Leksikograaf Boodskappe: 27066 Geregistreer: Maart 2019
Karma: 5
Senior Lid
'n Mens se been.'n Been.been
Afbreking: been
Selfstandige naamwoord: been
Meervoud: bene, beendere
Verkleinwoord: beentjie
Meervoud van verkleining: beentjies
Betekenis:
• (anatomie) 'n Ledemaat, tussen die heup en voet, waarop gestaan en waarmee geloop word.
• Een van die harde, stewige onderdele van die geraamte.
• Die harde stof waaruit bene opgebou is.
• Iets wat in funksie of vorm aan 'n been herinner.
Gebruik:
• Hy is in sy been geskiet. Sy het pragtige bene.
• Die menslike skelet bestaan uit 206 bene.
• Been is hard vanweë die minerale soute wat daarin voorkom.
• Elke hoek bestaan uit twee bene en 'n hoekpunt.
Spreekwoord:
• Hy kla steen en been. [Kla baie.]
• Hy is net vel en been. [Baie maer.]
• Tot die been oopvlek. [Alles openbaar.]
• Weer op die been kom. [Om te herstel.]
• Iets op die been bring. [Tot stand laat kom.]
• Hy is vroeg op die been. [Hy staan vroeg op.]
• Hy trek my been. [Die persoon terg of goedig spot.]
• Deur murg en been gaan. [Dwarsdeur 'n mens gaan.]
• Hy bly op die been. [Gaan aan met werk; bly nie in die bed nie.]
• Jy het 'n ketting aan jou been. [Word gestrem in jou handelinge.]
• 'n Leuen het maar 'n kort been. ['n Onwaarheid word gou ontdek.]
• Hy staan met een been in die graf. [Naby die einde van sy lewe; afgeleef.]
• Op een been kan 'n mens nie loop nie. [Verskoning vir 'n ekstra sopie drank.]
• Dis soos 'n blok aan die been. [Iets wat jou belemmer, wat vooruitgang strem.]
• Met die verkeerde been uit die bed klim. [Vroeg in die oggend al nukkerig wees.]
• Twee honde om een been, die derde loop daarmee heen. [As twee mense om een ding twis, kom dit dikwels in die besit van 'n ander persoon.]
Sinoniem:
• poot (veral by diere en objekte)
• gebeente