Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Slagoffer van huisrooftog dink man is dood toe hy ophou kla
Slagoffer van huisrooftog dink man is dood toe hy ophou kla [boodskap #119740] Di, 22 Junie 2010 17:24
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
Slagoffer van huisrooftog dink man is dood toe hy ophou kla

2010-06-09 23:17
Hilda Fourie

’n Afgetrede kolonel in die weermag se wangbeen is vergruis en sy
ribbes gebreek nadat hy en sy vrou in hul huis in Wierdapark,
Centurion, deur rowers aangerand, geskop en met messe gesteek is.

Die polisie was Saterdagoggend só vinnig op die toneel dat hulle ’n
man op heterdaad in kol. (afg.) Thys Eagar (78) en sy vrou, Barbara
(74) se kamer betrap het.

Slegs twee selfone en kol. Eagar se trouring, wat hulle van sy vinger
afgehaal het, is geroof.

Eagar, ’n voormalige senior offisier in die pantserkorps, en sy vrou
sal na verwagting vandag uit die Unitas-hospitaal in Centurion
ontslaan word.

Twee rowers het omstreeks 03:00 deur die dak van Eagars se huis in ’n
veiligheidskompleks geklim en deur die plafon bo die sitkamer
gebreek.

Die Eagars het nie die lawaai gehoor nie omdat hulle hardhorend is.

“Ek het wakker geword toe twee figure bo-op ons op ons bed val,” het
mev. Eagar gister, ’n dag ná haar 74ste verjaardag, vertel. “Een het
my dadelik getakel, terwyl die ander een hom (kol. Eagar) getakel
het.

“Ek het gegil... so hard gegil dat my buurvrou my blykbaar gehoor
het.

“Die worsteling en marteling het toe begin.”

Volgens mev. Eagar het een van die rowers ’n mes teen haar keel gedruk
waarna hulle haar van die bed afgegooi en haar hande en voete
vasgebind het.

Sy is ook verskeie kere met die mes gesteek en aangerand.

Kol. Eagar is ook van die bed af gegooi, geskop en geslaan.

“Ek het hulle in hul eie taal (Zoeloe) gevra of hulle kos of geld of
wat hulle wil hê,” het hy gesê.

“Al reaksie wat ek gekry het, was ’n hou teen die wangbeen met iets
blerrie hard.”

In die tussentyd het een van die rowers mev. Eagar aan die keel gegryp
en ook ’n kombers oor haar kop gegooi om haar verder te smoor. Kol.
Eagar is ook gewurg.

Hy het twee keer sy bewussyn verloor.

“Ek het begin roggel en net geweet nou gaan ek sterf,” het sy gesê.

“My man het opgehou kla. Ek het gedog hy is klaar dood.”

Ná ’n rukkie het mev. Eagar gehoor dit raak stil.

Die volgende oomblik het iemand haar begin losmaak. Toe sy haar oë
oopmaak, het sy in ’n polisieman se gesig vasgekyk.

Volgens mnr. André Eagar (50) het sy ouers se buurvrou wakker geword
van ’n geskree en gesien die ligte in sy ouers se huis is aan. Sy het
die polisie en ander bure in die kompleks gebel.

“Ek is net baie dankbaar ons leef,” het kol. Eagar gesê.

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het gister gesê mnr. Siphiwe
Phakathi (21), wat in die Eagars se kamer gearresteer is, het Maandag
in die Pretoriase landdroshof op ’n aanklag van huisroof verskyn.

Hy sal in hegtenis bly tot en met sy volgende verskyning aanstaande
week.

Die polisie is nog op soek na ’n tweede verdagte.

Oorsprong:Beeld
(
http://www.feedblitz.com/t2.asp?/84250/14048670/3848043/http ://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Slagoffer-van-huisrooftog- dink-man-is-dood-toe-hy-ophou-kla-20100609
)
Vorige onderwerp: 10 'polisielede' slaan toe op verkeerde huis
Volgende onderwerp: Rowers skiet pa voor dogter
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Apr 25 06:38:08 MGT 2024