Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Bietjie nuus uit die VSA
Bietjie nuus uit die VSA [boodskap #18180] Wo, 07 Oktober 1998 00:00
Nico  is tans af-lyn  Nico
Boodskappe: 259
Geregistreer: Februarie 1998
Karma: 0
Senior Lid
Hierdie is 'n uittreksel uit my laaste brief an vriende en familie in SA - ek
dog dele daarvan sou dalk vir julle interesant wees.

Nou ja, hier is ek besig met my laaste week in Oregon. Ek kan nie glo die tyd
gaan so gou verby nie. Ook maar goed - dis tyd om by die huis te kom voor die
winter in Minnesota aanbreek - daar is nog 'n paar dinge om te doen om reg te
maak vir die sneeu en koue - soos om die water uit die tuin se sprinkelsisteem
te laat blaas. Selfs hier in Oregon begin die winter nader kruip - ek sien
hier wys hulle op die weervoorspelling die "snow line" en hoe kouer dit word,
hoe laer kom die sneeu teen die berghange voor. Eers was dit 7000 voet - nou
is dit net 5500 voet.

Ek was verlede naweek huis toe en skoonma was natuurlik ook daar - sy het die
vorige week aangekom en kuier nou by ons tot Januarie. Die seuns was ook baie
bly om my na twee weke weer te sien.

Die weg werkery van die huis af is heel aanvaarbaar omdat ek weet dis net vir
vier weke, maar hier is werklik ouens wat dit permanent doen en net naweke huis
toe kom. Ek dink daar is ernstig fout as jy bereid is om so te leef. Jy het
amper niks van jou kinders nie - meeste van die naweek word opgeneem om net al
die belangrike dinge in en om die huis te doen en voor jy weet is die naweek
om. Intussen moet jou vrou jou klere regky en die gewone naweek moet ook nog
aangaan. Die tydsverskil help ook nie veel nie - hier in Oregon is ons twee
ure agter Minnesota, wat beteken dat my slaappatroon nou al heeltemaal
opgedonder is. Nee wat, dis lekker om dit tydelik te doen en as 'n groot
avontuur te sien, maar defnitief nie permanent vir gewone geld nie - miskien
dalk maybe vir een miljoen per jaar sal ek dit oorweeg as ek weet dit hou net
'n jaar of twee aan.

Ons het darem die afgelope Saterdag kans gemaak om te gaan ry - toe ek
Vrydagaand by die huis kom wys Gina my dat die koerant berig dat die
herfskleure op hulle mooiste sal wees. Ons is toe Saterdag al langs die St
Croix rivier op tot by die St Croix Falls.

Die herfsleure was oorweldigend mooi! Die blare verloor weer die donkergroen
van midsomer en word 'n bleker groen. Tussenin is daar dan bome wat
bloedrooi-oranje en goudgeel word en plek-plek ook bruin. Verlede jaar het ons
dit nie so mooi gesien nie. Ons was hierdie jaar net mooi die regte tyd op die
regte roete.

Ons het ontbyt/middagete geeet by 'n restaurant waar ons skoonma kon voorstel
aan die groot borde kos wat in restaurante bedien word. Die spyskaart se net
jy kry 'n sandwich - dan is daar iewers op jou bord ook brood, maar dit word
verdwerg deur 'n berg chips (word hier "fries" genoem), die "vulsul" van jou
sandwich en daarby kan jy nog kies tussen slaai en sop as bykos. Ons loop as
'n reel altyd by enige restaurant uit met "a box to go" ( 'n doggie-bag).
Hier in Oregon help dit my baie - ek betaal so $7 vir 'n lekker bord kos - kan
net helfte behartig en neem dan die ander helfte hotel toe - my hotel kamer het
'n yskas en mikrogolfoond in.

Terug langs die St Croix river het ons plek-plek gestop en toe ook met 'n
rivierboot 'n kort trip geneem. Dit was een van die platboom paddle bote
waarvoor die Mississippi so bekend is. Ek kon nie glo die vlak water waarin hy
vaar nie - hy het blykbaar net 18duim nodig en ek dink ons was by tye net in
omtrent 20duim water! Langs die rivier is hoe rotse waarteen staalringe
vasgemaak is en wat deur die ou loggers gebruik is om hulle bote aan vas te
maak - in die ou dae is die afgekapte hout met die rivier af vervoer. Een van
die rotsformasies maak groot indruk - van een kant af lyk dit netsoos 'n groot
klipkruis en die rivier het ook sy naam hieraan te danke. Soos die boot
verbyvaar, verander die kruis in 'n gesig en lyk dan nes George Washington!

Ek weet ek noem dit seker baie, maar dit bly my tref - hoe lekker dit is om in
'n dienslewering samelewing te bly. Met die bootrit was dit nou weer duidelik.
Die somer is al amper verby en die bote word nie gebruik as die rivier eers
begin vries nie, so daar is al 'n lang toeriste seisoen agter die blad. En ten
spyte daarvan, word die boot 100% skoongemaak voor elke trippie - elke stoel op
sy dek staan net reg. Die toeriste mors ook nie baie nie - Amerikaners is oor
die algemeen by sulke plekke baie skoon en netjies. Die aankondigings oor die
luidspreker, wat baie goed werk en duidelik is, word gedoen asof dit die eerste
vaart van die somer is en die mense lus is om jou alles te wys, en in
werklikheid is dit al seker die vyfde trip van die dag.

Ons het drie troues ook gesien: 'n onthaal op een van die rivierbote, 'n
fotosessie in een van die staatsparke en in die staatspark waar ons in Junie
die groot braai vir SuidAfrikaners gehad het, was 'n troue se diens besig onder
dieselfde afdak waar ons piekniek gehou het. Skoonma se sy het nog nooit so
baie troues op so baie snaakse plekke in een dag gesien nie.

