Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Ballade van die bloeddorstige jagter " deur G.A. WATERMEYER
" Ballade van die bloeddorstige jagter " deur G.A. WATERMEYER [boodskap #92439] |
Tue, 27 April 2004 22:46 |
bouer
Boodskappe: 4795 Geregistreer: December 2003
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
G.A. Watermeyer
Ballade van die bloeddorstige jagter
Die geelkapêl se kronkels lê
drie sirkels om die maan.
Met watter woede sal die wind
teen middernag sy tentseil slaan?
Uit elke kloof en krans
hoor hy die klipdas skree,
die ou wildwrede roep
van lang verstarde wee.
Oor kimme van die ooste ruk
die werwelwind sy mane los.
Uit watter ribbes van die nag
kruip wonde teen die swarthaakbos?
Koor van verminkte diere:
Ons was die hoefslag teen die grond,
die vlerkslag teen die lug;
maar ál wat lenig was het jy
in kronkels van die pyn ontwrig.
Jagter:
Hy wat in weerlig loop het my
uit dreuning van Sy stem geblaas,
my mag gegee oor al wat hier
in vleie en die vlaktes graas.
Koor:
Ons kyk uit oë soos jy kyk
en asem uit dieselfde long
en deel die dydrif en die dors,
die angs waarmee die moeders jong.
Jagter:
Die soetvleis en die sagte vleis
van al wat op die aarde loop
en in die seë swem, sal ek
na wellus in my hutte hoop.
Kraai:
Wee as die skubbe van die haat
die weekvlies om die hart verdring;
laat elkeen wat hier donker lê
die sleepsel van sy lyding bring.
Wilde kanarie:
Ek kelk die sonlig in my keel
en rym die rondebessie ryp;
met kinderhand het hy, het hy
die fluite uit ons bors gegryp.
Steenbokkie:
Hy het my op die sesde dag
laat dartel uit Sy hand;
en sewe mane spartel ek
dié breekbeen oor die sand
Valk:
Die speerpunt van die wind was ek,
geel ster wat in die daglig skiet;
sy nyd het my getref en sê
laat bondel in die riet.
Elandbul:
My skouer en my skof rond bó
die trots van elke horingdier,
maar wie sal nou die kleiner trop
al windop na die kuile stuur?
Olifanttrop:
Ons wat die sterkstes is gaan stil
verby die koedoe en die kelkiewyn;
maar dreun die oerwoud oop en stort
die stamme in ons pyn.
Duif:
Hy het my swaar van Hom laat gaan
omdat my oë van Hom was,
maar watter boodskap spartel ek
hier áfkop aan die gras?
Koor:
Om wie se honger sterwe ons,
vir watter welp of swanger maat?
Dit is die tyging, dit die klag
dat hy ons wond en sê verlaat.
Kraai:
Een het ons aan die lig gegee
en aan die duisternis beloof,
maar elke klou wat slaan, moet snel
met die genade kloof .
Koor:
moet snel met die genade kloof,
die sening met die been verbreek;
maar hy het hom in marteldood
en massamoord op ons gewreek.
Kraai:
Jy skuil jou in die steiler trots
van dié wat weet en minder weet,
jy swyg, maar sal getuies hoor
van dié wat in die nanag vreet.
Luiperd:
Ek is die drinker van die bloed,
die ding wat donker loop,
maar ruk alleen vir eie dors
die polsing van die slagaar oop.
Krokodil:
Die stilte van die kuil is ek,
die stootgolf van die vloed,
maar weinig water weet hoe rooi
die borrel van die bloed.
Luislang:
Ek span die sirkel van die son
en anker met die halwe maan;
ek gryp, maar lê in vrede tot
die harslag en die huid vergaan.
Rooimeerkat:
Ek, die geringste van die kring
wat sonder ritsel gaan,
het nooit met ronde buik die tand
in tortelbors geslaan.
Kraai:
Die vleiwind en die vlaktewind
styg met die asem van die dood.
Waar skuil die asers van die blou,
die asers van die rondepoot?
Hiëna:
Ek grinnik teen die môregrou
en gryp wat ander laat;
uit gaping van sy gorrel knal
die gekkelag van haat.
Aasvoël:
Ek wentel met planeet en ster
en stort met elke dood,
maar stort die droë tak verby
en lê, gekruisig in sy lood.
Kraai:
Hy wat Sy horing bo die kimme stoot,
Sy vleuels met die wolke sprei
en in die donder hoef, het ons geleer
om in die vlakte rein te bly .
Koor:
om in die vlakte rein te bly
en helder teen die hang te leef,
maar wie sal hierdie graskol krop
waarom die trae brommers beef?
Duikerlam:
Reeds spalk my lippe van die dors
maar as ek aan my moeder stoot,
dan breek daar bitter teen my tong
die donker druppels van die dood.
Kraai:
Met hierdie snawel het ek self
Elía in die grot gevoed,
vereffen jy jou skuld, o mens,
met moordslag en met lammerbloed . ?
Koor:
Met moordslag en met lammerbloed,
ons hyg vergruisde longe uit
en roggel, roggel van die dors
hier teen die silwer stroomgeluid.
Kraai:
Toe ons op Grootbevel van Hom
in pare by die ark indraai,
was dit Sy wil dat hierdie mens
ons kwistig teen die grond sou maai?
Koor:
Was dit Sy wil, was dit Sy wens?
Ons daag jou wat die heerser was.
Die peulboom sidder in sy stam
en bitter buig die gras.
Maanhaar:
Ek is die tand wat skeur.
Mamba:
En ek die tand wat dood.
Laat ons die klopping van sy hart
aan hierdie sterre bloot.
Kraai:
Jy het die sening van die wet
tot staalklou in jou hand verdraai;
maar wee wanneer die dooie drif
hom snouend uit sy kronkels swaai.
Jagter:
Bo die trompette van die wind
hoor ek die vlakte kreun,
en teen my skene styg en skuim
dit wat nie uit die wolke reën –
Koor:
Dit wat nie uit die wolke reën
maar van jou hande drup,
wat jy gebreek het uit ons bors,
gestort het oor ons lip.
Kraai:
Jy staan gehoring in die haat,
omvleuel van die dood.
Stort neer op hom! Stort neer en lê
die halsbeen en die heupbeen bloot!
Die buffelhoring bo die ster
breek teen die Weste bloed,
die buffels van die vlakte bulk
en snuif die sand met klammer snoet.
Om rondebeen en ribbebeen
lê kronkels van die mamba swart;
klou aan die skedel kras die kraai:
Hoof om 'n hoof! Hart om 'n hart!
|
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Sun Dec 22 08:13:12 UTC 2024
|