Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Dan Roodt se Afrikaans-opmars na die Uniegebou
Dan Roodt se Afrikaans-opmars na die Uniegebou [boodskap #28328] Mon, 06 December 1999 00:00
Koki[0]  is tans af-lyn  Koki[0]
Boodskappe: 3
Geregistreer: December 1999
Karma: 0
Junior Lid
Skrywer wil oor taal na Uniegebou opruk om solidariteit te
bevorder

Afrikaans, Afrikaans, Afrikaans. Slaan jy deesdae 'n
koerant of meningsblad - Afrikaans of Engels - oop, is die
kans goed dat daar iewers iets oor "Afrikaans as Belangrike
Kwessie" te lees gaan wees.

Hetsy dit die ANC is wat na kultuurorganisasies vry of
Afrikaners wat skuld bely oor die apartheidsjare. Talle
koerantkolomme is ook al gevul met die planne om 'n nuwe
Afrikaanse universiteit te stig.

Intussen is daar kommer dat Afrikaans as institusionele
taal kwyn. Soos dat op universiteitskampusse al hoe meer
toegegee word aan die behoeftes van anderstaliges en dat
min Afrikaans op TV gehoor word.

Tot dusver is die debat oor Afrikaans hoofsaaklik deur
akademici en filosowe gevoer. Dis 'n papiertier, sê die
skrywer en filosoof Dan Roodt oor dié debat.

Hy wil dié debat losmaak van papier en ink en pratende
koppe deur die gemeenskap te mobiliseer om aanstaande jaar
deel te neem aan 'n optog ten behoewe van Afrikaans.

Die opmars/betoging sal na die Uniegebou wees waar 'n
petisie aan die President oorhandig sal word. Mense wat nie
aan die betoging in Pretoria kan deelneem nie, sal elders
in die land betogings hou.

Die petisie, waarin die gelykberegtiging van Afrikaans
teenoor Engels bepleit word, sal vroegtydig vir
ondertekening in winkelsentrums, skole, universiteite,
klubs, ensovoorts, versprei word.

Maar wie is Roodt? Hy het onlangs op die literêre
internet-webblad LitNet opslae gemaak toe hy die skrywer
Nadine Gordimer, wenner van die Nobel Prys, gestriem het
oor die negatiewe wyse waarop Afrikaners in haar werk
uitgebeeld word.

Roodt is een van die gereelde rubriekskrywers van LitNet en
het al heelparty artikels op die webblad gepubliseer oor
Afrikaans onder titels soos "Taallandskap en identiteit" en
"Die sloping van 'n hegemonie: 'n kritiek op literêre Anglo
sentrisme".

Hy het onder meer 'n doktorsgraad in Afrikaanse literêre
teorie en in die buiteland 'n doktoraal in die filosofie
behaal.

Vroeg in die jare tagtig is sy
anti-establishment-prosawerk, Sonneskyn en Chevrolet, en sy
satiriese digbundel, Kommas uit 'n boomzol, verbied. Sy
minimalistiese werk, Twee sinne, het veral skerp kritiek
van André P. Brink ontlok.

Weens verwysings na homoseksualiteit en die gebruik van
gekruide taal is 'n besitverbod geplaas op Taaldoos, 'n
tydskrif wat Roodt saam met Karen Konsentrasiekamp begin
het.

Toe Roodt opgeroep is vir diensplig, het hy die land
verlaat. Agt jaar lank het hy in Frankryk gewoon en daar
kennis gemaak met die finansiële wêreld waarin hy steeds
werk. Uiteindelik het hy teruggekeer na Suid-Afrika, want
"ek het gevoel ek is nie 'n heel mens buite Suid-Afrika en
buite Afrikaans nie".

Waarom die optog na die Uniegebou?

"Mense voel sterk oor Afrikaans wat op verskeie vlakke
uitgeskuif word. Maar daar is nie solidariteit nie. Ek wil
as katalisator optree vir die betoging wat solidariteit kan
skep. Afrikaans moet op die politieke agenda geplaas word
sodat dit gelykberegtiging kan kry.

