Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Dan Roodt - Die Afrikaner het geen roeping in Afrika nie
Dan Roodt - Die Afrikaner het geen roeping in Afrika nie [boodskap #67537] |
Di, 15 Oktober 2002 18:36 |
Oom Gert
Boodskappe: 38 Geregistreer: September 2002
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
EK SAL GRAAG ALMAL SE OPINIE HIEROOR WIL HOOR. DIE MAN IS EEN VAN DIE MIN
AFRIKANERS WAT UITSTAAN TANS MET MURG IN SY PYPE. MAAR NET MY OPINIE. DIT
KAN GEKRY WORD BY http://www.praag.org
Die Afrikaner het geen roeping in Afrika nie
Dan Roodt
Voordrag gelewer voor die Bond van Oud-Jeugbonders, Pretoria, op 12 Oktober
2002
Een van die oudste en mees Calvinistiese idees van die Afrikaner is die
gedagte dat hy oor 'n roeping in Afrika beskik. Myns insiens is dit
onderliggend aan sy huidige identiteitskrisis en skynbare onmag om vorentoe
te beweeg.
Tradisioneel kan ons hierdie sogenaamde roeping van die Afrikaner in Afrika
sê opsom:
In terme van streng Calvinistiese prinsipes, beskik God oor alles in die
wêreld. Daarom het hy spesifiek die groep Europeërs wat hulself later
Afrikaners sou noem na Suid-Afrika gestuur om 'n volk te word. In terme
hiervan is die volkskap van die Afrikaner dus iets heiligs en
onveranderliks. Die groep mense wat die volk uitmaak, is as't ware geroepe
om hul kollektiewe identiteit in stand te hou en uit te bou. Ná die
oorwinning te Bloedrivier is die Afrikaner ook gebind in terme van die
Gelofte om God se gebooie te onderhou, en jaarliks dié datum te vier.
Daar is baie formulerings van hierdie idee en daagliks kom 'n mens dit nog
onder ons mense teë. Indien ek dus vir D.F. Malan daaroor aanhaal, is dit
nie omdat syne besonder tipies of beter as enige ander definisie is nie,
maar bloot omdat dit gewig dra as komende van een van die hooffigure uit die
Afrikaner se politieke geskiedenis onder wie die verkiesingsoorwinning in
1948 sy belangrikste toetrede tot die magspel in Suider-Afrika gesimboliseer
het. W.A. de Klerk het daardie verkiesingsoorwinning beskryf as 'n
Afrikanerrevolusie en die meeste van u wat vandag hier sit, sou dit
waarskynlik beaam. Hier volg die aanhaling uit D.F. Malan, uit sy beroemde
boek Afrikaner-volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen. Hy sê:
"Glo in jou God! Glo in jou volk! Glo in jouself!... vir die
Voortrekkers... was die Groot Trek veel meer as 'n blote gebiedsverowering.
Vir hul immers was dit ook 'n geloofsdaad, en die aanvaarding van 'n
Godgegewe taak."
Hy verwys dan na die Gelofte en meen dat die "Suid-Afrikaanse volk" met die
viering van Geloftedag "vir alle toekomstige geslagte te kenne [wil] geee
dat hy as 'n Christelike volk geken wil wees, en dat hy hom tot daardie
bepaalde lewensrigting verbind het."
En dan volg die woorde wat vir ons van belang is:
"Dis met ander woorde 'n volk met 'n roeping. Hy mag en wil dieselfde ook
aan geen ander volk ontsê nie, maar in sy eie geval wil hy dit openlik erken
en die verpligtinge wat daaruit voortspruit, blymoedig aanvaar."
Verder herhaal hy die gedagte: "Agter ons Suid-Afrikaanse volksbestaan en
geskiedenis sit daar 'n doel. Daarvan moet ons as volk bewus wees, en dit
na die beste van ons vermoë probeer uitlewe."
Hoewel Malan hier om ooglopende politieke redes die term "Suid-Afrikaanse
volk" gebruik omdat hy sekerlik nie die Engelssprekendes daarvan kon
uitsluit nie, weet ons egter dat hy eintlik besig was om van die
Afrikanervolk te praat.
Nou wil ek sommer met die deur in die huis val, en vandag vir u sê dat ek
geheel en al van D.F. Malan verskil. Daar is geen godgegewe plan vir die
Afrikaner nie. Hy het nie 'n roeping in Afrika nie, en as 'n groot klomp
Afrikaners vandag Australië en Nieu-Seeland en Kanada toe emigreer waar
hulle kinders sommer na die eerste paar jaar volkome verengels, dan
demonstreer hulle daarmee wat ek sou noem die fiksionele aard van hierdie
idee.
Die roeping van die Afrikaner is 'n fiksie. Niks meer en niks minder nie.
Miskien het dit op 'n stadium 'n doel gedien, en as ek by Bloedrivier was
sou ek ook graag wou glo dat God aan my kant was, maar ek is bevrees dit is
vandag so uitgedien soos die ossewa of die voorlaaier.
Nie net doen dit vandag oudmodies aan nie, maar dit is ook 'n belangrike
bron van die Afrikaner se huidige verlamming, sy onvermoë om verby sy
verstrengeldheid met die res van die Suid-Afrikaanse bevolking te dink, sy
skuldkompleks, sy gevoel van verantwoordelikheid vir ander wat sy eie
heropbloei en vooruitgang onmoontlik maak.
Apartheid was een vorm van roepingsbewustheid. Wat die buiteland ook al oor
apartheid mag sê of dink, of dit nou 'n misdaad teen die mensdom was of die
eerste fase van regstellende aksie, weet ons dat dit 'n stelsel van
voogdyskap oor swartmense was wat terug te voer is na beide die Britse
koloniale beleid en die Voortrekkernaturellebeleid van die negentiende eeu.
Gedurende die hele twintigste eeu is daar in dosyne boeke en waarskynlik
honderde proefskrifte en duisende koerant- en tydskrifartikels 'n debat in
Afrikaans en in Engels gevoer oor die politieke regte wat swartmense toekom.
Pleks van eenvoudig aan hulle die regte toe te staan wat hulle vereis het,
met dienooreenkomstige beveiliging van Afrikanerbelange, is die koloniale
beginsel van voogdyskap (Eng. "trusteeship") aanvaar. Verwoerd, wat die
meeste gedoen het om institusionele beslag aan apartheid of soos hy dit
genoem het, "afsonderlike ontwikkeling" te gee, was ook die persoon wat die
beginsel van voogdyskap die ernstigste opgeneem het. Niemand het meer vir
swart onderwys en opleiding gedoen as juis hy nie. Dit alles is
geboekstaaf.
Anders as koloniale Europeërs, wie se voogdyskap in ander Afrikalande
dikwels beperk was tot 'n paar sendingstasies terwyl hulle die res van die
tyd geheel en al in eiebelang opgetree het, het die Afrikaner voogdyskap tot
op die letter toegepas en 'n verantwoordelikheid teenoor die lot van swart
Afrikane aanvaar wat alle perke van eiebelang en redelikheid oorskry het.
Selfs die mees filantropiese Skandinawiese land het nog nooit meer as 3% van
sy Bruto Nasionale Produk aan ontwikkelingshulp in die Derde Wêreld bestee
nie. Die grote Amerika spandeer al vir baie jare heelwat minder as 1% van
sy BNP aan ontwikkelingshulp. Watter persentasie van Afrikaner-BNP is onder
apartheid aan die ontwikkeling van die tuislande en swart onderwys bestee?
Waarskynlik heelwat meer as 3%.
Indien Afrikaners hoegenaamd enige erkenning ontvang het vir die kolossale
rol wat hulle in die pas afgelope eeu gespeel het in die opheffing van
Suid-Afrika se swart bevolking, en nog steeds speel, sou dit miskien nog sin
gemaak het. Ons sou miskien beloon kon gewees het met allerlei
internasionale pryse, 'n reputasie kon geniet het soos dié van Moeder
Teresa, as 'n volk wat hulself selfloos opgeoffer het vir die welvaart van
ander. Maar helaas, u weet en ek weet dat geen ander volk op aarde vir so
lank internasionaal verguis is vir die koloniale voogdyskap wat hulle so
lank en so verkeerdelik na my mening oor swartmense aanvaar het nie.
In weerwil van 'n algemene opleidingsvlak wat vergelyk met dié van die mees
gevorderde Westerse lande, is ons vandag die armste mense van Westerse
afkoms ter wêreld, met waarskynlik 'n inkomste per kop wat kwalik met dié
van Portugal vergelyk. Dit alleen is getuienis van die groot opofferings
wat Afrikaners in die verlede gemaak het om die algemene welvaart van
Suid-Afrika te verhoog, altyd maar altyd ten koste van hulself.
In daardie sin was 1994 vir ons almal 'n geweldige bevryding. Mag
Afrikaners nooit weer oor enige ander volk of volkere heers nie, en mag ons
vergeet van die fundamentalistiese Protestantse gedagte dat ons oor 'n
roeping beskik. Vandag word Suid-Afrika hoofsaaklik deur swartmense regeer,
en dit is ons beurt om oorheers te word. N.P. van Wyk Louw was sekerlik een
van ons mees profetiese digters, en sy gedig "Julle is die oorheersers" uit
die reeks "Gedagtes, liedere en gebede van 'n soldaat" is vandag vir ons
geldiger as ooit:
"Júlle is die oorheersers
en júlle die vertrappers
van ons wat sterk is,
maar magteloos verneder;
julle maal ons soos koring,
julle eet ons soos brood;
tog haat ons julle nie:
omdat julle mens is
en die dood ook deelagtig,
is julle ons broers;
maar julle is siek aan die lasterlike hoogmoed.
