Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Wie in glashuise woon.....

Sa, 03 Junie 2006 14:14

Leeftyd se wroeg - en tog maak dit min verskil
Jun 02 2006 07:16:40:230PM - (SA)

D ie onderhoud moenie oor hom gaan nie, sê mnr. Dave Murray (45),
susterskind van die vermoorde NP-ekonoom dr. Robert Smit.

"Die prentjie is baie groter as dít waarop mense fokus. Ek wil nie
die mens in die middel van die verhaal wees nie. Ek wil nie afbreuk
doen aan hul dood nie.

"Maar dit is vir my sleg om te sien sommige dinge is nog presies
dieselfde as in die ou Suid-Afrika: dit gaan oor olie en wapenaankope
en indien dié sektore in die nuwe Suid-Afrika nie 'skoongemaak'
word nie, sal ons nooit vry wees nie."

Murray raak baie vinnig ernstig, dié lang, skraal, aangename man wie
se lewe heeltemal deur die vreemde moord op sy briljante oom en
saggeaarde tannie oorgeneem is.

Die soeke na die waarheid het hom twee huwelike, gebroke verhoudings
met sy kinders en 'n drankprobleem gekos. Hoewel hy nie veel
antwoorde op die tergende vrae het nie, is hy vandag beslis 'n wyser
man.

Die lewe van sy neef mnr. Robert Smit jr., seun van die vermoorde
Smit-egpaar, is uiteraard ingrypend geraak deur die trauma van destyds.
Hy was 15 jaar oud toe sy ouers vermoor is.

Dit was moeilike jare daarna, sê hy - daardie gevoel van alleenheid,
om groot te word sonder jou ouers, om nie te weet waarom nie. Maar hy
het 'n pad met God gestap en vandag is hy nie meer alleen nie (berig
hieronder).



Murray praat selfversekerd oor 'n onderwerp wat hy kennelik goed
ingestudeer het.

Die name van bekendes in NP-kringe duik kort-kort op: eerste ministers,
frontmaatskappye wat moes seker maak apartheid-Suid-Afrika het genoeg
oliereserwes, ondersoekbeamptes, wynplase in die Kaap en Sowjet-spioene
wat in Simonstad vasgetrek is. Almal blykbaar met een gemene deler: dr.
Robert Smit.

"Dit was 'n moeilike tyd vir my familie," sê hy terwyl hy
vooroor sit en die kooltjie op die punt van sy Camel Filter langer
word. "My ma was gebroke toe sy van haar broer se dood hoor. Daar was
niks wat my pa daaraan kon doen nie. Sy was tien jaar lank te bang om
voor 'n oop venster in die huis te sit."

Murray was 16 jaar oud toe Smit, 'n voormalige Suid-Afrikaanse
verteenwoordiger by die Internasionale Monetêre Fonds in Washington,
en sy vrou, Jean-Cora, op 22 November 1977 in hul huurhuis in Springs
doodgeskiet is.

Murray soek al 29 jaar lank na antwoorde op die vrae wie die sneller
getrek het en waarom hulle dit gedoen het. Maar, sê hy, "dit gaan
lankal nie meer vir my oor wie die moordenaars is nie".

Hy bly lank stil. Sy oë word rooi en sy diep stem sag: "Dit was my
tánnie wat hulle so wreedaardig doodgemaak het. My sagte tannie.

"Weet jy, sy het my uit die koshuis in Pretoria Boys' High kom haal
toe my blindederm lol. Dit was sy wat my na die Little Company of
Mary-hospitaal geneem het en langs my bed was toe ek ná die operasie
wakker word.

"Hulle het haar eerste vermoor. Sy was klein, tengerig. Sy het met
haar hande probeer keer," sê hy terwyl hy wys hoe sy waarskynlik
haar hande voor haar gesig gehou het.

"Haar linkerduim is met die eerste skoot afgeskiet . . .

"Sekere dinge moet seker maar net met rus gelaat word . . . Don't
f*** with it ."



Murray het 'n "kleurryke lewe", soos hy dit bestempel, gelei. Sy
tweede huwelik is op die rotse, sy verhouding met sy drie kinders uit
sy eerste huwelik is spotty en hy is op pad na 'n Alkoholiste
Anoniem-vergadering ("ek's nou sewe maande nugter").

