Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Lord Methuen uitgeoorlê - 5
Lord Methuen uitgeoorlê - 5 [boodskap #28417] Sun, 12 December 1999 00:00
Simon van der Schans  is tans af-lyn  Simon van der Schans
Boodskappe: 263
Geregistreer: January 1999
Karma: 0
Senior Lid
Lord Methuen uitgeoorlê deur Generaal de la Rey.

Deur G.A. van der Walt

Deel 5
______________________________________

Die ander Engelse perderuiters ja algar na die kanonne, om die
wa- en kar-laer en kanonne teën die aanstormende boere te
beveilig.  Eindelik toe die boere op ongeveer sestien honderd
tree was, begin die Engelse op hulle te skiet dat dit so kraak.
Die koels fluit en gons om die boere maar dit lyk of hulle gin
gedagte kry nie, dat die lood dodelik kan wees.  Hulle ja onder
die skiet in, amper van alle kante, want Genl. van Zijl met die
Grikwalanders druk nog altyd op van agter, die mense van Marico
sluit hierby aan, aan die regterkant, dus regs van agter.  Dan
volg regs in die flank die Lichtenburgse mense van Wyk II onder
hulle dappere veldkornet Klaassen, terwyl die mense van Wyk I en
III ja om van die regterkant voor om te ja, om op die manier die
uitvlug te belet.  Daartussen was natuurlik nog die mense van
Genls. Kemp en Liebenberg.  Ons moet nou egter nie dink nie, dat
elke burger presies by sy eie offisier was.  In hierdie geveg
moes elkeen maar gehoorsaamheid betoon 't aan die offisier wat
die digste by hom was.  Gelukkig maar, dat al die burgers amper
die laaste offisiere geken het.  Elkeen het geweet, wie Genl.
Kemp, Kommandant Vermaas, Genl. van Zijl, of Genl. Cilliers, of
enige ander offisier was.

Die Engelse hou aan met skiet.  Dit het soms gelyk of 'n haelbui
om die boere val, maar nie één het omgedraai nie, hulle het
deurgestorm, totdat hulle op ongeveer vier-honderd tree kom.
Daar klim 'n gedeelte af en begin skiet.  Die meeste boere was
toe nog in die laagte, wat oor Palmietkuil loop, en begin al van
die agterste voetgangers van die Engelse te kry.  Die eerstes
steek al die hande op, en word ontwapen, maar die boere het gin
tyd om die gewere saam te vat nie.  Hulle vat net die slot uit
die geweer, neem dit onder die verder jae saam, en gooi dit dan
maar weg.  Die gedeelte, wat nie afgeklim het, saam met die
eerstes nie, ja nog maar altyd vorentoe.  Landdros Boshoff met sy
maat ja dadelik dwarsdeur die voetgangers heen.

Vir die boere was dit 'n gevaarlike rukkie, omdat die Engelse
voetgangers versprei oor die veld was, en dapper aanhou met skiet
al was die boere tussen hulle en die laer.  Die Engelse het toe
ook hulle kanonne reggetrek en het met die Armstrongs en drie
bommaksims hulle bes gedoen, om die boere terug te keer, maar die
boere laat hulle eenvoudig nie keer nie.  Op 500 tree van die
kanonne af, spring 'n klomp burgers af en na twee of drie
sarsies, het die Engelse wel kanonne gehad, maar nie een
kanonnier om te kan skiet nie. Toe die Engelse met die kanonne
begin skiet het, het die boere-artillerie ook hulle grof geskut
reggetrek aan die Suide-kant van die loop oor Palmietkuil, op
die bult.  Maar hulle het amper maar kon stil bly, want die boere
het na die stilbly van die Engelse kanonne nog digter by geja om
na die vat van die kanonne op die laer aan te val.

Veldkornet Klaassen klim af met Ignaas Badenhorst, om op die laer
te skiet, en sien nie die Engelsman, wat vlak by hulle, agter 'n
miershoop lê nie.  Onderwyl dat die twee boere op die laer
losbrand, skiet die Engelsman agter die miershoop om en tref vir
Badenhorst.  Die Veldkornet sien dadelik dat dit 'n dodelike
skoot was, en weet dat hulp niks meer aan hom kan doen nie.  Hy
meen, dat die beste maar sal wees om die vyand ook dood te skiet,
wat hy ook dadelik doen.  Die boere moes vorentoe ja, die laer
skiet en die voetgangers ontwapen.

