Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » sizwe se se Feyerabend
sizwe se se Feyerabend [boodskap #32429] Mon, 17 July 2000 00:00
Leendert van Oostrum  is tans af-lyn  Leendert van Oostrum
Boodskappe: 1880
Geregistreer: July 2000
Karma: 0
Senior Lid
Die laaste gesprek in hierdie trant wat ek op die nuusgroep onthou was met
ene helaas heengegane "sizwe".

LeswinLaubscher skryf in boodskap news:20000717113359.15089.00000626@ng-fz1.news.cs.com...
> In 'n parallele nuusdraad voer van oostrum aan dat die kerk se posisie jeens
> Galileo "wetenskaplik" meer gewig dra. Ter ondersteuning kwoteer van oostrum
> Feyerabend.

Korrek. Feyerabend het juis getoon dat, volgens gangbare reëls van
wetenskaplike bewysvoering - en die paradigma van "daar is net een waarheid"
(die standpunt wat Ferdi inneem as hy verklaar "10 000 priesters was
verkeerd") ons die Kerk se standpunt gelyk moet gee.

> Aanvanklik was hierdie stelling verwarrend, en wel om twee redes.
> Eerstens, die kerk se posisie was geskoei op Aristotel en Ptolemy - en
> daadwerklik filosofiese wetenskap met 'n goeie snars metafisika. Galileo, dan,
> laat val twee objekte met verskillende massas vanaf die leunende Pisa, en bewys
> eerstens dat Aristotel verkeerd was ten opsigte van spoed proporsioneel tot
> massa - 'n goeie eksperiment in die wetenskaplike tradisie, sou ek sê.

'n Tradisie wat in Galileo se tyd nog nie so goed gevestig was nie. Dit was
nog heel vreemd om 'n idee te toets aan die werklikheid. As gevolg van die
Platoniese (nie Aristoteliaanse) klem op die prioriteit van die idee (logos)
met die waargenome werklikheid as gebroke skadu van die suiwer idee.

> En dan,
> wanneer hy met sy teleskoop vind dat die fases van Venus en getye slegs
> verduidelik kan word aan die hand van die Kopernikaanse model, kla kardinaal
> Bellarmine hom aan (ten spyte van die feit dat die kerk se sensors toestemming
> gegee het vir die publikasie van galileo se boek - Dialogue on the Tides).

Bellarmine se klagstaat behels juis die volledige, goedberedeneerde
argument, gebou op die vereiste van bewysvoering. Feyerabend haal dit iewers
volledig aan.

> Die
> inkwisisie was die gevolg. Nou, Galileo het die Kopernikaanse model
> voorgestaan, maar meer as dit - hy het passievol geargumenteer dat die
> wetenskap nie onderwerp word aan dogma nie. Ek kan nie verstaan hoedat 'n
> persoon wat so duidelik die gees van die enlightenment wetenskap verpersoonlik
> het, die persoon wat argumenteer dat fisika op meting en observasie moet berus,
> en nie metafisika nie, die persoon wat die basis lê vir Newton, nie as sodanig
> deur van oostrum erken word nie.

Want, soos Feyerabend aantoon, het Galileo se eie data nie in daardie
stadium sy gevolgrekkings ondersteun nie. Dit was Bellarmine se argument.
Dat Copernicus se kosmologie nie voldoende deur Galileo se metings
ondersteun word om Ptolemeus se kosmologie omver te werp nie. Galileo het
dus nie sy eie beginsel van empiriese toegepas nie, maar 'n nuwe kosmologie
verkondig wat bloot 'n ander, ongegronde "dogma" was.

Want dogma volgens Ptolemeus se model is inderdaad gegrond op waarnemeing en
meting. Die model se wiskundig beskrywing is empiries bevestig deur eeue se
suksesvolle voorspellings van astronomiese verskynsels en eeue se
suksesvolle navigasie aan die hand daarvan. Net soos Newton se model eeue
lank suksesvol die waarneembare fisiese verskynsels beskryf het.

> Ah, miskien is dit metodologie - van oostrum
> sê tog immers dat die vlekke op galileo se son, maar bloot vuil kolle was op sy
> teleskoop.
> Maar hier kom die tweede probleem in: Feyerabend. Die manier waarop van
> oostrum Feyerabend voorhou is dan sê strydend met alles waarvoor hy gestaan het
> in sy laaste jare

My bydrae het nie gegaan oor Feyerabend nie. Dit het gegaan daaroor dat
Feyerabend getoon het dat Galileo 'n swendelaar was wat empiriese meting
voorgehou het as die enigste aanvaarbare bron van kennis, terwyl hy wou hê
dat die Kerk sy kosmologie moes aanvaar _sonder_ toereikende empiriese
gronde. Miskien verstaan jy nie heeltemal wat Feyerabend se standpunt oor
Galileo was nie - in meer werke as net in "Against Method".