"Die woede, kwaad en die wrok wat ek gedra het, is amper weg,"
vertel hy, aanvanklik huiwerig en toe driftig: "Hoe dieper ek gekrap
het, hoe meer deure in my gesig toegeslaan is, en hoe meer ek besef het
hoe korrup die 'stelsel' is, hoe meer het ek geloof in die land en
in God verloor."

Dit het hom baie gekos.

Verhoudings, stabiliteit, normaliteit en respek. "Ek dink nie ek is
op die oomblik 'n vergestalting van die soort man wat oom Robert was
nie, maar ek werk hard om daar uit te kom."

Die moorde mág nie vergeet word nie, sê hy. Maar sy oom en tante se
dood "sal niks beteken" as dit wat in die ou Suid-Afrika verkeerd
was, nie in die nuwe Suid-Afrika reggemaak word nie. "Ons politieke
stelsel moet deursigtig met 'n sterk sin van maatskaplike
geregtigheid wees. As ons dít nie regkry nie, kan ons maar netsowel
vir oom John Vorster vra om terug te kom."

Hy het nou 'n "selfsugtige" besluit geneem dat die veiligheid van
sy familie en geliefdes belangriker is as om uit te vind waarom sy oom
en tante vermoor is. "Ek het begin bang raak. Dis 'n gevaarlike
speletjie dié. You don't f*** with these people."



Smit was 'n NP-kandidaat vir die komende algemene verkiesing in 1977
en wyd is gegis dat hy eendag minister van finansies sou kon word.

"My oom is in 1976 aangestel as uitvoerende hoof van Santam
Internasionaal. Dié onderneming, wat gesamentlik deur onder meer
Santam, plaaslike handelsbanke en wapentuighandelaars gestig is, was
glo 'n frontmaatskappy wat kredietgeriewe aan plaaslike ondernemings
en die regering moes bied om goedere te bekom wat ons nie ingevolge
sanksies maklik kon kry nie."

Soos wapens en olie, sê Murray.

"Die winsgrens op van die goedere wat dié sogenaamde sanction
busters gemaak het, was enorm. My oom het in 'n stadium agtergekom
'n sekere persentasie word van dié bedrae weggesyfer."

Tot in die sakke van "Afrikaner-maatskappye, Broederbonders se
bankrekenings en NP's se diskresionêre fondse".

Murray is versigtig om te veel te sê en doen moeite om te verduidelik
dat hy nie meer so behep is daarmee om ten alle koste agter die kap van
die byl te kom nie.

"Uit gesprekke met mense wat baie naby aan hom was, is ek oortuig my
oom het bewyse gekry van reuse somme geld wat weggesyfer is."

Murray het die logistiek en meganika van die beweegredes agter sy oom
en tannie se dood al honderde kere in sy kop uitgepluis en duisende
kere hardop daarvan probeer sin maak.

Dit is bekend dat Smit die aand van sy dood 'n afspraak met ene
"McDougall" gehad het.

"Oom Robert (wat aan Grey-kollege in Bloemfontein gematrikuleer het)
was 'n Rhodes-beurshouer en het aan Pembroke-kollege in Oxford
gestudeer. McDougall was onder sy vriende 'n staande grap en was 'n
verwysing na een van hul makkers.

"Ek dink hy was veronderstel om daardie aand iemand te ontmoet met
wie hy al 'n lang pad gestap het."

Konteks is vir Murray belangrik. "Die inligting waaroor oom Robert
beskik het, sou die NP destyds erg seergemaak en verreikende gevolge
gehad het."

Die stryd tussen die verligtes en verkramptes in die NP was besig om
'n hoogtepunt te bereik. Sommige mense kon geredeneer het deur sy oom
"stil te maak", sou 'n swaai na regs verhoed kon word.

"Hy het destyds oor die inligting (waaroor hy beskik het) aan my pa
gesê: 'Dit sal Watergate na kinderspeletjies laat lyk.' En hy was
nie geneig om te oordryf nie."



Die dood van die swartbewussynsaktivis Steve Biko in September 1977 -
net twee maande voor die Smit-moorde - was vir sy oom 'n
openbaring, sê Murray. Sy oë het oopgaan vir die toestande waarin
swart Suid-Afrikaners geleef het en hy was oortuig hy kan 'n verskil
maak om 'n blywende oplossing vir die land se rasseprobleme te vind.

"Hy het ná 'n vergadering met mnr. F.W. de Klerk (destyds LP vir
Vereeniging) en mnre. Barend du Plessis (later minister van finansies)
en Louis la Grange (later minister van wet en orde) besluit om hom vir
die setel in Springs verkiesbaar te stel."

