Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Ensiklopedie » Akkedis
Akkedis [boodskap #124882] Sat, 02 March 2019 18:45
Inligting  is tans af-lyn  Inligting
Boodskappe: 4588
Geregistreer: November 2018
Karma: 1
Senior Lid
Verskillende soorte akkedisse, hoewel nou nie hoe mense normaalweg aan akkedisse sou dink nie.
Verskillende soorte akkedisse, hoewel nou nie hoe mense normaalweg aan akkedisse sou dink nie.
'n Akkedis is 'n koudbloedige dier van die onderorde Lacertilia wat, saam met die slange (onderorde Ophidia), die orde Squamata van die klas Reptilia (reptiele) vorm. Hoewel hulle oor die algemeen van slange deur die aanwesigheid van ledemate onderskei word, is daar baie akkedisse wat geen ledemate het nie en in soveel opsigte net soos slange lyk dat hulle min uitwendige kenmerke besit wat kan dien om hulle van slange te onderskei. Hulle kan egter omskryf word as reptiele waarin die twee helftes van die onderkaak onbeweeglik deur ’n naat verenig is; die voorste deel van die breinkapsel is nooit heeltemal verbeen of gesluit nie; die bene van die bokaak is stewig verenig met die res van die skedel; bors- en bekkengordels of minstens oorblyfsels daarvan is aanwesig, ook ’n dwarslopende kloaka-opening en gepaarde paringsorgane. Boonop is by die meeste akkedisse die huidoppervlak bedek met horingagtige skubbe of knobbels en ontbreek daar by hulle die groot dwarsskilde aan die onderkant wat by slange aangetref word; hulle het beweeglike ooglede en uitwendige ooropenings. Die buitenste horingagtige vel raak van tyd tot tyd stuk-stuk afgestroop en nie in een stuk, soos dié van slange nie.

By die meeste akkedisse is die ledemate goed ontwikkel en vyfvingerig (-tonig), maar in baie groepe is daar ’n ononderbroke oorgang van hierdie toestand tot volslae afwesigheid van ledemate; die voor- en agtertone toon ook ’n wye aanpassing aan die omgewing: by woestynbewonende soorte is hulle bv. geweb of van plat uitstaande skubbe voorsien; by sommige soorte, soos die geitjies, het hulle suigskywe om te klim; by die verkleurmannetjies is hulle in teenoor mekaar gestelde groepe verenig om grypvoete te vorm; by die koggelmanders en die likkewane het die tone skerp kloue om maklik oor rotse of in bome rond te klouter.

Die stert wissel baie in grootte en fatsoen en kan dikwels besonder maklik afbreek om die dier in staat te stel om vinnig te ontsnap, terwyl die aanvaller se aandag deur die kriewelende stert in beslag geneem word; by hierdie soorte groei die stert weer maklik uit, met ’n kraakbeenstaaf om die plek van stertwerwels in te neem.

Die tande van die meeste akkedisse is min of meer keëlvormig en eenvormig; behalwe in ’n paar groter soorte, soos die likkewaan, is hulle te klein om selfs deur die vel van ’n mens te dring. Alle akkedisse is nie-giftig met uitsondering van twee soorte van die geslag Heloderma, nl. suspectum en horridum, die sg. gila-dier van die suidwestelike streke van die V.S.A. en van Mexiko onderskeidelik.

Die tong, gewoonlik bedek met skubagtige papille, is plat en net effens ingekeep van voor, maar in ’n paar gevalle, bv. die likkewane, is dit lank, rond, diep gesplete en kan teruggetrek word in ’n tongwortelskede net soos by slange.

Die meeste akkedisse lê eiers met ’n min of meer elliptiese vorm en ’n leeragtige of kalkagtige dop; maar in sommige gevalle bly die eiers in die liggaam van die wyfie totdat hulle heeltemal uitgebroei het. Die volledig ontwikkelde kleintjies kom dan lewend in die wêreld. In ’n paar uitsonderlike gevalle word die ontwikkelende embrio regstreeks deur die moeder voor geboorte gevoed, en hulle is dus egte lewendbarende vorms.

Net soos die slange is die akkedisse ’n baie suksesvolle groep reptiele: ongeveer 2,600 soorte, versprei dwarsdeur die gematigde en tropiese streke van die wêreld, is vandag bekend, maar die meeste soorte en individue kom in die tropiese wêrelddele voor. In grootte, fatsoen en bou toon hulle ’n wye verskeidenheid in ooreenstemming met hul omgewing; hulle word gevind van kusvlakte tot bergspits en van tropiese bos tot woestyn en kan grondbewonend, rotsbewonend, boombewonend, grawend of selfs half-waterbewonend wees, soos die likkewane; party, soos die sg. vlieënde drake (Draco volans) van die Indiese argipel, is in staat om sweefvlugte deur die lug te onderneem.

Van die 21 families waaruit die onderorde Lacertilia bestaan, is 9 in Suid-Afrika verteenwoordig: hulle is verdeel in omtrent 42 geslagte, naasteby 300 soorte en ondersoorte en word dwarsdeur ons land in feitlik enige soort omgewing aangetref. Die families is Gekkonidae (geitjies), Agamidae (koggelmanders), Chamaeleontidae (verkleurmannetjies), Lacertidae (ware akkedisse), Gerrhosauridae (slangakkedis), Varanidae (likkewane), Cordylidae (ouvolk), Scincidae (erdakkedisse) en Amphisbaenidae (wurmakkedis).

Wat meer spesifiek as akkedisse bekend is, is talryke soorte en geslagte kleiner reptiele (gemiddelde lengte 5-11 dm.) van die families Scincidae, Gerrhosauridae en Lacertidae van die Lacertilia met goed ontwikkelde voor- en agterpote, met 5 voor- en 5 agtertone met naels, kop op die bo-sy bedek met horingagtige skilde, die res van die liggaam met skubbe. Die skubbe kan van onder gesteun word deur beenplaatjies in die vel, die ooglede met klein korrelagtige skubbetjies bedek kan beweeglik of onbeweeglik wees. Oor die algemeen is hulle bruin, grysbruin tot geelbruin met twee of meer ligter lengtestrepe op die rug, gespikkeld aan weerskante en ’n baie ligte, geelagtige wit tot wit van onder. Die meeste is eierlêend, maar baie is ook lewendbarend.

Bron: Die Afrikaanse Kernensiklopedie, J.P. Scannell (red.), 1965

Laat weet as u oor addisionele inligting beskik wat ons hier kan bywerk.
Vorige onderwerp: Aken
Volgende onderwerp: Akkumulatore en batterye
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sun Dec 22 01:17:08 UTC 2024