Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » ‘Jy lê daar as ’n pa, maar kan nie jou kind beskerm’
‘Jy lê daar as ’n pa, maar kan nie jou kind beskerm’ [boodskap #119650] Do, 29 April 2010 21:22
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
‘Jy lê daar as ’n pa, maar kan nie jou kind beskerm’

2010-04-27 23:19
André Damons

’n Vyfjarige meisie het ná ’n huisrooftog in Northcliff, Johannesburg,
by die skool prentjies geteken van haar pa en ouma wat op die grond lê
met bloed wat by hul koppe uitkom.

“Hulle (die aanvallers) gee nie om oor die kinders en oumense nie.
Hulle is selfsugtig; hulle is diere,” het past. Johan van Wyk (48) van
die Solid Rock-kerk gister vertel.

Sy dogtertjie, Lindie, het langs haar ouma, me. Alida van Buuren (71),
gelê en huil terwyl drie mans Van Buuren en haar seun met ’n koevoet
en wielsleutel aangerand en geskop en geslaan het.

Van Wyk het gesê die aanvallers het aanhoudend gesê: “We are going to
kill you.”

Aan sy ma het hulle gesê: “We are going to rape you.”

Die aanval was verlede Woensdagaand, die dag voordat ’n eenjarige baba
en haar oppasser wreed in Robindale, ’n paar kilometer daarvandaan,
aangerand is.

Die aanvallers het die agterdeur van die huis oopgesluit met sleutels
wat hulle by die huiswerker afgevat het.

Van Wyk was in sy slaapkamer toe die mans sy ma en Lindie in haar
kamer oorval.

Hulle het haar gedwing om hom te roep om sy kamerdeur oop te sluit
waarna hulle sy ma ook in sy kamer ingeboender het en Lindie met ’n
koevoet ingepluk het.

Die aanvallers het hulle toe op die grond neergegooi en hulle
aanhoudend geskop en met die koevoet en wielsleutel aangerand.

Van Wyk het probeer om sy hand oor sy dogtertjie te hou om haar te
kalmeer.

Die booswigte het hul hande met elektriese kabels agter hul rûe
vasgebind.

“Hulle het gesê die ADT-wag het gesê ons het ’n klomp geld in die huis
en wou weet waar die dollars en wapens is. Ek het hulle gewys waar die
een kluis is,” het hy gesê.

Van Wyk-hulle is nie kliënte van ADT nie.

Van Buuren het haar been tydens nog ’n slanery oor Lindie probeer hou
om haar te probeer beskerm.

Een van die aanvallers het die huiswerker en haar twee kinders – ’n
tienjarige meisie en twee maande oue baba – ook in die kamer
ingebring.

Al drie die rowers is na ’n tweede kluis in die spaarkamer. Dit het
Van Wyk-hulle ’n kans gegee om te probeer alarm maak.

Hy het eers aan die huiswerker gesê om die deur toe te druk en die
noodknoppie te druk, maar sy was te geskok om te beweeg. Hy het toe
self opgespring en dit gedoen.

“As jy daar lê, voel jy magteloos,” het Van Wyk gesê.

“Jy lê daar as ’n pa en seun, maar jy kan nie jou kind en ma beskerm
nie. Jy kan nie eens jou arms om jou kind sit nie. Jy worrie nie oor
die geld en goud nie en wonder net of julle gaan lewe.”

Van Buuren het onder meer beserings aan die kop, arms en bene
opgedoen, terwyl haar seun kop- en rugbeserings het.

Studentekonst. Michael Kgatla, polisiewoordvoerder, het die voorval
bevestig.

Oorsprong:Beeld
( http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Jy-l%C3%AA-daar-as-n-p a-maar-kan-nie-jou-kind-beskerm-20100427
)
Vorige onderwerp: Etienne
Volgende onderwerp: Omstrede Skiet-die-Boer-lied ontsier Vryheidsdag
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 12:51:18 MGT 2024