Dis vir Murray duidelik sy oom is as deel van die "verligte" kamp
in die NP beskou en dat hy 'n noue verhouding met De Klerk gehad het.

Hy vertel sy ma het De Klerk die jaar ná haar broer se dood gaan
spreek om oor die stadige vordering met die moordondersoek te kla.

"Hy het (volgens haar) gesê watter groot verlies haar broer se dood
vir die land is en het belowe om uit te vind wat met die ondersoek
gebeur. Dit was die laaste van hom: nie 'n brief of 'n oproep
daarna om te sê wat aangaan nie."

Murray glo die verligtes in die NP-kamp wou die inligting wat sy oom
gehad het, gebruik om die verkramptes uit te werk. Hy dink nie Smit sou
die inligting vir homself gehou het nie en glo verskeie vergaderings is
met belanghebbendes gehou.

"Ek dink die moorde is oorhaastig uitgevoer en swak beplan. Iemand
het paniekerig geraak en wou dadelik van hom ontslae raak."

Murray het nie veel erg aan sommige bespiegelings oor die moorde nie.
So meen hy bespiegelings dat die Smit-egpaar in opdrag van genl.
Langhendrik van den Bergh, destyds hoof van die Buro vir
Staatsveiligheid (BOSS), geskiet is, is bog: "Waarom is hy dan nooit
voor die hof gedaag nie? As Van den Bergh hof toe gesleep is, sou die
hele sak patats mos uitkom."

Ook bespiegelings oor huurmoordenaars wat die land via die
Lanseria-lughawe sou verlaat het en beweerde navrae deur die
Amerikaanse CIA oor internasionale sluipmoordenaars wat glo betrokke
sou gewees het, is twak: "Daar is geen bewyse daarvoor nie."



En as die waarheid eendag uitkom?

"Ek weet nie. My eerste gedagte sal seker wees om te vra hoekom ek
dit nie vroeër self ontrafel het nie. Ek dink die oplossing is voor
die hand liggend - dit staar ons in die gesig."

Sy gedagtes dwaal: na sakemanne met bedenklike reputasies, smokkelaars
wat Suid-Afrika as halfweghuis in die Koue Oorlog gebruik het, die land
se sentrale energiefonds, oud-NP-ministers wat vandag rustig afgetree
is . . .

"As die moorde eendag opgelos word, sal dit seker nie veel verskil
aan die meeste mense maak nie. Dis immers ou nuus. Ek skat die enigste
waarde wat só 'n onthulling kan hê, is dat 'n mens die
geskiedenis reg sal kan interpreteer.

"Ek dink baie van die goeie goed wat destyds deur ware patriotte
gedoen is, word vandag weggesteek. Baie van dié mense het hard gewerk
om Suid-Afrika aan die gang te hou en tyd te koop. Ons sou nie in die
1970's 'n oorgangstydperk midde-in die kommunistiese bedreiging en
die (Amerikaanse) Carter-administrasie oorleef het nie."

Een ding is seker: Robert Smit se dood was 'n verlies vir
Suid-Afrika.

"Deur hom te vermoor, is die gees van iemand wat 'n positiewe krag
in ons geskiedenis kon gewees het, uitgedoof. Hy sou baie waardevol in
die Suid-Afrika van destyds gewees het. Hy was 'n progressiewe
patriot."

Murray sê hy kan mens dae lank besig hou met besonderhede van sy
soektog na die waarheid. Maar of dit nog relevant is, weet hy nie.

"Ek is besig om my lewe vir die soveelste keer aanmekaar te sit. Ek
is nie meer honger nie: die wrewel is weg - maar die emosie is steeds
daar."

Die moorde op sy oom en tante 29 jaar gelede is nog nie opgelos nie,
maar vir Murray is die dossier gesluit.



'Ek het vergewe, soos verwag word'



"Ek is al 29 jaar lank hartseer," sê mnr. Robert Smit, seun van
dr. Robert Smit.

"Dis 'n groot deel van 'n ou se lewe. Ek was 'n seun toe my pa
en ma vermoor is, 15 jaar oud. Mens het jou ouers nodig om vir jou
leiding te gee en jou groot te maak. Ek het dít nie gehad nie.

"Dis nie lekker om jou ouers dood te sien nie . . . ek het saam met
my oom na hul lyke gaan kyk. Dit was sleg.

"Ek was destyds te jonk om presies te weet waarby my pa betrokke was.