Daarom moet julle
tot needrigheid genees word,
gebreek word deur ons
in ons magtige opstand
tot eenvoudige vreugdes,
tot die heilige lye,
tot 'n nuwe onmiddellikheid
van die heldere aarde;
maar as julle dood
en 'n vrot plek in ons volk is,
|
|
|
Dan Roodt - Die Afrikaner het geen roeping in Afrika nie - VOLLEDIG [boodskap #67540 is 'n antwoord op boodskap #67537] |
Di, 15 Oktober 2002 18:47 |
Oom Gert
Boodskappe: 38 Geregistreer: September 2002
Karma: 0
|
Volle Lid |
|
|
Ek vra plegtig omverskoning vir die halwe pos. Hiermee dan die volledige
een. Ek is regtig jammer. Iets het verkeerd gegaan met die "copy & paste"
aksie.
----------------------------------------------
Die Afrikaner het geen roeping in Afrika nie
Dan Roodt
Voordrag gelewer voor die Bond van Oud-Jeugbonders, Pretoria, op 12 Oktober
2002
Een van die oudste en mees Calvinistiese idees van die Afrikaner is die
gedagte dat hy oor 'n roeping in Afrika beskik. Myns insiens is dit
onderliggend aan sy huidige identiteitskrisis en skynbare onmag om vorentoe
te beweeg.
Tradisioneel kan ons hierdie sogenaamde roeping van die Afrikaner in Afrika
sê opsom:
In terme van streng Calvinistiese prinsipes, beskik God oor alles in die
wêreld. Daarom het hy spesifiek die groep Europeërs wat hulself later
Afrikaners sou noem na Suid-Afrika gestuur om 'n volk te word. In terme
hiervan is die volkskap van die Afrikaner dus iets heiligs en
onveranderliks. Die groep mense wat die volk uitmaak, is as't ware geroepe
om hul kollektiewe identiteit in stand te hou en uit te bou. Ná die
oorwinning te Bloedrivier is die Afrikaner ook gebind in terme van die
Gelofte om God se gebooie te onderhou, en jaarliks dié datum te vier.
Daar is baie formulerings van hierdie idee en daagliks kom 'n mens dit nog
onder ons mense teë. Indien ek dus vir D.F. Malan daaroor aanhaal, is dit
nie omdat syne besonder tipies of beter as enige ander definisie is nie,
maar bloot omdat dit gewig dra as komende van een van die hooffigure uit die
Afrikaner se politieke geskiedenis onder wie die verkiesingsoorwinning in
1948 sy belangrikste toetrede tot die magspel in Suider-Afrika gesimboliseer
het. W.A. de Klerk het daardie verkiesingsoorwinning beskryf as 'n
Afrikanerrevolusie en die meeste van u wat vandag hier sit, sou dit
waarskynlik beaam. Hier volg die aanhaling uit D.F. Malan, uit sy beroemde
boek Afrikaner-volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen. Hy sê:
"Glo in jou God! Glo in jou volk! Glo in jouself!... vir die
Voortrekkers... was die Groot Trek veel meer as 'n blote gebiedsverowering.
Vir hul immers was dit ook 'n geloofsdaad, en die aanvaarding van 'n
Godgegewe taak."
Hy verwys dan na die Gelofte en meen dat die "Suid-Afrikaanse volk" met die
viering van Geloftedag "vir alle toekomstige geslagte te kenne [wil] geee
dat hy as 'n Christelike volk geken wil wees, en dat hy hom tot daardie
bepaalde lewensrigting verbind het."
En dan volg die woorde wat vir ons van belang is:
"Dis met ander woorde 'n volk met 'n roeping. Hy mag en wil dieselfde ook
aan geen ander volk ontsê nie, maar in sy eie geval wil hy dit openlik erken
en die verpligtinge wat daaruit voortspruit, blymoedig aanvaar."
Verder herhaal hy die gedagte: "Agter ons Suid-Afrikaanse volksbestaan en
geskiedenis sit daar 'n doel. Daarvan moet ons as volk bewus wees, en dit
na die beste van ons vermoë probeer uitlewe."
Hoewel Malan hier om ooglopende politieke redes die term "Suid-Afrikaanse
volk" gebruik omdat hy sekerlik nie die Engelssprekendes daarvan kon
uitsluit nie, weet ons egter dat hy eintlik besig was om van die
Afrikanervolk te praat.
Nou wil ek sommer met die deur in die huis val, en vandag vir u sê dat ek
geheel en al van D.F. Malan verskil. Daar is geen godgegewe plan vir die
Afrikaner nie. Hy het nie 'n roeping in Afrika nie, en as 'n groot klomp
Afrikaners vandag Australië en Nieu-Seeland en Kanada toe emigreer waar
hulle kinders sommer na die eerste paar jaar volkome verengels, dan
demonstreer hulle daarmee wat ek sou noem die fiksionele aard van hierdie
idee.
Die roeping van die Afrikaner is 'n fiksie. Niks meer en niks minder nie.
Miskien het dit op 'n stadium 'n doel gedien, en as ek by Bloedrivier was
sou ek ook graag wou glo dat God aan my kant was, maar ek is bevrees dit is
vandag so uitgedien soos die ossewa of die voorlaaier.
Nie net doen dit vandag oudmodies aan nie, maar dit is ook 'n belangrike
bron van die Afrikaner se huidige verlamming, sy onvermoë om verby sy
verstrengeldheid met die res van die Suid-Afrikaanse bevolking te dink, sy
skuldkompleks, sy gevoel van verantwoordelikheid vir ander wat sy eie
heropbloei en vooruitgang onmoontlik maak.
Apartheid was een vorm van roepingsbewustheid. Wat die buiteland ook al oor
apartheid mag sê of dink, of dit nou 'n misdaad teen die mensdom was of die
eerste fase van regstellende aksie, weet ons dat dit 'n stelsel van
voogdyskap oor swartmense was wat terug te voer is na beide die Britse
koloniale beleid en die Voortrekkernaturellebeleid van die negentiende eeu.
Gedurende die hele twintigste eeu is daar in dosyne boeke en waarskynlik
honderde proefskrifte en duisende koerant- en tydskrifartikels 'n debat in
Afrikaans en in Engels gevoer oor die politieke regte wat swartmense toekom.
Pleks van eenvoudig aan hulle die regte toe te staan wat hulle vereis het,
met dienooreenkomstige beveiliging van Afrikanerbelange, is die koloniale
beginsel van voogdyskap (Eng. "trusteeship") aanvaar. Verwoerd, wat die
meeste gedoen het om institusionele beslag aan apartheid of soos hy dit
genoem het, "afsonderlike ontwikkeling" te gee, was ook die persoon wat die
beginsel van voogdyskap die ernstigste opgeneem het. Niemand het meer vir
swart onderwys en opleiding gedoen as juis hy nie. Dit alles is
geboekstaaf.
Anders as koloniale Europeërs, wie se voogdyskap in ander Afrikalande
dikwels beperk was tot 'n paar sendingstasies terwyl hulle die res van die
tyd geheel en al in eiebelang opgetree het, het die Afrikaner voogdyskap tot
op die letter toegepas en 'n verantwoordelikheid teenoor die lot van swart
Afrikane aanvaar wat alle perke van eiebelang en redelikheid oorskry het.
Selfs die mees filantropiese Skandinawiese land het nog nooit meer as 3% van
sy Bruto Nasionale Produk aan ontwikkelingshulp in die Derde Wêreld bestee
nie. Die grote Amerika spandeer al vir baie jare heelwat minder as 1% van
sy BNP aan ontwikkelingshulp. Watter persentasie van Afrikaner-BNP is onder
apartheid aan die ontwikkeling van die tuislande en swart onderwys bestee?
Waarskynlik heelwat meer as 3%.
Indien Afrikaners hoegenaamd enige erkenning ontvang het vir die kolossale
rol wat hulle in die pas afgelope eeu gespeel het in die opheffing van
Suid-Afrika se swart bevolking, en nog steeds speel, sou dit miskien nog sin
gemaak het. Ons sou miskien beloon kon gewees het met allerlei
internasionale pryse, 'n reputasie kon geniet het soos dié van Moeder
Teresa, as 'n volk wat hulself selfloos opgeoffer het vir die welvaart van
ander. Maar helaas, u weet en ek weet dat geen ander volk op aarde vir so
lank internasionaal verguis is vir die koloniale voogdyskap wat hulle so
lank en so verkeerdelik na my mening oor swartmense aanvaar het nie.
In weerwil van 'n algemene opleidingsvlak wat vergelyk met dié van die mees
gevorderde Westerse lande, is ons vandag die armste mense van Westerse
afkoms ter wêreld, met waarskynlik 'n inkomste per kop wat kwalik met dié
van Portugal vergelyk. Dit alleen is getuienis van die groot opofferings
wat Afrikaners in die verlede gemaak het om die algemene welvaart van
Suid-Afrika te verhoog, altyd maar altyd ten koste van hulself.
In daardie sin was 1994 vir ons almal 'n geweldige bevryding. Mag
Afrikaners nooit weer oor enige ander volk of volkere heers nie, en mag ons
vergeet van die fundamentalistiese Protestantse gedagte dat ons oor 'n
roeping beskik. Vandag word Suid-Afrika hoofsaaklik deur swartmense regeer,
en dit is ons beurt om oorheers te word. N.P. van Wyk Louw was sekerlik een
van ons mees profetiese digters, en sy gedig "Julle is die oorheersers" uit
die reeks "Gedagtes, liedere en gebede van 'n soldaat" is vandag vir ons
geldiger as ooit:
"Júlle is die oorheersers
en júlle die vertrappers
van ons wat sterk is,
maar magteloos verneder;
julle maal ons soos koring,
julle eet ons soos brood;
tog haat ons julle nie:
omdat julle mens is
en die dood ook deelagtig,
is julle ons broers;
maar julle is siek aan die lasterlike hoogmoed.
Daarom moet julle
tot needrigheid genees word,
gebreek word deur ons
in ons magtige opstand
tot eenvoudige vreugdes,
tot die heilige lye,
tot 'n nuwe onmiddellikheid
van die heldere aarde;
maar as julle dood
en 'n vrot plek in ons volk is,
dan sal ons 'n mes vat
en vinnig, genadiglik
sny deur spiere
en vleis tot genesing.
