Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

"Golgota" deur W.E.G. LOUW

Do, 27 Maart 1997 00:00

Golgota
W.E.G.Louw

Met rooi, gewonde voete en die pyn
van dorings wat Sy hoof in spot omsluit,
het Hy - gelaaf met mirre en bitter wyn -
teen Golgota Sy droewe gang gestuit.

Soldate het Sy klere uitgetrek
en luid getwis oor kleed en lendedoek;
Sy naakte liggaam het hul oopgevlek
oor stam en balk en dit met smaad vervloek.

Die wrede spykers word deur vlees en been
met felle slae ingejaag: Sy hande,
verstrak in laaste, goddelike seën,
het Hy wyd uitgebrei oor alle lande...

Die vroue roep in duisternis en treur...
Die aarde beef... Die tempelvoorhang skeur.

(gepos deur gloudina bouwer)

Prosa & poësie | 0 kommentare

afrikaans

Wo, 26 Maart 1997 00:00

Hallo, My naam is Cory harmon. Ek studeer Afrikaans by Brigham YOung
University in Provo, Utah. Ek het Afrikaans vir twee jaar gestudeer.
Ek moet 'n term paper omtrent die Afrikaans taal skryf. If you would be
willing to answer my questions please respond. Dankie, Cory Harmon

Language Help/ Taalhulp/ Sprachhilfe | 0 kommentare

Kakamas (1)

Wo, 26 Maart 1997 00:00

Liewe Gloudina,

Jy was 'n ruk gelede uitermatig verbaas dat ek, omdat ek reeds 'n paar keer
by Kakamas was, nie geweet het dat die NG kerk die nedersetting jare lank
besruur het nie.

Gisteraand het ek toe uiteindelik 'n boek te lene gekry oor die geskiedenis
van die nedersetting! Ek het plek-plek daarin gelees omdat dit reeds laat
was en ek baie moeg was. Ek sal later die boek deeglik deurlees en julle
van die dinge vertel wat ek interessant gevind het. Maar laat ek nou my
eerste indrukke van die boek gee.

Die naam Gloudina het my 'n paar keer in die boek opgeval. Ek het al met
duisende kinders en studente te doene gekry, maar nie een van die vroulikes
onder hulle het die naam Gloudina gehad nie. Tog lyk dit vir my dat
Gloudina 'n bekende naam in Kakamas se wereld was.

Die eerste hoofstuk van die boek handel oor die vroe"e geskiedenis toe die
witmense en die bruinmense mekaar die eerste keer ontmoet het. Ek het die
boek begin deurblaai om te kyk of daar iewers iets oor die nog vroe"ere
geskiedenis was, maar daar was niks nie.

Dit het my opgeval dat in die eerste hoofstuk reeds gepraat is van die
Griekwa Basters as 'n eie entiteit naas die Korannas (Khoi), Boesmans (San)
en die witmense. Hulle moet dus van ver af kom. Ek hoop om iets oor hulle
vroegste geskiedenis raak te loop.

Dit het my van die eerste bladsy opgeval dat dit 'n swaarkry wereld was.
Dit is nou die gebied wat lê tussen Pofadder in die weste en Griekwastad
in die ooste, Calvinia in die Suide en die Kalahari in die noorde (Die
onderste gedeelte van die gebied kom in die jonste tyd dikwels in kaarte
vand die 'Volkstaat' voor.) Ek ken die gebied as Groter Boesmanland. Ek het
gedink dat Pofadder sy naam gekry het as gevolg van die baie slange daar.
Nou blyk dit dat Pofadder die naam van een of ander kaptein was. Ek sal
daarop ingaan.

Die swaarkry was as gevolg van droogte, droogte en nogmaals droogte en
daarmee die gepaardgaande versengende warmte in die somer en die ysige koue
in die winter. Ken ek dit nie.

Dit het my ook van die eerste bladsy opgeval dat die sendingywer daar
gekoppel was aan opvoeding, maak nie saak wie die yweraar was nie. Dit het
my weer onder die indruk gebring hoe sendingywer en intellektuele opheffing
in die res van die wereld hand aan hand geloop het. Die naam van 'n ene
duitser Schroeder het my dikwels opgeval. Verder het die yweraars se
grootste probleme gekom van kante af waar hulle dit nie verwag het nie -
die opportuniste wat 'n mens oral kry.

'n Ander saak wat my opgeval het, was die omvangryke wetteloosheid wat van
die begin af in hierdie wereld geheers het, amper soos in die NSA. Moord,
roof en ander misbruike was algemeen sonder aansien van kleur. Hierdie saak
het my nogal verbaas. 'n Mens word hedendaags so onder die indruk gebring
dat morele verval die gecolg van kulturele interaksie is dat jy jou
beswaarlik anders kan indink.

Die laaste saak wat my opgeval het, is hoe die Gariep dikwels as 'n bron
van hoop opgetree het, amper soos die Nyl in die vroegste geskiedenis van
Egipte. Wanneer die Gariep opgehou loop het sodat net 'n paar stinkende
pole oorgebly het, het mense se hoop verskraal. Dit het my baie laat dink
aan die episode van Moses, die Israeliete en die slange. Ek het ook aan die
sakarmente gedink. Mense moet iets fisies hê om na te kyk, anders verdwyn
die hoop. Dit laat my nou aan pres Mandella dink. Vervul hy nie ook so 'n
funksie nie?

