Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » SêGoed van Mathews Phosa
SêGoed van Mathews Phosa [boodskap #117501] Vr, 30 Mei 2008 18:55 na volgende boodskap
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4795
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Mathews Phosa (1952— )

SêGoed van
Mathews Phosa:

“Dit bly vir my ironies en pynlik ongemaklik dat ek selfs in die
moeilikste dae in Afrikaans gedig het, en diepste, diepste pyn daarin
verwoord het.”

”Poësie is ’n manier om deur ideologiese versperrings te breek en
harte te bevry.”

“Ek skryf, in Antjie Krog se taal, sonder fênsie leestekens. Ek wil
soos, Van Wyk Louw, my siel sonder naakte skrome in alle eenvoud voor
julle oopmaak. Ek is nie ’n handboekdigter nie. My taal kom nie uit
woordeboeke of belese konferensies nie. My taal is Afrikaans, die taal
wat baie tale is, die taal wat plek het vir Opperman, en vir Phosa. Ek
het, in Fagan se woorde, ’n huis in Afrikaans.”

“Ons kan nooit genoeg doen vir versoening in hierdie land nie en ons
mag dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit is nodig dat ons
besef ons is een volk, al praat ons verskillende tale.”

“Afrikaans is my vrou, my minnares, my prostituut. Hierdie Afrika-taal
is ’n mooi ding wat ek wil omhels en vertroetel.”

“My aunt was die digter van die familie. Sy was ’n role model. Sy’t
niks neergeskryf nie, en ek is spyt ek het haar nooit op band gekry
nie. Sy was ’n natuurlike digter. By bruilofte en sulke funksies was
sy altyd daar. Deel van die kultuur.”

“Ek en baie van my mede-struggle-vennote sal toi-toi as Afrikaans
verneder óf benadeel word.”

Gebore en getoë

Nakedi Mathews Phosa is op 1 September 1952 in Mbombela, ’n township
buite Nelspruit in Mpumalanga, gebore as een van ses kinders. Sy ma-
hulle stuur hom as jong kind na Potgietersrus om sy oupa se “walking
stick” te word en ’n deeglike opvoeding in die plattelandse lewe te
kry. Sy pa, Paul, was ’n onderwyser wat daarop aangedring het dat daar
geen snobisme by sy kinders mag wees nie. Hy was ook deeltydse boer en
skrynwerker. Sy ma, Reshoketjoe, was ’n verpleegster. Die gesin was
getroue lede van die Lutherse Kerk en veral sy ma het ’n groot invloed
op sy politieke loopbaan gehad.

In 1966 slaag hy standerd ses aan die Tshaerane Primêre Skool in
Carlsruhe in die Potgietersrus-distrik. Hy voltooi sy skoolloopbaan in
Acornhoek naby Bosbokrand aan die Hoërskool Maripi. Hier is tagtig
persent van sy studies in Afrikaans en hy slaag sy Landbouwetenskap
met onderskeiding en met die hoogste punte in Suid-Afrika en Namibië.
Sy onderwyser, mnr Marais, speel ’n groot rol in die jong Mathews se
lewe, veral wat sy gevoel teenoor Afrikaans betref. As sestienjarige
skryf hy sy eerste gedig in sy moedertaal, Pedi, en word dit in die
skooljaarblad gepubliseer.

In 1970, toe hy in standerd nege is, neem Mathews die eerste keer aan
’n protesoptog deel. Die Afrikaanse skoolhoof het gereël dat die
skoolkoor twee maal moet optree – een maal voor die wit ouers en een
maal voor die swart ouers, sonder dat daar enige wit kinders in die
skool is. Die hele program misluk, aangesien ’n klomp lede van die
koor wegbly en op die betrokke aand met plakkate teen die program
betoog.

Verdere studie en werk

Na matriek gaan studeer Mathews B Proc aan die Universiteit van die
Noorde, waar hy in 1975 as prokureur kwalifiseer. Hy skryf in vir sy
LLB-graad en in 1977 slaag hy dit met ’n onderskeiding in Handelsreg.
Hy voltooi sy leerlingkontrak met welslae en in 1981 open hy sy eie
regspraktyk in Nelspruit (die eerste swart prokureursfirma in
Nelspruit), waar hy tot vandag nog gesetel is. In 1977 trou hy met
Pinky, ’n maatskaplike werkster.

In 1985 word Mathews geforseer om in ballingskap te gaan as gevolg van
moorddreigemente teen hom weens sy betrokkenheid by die ANC en MK. Hy
ontvang sy militêre opleiding in die destydse Oos-Duitsland. In 1986
keer hy terug na Suidelike Afrika as bevelvoerder van MK in Mosambiek,
waarvandaan operasies in die Oos-Transvaal beheer is. In Mosambiek kom
sy kennis van Afrikaans goed te pas deurdat hy Afrikaans aan
inligtings- en veiligheidsoffisiere van Frelimo moes leer. Hulle
gebruik handboeke wat by Van Schaik Boekwinkel in Pretoria gekoop is
en na Mosambiek gesmokkel is. Gedurende dié tyd het hy sy vrou, Pinky,
en hul oudste kind net drie weke gesien. Daarna is nog twee kinders
gebore. In 2005 was Pinky die een wat in die politiek gestaan het as
speaker van Mpumalanga se Wetgewer.

