Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Rowers skiet pa voor dogter
Rowers skiet pa voor dogter [boodskap #119741] Di, 22 Junie 2010 17:28
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Rowers skiet pa voor dogter

2010-06-08 23:28
Hilda Fourie

’n 13-jarige meisie moes toekyk hoe ’n rower ’n vuurwapen teen haar pa
se nek druk en die sneller trek.

Sedert die huisrooftog Saterdagaand in Elarduspark, in die ooste van
Pretoria, kry Michanette van Straaten sielkundige behandeling.

Haar pa, mnr. Wally van Straaten (46), word in die Unitas-hospitaal in
Centurion behandel. Hy kan nie sy linkerarm beweeg nie en kan net ’n
vuis met sy linkerhand maak.

Dokters sal eers ná ses weke kan bepaal of die skade aan sy arm
blywend is. Twee van sy ribbes is ook gebreek.

Slegs drie selfone is gebuit.

Mnr. Van Straaten het gister vertel hy het omstreeks 23:00 in die bed
gaan klim terwyl sy vrou, Margie (43), kuiergaste afgesien het.

Hulle vermoed twee rowers het in dié tyd by die huis ingekom.

Een het ’n vuurwapen en die ander ’n skroewedraaier gehad.

Nadat mev. Van Straaten die mense afgesien het, het sy haar ma, mev.
Patsy Pieters (78), wat onlangs ’n rug­operasie gehad het, in haar
kamer gaan help.
“Ek weet nie wat gebeur het nie, want ek het geslaap,” het mnr. Van
Straaten gesê.

“Margie het my vertel die rowers het met ’n vuurwapen teen my
dogtertjie se keel by hulle in die kamer ingeloop. Dis nie mense wat
sulke goed doen nie.

Hulle kon haar mos aan die hare getrek of aan die skouer gevat het,
maar ’n vuurwapen teen die keel? Dit is barbaars.”

Die rowers het mev. Van Straaten gevra vir geld en waar die man van
die huis is.

Hulle is toe met haar en haar dogter na mnr. Van Straaten se kamer
waar hulle hom wakker gemaak het.

Die rowers het aan Michanette gesê om in die hoek te gaan staan.

“Ek het omgedraai, gekyk en toe weer teruggedraai,” het hy gesê.

“Toe ek terugdraai, besef ek daar is iemand anders (as mev. Van
Straaten) in ons kamer. Ek het opgespring en die een met die vuurwapen
gegryp. Hy het dit teen my keel gedruk en geskiet.

“Hulle het omgedraai en weggehardloop. Ek het hulle agternagesit, maar
Margie het my aan die arm gegryp en die kamerdeur toegemaak. My kind
het alles gesien.”

Mev. Van Straaten het ’n handdoek teen haar man se keel gedruk waarna
hulle na die Kloof-hospitaal gery het.

“Ek kan niks van die skietery onthou nie. Ek kan onthou ek het gaan
slaap.

“Die volgende wat ek onthou, is waar ek in die bakkie sit met ’n
handdoek teen my keel en Margie wat sê ek moet vashou. Dis toe wat my
arm lam geword het,” het hy gesê.

“Die ergste is dat hulle ’n vuurwapen teen my kind se keel gedruk
het.”

Mnr. Van Straaten is later na die Unitas-hospitaal oorgeplaas.

Me. Aveline Hardaker, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n gewapende
rooftog word ondersoek.

Oorsprong:Beeld
( http://www.feedblitz.com/t2.asp?/84250/14048670/3848043/http ://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Rowers-skiet-pa-voor-dogte r-20100608
)
Vorige onderwerp: Slagoffer van huisrooftog dink man is dood toe hy ophou kla
Volgende onderwerp: Geskiet toe pa stop om iets te koop
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Apr 24 17:12:26 MGT 2024