As mens daaraan dink dat hierdie gedig in Oktober 1935 geskryf is, dan kan
mens dit amper nie glo nie, so tekenend van die Afrikaner se huidige
situasie is dit. Die frase "lasterlike hoogmoed" is amper nie sterk genoeg
om die reeks nydighede, beledigings, lasterlike aantygings en gewone
leedvermaak te beskryf wat die Afrikaner die afgelope aantal jare, en veral
sedert 1994 te beurt geval het nie. Nou pas het 'n roman deur die skrywer
Zakes Mda verskyn met die titel The Madonna of Excelsior waarin daar met die
Afrikaner in sy magteloosheid gespot word, die soveelste ou skinderstorie
oor die Ontugwet dertig jaar na die tyd opgerakel word, en ons met 'n soort
rassehaat wat aan Hitler se anti-Semitisme herinner in al ons agterlikheid
uitgebeeld word.
Maar hoewel die Afrikaner oplaas in 1994 bevry is van sy koloniale
voogdyskap, het veral die politiek korrekte Afrikaner 'n nuwe meulsteun om
sy nek gebind. Dié heet naamlik "uitreik na die armes, opheffing,
mededeelsaamheid, Suid-Afrikaanse nasiebou, oordrag van kundigheid en
vaardighede," en dergelike meer. Was daar al ooit 'n program van
kennisoordrag aan Afrikaners? Is ons deur die Britte gehelp? Het die Raad
van Anglo American ooit besluit om regstellende aksie toe te pas en darem 'n
paar Afrikaners in sy midde op te neem? Was daar in die Dertigerjare toe
Afrikaners op hul armste was vir ons regstellende aksie in Engelse besighede
wat toe 92% van die landsekonomie beheer het?
Natuurlik is dit almal retoriese vrae. Maar om terug te keer na my tema van
roepingsbewustheid, onderliggend aan die nuwe aandrang op oordrag van kennis
en vaardighede, uitreik na ander, en dergelike meer, is 'n nuwe vorm van
roeping en voogdyskap. Hoe kan ons dit omskryf? Voorheen was dit die
roeping van die meester, om goed vir sy onderdane en ondergeskiktes te sorg,
maar nou is dit die roeping van die slaaf, om sy nuwe meesters te dien. Die
spel bly dieselfde, net die rolle is nou omgekeer.
Indien die vorige voogdyskap vir ons minder goed uitgewerk het, gaan die
huidige een rampspoedig wees. Nie net gaan ons in die proses verarm en
kundigheid aan die res van Suid-Afrika afstaan nie, maar indien die land as
geheel nie suksesvol is nie, gaan ons 'n tweede keer die blaam daarvoor moet
dra.
Die huidige Suid-Afrika is vir die Afrikaner 'n Catch-22. Slaag dit,
bewerkstellig hy eintlik sy eie ondergang, want hy gaan al hoe verder
ondertoe sak op die ranglys; slaag dit nie, gaan hy die sondebok wees. En
deur die geskiedenis weet ons wat met minderhede gebeur waarvan daar
sondebokke gemaak word.
Hoe kom ons hieruit? Nou sal daar miskien onmiddellik stemme opgaan wat sê
ons moet 'n volkstaat kry, of dan gewoon emigreer soos soveel individuele
Afrikaners reeds doen. Maar voordat ons enigiets doen, moet ons myns
insiens anders oor ons situasie begin dink. Ons moet alternatiewe politieke
sienings van onsself ontwikkel. Ons moet onsself van nuuts af aan
definieer. Dit waarvan Louw hierbo praat, "om met 'n mes vinnig, genadiglik
te sny deur spiere en vleis tot genesing" om van die vrot plek in jou volk
ontslae te raak, is essensieel indien ons hoegenaamd wil vooruitkom.
Natuurlik kan mens die digter se beeld op allerlei maniere interpreteer.
Maar vir my is die allerbelangrikste dat ons begin om in Afrikaans politiek
en godsdiens te skei.
Nou onlangs is daar weer 'n Afrikanerparty gestig, onder die naam "Nasionale
Aksie", let wel nie Nasionale Party nie, want dié het mos so te sê oorgeloop
na die Afrika-Nasionale Party, die ANC, maar "Nasionale Aksie". Synde van
nature nuuskierig, het ek vir my vriend, mnr. Cassie Aucamp, die beginsels
van die nuwe Nasionale Party, ekskuus, nuwe Nasionale Aksieparty, aangevra.
En jou wrintiewaar, in die aanhef staan daar drie grondbeginsels waarvan
twee 'n herformulering van koloniale voogdyskap bevat. In die eerste
grondbeginsel, stel Nasionale Aksie "Suid-Afrika eerste", J.B.M. Hertzog se
ou slagspreuk, en erken die party "Suid-Afrika as ons enigste vaderland en
is daartoe verbind (sic) om saam met ander Suid-Afrikaners 'n beslissende
rol te speel om 'n beter Suid-Afrika vir almal daar te stel." Hiermee sê
Nasionale Aksie dus dat hy mede-verantwoordelik wil wees vir die materiële
welvaart van alle Suid-Afrikaners, iets waaroor hy en die res van die
Afrikaners hoegenaamd geen beheer het nie. Asof dit nie genoeg is nie,
belowe Nasionale Aksie in sy tweede grondbeginsel dat hy sal "veg vir die
kultuur- en taalregte van elke groep in Suid-Afrika, en spesifiek vir die
regte van Afrikaans en die Afrikaner."
Weer eens kan ek my nie herinner dat daar in die 350 jaar van opgetekende
geskiedenis van Suid-Afrika, d.i. sedert Jan van Riebeeck sy Dagjoernaal
begin het, al 'n geval was waar enigeen vir die kultuur- en taalregte van
Afrikaners geveg het nie, behalwe Afrikaners self. Tans is dit moeilik
genoeg om net 'n handjievol Afrikaners te motiveer om vir hul eie taal en
kultuur op te kom, wat nog te sê vir die magdom tale en kulture van
Suid-Afrika. Hoe gaan 'n mens hierdie barmhartige Samaritaanhouding uit die
Afrikaner uitkry? 'n Mens sou daaraan kon gedink om dit uit hulle te slaan,
maar ongelukkig is lyfstraf verbode in die nuwe Suid-Afrika.
Die heel ergste van die NA se grondbeginsels is egter die derde en laaste.
Dit heet "Die NA se Christelike fondament. Die NA onderwerp hom aan die
oppergesag van God, erken die Bybel as norm en sal sy optrede daarvolgens
rig. Die NA is verbind tot geloofsvryheid."
Hier is ons weer terug in die Middeleeue, by die teokrasie. Ons moet ons
politiek volgens Bybelse norme bedryf, en nie volgens sekulêre norme nie.
Soos altyd in die verlede, bly die Afrikaner in gebreke om godsdiens en
politiek te skei, die groot les van die Europese Verligting.
Nou mag daar mense wees wat vra, maar indien ons vergeet van ons Christelike
roeping in Suid-Afrika en dergelike mooi gedagtes, wat bly dan oor?
Waarvolgens behoort die Afrikaner sy politiek te rig? Myns insiens is dit
eenvoudig. Kardinaal Richelieu, wat 'n Katoliek was, het gepraat van raison
d'état, waarmee hy eintlik die eiebelang van Frankryk bedoel het. Solank
dit in die Franse volk se belang was, sou hy in 'n godsdiensoorlog teen 'n
ander Katolieke land betrokke raak saam met Protestante, sou hy steel, lieg
en bedrieg, solank dit die Franse saak bevorder het.
Tree op in eie belang, sou les nommer een wees. Dit bring my natuurlik
reëlreg in stryd met die Afrikanerbond, met die redakteurs van die Nasionale
Perskoerante, en wie weet wie almal. As mens egter nie in jou eie belang
optree nie, is jy besig om iets weg te gee, of dit nou kapitaal, kundigheid
of arbeid is. Machiavelli het in sy boek "Die Prins" baie wyse woorde gehad
oor Prinse wat guns probeer wen met vrygewigheid. In die eerste instansie
het hy gekonstateer dat 'n Prins óf sy eie geld en dié van sy onderdane
bestee, óf dié van ander. Sy mening is dat, in die geval van sy of sy
onderdane se geld, die prins baie spaarsamig moet wees, maar indien dit gaan
om ander se geld, hy geen geleentheid om vrygewigheid te betoon, moet laat
verbygaan nie.
Overgezet synde, indien dit gaan om Afrikanerkapitaal of -kundigheid,
behoort ons uiters spaarsamig, selfs vrekkig te wees. Indien ons egter ooit
in die onwaarskynlike situasie beland waar ons die belastingbydraes van
ander groepe in Suid-Afrika of sê maar kapitaal van die Wêreldbank, IMF of
oorsese lande kan bestee, sou dit gepas wees om met groot vertoon van
vrygewigheid en welwillendheid hêl fondse aan te wend.
Die rede vir hierdie strategie, is volgens Machiavelli die volgende, en ek
haal aan:
"Daar is niks wat so gou opraak soos vrygewigheid nie, want terwyl jy dit
beoefen verloor jy die mag om dit te doen, en so word jy óf arm of verag, óf
andersins, deur armoede te vermy, word jy gierig en gehaat. En 'n prins
moet hom daarvan weerhou, bo alles, om verag en gehaat te raak; en
vrygewigheid lei jou na albei. Daarom is dit wyser om 'n reputasie vir
suinigheid te hê wat vir jou verwyt sonder haat bring, as om genoop te word
deur die strewe na 'n reputasie vir vrygewigheid om 'n naam vir gierigheid
te verwerf wat verwyt met haat veroorsaak."
Hier skryf 'n Italianer in 1513 iets wat Afrikanerleiers blykbaar nog nooit
gelees het nie. Nie net het die NP voortdurend onder apartheid gepoog om 'n
goeie reputasie te koop met vrygewigheid nie, maar dié party het ook die
mees vrygewige ding in die geskiedenis gedoen deur eenvoudig die mag op 'n
skinkbord prys te gee. Wat is vandag die resultaat van hierdie selflose, en
hoef 'n mens nog by te voeg, Christelike daad? Die Afrikaner word gehaat en
verag soos nog nooit tevore nie.
