Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » 10 'polisielede' slaan toe op verkeerde huis
10 'polisielede' slaan toe op verkeerde huis [boodskap #119738] Di, 22 Junie 2010 17:15
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
2010-06-09 06:42
Amanda Roestoff

Sowat tien mans in polisie-uniforms en met R5-aanvalsgewere en
dienswapens het die skuifdeur van ’n gesinshuis in Roodepoort gister
kort ná middernag oopgebreek en daarop aangedring om die huis deur te
soek.

Die huiseienaar, Marius Claassen (41), het op ’n lasbrief aangedring.
“Toe sê hulle net: ‘Oooeeeee... dis dan die verkeerde huis’ en ry
weg.”

Claassen, bestuurder van Ciao Baby Cucina, ’n re­staurant in die
Clearwater-winkelsentrum, het gesê ’n lawaai buite sy huis in Florida
het hom kort ná middernag wakker geruk.

’n Swart Volkswagen-mikrobus en ’n sedan met sowat tien polisielede
het Claassen se erf op die hoek van Westlaan en The Highway bestorm.

“Hulle het aan die deur gehamer en geëis dat ek oopmaak.”

Terwyl Claassen die sleutel gesoek het, het die mans vermoedelik
ongeduldig geraak en “dalk gedink iets word weggesteek”. Die volgende
oomblik het hulle die skuifdeur se slot gebreek en die deur oopgeruk.

Hulle wou toe weet hoekom hy so lank neem om die deur oop te maak, het
Claassen vertel.

“Ek het verduidelik hulle weet mos in watter omstandighede ons in die
land leef... Sou ’n redelike man nie ook versigtig gewees het om oop
te maak nie?”

“’n Groot, vet man in siviele klere”, glo ’n bevelvoerder van ’n
intelligensie-eenheid, het toe gesê hulle is besig om na “kriminele te
soek” en het Claassen se adres in inligting ontvang.

Hulle wou volgens Claassen nie sê aan watter polisiekantoor hulle
verbonde is of hul range of name gee nie.

’n Polisie-identiteitskaart of twee is wel voor hom rondgeswaai, maar
hy kon nie in die donker sien of dit eg is nie.

“Hulle wou selfs weet of iemand bedags by die huis is. Wat het dit met
hulle te doen?

“Eers het die ‘offisier’ grappies gemaak oor hoe ek nie moet worrie
dat hul na my vrou se ‘golo’ (Zoeloe vir ’n vrou se geslagsdele) sal
kyk nie.”
Claassen se vrou, Michelle (39), het die polisie se noodnommer, 10111,
uit die slaapkamer gebel.

Hul kinders, Sabrina (12) en Joshua (7), was in hul kamers.

“Die polisie het nou nog nie opgedaag nie,” het Claassen gesê.

Toe die mans daarop aandring om die huis deur te soek, het Claassen op
’n lasbrief aangebring. Dis toe hulle blykbaar skielik besef het hulle
is by die verkeerde huis.

Volgens Claassen het geeneen van hul voertuie nommerplate opgehad
nie.

Sy dogter moes gister traumaberading kry weens die voorval.

Kapt. Lydia Mtila-Dikolomela, woordvoerder van die Florida-
polisiekantoor, het gister bevestig ’n noodoproep is kort ná middernag
van mev. Claassen ontvang.

“Volgens aantekeninge is die klag omstreeks 00:08 van 10111 na die
Florida-polisiekantoor verwys. ’n Polisiebeampte het teen 00:09 daarop
gereageer.”

Die beampte wat volgens polisie-inligting in reaksie op die klag na
die huis is, kon teen gistermiddag laat nie opgespoor word nie.

Die Florida-polisie het te kenne gegee dat ander eenhede soms in hul
polisiëringsgebied werk.

Oorsprong:Nuus24
( http://www.feedblitz.com/t2.asp?/84250/14048670/3848043/http ://www.nuus24.com/Suid-Afrika/Nuus/Oooeee-dis-verkeerde-huis -20100609
)
Vorige onderwerp: Gesin vlug nadat hulle Malema gaan verkla
Volgende onderwerp: Slagoffer van huisrooftog dink man is dood toe hy ophou kla
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Apr 24 17:35:38 MGT 2024