Beste wense
At de Lange

Koeitjies & kalfies | 2 kommentare

Jan, jou stoute bliksim

Wo, 26 Maart 1997 00:00

Jan jou stoute bliksim,wag jy tot donker
tot die maan skyn en die sterre vonkel
om met mapelaan te sit en konkel

is alle mans soos stoute seuntjies
verbied net iets, en dis wat hul doen
onder die kombers in sokkie of skoen

doer in die verte sien ek 'n stofwolk
daar tussen die koppies by duiwelsdraai
o my god, dis die warrelwind
van die verlede op pad na die toekoms

jy's darem maar 'n seksie boerseun
jou afrikaner, jou houtwerk man

ek soen jou pragtige slim vingers
jou lang songebrande arms
jou biltong sout lippe

ag Jan......

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Re: Jan, jou stoute bliksim

Wo, 26 Maart 1997 00:00

In article , saar...@loxinfo.co.th says...
>
>
> Jan jou stoute bliksim,
>

Ek dink nie hierdie is geskryf deur 'n vrou nie.
Heelwaarskynlik deur 'n manlike rekenaar-nerd.
(Een wat nie "bliksem" kan spel nie.)
Vroue dink nie so nie.

Maar ek dink ook Afrikanermans is van die beste
in die wereld.
Gloudina

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

DIE HOENDERS EN DIE DEEG

Wo, 26 Maart 1997 00:00

TOE my skoonma pas getroud was wou sy probeer broodbak en sy het alles
gedoen soos sy gedink het dat haar ma dit gedoen het.
Die deeg het egter nie warm genoeg gekry nie en wou nie rys nie. Sy wou nie
hê haar bruidegom moes dink sy is dom of 'n slegte vrou nie en was
vreesbevange dat die brood neergeslaan en so swaar soos 'n klip sou wees.
Sy vat toe die skottel met brooddeeg en gaan gooi dit in die hoenderhok en
hoop maar die dom hoenders sal dit oppik voordat haar man van die werk af
kom.
Toe die son warm word begin daardie bondel deeg te rys en die hoenders het
daaraan begin pik en skrop en toe skoonpa die middag gaan eiers uithaal
slof en hobbel al wat 'n hoender is met 'n bol deeg aan elke voet en vere
en hoendermis is daaraan vasgeplak en dit lyk of almal skielik
olifantsiekte onder lede het.
Skoonpa skrik hom skoon in 'n nuwe bloedgroep in vir die vreemde verskynsel
en skree vir skoonma sy moet haar ma bel om gou te kom kyk wat met die
hoenders aangaan. Sy skrik haar weer flou, want sy dink toe die deeg het
hulle siek gemaak en gaan sluit haar in die kamer toe en huil haar oë dik.
Toe sy nie die deur wil oopmaak nie en hy hoor hoe sy huil, spring skoonpa
op sy dikwielfiets en jaag na haar ouers se huis en sê daar is groot fout.
Al die hoenders is siek en nou is sy bruid ook in trane en dalk nog siek
ook.
Sy skoonouers kom toe met gehuurde vervoer en bleek om die kiewe daar aan
en die jong bruid is toe al kliphard besig om die hoenders met 'n emmer
warm water en seep te bad en 'n paar bedremmeldes staan toe al druipnat,
sonder hulle gestewelde spore eenkant.
Na nog baie trane en verleentheid is die waarheid uit en haar pa wou hom
natuurlik doodlag. Haar ma en haar bruidegom het egter meer simpatie betoon
en het maar in die mou gelag en later laat skater.
Ek dink nie daar is die dag baie eiers gelê nie. Hoenders skrik mos baie
maklik hulle lê weg. Skoonma het wel baie vinnig leer broodbak, want sy was
sommer 'n baasbakster toe ek haar seun leer ken het.
Ek dink dis ook maar goed die hoenders het nie veel gelê die dag nie, want
met die warm deeg en die eiers daarin kon hulle dalkies "eggburgers" gelê
het, sommer warm uit die oond of is dit nou warm uit die hoender.

Het jy nie 'n lekker storie/staaltjie soos die een hierbo nie, stuur dit
ASSEBLIEF aan my. E-pos dit na dm...@pixie.co.za

Gaan kuier sommer vir ons tuisblad met soorgelyke goed
http://www.pix.za/nakkie-die-nar

Groete,

Danie

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

"Avondmaal" deur W.E.G. LOUW

Di, 25 Maart 1997 00:00

AVONDMAAL
W.E.G.Louw

Daar was 'n stilte in die oppersaal
toe Hy met sterk, verhewe hand Hom draai
en sê: "Die man wat My vannag verraai,
sit saam met My aan hierdie avondmaal..."

In twyfel het hul daardie woord herhaal
en wis nie dat hul voor die hanekraai
soos blare van 'n boom van Hom sou waai...
Maar een was doodsbleek teen die lampestraal!