Vergelyk die houding wat die huidige Suid-Afrkaanse regering tans inneem
teenoor die Westerse lande. Presies soos wat Machiavelli sê, word hulle
beskou as "suinig" en daarom verwyt. Maar nog nooit sou ons regering of
selfs die hele swart Afrika hul haat of veragting teenoor die Weste
uitspreek nie.
Rasionele eiebelang is die grondslag van die liberalisme, en by uitbreiding
van liberale demokrasie. Indien die Afrikaner kan leer om dit op homself te
betrek, kan ons net vorder in ons politieke kultuur.
Dit impliseer 'n volslae aflegging van die gedagte van 'n roeping, om goed
te doen of vrygewig te wees teenoor ander. Die houding van Afrikaners
behoort te wees dat ons in die eerste plek onsself, ons eie mense, ons eie
taal en kultuur, ons eie ekonomiese vermoëns en politieke inspraak gaan
bevorder voor dié van enigiemand anders. Indien daar hoegenaamd hulp of
opheffing van ander sou plaasvind, moet dit teen 'n prys wees. Werk eers
uit wat die daaglikse tarief sou wees om Europeërs of Amerikaners uit te
vlieg om dieselfde bystand te kom verleen, hul verblyf in luuksehotelle te
betaal, alvorens enige Afrikaner 'n vinger lig om enigiets te doen wat nie
in sy direkte belang en dié van sy volksgenote is nie.
Veroorsaak die gebrek aan Calvinistiese predestinasie wat so 'n moderne,
liberale houding impliseer 'n filosofiese probleem? As ek iemand soos D.F.
Malan reg lees, dan val sy begrip van die Afrikanervolk plat sodra mens die
godsdienstige element daaruit haal. Maar dit hoef nie so te wees nie. Daar
is ander maniere om aan die Afrikanervolk te dink, behalwe as 'n entiteit
wat deur God gewil is.
Die Europese nasionalisme het tydens die Verligting ten minste twee vername
konsepsies van 'n volk gegee, waarvan geeneen verwant is aan goddelike
ingryping nie. Die eerste was dié van Herder en die Duitse nasionalisme wat
die taal en diversiteit voorop gestel het. Die tweede was die Franse begrip
van die "nation" wat berus het op 'n demokratiese assosiasie van individue
wat elke dag as't ware deelneem aan 'n plebisiet om hul nasie te laat
voortduur, soos wat Renan dit gestel het in sy teks "Qu'est-ce qu'une
nation?" (Wat is 'n nasie?)
Volgens Herder in sy opstel Abhandlung über den Ursprung der Sprache is taal
nie deur God geskep nie, maar deur die mens wat skeppend gereageer het op
die veelheid van dinge wat hy in die natuur teëgekom het. Taal het sy
oorsprong in ons sintuiglike waarnemings, en van daar af ontwikkel dit in 'n
lewende amalgaam van dinge en gebeure wat gekombineer word met die emosies
wat hulle in die mens ontketen. Taal was vir Herder die draer van die
volksgees, die sogenaamde Volksgeist. Montesquieu het reeds voor Herder
hierdie gedagte uitgespreek in sy L'esprit des lois toe hy gepraat het van
die "esprit général", die algemene gees van 'n nasie. Volgens Montesquie is
daar "verskeie dinge wat mense beheers: die klimaat, die godsdiens, die
wette, die regeringsbeginsels, die voorbeelde van vergange dinge, die morele
waardes, die maniere: daarom word 'n algemene gees gevorm wat daaruit
voortkom." (Aangehaal deur Finkelkraut, A. La défaite de la pensée, bl.
14.)
Wat ons ook moet besef is dat die verskillende sienings van volkskap van
Duitse of Franse denkers op bepaalde tye geweldig beïnvloed is deur die
historiese omstandighede. Herder en ander Duitse Romantiese filosowe het
geskryf in reaksie op die verfransing van hul eie élite wat die Duitse taal
misken het, en die algemene oorheersing van Frans. Renan het op sy beurt 'n
begrip van die nasie geformuleer wat nie gekoppel was aan taal of afkoms
nie, maar aan assosiasie. Waarom? Omdat hy implisiet wou argumenteer dat
Elsas-Lotaringe wat deur Bismarck van Frankryk verower is in 1870 die reg
gehad het om met Frankryk te assosieer, eerder as om op grond van taal en
afkoms by Duitsland ingelyf te word.
Renan gee die volgende definisie van 'n nasie: "'n Nasie is daarom 'n groot
solidariteit wat daargestel word deur die gevoel van opofferinge wat die
mense gemaak het en van dié wat hulle bereid is om te maak. Dit
veronderstel 'n verlede: die nasie word egter opgesom in die hede deur 'n
tasbare feit: die instemming, die duidelik uitgesproke begeerte om met 'n
gemeenskaplike lewe voort te gaan. Die bestaan van 'n nasie is 'n daaglikse
volkstemming." (Aangehaal deur Finkelkraut, ibid., bl. 43)
My eie siening van die Afrikanervolk is ontleen aan die biologie, maar dan
in 'n minder letterlike sin. Net soos wat ons as mense die produk is van
evolusie, is ons as 'n taal- en kultuurgroep die resultaat van evolusionêre
ontwikkeling. Die filosoof Karl Popper praat iewers van evolusionêre
epistemologie in terme waarvan die menslike denke self onderworpe is aan 'n
proses van evolusie, van aanpassing by 'n veranderende werklikheid.
Afrikaans het uit Nederlands gespruit, en Afrikaners as 'n groep uit
Nederlanders, Vlaminge, Franse, Duitsers, Skotte en Engelse. Die kans het
ons van die sewentiende eeu af in hierdie land saamgegooi. Hier het ons 'n
nuwe landskap, 'n nuwe milieu ontdek wat baie anders was as dié van Europa,
en beide ons taal en ons denke moes daarby aanpas. Sedertdien het ons 'n
land opgebou wat ons tot redelik onlangs nog "ons land" kon noem, maar daar
is tans onsekerheid of daar nog hoegenaamd plek is vir die Afrikaner in
Suid-Afrika. Miskien sal ons nie as individue uit die land verdryf word
soos die blanke boere uit Zimbabwe nie, of altans nog nie, maar ek dink nie
daar is enige twyfel daaroor dat die voortbestaan van die Afrikanerdom in sy
mees onlangse gedaante eintlik onversoenbaar is met die nuwe Suid-Afrika
nie. Volgens mnr. Ton Vosloo, die voorsitter van Sanlam en die Nasionale
Pers, gee die begrippe "Afrikaner" en "volk" aanstoot in die huidige opset,
en hy behoort te weet.
Daar is vandag baie mense, ingesluit baie Afrikaners, wat voel dat dit nie
meer die moeite werd is om met die Afrikanerprojek aan te gaan nie. Dat ons
deel moet word van hibriede, multikulturele Suid-Afrika, dat ons die Engelse
taal moet aanneem, en trou moet sweer aan die ANC-regering. Myns insiens
sou dit 'n verskriklike fout wees. Nie net verraai ons daarmee ons
voorgeslagte, die Voortrekkers, asook die vroue en kinders wat in die
konsentrasiekampe vir ons vryheid gesterf het nie, maar ons maak ook iets
dood wat baie mooi is. Kortom, die taal en kultuur, die gemeenskap, die
nasie wat Afrikaners tot stand gebring het, is mooier as die meeste ander
dinge in Suid-Afrika. Uiteindelik is daar geen goddelike opdrag om
Afrikaans en die Afrikaner te laat voortleef nie, maar is daar 'n estetiese
imperatief wat vra dat ons moet inspring en dit wat ons voorgeslagte tot
stand gebring het, laat herleef en verder uitbou. Net soos 'n mens nie kan
stilstaan langs 'n pragtige gebou wat stadig maar seker afbrand nie, so kan
mens nie toelaat dat die Afrikanervolk tot niet gaan nie.
Dog kultuur, 'n volk, is ook 'n lewende organisme. Net soos wat mens nie
goedsmoeds 'n lewe neem nie, net so is dit 'n wandaad om 'n organisme soos
'n volk te vernietig. Uiteindelik gaan dit oor oorlewing. Tensy ons ons
wil om te oorleef verloor het, sal ons móét opstaan teen ons oorheersing,
dit waarvan Van Wyk Louw in sy gedig van flussies gepraat het.
Dit beteken nie noodwendig gewapende verset nie. Maar ek dink daar is
honderde maniere waarop ons vir ons regte en belange kan stry op 'n
nie-gewelddadige manier. Indien die huidige bewind werklik van plan is om
die Afrikaner te onderdruk, moet hy besef dat hy hom daarmee op die pad van
konfrontasie geplaas het met die enigste mense op die Afrikakontinent wat
waaragtig aanspraak kan maak op volkskap en alles wat dit impliseer. Dit is
maklik om individue te onderdruk, maar dit is baie moeilik om 'n volk te
onderdruk. Vroeër of later gooi hy die kettings van hom af. Oor die
afgelope dekade, en veral sedert die verbrokkeling van die ou Sowjet-Unie,
het ons gesien hoe dosyne volke wat vir eeue lank oorheers en verdwene
verklaar is, weer herrys het om hul eie grondgebied en soewereiniteit op te
eis.