Op Palmietkuil was 'n wa vol voetgangers bymekaar, wat almaal
gelyk "gehandsup" het.  Alleen die laër was nog eenkant, verder
was die vegsmense van beide kante deurmekaar.  Maar toe die
perderuiters van Genl. Methuen sien, dat die boere so gelyk bly
en altyd maar vorentoe kom, dink hulle dat dit vir hulle beter
sou wees en gee pad.  As 'n ordelose klomp ja die perderuiters
uit en word gevolg deur die karre en trollies, wat deur muile
getrek is.  Die wegja, of liewer die vlug van die perderuiters,
karre en trollies, het die boeremag uit mekaar geruk.   Eén
gedeelte van die burgers ja agter die laer om en 'n ander
gedeelte ja voor om, om die vlugters nog te vang, maar 'n
betreklik klein gedeelte bly agter om op die laer te skiet.  Ons
sal later sien hoe dit met die vlugters gegaan is.

Genl. Methuen bly toe met die wa-laer (die ossewaens) op die
staanplek agter.  Die boere, wat nie agter die vlugtende Engelse
aan was nie ja tot op drie honderd tree van die wa-laer en klim
daar af.  In die laer was nog 'n klomp voetgangers, wat net op
die klein klompie boere aanhou skiet.  Maar dit was nie al te
lang nie, of hulle moes die witvlag opsteek.  Die boere kom aan
om die vyand te ontwapen en terwyl hulle al hiermee besig was,
skiet 'n swarte, wat in 'n wa, onder 'n bokseil gelê het, nog vir
Jan Louw, 'n onderwyser, dood.  Dit was vir Jan Louw 'n
doodskoot, na die vyand oorwen was, maar die maat van die
onderwyser skiet ook dadelik die swarte, dat hy nie weer
opgestaan het nie.  Die boere vat nou die hele wa-laer, met al
die goed, terwyl hulle alreeds die ses kanonne gehad 't.  Soos
ons gesien het, het die perderuiters gevlug, toe die boere glad
nie, met die gewere of kanonne, te kere was nie.  Alleen sewe
perderuiters het nie uitgeja nie.  Hulle was te dapper om te vlug
en bly op hulle knieë voor die perde staan en skiet.  Die boere
het die sewe dappere manne jammer gekry, maar hull kon nie
anders of maak 'n sarsie op hulle, want die geskiet van hulle
kant, sou baie boere die lewe kan gekos 't.  Een sarsie was
voldoende; na die skiet van die boere was van die sewe maar twee
ongewondes oor.  Die ander vyf was dood of gewond.  By die
kanonne was 'n jong offisier, wat aangehou het met skiet, na al
die ander al amper buite geveg was.  Die boere order hom van ver
om die wapen neer te gooi en die hande op te steek.  Hy het toe
al reeds 'n paar koeëls deur sy lyf gehad, maar hy weier beslis,
hy wil nie "handsup" nie, en skree op die aanhoudende geroep van
die boere om hom oor te gee, in die Engels:  "Ek wil liewer dood,
dan my oorgee", en die gevolg was natuurlik dat hy geskiet is.
Die dappere jonge man, Nesham was sy naam, het die naam van held
verdien, al is dit miskien van 'n held nie goed te keur nie, om
sy lewe op te offer, wanneer dit nie meer op die oomblik as 'n
voorbeeld kan dien nie, en die verlies van die slag al reeds 'n
voldonge feit is.  Vriend en vyand sal hom bly bewonder vir die
kloekmoedigheid, waarmee hy die dood afgewag, ons kan byna sê,
verag het.  Ons sou van so 'n jong man in sy verdere lewe baie
verwag het.  Sy graf is versier met 'n mooi marmer grafsteen
waarop die volgende geskrywe is:

           "Thomas Peere William Nesham,
              Lieutenant Royal Field Artillery.
     Only son of the late Rear Admiral Nesham
                    and Constance, his wife.
                       Born 2nd May, 1880.
         Killed while gallantly serving his guns.
               Tweebosch, 7th March, 1902.
             He preferred Death to Surrender.
This cross is placed by his mother in loving memory
                  Pro Christo, Rege et Patria"