In 1990 word Mathews aangewys as ’n permanente lid van die ANC se
onderhandelingspanne tydens die Groote Schuur- en Pretoria-minuut,
sowel as die Kodesa-werkgroepe. Na die eerste demokratiese verkiesing
in 1994 in Suid-Afrika word hy aangewys as die premier van Mpumalanga,
’n posisie wat hy beklee tot April 1999 toe hy as premier vervang is.
Hy bly wel aan as ANC-LP. In Julie 1999 verlaat hy die Parlement vir
die private sektor. In Desember 2007 keer hy terug na die politieke
arena met sy aanstelling as tesourier-generaal van die ANC,

In 1994 word Mathews Phosa as Internasionale Man van die Jaar
genomineer deur Cambridge (UK) Biographical Studies en in 1995 ontvang
hy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Boston in Amerika.

Hierdie voormalige bokser en karateka skryf al gedigte vandat hy
sewentien is en sy gedigte verskyn in publikasies soos New Classic,
Staffrider, San Francisco Chronicle, Ophir en Standpunte. In 1996
verskyn sy eerste digbundel met die titel Deur die oog van ’n naald,
’n bundel waarin versoening een van die deurlopende temas is. Baie van
die gedigte is geskryf terwyl hy in sy ampsmotor op pad was – soms
sommer agterop sigaretdosies. Mathews raak skoon liries oor die
invloed wat Afrikaans op hom het. “Dit is die taal waarin ek geleer
het van die geskiedenis, die land en die berge en die riviere van die
wêreld.” Afrikaans is vir hom soos ’n tweede moedertaal.

In 1997 ontvang Mathews ’n oorkonde van die ATKV vir die merkwaardige
bydrae wat sy bundel gelewer het tot versoening in die nuwe Suid-
Afrika. In 2005 word hy deur die ATKV aangewys as Afrikoon. Hy word
ook in 1997 genooi om van sy poësie te gaan voorlees by ’n kultuurfees
in Nederland en Brussels. Hy word ook gevra om die Antwerpse
Boekebeurs in 1997 te open. Dit is die grootste boekemark in die Lae
Lande en in dié jaar was Suid-Afrika die hooftema. Hy word na Praag
genooi om van sy gedigte daar te gaan voorlees en is verstom oor die
feit dat daar Pole is wat Afrikaans verstaan.

Phosa senior vennoot van sy prokureursfirma in Nelspruit en beywer hy
hom al meer vir die kunste. Tydens die Ukkasie Kunstefees in Londen in
2001 ontvang hy ’n eerbewys vir sy Afrikaanse poësie en vanaf 2004 is
hy voorsitter van die Feesdireksie van die InnieBos Kunstefees wat
jaarliks in Nelspruit gehou word. In 2001 is sy bundelDeur die oog van
’n naald verwerk tot verhoogstuk wat by die KKNK op die planke gebring
is. Die poësie en opstelle in die bundel word vervleg met
gemoderniseerde Afrikaanse volksmusiek.

Na ’n termyn as visepresident van die Afrikaanse Handelsinstituut word
Phosa in 2005 as president aangewys. Hy is ook die president van die
Kamer van Handel en Nywerheid van Suid-Afrika (Kamsa). Hy word ook
aangestel as derde beskermheer van Beeld se Kinderfonds saam met Kobus
Wiese en Carike Keuzenkamp. Intussen skryf hy volstoom voort aan sy
gedigte – in Afrikaans – en hoop hy om ’n tweede bundel Afrikaanse
gedigte te publiseer. Hierdie verse is nie meer struggle-verse nie,
maar lewer kommentaar op ons nuwe samelewing.

In 2006 is Phosa se aanstelling as besoekende professor aan die
Universiteit van die Vrystaat vir drie jaar goedgekeur. Hy sal nou
betrokke wees by die opleiding van die UV-Bestuurskool se MBA-
studente.

In 2006 lewer Phosa ’n toespraak oor Afrikaans tydens die
bekendstelling van die voltooiingsfase van die WAT. In November 2007
is hy, saam met die premier van die Vrystaat, die hoofspreker tydens
die beraad wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
gereël het om te besin oor die toekoms van die Nasionale Afrikaanse
Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein.
Re: SêGoed van Mathews Phosa [boodskap #117502 is 'n antwoord op boodskap #117501] Sa, 31 Mei 2008 10:38 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Daniel Le Roux  is tans af-lyn  Daniel Le Roux
Boodskappe: 106
Geregistreer: Februarie 2007
Karma: 0
Senior Lid
Lekker ge-copy en ge-paste vanaf LitNet! As ek so copy en paste dan noem ek
ten minste die bron uit ordentlikheid en erkenning.

Jan van Perth.
Re: SêGoed van Mathews Phosa [boodskap #117503 is 'n antwoord op boodskap #117501] Ma, 02 Junie 2008 08:46 Na vorige boodskap
Riaan  is tans af-lyn  Riaan
Boodskappe: 1008
Geregistreer: Maart 2006
Karma: 0
Senior Lid
"Hessie" wrote in message
news:9229d3b8-a539-422a-a39d-a8e268f5d1cf@a1g2000hsb.googleg roups.com...
Mathews Phosa (1952-- )

SêGoed van
Mathews Phosa:

"Dit bly vir my ironies en pynlik ongemaklik dat ek selfs in die
moeilikste dae in Afrikaans gedig het, en diepste, diepste pyn daarin
verwoord het."

Ek wonder of dit vir hom net so groot ironie en pyn is om die tegnologie wat
die witman na SA gebring het, teen hom te gebruik het bv AK47
Vorige onderwerp: Uit Litnet - Xenophobia-oplossings a la OZ
Volgende onderwerp: Ons shithot weermag
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Nov 21 11:28:47 MGT 2024