Myns insiens kan die huidige onderdrukking van Afrikaans en die Afrikaner se
nasionale strewe net die proses radikaliseer waarvolgens Suid-Afrika soos 'n
mini-Sowjet-empaaier uitmekaar gaan spat. Waar en wanneer ons 'n nuwe
Afrikanerrepubliek gaan verkry, is nie so belangrik nie as die wete dat dit
feitlik onafwendbaar is. Iemand het iewers gesê dat die huidige stelsel
homself destabiliseer, en ek dink daardie persoon was reg. Ons hoef amper
niks te doen nie, en die stelsel is klaar besig om te wankel. As ons eers
aktief begin om dit te ondermyn en te saboteer, weer eens sonder om
gewelddadig te raak, sal dit baie gou onder druk kom. Soos ons ten Noorde
van ons grense gesien het, kan state in Afrika wat onder druk verkeer nie
sonder hulp van buite selfs hul eie bevolkings voed nie. Anders as die
Europese moondhede wat Twee Wêreldoorloë geveg het waaraan miljoene soldate
deelgeneem het, het Afrika geen geskiedenis van 'n vermoë om groot weermagte
op die been te bring en die ingewikkelde logistiek van volskaalse oorlog te
hanteer nie. Die grootste weermag Suid van die Sahara is tans waarskynlik
die Tutsi's se Rwandese Patriotiese Front wat uit 20 000 soldate bestaan, en
wat sop pas uit die Kongo onttrek het. Oorloë in Afrika bestaan uit 'n
uitgerekte reeks guerilla-aksies en strooptogte, en omdat hulle om
persoonlikhede draai, eindig hulle gewoonlik as een van die leiers
doodgeskiet word soos nou onlangs met Savimbi gebeur het in Angola.
Uiteindelik is daar geen duidelike wenner nie, en word daar vrede gemaak
totdat daar weer op 'n dag geweld of burgeroorlog uitbreek. Gerugte wil dit
hê dat slegs 3000 lede van die Suid-Afrikaanse Weermag tans operasioneel is.
Dit alles om te sê dat, sy brawade ten spyt, die huidige Suid-Afrikaanse
bewind beswaarlik oor die vermoë beskik om 'n oorspronklik Europese nasie
van tussen twee en drie miljoen mense soos die Afrikaners gewelddadig te
onderdruk of militêr te oorheers.
Die eerste stap na vryheid vir Afrikaners is om baie kalm te begin om
uitsluitlik in hul eie belang op te tree. Ons behoort onmiddellik te
onttrek van alle projekte wat ons vyande sterker maak en onsself swakker.
Ons moet geen hulp van watter aard ook al aan enigiemand verskaf sonder dat
dit teen wêreldmarkpryse geskied nie. Ons moet voortdurend ons eie
veiligheid voor oë hou, gegewe die onsekerheid en wispelturigheid van
Afrikapolitiek. Geen strategiese vermoëns, wat landboukundigheid mag
insluit, moet aan ander groepe in die land oorgedra word sonder dat daar
verreikende toegewings aan ons gemaak word nie, soos byvoorbeeld 'n herstel
van soewereiniteit en 'n eie grondgebied.
Ons moet veral roepingsonbewus word, en vergeet dat ons enige hoër ideaal
behoort na te streef as ons eie oorlewing en welvaart. Gegewe die situasie
waarin ons ons bevind, is dit opsigself al uitdaging genoeg.
Apartheid is verby. Koloniale voogdyskap is verby. Nooit weer moet ons
dieselfde hoë prys vir ons vrygewigheid betaal nie.
Kom ons word selfsugtig. Kom ons kyk na onsself en na ons eie mense.
|
|
|
Re: Dan Roodt - Die Afrikaner het geen roeping in Afrika nie - VOLLEDIG [boodskap #67561 is 'n antwoord op boodskap #67540] |
Wo, 16 Oktober 2002 07:58 |
Annette
Boodskappe: 11112 Geregistreer: Augustus 2003
Karma: 1
|
Senior Lid |
|
|
Dankie Oom Gert.,
Daar is bitter baie goed waar ek nie met Dan saamstem nie, en natuurlik is
daar ook goed wat hy noem wat ek volmondig mee saamstem , maar dit bly
interessante leesstof, en ek is seker daar sal baie mense wees wat elke feit
wat hy voorhou goedsmoeds sal aanvaar en elke voorstel selfs slaafs sal
navolg.
Die groot rede hoekom ek nie met sy idees kan saamloop nie, is sy
voorgestelde oplossing.
Dit druis direk in hoe ek op hierdie aarde verkies om te leef.
Annette
"Oom Gert" skryf in boodskap news:3dac62b3.0@news1.mweb.co.za...
> Ek vra plegtig omverskoning vir die halwe pos. Hiermee dan die volledige
> een. Ek is regtig jammer. Iets het verkeerd gegaan met die "copy & paste"
> aksie.
>
> ----------------------------------------------
>
> Die Afrikaner het geen roeping in Afrika nie
> Dan Roodt
>
> Voordrag gelewer voor die Bond van Oud-Jeugbonders, Pretoria, op 12 Oktober
> 2002
>
> Een van die oudste en mees Calvinistiese idees van die Afrikaner is die
> gedagte dat hy oor 'n roeping in Afrika beskik. Myns insiens is dit
> onderliggend aan sy huidige identiteitskrisis en skynbare onmag om vorentoe
> te beweeg.
>
> Tradisioneel kan ons hierdie sogenaamde roeping van die Afrikaner in Afrika
> sê opsom:
>
> In terme van streng Calvinistiese prinsipes, beskik God oor alles in die
> wêreld. Daarom het hy spesifiek die groep Europeërs wat hulself later
> Afrikaners sou noem na Suid-Afrika gestuur om 'n volk te word. In terme
> hiervan is die volkskap van die Afrikaner dus iets heiligs en
> onveranderliks. Die groep mense wat die volk uitmaak, is as't ware geroepe
> om hul kollektiewe identiteit in stand te hou en uit te bou. Ná die
> oorwinning te Bloedrivier is die Afrikaner ook gebind in terme van die
> Gelofte om God se gebooie te onderhou, en jaarliks dié datum te vier.
>
> Daar is baie formulerings van hierdie idee en daagliks kom 'n mens dit nog
> onder ons mense teë. Indien ek dus vir D.F. Malan daaroor aanhaal, is dit
> nie omdat syne besonder tipies of beter as enige ander definisie is nie,
> maar bloot omdat dit gewig dra as komende van een van die hooffigure uit die
> Afrikaner se politieke geskiedenis onder wie die verkiesingsoorwinning in
> 1948 sy belangrikste toetrede tot die magspel in Suider-Afrika gesimboliseer
> het. W.A. de Klerk het daardie verkiesingsoorwinning beskryf as 'n
> Afrikanerrevolusie en die meeste van u wat vandag hier sit, sou dit
> waarskynlik beaam. Hier volg die aanhaling uit D.F. Malan, uit sy beroemde
> boek Afrikaner-volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen. Hy sê:
>
> "Glo in jou God! Glo in jou volk! Glo in jouself!... vir die
> Voortrekkers... was die Groot Trek veel meer as 'n blote gebiedsverowering.
> Vir hul immers was dit ook 'n geloofsdaad, en die aanvaarding van 'n
> Godgegewe taak."
>
> Hy verwys dan na die Gelofte en meen dat die "Suid-Afrikaanse volk" met die
> viering van Geloftedag "vir alle toekomstige geslagte te kenne [wil] geee
> dat hy as 'n Christelike volk geken wil wees, en dat hy hom tot daardie
> bepaalde lewensrigting verbind het."
>
> En dan volg die woorde wat vir ons van belang is:
>
> "Dis met ander woorde 'n volk met 'n roeping. Hy mag en wil dieselfde ook
> aan geen ander volk ontsê nie, maar in sy eie geval wil hy dit openlik erken
> en die verpligtinge wat daaruit voortspruit, blymoedig aanvaar."
>
> Verder herhaal hy die gedagte: "Agter ons Suid-Afrikaanse volksbestaan en
> geskiedenis sit daar 'n doel. Daarvan moet ons as volk bewus wees, en dit
> na die beste van ons vermoë probeer uitlewe."
>
> Hoewel Malan hier om ooglopende politieke redes die term "Suid-Afrikaanse
> volk" gebruik omdat hy sekerlik nie die Engelssprekendes daarvan kon
> uitsluit nie, weet ons egter dat hy eintlik besig was om van die
> Afrikanervolk te praat.
>
> Nou wil ek sommer met die deur in die huis val, en vandag vir u sê dat ek
> geheel en al van D.F. Malan verskil. Daar is geen godgegewe plan vir die
> Afrikaner nie. Hy het nie 'n roeping in Afrika nie, en as 'n groot klomp
> Afrikaners vandag Australië en Nieu-Seeland en Kanada toe emigreer waar
> hulle kinders sommer na die eerste paar jaar volkome verengels, dan
> demonstreer hulle daarmee wat ek sou noem die fiksionele aard van hierdie
> idee.
>
> Die roeping van die Afrikaner is 'n fiksie. Niks meer en niks minder nie.
> Miskien het dit op 'n stadium 'n doel gedien, en as ek by Bloedrivier was
> sou ek ook graag wou glo dat God aan my kant was, maar ek is bevrees dit is
> vandag so uitgedien soos die ossewa of die voorlaaier.
>
> Nie net doen dit vandag oudmodies aan nie, maar dit is ook 'n belangrike
> bron van die Afrikaner se huidige verlamming, sy onvermoë om verby sy
> verstrengeldheid met die res van die Suid-Afrikaanse bevolking te dink, sy
> skuldkompleks, sy gevoel van verantwoordelikheid vir ander wat sy eie
> heropbloei en vooruitgang onmoontlik maak.
>
> Apartheid was een vorm van roepingsbewustheid. Wat die buiteland ook al oor
> apartheid mag sê of dink, of dit nou 'n misdaad teen die mensdom was of die
> eerste fase van regstellende aksie, weet ons dat dit 'n stelsel van
> voogdyskap oor swartmense was wat terug te voer is na beide die Britse
> koloniale beleid en die Voortrekkernaturellebeleid van die negentiende eeu.
> Gedurende die hele twintigste eeu is daar in dosyne boeke en waarskynlik
> honderde proefskrifte en duisende koerant- en tydskrifartikels 'n debat in
> Afrikaans en in Engels gevoer oor die politieke regte wat swartmense toekom.