"Ja, die moorde het my hartseer gemaak, maar die probleem is steeds
dat ek nie weet wie dit gedoen het nie en ook nie waarom nie. Ek het al
vrede daarmee gemaak dat ek nooit antwoorde sal kry nie. Mens moet
bloot aanvaar hulle is vermoor en dis dit.

"As volwassene leer mens om dinge beter te hanteer, maar aanvanklik
het ek gesukkel om te cope . Dit het my nader aan die Here gebring en
ek het dié wat my ouers doodgemaak het, vergewe, soos daar van my
verwag word.

"As die ware moordenaars eendag gevang word, sal ek waarskynlik niks
vir hulle te sê hê nie.

"Die stories wat in die koerante gepubliseer is en die gerugte oor
hul moorde? Nee, ek het my nie daaraan gesteur nie. Jy moet met
konkrete bewyse na my kom. Gerugte werk nie vir my nie.

"Ek is vandag gelukkig getroud, ek het drie kinders en 'n baie
goeie werk in Rustenburg. Die Here het my gemaak wie ek nou is.

"Ek is nie meer alleen nie.

"Ek is nou 44 - so oud soos my pa toe hy vermoor is . . ."

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Gondwanaland

Di, 30 Mei 2006 15:02

Die kontinente van die aarde het nie altyd gelyk soos dit
vandag lyk nie. Mens weet dat Afrika en Suid-Amerika
oorspronklik een was in die oer-kontinent van Gondwana-
land, en dat dit later van mekaar weggebreek het. Deel
van die oorspronklike Gondwanaland het ook weggebreek
in die ooste en opgedryf in die rigting van Indië. Wat vir
die Kanadees baie interessant is, is dat 'n deel daarvan
ook weggebreek het en noordwaarts beweeg het en nou
deel uitmaak van die Kanadese Maritieme provinsies.
As mens die honderd of so kilometers tussen Fredericton
en Saint John in New Brunswick afry, dan gaan jy êrens
tussenin oor van oorspronklike Noord-Amerikaanse
grond na bodem wat oorspronklik Gondwanaland was.
Halifax kon miljoene jare gelede die voorstad van
Casablanca gewees het.

Gloudina

Koeitjies & kalfies | 9 kommentare

UCT MBA program onder die beste

Di, 30 Mei 2006 14:55

Die " Financial Times" plaas die UCT MBA program
op die 66ste plek in hulle top honderd beste MBA programme
in die wêreld. ( Dit was 82ste verlede jaar.) As mens in ag
neem dat daar duisende MBA progamme vir hierdie keuse
in aanmerking geneem moes word, dan is dit nogal nie sleg
nie.

Gloudina

Koeitjies & kalfies | 2 kommentare

" Die toring van Babel " deur FERDI GREYLING

Do, 25 Mei 2006 21:19

DIE TORING VAN BABEL
1948 - 1994

hulle kyk uit oor die land
hulle lag hardop
en waar hulle lag val
groei plante van vrees
hulle praat en hulle woorde
marsjeer soos soldate
deur die strate
hulle gedagtes dra uniform
die honde van hulle wil
blaf langs wette
wat soos doringdraad deur die dae span
in hulle agterkoppe
klik boeie inmekaar
hulle gaan saans huistoe
en sit agter die lessenaar van slaap
om hulle drome skoon te maak en te olie
hulle bou kasernes
hulle sê daar is julle huis
julle sal in planne woon
julle sal apart wees
met julle sal ons
God 'n toring van Babel bou

Prosa & poësie | 5 kommentare

Rugby en die Valke

Ma, 22 Mei 2006 07:55

Ou Jonas, ek hoop jy lees dié. Die Sharks gaan laai hulle Wildebeeste vir
die eindstryd teen die Valke met 'n paar van sy springbokke en skiet
hulleself in die voet. Eerstens was dit moer onregverdig teenoor die
spelers wat hulle ge-'lig' het ter wille van 'Trippe-trappe-toontjies'
Russel en sy maters uit die S14. Hierdie manne speel die hele seisoen vir
die 'Beeste en word dan op die groot hoogtepunt uitgelaat? Tweedens het
hulle dié Bokke geen guns gedoen nie, want net so 'useless' as wat Russel,
Bobo en sy maters in die groot geselskap is, net so oneffektief is hulle in
die Vodacom. Brent Russel die beste agterspeler in SA soos baie van die
Haaie reken? Hy's bloot 'n goeie kleintjie wat draaie kan hol, maar dit is
dit.
Die Valke het die regte ding gedoen. Die span behou en die span het
gewen. Hierdie ding het vir my 'n mooi demonstrasie gegee van presies wat
fout is in SA rugby. Individualisme.......in 'n spansport.

