in Pennsylvania.

Maar ek wil in Pretoria wees. Ek wil nie in Pennsylvania wees nie.

Koeitjies & kalfies | 6 kommentare

"Oggend op die Vlakte" deur PETRA MULLER

Vr., 07 Mei 1999 00:00

OGGEND OP DIE VLAKTE
"van brood alleen niet leven"]
Petra Müller (Obool, 1977)

Maia Medora het winkel toe gegaan
by petrolkonkas en portjacksonbome,
vir spek en brood en boontjies.

Sy sien van ver die lang man staan
wat kyk na surings op die grond;
sy wikkel met haar toontjies.

Hy sal haar uit die blomrok stroop
haar meisielyf breek maklik oop
die duifnek is 'n handspan breed -
die lysie het sy reeds vergeet.

Haar ma roep laat die aand nog rond
en soek na spoortjies op die grond.
sy vind die spek en boontjies.

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Hoop almal gaan stem...

Do., 06 Mei 1999 00:00

Ek het onlangs met 'n paar mense gepraat wat gesê het dat hulle nie gaan
stem nie. Hulle argument is "Wat sal dit in elkgeval help ?". HOE DOM KAN
MENS WEES ? Ja, ek weet baie mense voel dit help nie... Ja, ek weet jou
party gaan in elgeval min tot nul sê hê in die regering... Ja, ek weet jy
voel jy mors jou tyd...

Ek gaan niks teen enige party sê nie... ek dink tog dat 'n land waar een
party meer as 2/3 stemme het, nie 'n demokrasie is nie. So, al het ek die
ANC in die verlede ondersteun (en ek het nie) dan sal ek nie nou nie. Dit
het niks uit te waai met hulle sienings nie, maar met die feit dat ek nie
hou van 'n monopolie nie. (Ekonomies en polities).

As jy nie stem nie, is dit so goed soos 'n stem vir die monopolie. Maak nie
saak vir wie jy stem nie, dit is 'n stem teen die monopolie. Of hulle nou
jou belange verteenwoordig of nie. Elke mens het tog sy eie sienings en mens
sal nooit 'n party kry met wie jy regtig saamstem nie...

As jy nie geregistreer is nie, hoop ek jy voel skuldig... en onthou as dinge
nie gaan soos jy daarvan hou nie - jy het jou kans gehad om jou sê te sê. As
jy het, baie dankie.

--
Stephen
Pretoria, South Africa
sv...@mweb.co.za

Koeitjies & kalfies | 40 kommentare

Bladsye (1835): [ «    1220  1221  1222  1223  1224  1225  1226  1227  1228  1229  1230  1231  1232  1233  1234  1235    »]
Tyd nou: So. Des. 21 13:59:45 UTC 2025