> Pleks van eenvoudig aan hulle die regte toe te staan wat hulle vereis het,
> met dienooreenkomstige beveiliging van Afrikanerbelange, is die koloniale
> beginsel van voogdyskap (Eng. "trusteeship") aanvaar. Verwoerd, wat die
> meeste gedoen het om institusionele beslag aan apartheid of soos hy dit
> genoem het, "afsonderlike ontwikkeling" te gee, was ook die persoon wat die
> beginsel van voogdyskap die ernstigste opgeneem het. Niemand het meer vir
> swart onderwys en opleiding gedoen as juis hy nie. Dit alles is
> geboekstaaf.
>
> Anders as koloniale Europeërs, wie se voogdyskap in ander Afrikalande
> dikwels beperk was tot 'n paar sendingstasies terwyl hulle die res van die
> tyd geheel en al in eiebelang opgetree het, het die Afrikaner voogdyskap tot
> op die letter toegepas en 'n verantwoordelikheid teenoor die lot van swart
> Afrikane aanvaar wat alle perke van eiebelang en redelikheid oorskry het.
> Selfs die mees filantropiese Skandinawiese land het nog nooit meer as 3% van
> sy Bruto Nasionale Produk aan ontwikkelingshulp in die Derde Wêreld bestee
> nie. Die grote Amerika spandeer al vir baie jare heelwat minder as 1% van
> sy BNP aan ontwikkelingshulp. Watter persentasie van Afrikaner-BNP is onder
> apartheid aan die ontwikkeling van die tuislande en swart onderwys bestee?
> Waarskynlik heelwat meer as 3%.
>
> Indien Afrikaners hoegenaamd enige erkenning ontvang het vir die kolossale
> rol wat hulle in die pas afgelope eeu gespeel het in die opheffing van
> Suid-Afrika se swart bevolking, en nog steeds speel, sou dit miskien nog sin
> gemaak het. Ons sou miskien beloon kon gewees het met allerlei
> internasionale pryse, 'n reputasie kon geniet het soos dié van Moeder
> Teresa, as 'n volk wat hulself selfloos opgeoffer het vir die welvaart van
> ander. Maar helaas, u weet en ek weet dat geen ander volk op aarde vir so
> lank internasionaal verguis is vir die koloniale voogdyskap wat hulle so
> lank en so verkeerdelik na my mening oor swartmense aanvaar het nie.
>
> In weerwil van 'n algemene opleidingsvlak wat vergelyk met dié van die mees
> gevorderde Westerse lande, is ons vandag die armste mense van Westerse
> afkoms ter wêreld, met waarskynlik 'n inkomste per kop wat kwalik met dié
> van Portugal vergelyk. Dit alleen is getuienis van die groot opofferings
> wat Afrikaners in die verlede gemaak het om die algemene welvaart van
> Suid-Afrika te verhoog, altyd maar altyd ten koste van hulself.
>
> In daardie sin was 1994 vir ons almal 'n geweldige bevryding. Mag
> Afrikaners nooit weer oor enige ander volk of volkere heers nie, en mag ons
> vergeet van die fundamentalistiese Protestantse gedagte dat ons oor 'n
> roeping beskik. Vandag word Suid-Afrika hoofsaaklik deur swartmense regeer,
> en dit is ons beurt om oorheers te word. N.P. van Wyk Louw was sekerlik een
> van ons mees profetiese digters, en sy gedig "Julle is die oorheersers" uit
> die reeks "Gedagtes, liedere en gebede van 'n soldaat" is vandag vir ons
> geldiger as ooit:
>
> "Júlle is die oorheersers
>
> en júlle die vertrappers
>
> van ons wat sterk is,
>
> maar magteloos verneder;
>
> julle maal ons soos koring,
>
> julle eet ons soos brood;
>
>
> tog haat ons julle nie:
>
> omdat julle mens is
>
> en die dood ook deelagtig,
>
> is julle ons broers;
>
> maar julle is siek aan die lasterlike hoogmoed.
>
>
>
> Daarom moet julle
>
> tot needrigheid genees word,
>
> gebreek word deur ons
>
> in ons magtige opstand
>
> tot eenvoudige vreugdes,
>
> tot die heilige lye,
>
> tot 'n nuwe onmiddellikheid
>
> van die heldere aarde;
>
>
>
> maar as julle dood
>
> en 'n vrot plek in ons volk is,
>
> dan sal ons 'n mes vat
>
> en vinnig, genadiglik
>
> sny deur spiere
>
> en vleis tot genesing.
>
>
>
> As mens daaraan dink dat hierdie gedig in Oktober 1935 geskryf is, dan kan
> mens dit amper nie glo nie, so tekenend van die Afrikaner se huidige
> situasie is dit. Die frase "lasterlike hoogmoed" is amper nie sterk genoeg
> om die reeks nydighede, beledigings, lasterlike aantygings en gewone
> leedvermaak te beskryf wat die Afrikaner die afgelope aantal jare, en veral
> sedert 1994 te beurt geval het nie. Nou pas het 'n roman deur die skrywer
> Zakes Mda verskyn met die titel The Madonna of Excelsior waarin daar met die
> Afrikaner in sy magteloosheid gespot word, die soveelste ou skinderstorie
> oor die Ontugwet dertig jaar na die tyd opgerakel word, en ons met 'n soort
> rassehaat wat aan Hitler se anti-Semitisme herinner in al ons agterlikheid
> uitgebeeld word.
>
> Maar hoewel die Afrikaner oplaas in 1994 bevry is van sy koloniale
> voogdyskap, het veral die politiek korrekte Afrikaner 'n nuwe meulsteun om
> sy nek gebind. Dié heet naamlik "uitreik na die armes, opheffing,
> mededeelsaamheid, Suid-Afrikaanse nasiebou, oordrag van kundigheid en
> vaardighede," en dergelike meer. Was daar al ooit 'n program van
> kennisoordrag aan Afrikaners? Is ons deur die Britte gehelp? Het die Raad
> van Anglo American ooit besluit om regstellende aksie toe te pas en darem 'n
> paar Afrikaners in sy midde op te neem? Was daar in die Dertigerjare toe
> Afrikaners op hul armste was vir ons regstellende aksie in Engelse besighede
> wat toe 92% van die landsekonomie beheer het?
>
> Natuurlik is dit almal retoriese vrae. Maar om terug te keer na my tema van
> roepingsbewustheid, onderliggend aan die nuwe aandrang op oordrag van kennis
> en vaardighede, uitreik na ander, en dergelike meer, is 'n nuwe vorm van
> roeping en voogdyskap. Hoe kan ons dit omskryf? Voorheen was dit die
> roeping van die meester, om goed vir sy onderdane en ondergeskiktes te sorg,
> maar nou is dit die roeping van die slaaf, om sy nuwe meesters te dien. Die
> spel bly dieselfde, net die rolle is nou omgekeer.
>
> Indien die vorige voogdyskap vir ons minder goed uitgewerk het, gaan die
> huidige een rampspoedig wees. Nie net gaan ons in die proses verarm en
> kundigheid aan die res van Suid-Afrika afstaan nie, maar indien die land as
> geheel nie suksesvol is nie, gaan ons 'n tweede keer die blaam daarvoor moet
> dra.
>
> Die huidige Suid-Afrika is vir die Afrikaner 'n Catch-22. Slaag dit,
> bewerkstellig hy eintlik sy eie ondergang, want hy gaan al hoe verder
> ondertoe sak op die ranglys; slaag dit nie, gaan hy die sondebok wees. En
> deur die geskiedenis weet ons wat met minderhede gebeur waarvan daar
> sondebokke gemaak word.
>
> Hoe kom ons hieruit? Nou sal daar miskien onmiddellik stemme opgaan wat sê
> ons moet 'n volkstaat kry, of dan gewoon emigreer soos soveel individuele
> Afrikaners reeds doen. Maar voordat ons enigiets doen, moet ons myns
> insiens anders oor ons situasie begin dink. Ons moet alternatiewe politieke
> sienings van onsself ontwikkel. Ons moet onsself van nuuts af aan
> definieer. Dit waarvan Louw hierbo praat, "om met 'n mes vinnig, genadiglik
> te sny deur spiere en vleis tot genesing" om van die vrot plek in jou volk
> ontslae te raak, is essensieel indien ons hoegenaamd wil vooruitkom.
>
> Natuurlik kan mens die digter se beeld op allerlei maniere interpreteer.
> Maar vir my is die allerbelangrikste dat ons begin om in Afrikaans politiek
> en godsdiens te skei.
>
> Nou onlangs is daar weer 'n Afrikanerparty gestig, onder die naam "Nasionale
> Aksie", let wel nie Nasionale Party nie, want dié het mos so te sê oorgeloop
> na die Afrika-Nasionale Party, die ANC, maar "Nasionale Aksie". Synde van
> nature nuuskierig, het ek vir my vriend, mnr. Cassie Aucamp, die beginsels
> van die nuwe Nasionale Party, ekskuus, nuwe Nasionale Aksieparty, aangevra.
> En jou wrintiewaar, in die aanhef staan daar drie grondbeginsels waarvan
> twee 'n herformulering van koloniale voogdyskap bevat. In die eerste
> grondbeginsel, stel Nasionale Aksie "Suid-Afrika eerste", J.B.M. Hertzog se
> ou slagspreuk, en erken die party "Suid-Afrika as ons enigste vaderland en
> is daartoe verbind (sic) om saam met ander Suid-Afrikaners 'n beslissende
> rol te speel om 'n beter Suid-Afrika vir almal daar te stel." Hiermee sê
> Nasionale Aksie dus dat hy mede-verantwoordelik wil wees vir die materiële
> welvaart van alle Suid-Afrikaners, iets waaroor hy en die res van die
> Afrikaners hoegenaamd geen beheer het nie. Asof dit nie genoeg is nie,
> belowe Nasionale Aksie in sy tweede grondbeginsel dat hy sal "veg vir die
> kultuur- en taalregte van elke groep in Suid-Afrika, en spesifiek vir die
> regte van Afrikaans en die Afrikaner."