Toe het Hy brood geneem en God gedank,
dit met die hand gebreek en dit geseën:
die beker het Hy boordevol gegooi

met wyn wat dartel was en vonkelrooi -
maar, hoog gehou, was in geen hand voorheen
ooit wyn so rooi, ooit aardse brood so blank!

(gepos deur gloudina bouwer)

Prosa & poësie | 0 kommentare

IDIOOM:

Di, 25 Maart 1997 00:00

Xfiles sê:

"Jy hou jouself vir die gek" , slaper
Xfiles

-------------------------oOo--------------------
Ek verskil met jou, indien mense ophou om negatiewe betekenis aan doodgewone woorde te heg, en dit negatief te gebruik, sal die wêreld 'n beter plek wees. Net soos idiome begin deur een mens wat dit meer as een maal gebruik, so ontstaan negatiewiteit ook.

JHV

Afrikaans, ons taal | 2 kommentare

"Dietrich Bonhoeffer:brief aan homself" deur I. L. DE VILLIERS

Ma, 24 Maart 1997 00:00

Dietrich Bonhoeffer:brief aan homself
I.L.de Villiers

as niks meer heilig is nie
word alles heilig
en die wind waai waar hy wil

ek is
ek wil
sal wees
en sal nie wees nie

was gister?

en die pad terug na kind
en kinderland is lank
selfs as jy die koers ken
maar die wind
waai alles weg
scho"nberg en buchenwald
berlyn etsi deus non daretur

hoe rooi is die tamaties
op die tafel
hulle is so daar
gebring deur 'n bewaarder
bid vir my pastor bid vir my
ek is so hier
hier in die hoek
op 'n kombers 'n katel
kyk die tossels roer
as ek hier raak

daar is nog rooi tamaties
iewers in tuine
hier in flossenbu"rg
duisende rooi tamaties
ry op ry
in kruise opgebind
soos in berlyn
toe ek 'n kind was

as niks meer heilig is nie
word alles heilig
word die wind stil
hoor jy niks
dis winter
wit

en alles hang
hoog in die dood
groot fees van die wat vry wil wees

dit groei uit rooi tamatie-rye
uit die swart grond uit
groter en ruimer as die son
as vriend as vrou
groei uit na God
swaai aan 'n tou

(gepos deur gloudina bouwer)

Prosa & poësie | 0 kommentare

Re: NUWE RSA - GAAN JULLE BLIKSEMS NOG KERK TOE ???????

Ma, 24 Maart 1997 00:00

Ek het julle briewe oor die Kerk geweldig interessant gevind,
baie dankie. Die indruk wat ek kry is dat die kerk wel 'n merk
op julle gelaat het en dat julle iets daaroor te sê het.

Ek vind ook dat Suid Afrikaanse tydskrifte (wat ek laat pos na
Australie) interessante artikels het soos in De Kat
(oor ons "Calvinisme") en Insig (oor "is daar net een God?") ens.

In vergelyking met RSA, is daar weinig artikels oor godsdiens in
Australie, en mense het oor die algemeen nie veel te sê daaroor
nie omdat hul eenvoudig nie belangstel nie.

Maar julle klink ook vir my 'n bietjie sinies oor die Kerk.
(Ek self was vir 'n lang ruk vreeslik die moer in vir die NG Kerk).
Maar ek vind die doen en late van die Kerk wel interessant,
die kerk het tog altyd iets te sê, op allerhande vlakke,
of dit nou op politiek, kultuur/taal of persoonlike vlak is.

Sonder sy reenboog van kultuur en godsdiens sal SA maar 'n vervelige
ou landjie wees. Verder is RSA dominees akademies die bes opgeleidste
in die wereld, en ek mis dit nogal hier. Dominees kan soms 'n kwessie
soos genadedood of so iets op 'n veel dieper manier bespreek as die
tipiese TV "fast-food" manier. (Genadedood is nou 'n groot kwessie
hier in Australie). Onthou al die dominees is nie oud en verstok nie,
party "surf" in die see en op die "net". En die bybel is ook op CD-ROM
beskikbaar, in Afrikaans (ou en nuwe vertaling).

My vriend het 'n groot boek met fotos in van al die kerke en dominees
in die ou dae in SA. Geweldig interessant, dis seker Africana.
Die Afrikaner en sy taal kom 'n lang pad met die kerk saam.
Ek het op Stellenbosch 'n student geken wat sy PhD in Teologie
besig was. Hy was geen Christen nie, maar het intens belanggestel
in teologie. Eintlik is die fondament van Westerse kultuur is gesetel
in die Kerk. Of jy daarvan hou of nie. (Dink maar terug aan die donker
middeleeue ens, ons filosofiese geskiedenis: Kant, Hegel, Marx ens).

Vriendelike groete!
|
| ___/////
| / \ /|
| / O \ \/ |
J > / /\ |
\_________/ \|
\\\

Geloof & kerksake | 0 kommentare

Bladsye (1839): [ «    1534  1535  1536  1537  1538  1539  1540  1541  1542  1543  1544  1545  1546  1547  1548  1549    »]
Tyd nou: Sa Nov 16 20:36:24 MGT 2024