Hier om en by 23 September het ek probeer "stock take" van hoe ek voel na
presies een jaar in Amerika. Maar die muse wou nie met my gesels nie en ek kon
net 'n paar gedagtes neerskryf.

Na ons so drie maande hier was, het iemand in antwoord op my entoesiasme
geskryf dat dit duidelik was dat ons nog in 'n honeymoon fase verkeer. Wel, na
'n jaar duur die honeymoon gevoel nog voort. En elke nou en dan gebeur iets om
ons net weer te herinner hoe lekker ons hier woon - soos die ma's wat besoek
afle en vir wie ons alles wil wys wat ons ondervind en die nuus wat ons van
mense in SA af kry. Voor ons uit SA weg is, het een van my oud-studente, wat
al twee jaar in Nederland deurgebring het, ons die wenk gegee dat ons sal
agterkom ons sal te gewoond raak aan ons lekker omstandighede oorsee en dat 'n
mens nie moet ophou om jou lewe hier te geniet nie. Wel, ons hoef nie te veel
effort in te sit om jou lewe hier te waardeer nie.

Soos wat ek in SA elke keer effe gepanic het as ek by 'n winkel uitkom of my
kar nog daar sou staan, dink ek hier elke keer daaraan as ek my kar by 'n
winkelsentrum parkeer dat dit darem lekker is om nie meer te stress oor die hoe
misdaad nie. Elke keer wat ons hoor van vriende in SA wat onder die misdaad
moes deurloop, is 'n mens weer opnuut dankbaar oor die geleentheid wat ons
gebied is. En elke keer wat 'n Amerikaner jou uitvra oor jou herkoms en of jy
nie SA mis nie, dan is my eerlike antwoord elke keer: "Not really - there are
so many beautiful things and places to see here, that it is only really the
people that one misses."

So ry ek gistermiddag hier na 'n restaurant toe en luister oor die radio na
Athol Fugard se dogter wat 'n verhaal voorlees wat sy geskryf het oor
kraanvoels op 'n plaas in SA. En net toe ek myself wil begin afvra of ek nie
na die natuur in SA verlang en dit mis nie, toe kyk ek so skuins na links uit
die kar se voorruit en daar vlieg 'n V-formasie van Kanadese ganse teen die
agtergrond van Mt Hood, die plaaslike vulkaan, met die sneeu teen sy hange wat
deur die onderganende son pienk gekleur word. Asemrowend mooi. En toe is ek
maar net baie dankbaar vir al die geleenthede wat ek in SA benut het om in die
natuur te kom, voetslaanpaaie te doen, ens. Maar daarby besef ek toe dat ek my
lewe hier kan vul met dinge wat netso mooi en mooier is om te ervaar en te
sien.

Ek voel dat my horisonne in die lewe soveel vergroot het vandat ons hier in
Amerika is. Net om byvoorbeeld na die National Public Radio te luister,
verskaf amper 'n sensuele plesier om die altyd vars positiewe klankbeelde te
ervaar wat hulle jou bring. Net in die afgelope twee dae het ek byvoorbeeld
geluister na in diepte dekking van 'n perde rit deur vier jongmense dwars oor
Amerika, 'n byeenkoms van skrywers wat hulle kortverhale lees, 'n jode tannie
wat vertel oor hulle kookkuns ervarings as nuwe aankomelinge in Amerika vyftig
jaar gelede toe hulle nie Engels kon verstaan nie, 'n program deur die
plaaslike gemeenskap van Hawaiise eilanders wat hier in Portland woon, en nog
'n paar ander kort stukkies - altyd baie positief. En die negatiefste wat
hulle nuus mee vorendag kan kom, is die besluit om voort te gaan met die
ondersoek of Clinton uitgeskop moet word.

En ek lewer my daaraan uit om al hierdie dinge ten volle te geniet.

Voor-verlede Saterdag middag was die verjaardagpartytjie van een van die SAners
in ons kerk se kinders en Wilhelm en Jacques is uitgenooi. Ons is toe saam en
ontmoet daar familie van die mense uit Chicago (ook SAners). Soos altyd
wanneer 'n klomp van ons bymekaar kom, word daar lekker gepraat oor
snaaksighede in die taal en gebruike, dinge wat ons ontdek het en al die
ervarings van 'n nuwe land. Jy kom gou agter dat jou eie ervarings nie uniek
is nie. Ek het byvoorbeeld gedink ek is die enigste een wat uitsien na die
winter, maar daar is ander ook. Ek dink 'n mens geniet die seisoenswisselings
so omdat hulle so prominent is en die seisoene so geweldig baie van mekaar
verskil. En die natuurlike afwisseling van seisoene maak dat jy teen die einde
van die een begin uitsien na die volgende een.

Hier en daar in sulke gesprekke is daar iets waaroor iemand sal kla, maar oor
die algemeen is die gevoel dat almal hier is om te bly.

Een van die groot geheime hoekom ons dalk so goed aanpas in Amerika, is die
feit dat ons in die hartjie van die Middeweste geland het. Die mense leef baie
stadiger en meer bedagsaam teenoor mekaar as mense byvoorbeeld in Kalifornie en
New York. Ek dink ons beleef nou baie dieselfde soort lewensstyl as die
Kapenaars van so twintig dertig jaar gelede.

Johan (bietjie in Oregon)
Vorige onderwerp: Pramberg, Tietiesbaai, en ander fiksasies.
Volgende onderwerp: Re: Word speller
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Nov 23 03:49:58 MGT 2024