"Ons moet nie vergeet ons is almal belastingbetalers nie.
Ons is kliënte van die Suid-Afrikaanse staat. Maar ek kry
nie die indruk dat daar kultureel na my omgesien word nie.

"Die taalkwessie in die land, wat nog altyd tussen
Afrikaans en Engels was, is nog al die jare onbesleg. Dit
is belangrik dat konsensus bereik word oor wat presies die
plek van Afrikaans, Engels en ander tale behoort te wees.

"Onder die NP bewind was daar amper 'n soort wapenstilstand
wat die taalkwessie bereik het. Ná 1994 het dit egter weer
belangrik geword. Die struggle is verby en die mense is nou
weer besig om oor die taal te besin."

Roodt beskryf Afrikaans as 'n nasionale en internasionale
bate.

"Deur kultuurbedrywighede, soos die huidige Afrikaanse
kunstefeeste, kan rykdom geskep word deurdat ekonomiese
bedrywighede gestimuleer word."

Meer nog, die Suid-Afrikaanse geskiedenis kan sinchronies
deur Afrikaans ervaar word - méér as in enige ander
Suid-Afrikaanse taal.

"Afrikaners het 'n besonderse verbintenis met die
Suid-Afrikaanse landskap soos dit in die werke van
Afrikaanse digters en skrywers duidelik word. Dit maak
Afrikaans vir my anders.

"Vanuit Lacan se psigo-analitiese perspektief dat taal 'n
lyf het, het Afrikaans 'n besonderse lyflikheid. Dis nie 'n
neutrale kommunikasiemiddel nie. Dis 'n taal wat gevorm is
deur die landskap en 'n sterk semantiese lyflikheid het."

In sy oproep tot 'n betoging sê Roodt "die Engelse moet
teruggedryf word". Hy erken dié stelling kan nogal militant
voorkom en aanstoot gee.

"Ons is so besig om nie aanstoot te gee nie. Maar vir baie
mense gee Afrikaans per se aanstoot. Ek wil hulle uitdaag
om te sê waarom Afrikaans vir hulle onaanvaarbaar is."

Roodt meen Afrikaners handhaaf 'n meelopertradisie. Dit is
waarom Afrikaans sonder veel besware op alle gebiede
uitgeskuif word.

"Dit is maklik om in te val by die huidige bestel. Maar ons
moet ook onthou dat die Afrikaner ook nog altyd 'n meer
tradisionele kritiese tradisie gehad het."

Dié tradisie was veral opvallend in die Afirkaanse
letterkunde van die jare sestig toe skrywers skryftradisies
verbreek en vernuwend met die Afrikaanse letterkunde
omgegaan het. Skerp kritiek is ook in dié tyd op die
destydse Regering gelewer.

"Die Regering het wel versoenende geluide gemaak deur met
Afrikaanse kultuurorganisasies te praat. Maar uiteindelik
wonder ek wat die Afrikaner Bond van Afrikaans weet. Die
krag van die taal lê daarin dat dit in volksbesit is. Nie
op regs-idealistiese vlak nie, maar op populêre vlak.
Afrikaans is veel meer as 'n eng Calvinistiese tradisie."

Daar is altyd die gevaar dat die optog deur die meer
konserwatiewe elemente in die Afrikaanse dampkring gekaap
kan word.

Om dié moontlikheid te beperk, sê Roodt, moet alle baniere
en plakkate vooraf aan die organiseerders voorgelê word.
Voorts word almal wat sterk voel oor die behoud van
Afrikaans, ongeag ras, kleur, geloof, seksuele voorkeur en
huistaal, aangemoedig om deel te neem.

"Dit is 'n kollektiewe viering van die krag van en
skoonheid van Afrikaans, 'n bacchanale taalorgie."
Vorige onderwerp: Toekoms Advies vir: 'n Beter Johannesburgse Effektebeurs
Volgende onderwerp: Ideale geskenk vir REKENAARBEGINNERS
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wed Dec 25 06:14:16 UTC 2024