Sport & ontspanning | 10 kommentare

" 'n Klub so reg uit apartheidstyd" deur Ferdi Greyling

Vr, 19 Mei 2006 14:55

Beeld-forum: 'n Klub so reg uit apartheidstyd
May 19 2006 12:16:10:217AM - (SA)
Ferdi Greyling

Die omstrede Native Club wat glo deur 'n aantal swart intellektuele
gestig is, is deesdae op baie plekke 'n gewilde besprekingspunt. Met
reg, want dit is 'n soort illustrasie van hoe die huidige swart
establishment deur goedkoop nasionalisme van die nie-rassige koers
afgetrek kan word wat hy in 1994 ingeslaan het.

Vir baie sogenaamde wit Suid-Afrikaners wat in die apartheidstyd
grootgeword het, is dit seker ook 'n skielike besoek van 'n ou
rassespook wat hulle gehoop het in 1994 begrawe is.

In dié stadium lyk dit asof die Native Club ietwat van 'n geheime
soort organisasie is (iets klink bekend) en dit lyk ook asof dit 'n
versameling van intellektuele na aan die politieke mag van die dag is
(die bekende klanke raak al hoe harder).

Volgens berigte het die klub se lede onlangs vergader en het hulle
onder meer 'n besprekingsdokument onder oë gehad (glo opgestel deur
een van hulle) oor hoe dosente by die land se universiteite swarter
gemaak kan word.

Een voorstel was volgens berigte in 'n Sondagkoerant dat ras die
belangrikste kriterium vir sulke aanstellings moet word. Nie kennis,
kwalifikasies of vaardighede nie. Daar is ook geskryf die klub laat nie
wit lede toe nie. Daar was glo krapperigheid oor bruin en Indiër-lede
ook, maar wit is beslis uit.

En dan die ontstellende een: die klub is volgens berigte glo deur die
presidensie gefinansier. Met die skryf van die rubriek het pres. Thabo
Mbeki nog nie geantwoord op vrae deur die DA of dit wel die geval is
nie.

'n Mens hoop dit is nie. As dit waar is, sal dit 'n ernstige
terugslag vir nie-rassigheid wees en beslis lyk na 'n ontstellende
stap terug na die tye van rassediskriminasie waaruit die land in 1994
ontsnap het.

As die presidensie dit nie gefinansier het nie, sal die Native Club se
samekoms op rassevoorkeur regtens bloot 'n vrywillige samekoms van
mense wees, buite die openbare terrein, en as sulks sal dit nie teen
die Grondwet indruis nie.

Maar dit is nie al wat daar aan politieke en sosiale ontwikkelinge is
nie. Sulke dinge gaan ook oor rolmodelle en voorbeelde wat op die
samelewing afsmeer. Só 'n klub - as dit inderdaad een van
intellektuele en mense in mag is - sal die toon aangee.

Voeg daarby reeds bestaande organisasies soos die Black Lawyers
Association (BLA) en 'n patroon kom na vore. Die BLA se grondwet is
nie-rassig, maar die naam sê nogal duidelike dinge oor voorkeur.

Wat sal 'n realistiese teenreaksie wees? Dit is sekerlik nie te
vergesog dat die wit gemeenskap in reaksie op sulke goed sy
skuldgevoelens oor apartheid verder gaan afskud nie (die jong geslag
het niks eers om af te skud nie) en met 'n sekere mate van woede gaan
reageer nie.

Dan sal ons dalk iets soos 'n "Voortrekker-klub" kry waar wit
Afrikaanse intellektuele sake van die dag bespreek. Jammer, net wittes
toegelaat. En 'n Klub vir Wit Prokureurs. Die Grondwet is nie-rassig,
maar die naam sê alles.

Dalk ook 'n Settlers Club, 'n San-klub, 'n Indian Club en wat
nog.

Dan raak die gewoontes van die samelewing weer ras-gedrewe. Dít kan
oor tyd daartoe lei dat die samelewing eendag wakker word en agterkom
wat die Grondwet bepaal, is nie soos hy dinge organiseer nie. En dat
'n wetlike omskrywing van ras nodig is.