>
> Weer eens kan ek my nie herinner dat daar in die 350 jaar van opgetekende
> geskiedenis van Suid-Afrika, d.i. sedert Jan van Riebeeck sy Dagjoernaal
> begin het, al 'n geval was waar enigeen vir die kultuur- en taalregte van
> Afrikaners geveg het nie, behalwe Afrikaners self. Tans is dit moeilik
> genoeg om net 'n handjievol Afrikaners te motiveer om vir hul eie taal en
> kultuur op te kom, wat nog te sê vir die magdom tale en kulture van
> Suid-Afrika. Hoe gaan 'n mens hierdie barmhartige Samaritaanhouding uit die
> Afrikaner uitkry? 'n Mens sou daaraan kon gedink om dit uit hulle te slaan,
> maar ongelukkig is lyfstraf verbode in die nuwe Suid-Afrika.
>
> Die heel ergste van die NA se grondbeginsels is egter die derde en laaste.
> Dit heet "Die NA se Christelike fondament. Die NA onderwerp hom aan die
> oppergesag van God, erken die Bybel as norm en sal sy optrede daarvolgens
> rig. Die NA is verbind tot geloofsvryheid."
>
> Hier is ons weer terug in die Middeleeue, by die teokrasie. Ons moet ons
> politiek volgens Bybelse norme bedryf, en nie volgens sekulêre norme nie.
> Soos altyd in die verlede, bly die Afrikaner in gebreke om godsdiens en
> politiek te skei, die groot les van die Europese Verligting.
>
> Nou mag daar mense wees wat vra, maar indien ons vergeet van ons Christelike
> roeping in Suid-Afrika en dergelike mooi gedagtes, wat bly dan oor?
> Waarvolgens behoort die Afrikaner sy politiek te rig? Myns insiens is dit
> eenvoudig. Kardinaal Richelieu, wat 'n Katoliek was, het gepraat van raison
> d'état, waarmee hy eintlik die eiebelang van Frankryk bedoel het. Solank
> dit in die Franse volk se belang was, sou hy in 'n godsdiensoorlog teen 'n
> ander Katolieke land betrokke raak saam met Protestante, sou hy steel, lieg
> en bedrieg, solank dit die Franse saak bevorder het.
>
> Tree op in eie belang, sou les nommer een wees. Dit bring my natuurlik
> reëlreg in stryd met die Afrikanerbond, met die redakteurs van die Nasionale
> Perskoerante, en wie weet wie almal. As mens egter nie in jou eie belang
> optree nie, is jy besig om iets weg te gee, of dit nou kapitaal, kundigheid
> of arbeid is. Machiavelli het in sy boek "Die Prins" baie wyse woorde gehad
> oor Prinse wat guns probeer wen met vrygewigheid. In die eerste instansie
> het hy gekonstateer dat 'n Prins óf sy eie geld en dié van sy onderdane
> bestee, óf dié van ander. Sy mening is dat, in die geval van sy of sy
> onderdane se geld, die prins baie spaarsamig moet wees, maar indien dit gaan
> om ander se geld, hy geen geleentheid om vrygewigheid te betoon, moet laat
> verbygaan nie.
>
> Overgezet synde, indien dit gaan om Afrikanerkapitaal of -kundigheid,
> behoort ons uiters spaarsamig, selfs vrekkig te wees. Indien ons egter ooit
> in die onwaarskynlike situasie beland waar ons die belastingbydraes van
> ander groepe in Suid-Afrika of sê maar kapitaal van die Wêreldbank, IMF of
> oorsese lande kan bestee, sou dit gepas wees om met groot vertoon van
> vrygewigheid en welwillendheid hêl fondse aan te wend.
>
> Die rede vir hierdie strategie, is volgens Machiavelli die volgende, en ek
> haal aan:
>
> "Daar is niks wat so gou opraak soos vrygewigheid nie, want terwyl jy dit
> beoefen verloor jy die mag om dit te doen, en so word jy óf arm of verag, óf
> andersins, deur armoede te vermy, word jy gierig en gehaat. En 'n prins
> moet hom daarvan weerhou, bo alles, om verag en gehaat te raak; en
> vrygewigheid lei jou na albei. Daarom is dit wyser om 'n reputasie vir
> suinigheid te hê wat vir jou verwyt sonder haat bring, as om genoop te word
> deur die strewe na 'n reputasie vir vrygewigheid om 'n naam vir gierigheid
> te verwerf wat verwyt met haat veroorsaak."
>
> Hier skryf 'n Italianer in 1513 iets wat Afrikanerleiers blykbaar nog nooit
> gelees het nie. Nie net het die NP voortdurend onder apartheid gepoog om 'n
> goeie reputasie te koop met vrygewigheid nie, maar dié party het ook die
> mees vrygewige ding in die geskiedenis gedoen deur eenvoudig die mag op 'n
> skinkbord prys te gee. Wat is vandag die resultaat van hierdie selflose, en
> hoef 'n mens nog by te voeg, Christelike daad? Die Afrikaner word gehaat en
> verag soos nog nooit tevore nie.
>
> Vergelyk die houding wat die huidige Suid-Afrkaanse regering tans inneem
> teenoor die Westerse lande. Presies soos wat Machiavelli sê, word hulle
> beskou as "suinig" en daarom verwyt. Maar nog nooit sou ons regering of
> selfs die hele swart Afrika hul haat of veragting teenoor die Weste
> uitspreek nie.
>
> Rasionele eiebelang is die grondslag van die liberalisme, en by uitbreiding
> van liberale demokrasie. Indien die Afrikaner kan leer om dit op homself te
> betrek, kan ons net vorder in ons politieke kultuur.
>
> Dit impliseer 'n volslae aflegging van die gedagte van 'n roeping, om goed
> te doen of vrygewig te wees teenoor ander. Die houding van Afrikaners
> behoort te wees dat ons in die eerste plek onsself, ons eie mense, ons eie
> taal en kultuur, ons eie ekonomiese vermoëns en politieke inspraak gaan
> bevorder voor dié van enigiemand anders. Indien daar hoegenaamd hulp of
> opheffing van ander sou plaasvind, moet dit teen 'n prys wees. Werk eers
> uit wat die daaglikse tarief sou wees om Europeërs of Amerikaners uit te
> vlieg om dieselfde bystand te kom verleen, hul verblyf in luuksehotelle te
> betaal, alvorens enige Afrikaner 'n vinger lig om enigiets te doen wat nie
> in sy direkte belang en dié van sy volksgenote is nie.
>
> Veroorsaak die gebrek aan Calvinistiese predestinasie wat so 'n moderne,
> liberale houding impliseer 'n filosofiese probleem? As ek iemand soos D.F.
> Malan reg lees, dan val sy begrip van die Afrikanervolk plat sodra mens die
> godsdienstige element daaruit haal. Maar dit hoef nie so te wees nie. Daar
> is ander maniere om aan die Afrikanervolk te dink, behalwe as 'n entiteit
> wat deur God gewil is.
>
> Die Europese nasionalisme het tydens die Verligting ten minste twee vername
> konsepsies van 'n volk gegee, waarvan geeneen verwant is aan goddelike
> ingryping nie. Die eerste was dié van Herder en die Duitse nasionalisme wat
> die taal en diversiteit voorop gestel het. Die tweede was die Franse begrip
> van die "nation" wat berus het op 'n demokratiese assosiasie van individue
> wat elke dag as't ware deelneem aan 'n plebisiet om hul nasie te laat
> voortduur, soos wat Renan dit gestel het in sy teks "Qu'est-ce qu'une
> nation?" (Wat is 'n nasie?)
>
> Volgens Herder in sy opstel Abhandlung über den Ursprung der Sprache is taal
> nie deur God geskep nie, maar deur die mens wat skeppend gereageer het op
> die veelheid van dinge wat hy in die natuur teëgekom het. Taal het sy
> oorsprong in ons sintuiglike waarnemings, en van daar af ontwikkel dit in 'n
> lewende amalgaam van dinge en gebeure wat gekombineer word met die emosies
> wat hulle in die mens ontketen. Taal was vir Herder die draer van die
> volksgees, die sogenaamde Volksgeist. Montesquieu het reeds voor Herder
> hierdie gedagte uitgespreek in sy L'esprit des lois toe hy gepraat het van
> die "esprit général", die algemene gees van 'n nasie. Volgens Montesquie is
> daar "verskeie dinge wat mense beheers: die klimaat, die godsdiens, die
> wette, die regeringsbeginsels, die voorbeelde van vergange dinge, die morele
> waardes, die maniere: daarom word 'n algemene gees gevorm wat daaruit
> voortkom." (Aangehaal deur Finkelkraut, A. La défaite de la pensée, bl.
> 14.)
>
> Wat ons ook moet besef is dat die verskillende sienings van volkskap van
> Duitse of Franse denkers op bepaalde tye geweldig beïnvloed is deur die
> historiese omstandighede. Herder en ander Duitse Romantiese filosowe het
> geskryf in reaksie op die verfransing van hul eie élite wat die Duitse taal
> misken het, en die algemene oorheersing van Frans. Renan het op sy beurt 'n
> begrip van die nasie geformuleer wat nie gekoppel was aan taal of afkoms
> nie, maar aan assosiasie. Waarom? Omdat hy implisiet wou argumenteer dat
> Elsas-Lotaringe wat deur Bismarck van Frankryk verower is in 1870 die reg
> gehad het om met Frankryk te assosieer, eerder as om op grond van taal en
> afkoms by Duitsland ingelyf te word.
>
> Renan gee die volgende definisie van 'n nasie: "'n Nasie is daarom 'n groot
> solidariteit wat daargestel word deur die gevoel van opofferinge wat die
> mense gemaak het en van dié wat hulle bereid is om te maak. Dit
> veronderstel 'n verlede: die nasie word egter opgesom in die hede deur 'n
> tasbare feit: die instemming, die duidelik uitgesproke begeerte om met 'n
> gemeenskaplike lewe voort te gaan. Die bestaan van 'n nasie is 'n daaglikse
> volkstemming." (Aangehaal deur Finkelkraut, ibid., bl. 43)
>
> My eie siening van die Afrikanervolk is ontleen aan die biologie, maar dan
> in 'n minder letterlike sin. Net soos wat ons as mense die produk is van
> evolusie, is ons as 'n taal- en kultuurgroep die resultaat van evolusionêre
> ontwikkeling. Die filosoof Karl Popper praat iewers van evolusionêre
> epistemologie in terme waarvan die menslike denke self onderworpe is aan 'n
> proses van evolusie, van aanpassing by 'n veranderende werklikheid.