In die tyd wat om en by die laer geveg was, het party van die
voetgangers weggehardloop na die kraal van die heer Coetzee om
daar posiesie te vat.  'n Gedeelte was gevlug na die twee
woonhuise, waar die vrouwens en kinders nog opgepas het vir hulle
goedjies.  Uit die kraal is die klomp Engelse nog kwaaier begin
te skiet, en die klompie boere, wat nie agter die vlugters
aangeja het nie, moes maar hulle bes doen.  Drie man ja om die
kraal maar kon nie sien hoeveel manne agter die kraalmure gelê
het nie.  Omdat die boere-offisiere altyd getrag het om so min
mogelik mense te verloor, het hulle gedink, dat dit die beste sou
wees, om maar die kanonne op die kraal te set.  Eén van die
Kanonne, wat nog maar 'n kort rukkie in besit van die boere was,
het hulle mooi reggetrek en binne enkele minute val die eerste
bom van éen van die Armstrong kanonne midde in die kraal.  Dit
was dadelik 'n baie mooi skoot, maar die bom het in die sagte mis
nie gebars nie.  Toe het hulle gouw 'n bommaksim reggetrek en met
die eerste skoot hieruit, lê daar 'n stuk van die kraalmuur teen
die grond.  Die klomp in die kraal wat gedink het, nog baie kwaad
te kan doen, skrik al geweldig en toe die tweede bom bars, steek
hulle die teken van oorgawe op.  Dit wapper van witvlaggies.  Die
drie boere wat in die nabyheid van die kraal gebly was, ja na die
hek en skrik hulle amper asvaal, toe hulle sien, dat in die kraal
meer as vyftig gewapende manne is, wat met éen sarsie hulle drie
kan pap skiet.  Hulle skree egter: "Gooi neer julle roers of ons
skiet julle die laaste een dood", en dadelik hoor hulle die
eienaardige gekletter van gewere wat neergegooi word.  Toe hulle
die wapens kom vat, kry hulle in die kraal tussen die lewende en
ongewonde Engelse vyf troepe, wat doodgeskiet was en drie dooie
perde.

In die een huis was die moeder met 'n klein seuntjie, in die
ander die Ouma met drie kindertjies, waarvan die jongste nog maar
twee jaar was.  By die Ouma in die huis was sewe bale wol
weggesteek vir die vyand, wat nou deur die ou-mens gebruik werd
vir 'n fort, want sy was met die kindertjies hieragter weggekruip
so laag as wat maar mogelik was.  Die troepe by die vrouwens in
die huise het gekap vir hulle lewe om skietgate deur die mure te
maak.  Net so gouw as die skietgat klaar was, doen hulle hulle
bes om die boere af te keer.  Die moeder met die een seuntjie het
onder die bed ingekruip.  Eers het die seuntjie in die eenkant
van die voorhuis, tussen die troepe gespeel.  Toe sy moeder hom
roep om by haar te kom, was hy so oulik om haar te sê, dat hy
bang is om by die voordeur verby te loop, want hy kan maklik raak
geskiet word.  Maar die luitenant van die Engelse, wat daar in
die huis was, vat hom op sy arm en met sy eie liggaam na die deur
se kant, om self as beskerming te dien vir die seuntjie, bring hy
die kind by sy ma.

Ons kan begryp hoe swaar die vrouwens met die kindertjies gekry
het, om van so naby getuie te moet wees van die verskrikkinge van
die oorlog.  Uit hulle huise uit word geskiet op hulle eie mense,
hulle broers, ooms, neefs en naaste bure, en elke oomblik verwag
hulle maar dat die koeëls van die boere, by die deure en rame sal
inkom.  'n Klompie mense, wat gedink het dat alles Engelse in die
huise was, het al probeer om by die kombuis deur in te skiet.
Dit was van Zijl se mense, wat onbekend was met die bewoners van
die plase in die deel van die Lichtenburgse wereld, maar Genl. de
la Rey het hull gouw gestop en was baie ontevrede omdat hulle op
die huise geskiet het.  Die mense was self ook spyt, want die
boere  het geweet, dat 'n witmens nie kan skiet nie, as die vyand
homself wegsteek agter mense, wat so min met die oorlog te maak
het as vrouwens en kinders.

Kommandant Vermaas, met 'n paar van sy mense ja na die huis en
bly op 'n afstand staan om te roep dat hulle moet uitkom om te
veg soos manne, maar nie in 'n vertrek moet skuil nie, wat ook
vrouwens en kinders herberg.  Die troepe het natuurlik gesien,
dat die kanse om uit te kom, of om te win verby was, en hulle het
hulle sonder om verder te skiet oorgegee.

[word vervolg]

Swart Simon
Vorige onderwerp: Toekoms Advies vir: Nepal Besigheid Sentrum
Volgende onderwerp: Dankie Daewoo en die Regering van Suid-Korea
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wed Dec 25 07:15:37 UTC 2024