Dán kan dit 'n kwessie van tyd wees voor die Grondwet verander word
om dié samelewing gedienstig te wees en sal ons dinge teruggerol het
tot die 1960's. Ons sal effektief weer apartheid hê en dit is
moeilik om te probeer dink waartoe dit alles sal kan lei.

Ouers moet voorbeelde vir hul kinders wees. As die ouers steel, is die
kans goed die kinders gaan nie iets verkeerd met misdaad sien nie.

Die intellektuele en magshebbers in 'n land is voorbeelde vir die
samelewing. Hul invloed op gedragspatrone is subtiel, maar kragtig.
Nelson Mandela het dit verstaan.

Daarom was hy so nougeset nie-rassig in sy belangrike ampstermyn as
president.

As die gerugte oor die Native Club waar is, kan 'n mens maar net die
kop skud oor hoe sulke slim mense wat apartheid waarskynlik eerstehands
ervaar het, so kan terugverlang na apartheid.

En kan jy begin bekommerd raak oor die aanslag op die nie-rassige basis
van ons demokrasie. Want 'n aanslag sal dit wees.

Prosa & poësie | 51 kommentare

Hi Mense

Vr, 19 Mei 2006 13:02

Ek was nou net op kaal-gat.co.za en ek moet noem dat daar nogal baie ruimte
is vir verbetering. Afrikaans is lekker en Afrikaanse poesie nog
lekkerder!

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Re: 3768

Vr, 19 Mei 2006 11:52

Torreke skryf:

> NS korreksie. Ek sou graag wou hoor wat Hessie self te sê het oor die
> aantyging dat sy 'n rassis is.

Man, Torreke. Ten eerste ontken iemand wat van
rassisme beskuldig word, mos maar altyd dat hy
'n rassis is. Dus moet jy nie anders van my
verwag nie.
Die mense wat my van rassisme beskuldig,
doen dit uit verskillende motiewe. Die een klomp
hou nie daarvan dat ek bietjie militant en onvergewend
is teenoor die mense wat ek die "apartheidvarke"
noem, en wat ek nog nie in my hart kon kry om te
vergewe van wat hulle my land aangedoen het nie.
'n Ander groep beskuldig my dat ek nog altyd
die ding in SA in swart en wit sien, en dus 'n rassis
is, en dit is seker waar. Miskien is dit die motief
agter Katryn se beskuldiging.( Katryn bly in die
VSA in Georgia, vir jou inligting.)
Van die os op die jas, die oorspronklike pos
in hierdie string is deur iemand in New Zealand
op soc.culture.south-africa.afrikaans gepos. Ek
het sopas ook alt.languages.afrikaans bygevoeg.
Dus behoort dit nou ook daar te verskyn.

Gloudina

Koeitjies & kalfies | 96 kommentare

Die storie van die kruispos

Do, 18 Mei 2006 11:40

Torreke, ek is amper seker jy verstaan "die storie van die
kruispos" beter as ek, maar ek antwoord jou nogtans. Jy
het daardie vraag gevra op 'n string wat na drie nuusgroepe
kruispos. Dus die klompie wat net soc.culture.south-africa
lees, lees dit op hulle Engelse nuusgroep. ( Die boodskap
is oorspronklik begin deur een van hulle groep, maar die
ou het gekruispos na soc.culture.south-africa afrikaans
omdat hy met Afrikaners wou praat.) Ek pos hierdie antwoord
nou op alt.languages.afrikaans, maar kruispos dit ook na
soc.culture.south-africa.afrikaans. Hopelik sal die gesprek
wat volg, net in Afrikaans plaasvind. Maar op die ander
string, wat ook na die Engelse nuusgroep pos, sal jy
heelwaarskynlik antwoorde in Engels kry, want 'n hele
klompie van hulle lyk my ken Afrikaans baie goed.

Gloudina

Koeitjies & kalfies | 2 kommentare

Goeie restaurant?

Do, 18 Mei 2006 02:16

Uit vandag se Globe and Mail travel section:

Die hoof van Hilton Canada, Armin Schroecker, word verskeie
vrae gevra. Een daarvan is "favourite out-of-town
restaurant."
Antwoord: The Butcher Shop & Grill in Johannesburg. "It
serves the best T-bone steak and allows me to drink my
favourite Pinotage red wine, a grape unique to South Africa."

Kos & resepte | 21 kommentare

Bladsye (1839): [ «    1672  1673  1674  1675  1676  1677  1678  1679  1680  1681  1682  1683  1684  1685  1686  1687    »]
Tyd nou: So Okt 06 07:20:06 MGT 2024