> (toegegee, daar was 'n tyd toe hy as Popper se student die
> "wetenskaplike" metode aangestaan het soos in van oostrum se falsifieerbare
> wetenskap).

'n Valsifikasiemodel sou Galileo die voordeel van die twyfel moes gee. Dit
sou vereis dat ons Galileo se teorie aanvaar, of ten minste as "moontlik
waar" aanvaar totdat dit vals bewys is. Miskien verstaan jy nie heeltemal
die implikasies van valsifikasie nie. Of dalk het jy Popper aan die stert
beet.

> Maar Feyerabend word immers onthou vir sy anti-wetenskap, vir sy
> boek �gainst method", vir sy posisie ter ondersteuning van wetenskaplike
> revolusies a la Kuhn.

Kuhn se revolusionêre wetenskap is allesbehalwe "anti-wetenskap".
Inteendeel. En dit is allesbehalwe "anti-valsifikasie". Inteendeel. Al wat
Kuhn getoon het is dat wetenskaplike denke nie so logies en metodies is as
wat ons graag wil dink nie. In elk geval nie revolusionêre wetenskaplike
denke nie. "Ordinary science" miskien wel. En laat ons nie vergeet nie: In
Kuhn se boek is "gewone" wetenskap net so belangrik as "revolusionêre"
wetenskap. Gewonde wetenskap is noodsaaklik om die implikasies van
revolusionêre wetenskap te deurgrond en die grond voor te berei vir die
volgende revulusie. Miskien verstaan jy Kuhn nie so goed soos jy dink nie.

> Ek trek toe my kopie van Against Method nader, en lees
> weer die hoofstuk oor Galileo daarin. Feyerabend se argument is dan dat
> Galileo, ten spyte van wetenskaplike claims, ook op retoriek, teorie,
> propoganda staatgemaak het om sy heliosentriese posisie te bevorder - maar
> Feyerabend IS TEN GUNSTE HIERVAN. Inderdaad, hy argumenteer dat Galileo juis
> Kuhn se wetenskaplike revolusie en die paradigmaskuif ondersteun.

Korrek. Feyerabend is ten gunste van meervoudige maniere van ken. Hy erken
byvoorbeeld ook die _wetenskaplike_ geldigheid van magiese praktyke in
Afrika. Maar hy wys daarop dat Galileo _nie_ hierdie standpunt gehandhaaf
het nie. Galileo se standpunt was dat daar en een waarheid is - syne.
Bellarmine het geredeneer dat Galileo wel reg mag wees, maar dat hy dit nog
nie goed genoeg bewys het om die geosentriese kosmologie te verwerp nie.
Buite Bellarmine om het die kerkreg bepaal dat die dogma in daardie geval
nie verander mag word nie, en dat die gelowiges Galileo se idees moes
verwerp totdat die teenoorgestelde getoon word. Galileo was dus die
dogmatiese een, en dit is wat Feyerabend aantoon.

Feyerabend was _gekant_ teen die arrogansie van Galileo se standpunt dat
daar net een waarheid geken kan word, soos dit ook in die moderne Westerse
samelewing manifesteer - tot groot nadeel van die lede van daardie
samelewing self.

Soos dit manifesteer in Ferdi se standpunt "10 000 priesters was verkeerd".

> Logiese
> Empirisiste en Popper se Kritiese Rasionalisme INHIBEER wetenskaplike
> vooruitgang, maar Galileo se "epistemological tricks", en teoretiese
> vertrekpunt BEVORDER wetenskap in Feyerabend se konsep van teoretiese
> pluralisme.

Ek dink jy laat na om te onderskei tussen Popper se kritiese rasionalisme en
logiese empirisme. Dit is juis logiese empiriste wat Popper uitskel vir sy
"irrasionaliteit".

En nee. Ek dink nie Feyerabend se teoretiese pluralisme is enigsins
teenstrydig met Popper se kritiese rasionalisme nie. Popper lê juis klem op
die noodsaaklikheid van wat hy "vrye variasie" noem as voorvereiste vir
skeppende denke (wetenskaplik of andersins).

> Dit blyk dus dat van oostrum in die tradisie van Torquemada oneerlik smous met
> Feyerabend (en selektif kwoteer terwyl hy die vinger swaai oor presies hierdie
> tegniek), óf dat hy nie Feyerabend volledig gelees het en/of verstaan het nie.
> Ek hoop dis die laaste alternatief.

Nog 'n alternatief: laubscher het 'n meer oppervlakkige begrip van
Feyerabend, Kuhn en Popper as wat hy reken.

(En nee. Ek het nie 'n handige kopie van "Against Method" om nader te sleep
nie. Ek het dit ten minste vyf jaar gelede laas gelees.)
Vorige onderwerp: Re: van oostrum se Feyerabend
Volgende onderwerp: Re: Archives: July 17, 1900
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Thu Dec 26 12:59:18 UTC 2024