> Afrikaans het uit Nederlands gespruit, en Afrikaners as 'n groep uit
> Nederlanders, Vlaminge, Franse, Duitsers, Skotte en Engelse. Die kans het
> ons van die sewentiende eeu af in hierdie land saamgegooi. Hier het ons 'n
> nuwe landskap, 'n nuwe milieu ontdek wat baie anders was as dié van Europa,
> en beide ons taal en ons denke moes daarby aanpas. Sedertdien het ons 'n
> land opgebou wat ons tot redelik onlangs nog "ons land" kon noem, maar daar
> is tans onsekerheid of daar nog hoegenaamd plek is vir die Afrikaner in
> Suid-Afrika. Miskien sal ons nie as individue uit die land verdryf word
> soos die blanke boere uit Zimbabwe nie, of altans nog nie, maar ek dink nie
> daar is enige twyfel daaroor dat die voortbestaan van die Afrikanerdom in sy
> mees onlangse gedaante eintlik onversoenbaar is met die nuwe Suid-Afrika
> nie. Volgens mnr. Ton Vosloo, die voorsitter van Sanlam en die Nasionale
> Pers, gee die begrippe "Afrikaner" en "volk" aanstoot in die huidige opset,
> en hy behoort te weet.
>
> Daar is vandag baie mense, ingesluit baie Afrikaners, wat voel dat dit nie
> meer die moeite werd is om met die Afrikanerprojek aan te gaan nie. Dat ons
> deel moet word van hibriede, multikulturele Suid-Afrika, dat ons die Engelse
> taal moet aanneem, en trou moet sweer aan die ANC-regering. Myns insiens
> sou dit 'n verskriklike fout wees. Nie net verraai ons daarmee ons
> voorgeslagte, die Voortrekkers, asook die vroue en kinders wat in die
> konsentrasiekampe vir ons vryheid gesterf het nie, maar ons maak ook iets
> dood wat baie mooi is. Kortom, die taal en kultuur, die gemeenskap, die
> nasie wat Afrikaners tot stand gebring het, is mooier as die meeste ander
> dinge in Suid-Afrika. Uiteindelik is daar geen goddelike opdrag om
> Afrikaans en die Afrikaner te laat voortleef nie, maar is daar 'n estetiese
> imperatief wat vra dat ons moet inspring en dit wat ons voorgeslagte tot
> stand gebring het, laat herleef en verder uitbou. Net soos 'n mens nie kan
> stilstaan langs 'n pragtige gebou wat stadig maar seker afbrand nie, so kan
> mens nie toelaat dat die Afrikanervolk tot niet gaan nie.
>
> Dog kultuur, 'n volk, is ook 'n lewende organisme. Net soos wat mens nie
> goedsmoeds 'n lewe neem nie, net so is dit 'n wandaad om 'n organisme soos
> 'n volk te vernietig. Uiteindelik gaan dit oor oorlewing. Tensy ons ons
> wil om te oorleef verloor het, sal ons móét opstaan teen ons oorheersing,
> dit waarvan Van Wyk Louw in sy gedig van flussies gepraat het.
>
> Dit beteken nie noodwendig gewapende verset nie. Maar ek dink daar is
> honderde maniere waarop ons vir ons regte en belange kan stry op 'n
> nie-gewelddadige manier. Indien die huidige bewind werklik van plan is om
> die Afrikaner te onderdruk, moet hy besef dat hy hom daarmee op die pad van
> konfrontasie geplaas het met die enigste mense op die Afrikakontinent wat
> waaragtig aanspraak kan maak op volkskap en alles wat dit impliseer. Dit is
> maklik om individue te onderdruk, maar dit is baie moeilik om 'n volk te
> onderdruk. Vroeër of later gooi hy die kettings van hom af. Oor die
> afgelope dekade, en veral sedert die verbrokkeling van die ou Sowjet-Unie,
> het ons gesien hoe dosyne volke wat vir eeue lank oorheers en verdwene
> verklaar is, weer herrys het om hul eie grondgebied en soewereiniteit op te
> eis.
>
> Myns insiens kan die huidige onderdrukking van Afrikaans en die Afrikaner se
> nasionale strewe net die proses radikaliseer waarvolgens Suid-Afrika soos 'n
> mini-Sowjet-empaaier uitmekaar gaan spat. Waar en wanneer ons 'n nuwe
> Afrikanerrepubliek gaan verkry, is nie so belangrik nie as die wete dat dit
> feitlik onafwendbaar is. Iemand het iewers gesê dat die huidige stelsel
> homself destabiliseer, en ek dink daardie persoon was reg. Ons hoef amper
> niks te doen nie, en die stelsel is klaar besig om te wankel. As ons eers
> aktief begin om dit te ondermyn en te saboteer, weer eens sonder om
> gewelddadig te raak, sal dit baie gou onder druk kom. Soos ons ten Noorde
> van ons grense gesien het, kan state in Afrika wat onder druk verkeer nie
> sonder hulp van buite selfs hul eie bevolkings voed nie. Anders as die
> Europese moondhede wat Twee Wêreldoorloë geveg het waaraan miljoene soldate
> deelgeneem het, het Afrika geen geskiedenis van 'n vermoë om groot weermagte
> op die been te bring en die ingewikkelde logistiek van volskaalse oorlog te
> hanteer nie. Die grootste weermag Suid van die Sahara is tans waarskynlik
> die Tutsi's se Rwandese Patriotiese Front wat uit 20 000 soldate bestaan, en
> wat sop pas uit die Kongo onttrek het. Oorloë in Afrika bestaan uit 'n
> uitgerekte reeks guerilla-aksies en strooptogte, en omdat hulle om
> persoonlikhede draai, eindig hulle gewoonlik as een van die leiers
> doodgeskiet word soos nou onlangs met Savimbi gebeur het in Angola.
> Uiteindelik is daar geen duidelike wenner nie, en word daar vrede gemaak
> totdat daar weer op 'n dag geweld of burgeroorlog uitbreek. Gerugte wil dit
> hê dat slegs 3000 lede van die Suid-Afrikaanse Weermag tans operasioneel is.
>
> Dit alles om te sê dat, sy brawade ten spyt, die huidige Suid-Afrikaanse
> bewind beswaarlik oor die vermoë beskik om 'n oorspronklik Europese nasie
> van tussen twee en drie miljoen mense soos die Afrikaners gewelddadig te
> onderdruk of militêr te oorheers.
>
> Die eerste stap na vryheid vir Afrikaners is om baie kalm te begin om
> uitsluitlik in hul eie belang op te tree. Ons behoort onmiddellik te
> onttrek van alle projekte wat ons vyande sterker maak en onsself swakker.
> Ons moet geen hulp van watter aard ook al aan enigiemand verskaf sonder dat
> dit teen wêreldmarkpryse geskied nie. Ons moet voortdurend ons eie
> veiligheid voor oë hou, gegewe die onsekerheid en wispelturigheid van
> Afrikapolitiek. Geen strategiese vermoëns, wat landboukundigheid mag
> insluit, moet aan ander groepe in die land oorgedra word sonder dat daar
> verreikende toegewings aan ons gemaak word nie, soos byvoorbeeld 'n herstel
> van soewereiniteit en 'n eie grondgebied.
>
> Ons moet veral roepingsonbewus word, en vergeet dat ons enige hoër ideaal
> behoort na te streef as ons eie oorlewing en welvaart. Gegewe die situasie
> waarin ons ons bevind, is dit opsigself al uitdaging genoeg.
>
> Apartheid is verby. Koloniale voogdyskap is verby. Nooit weer moet ons
> dieselfde hoë prys vir ons vrygewigheid betaal nie.
>
> Kom ons word selfsugtig. Kom ons kyk na onsself en na ons eie mense.
>
|
|
|
Re: Dan Roodt - Die Afrikaner het geen roeping in Afrika nie [boodskap #67580 is 'n antwoord op boodskap #67537] |
Wo, 16 Oktober 2002 14:22 |
|
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com
Oom Gert wrote:
> EK SAL GRAAG ALMAL SE OPINIE HIEROOR WIL HOOR.
> Die Afrikaner het geen roeping in Afrika nie
> Een van die oudste en mees Calvinistiese idees
> Hoewel Malan hier om ooglopende politieke redes die term "Suid-Afrikaanse
> volk" gebruik omdat hy sekerlik nie die Engelssprekendes daarvan kon
> uitsluit nie, weet ons egter dat hy eintlik besig was om van die
> Afrikanervolk te praat.
>
> Nou wil ek sommer met die deur in die huis val, en vandag vir u sê dat ek
> geheel en al van D.F. Malan verskil. Daar is geen godgegewe plan vir die
> Afrikaner nie.
Ek stem ten volle met Dan Roodt saam.
Hierdie sham wat al vir so lank op die
Afrikaner se skouers afgedwing word, moet
nou end kry. Mense soos Malan en Verwoerd
en die snare het godsdiens en geskiedenis
gebruik vir hulle eng gewin, en 'n soort
"nasionalisme" geskep wat meer gegaan het
oor ekonomiese kontrole en finansiële
dominansie as oor die Christelike beginsels
wat hulle in die Bybel kon lees. Daarom dat
mens uiteindelik die gedrog van 'n P.W. Botha
regime gekry het wat nie eens meer op God en
Christus hul beroep het nie, maar op mag en krag.
Dis baie baie jammer dat die 1948 verkiesing
hierdie kwasi-Afrikaners en kwasi-Christene
aan bewind gebring het.
Gloudina
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: So Nov 24 06:32:05 MGT 2024
|