Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Kennisgewings » Netiket (Ettiket vir elektroniese kommunikasie)
Netiket [boodskap #120606] Vr, 08 Junie 2018 18:46
admin  is tans af-lyn  admin
Boodskappe: 46
Geregistreer: Mei 2018
Karma: 4
Volle Lid
Administrateur
Dit is nie altyd so maklik om duidelik en sonder misverstande op die Internet te kommunikeer nie. Gesprekke geskiet hoofsaaklik sonder gesigsuitdrukking en liggaamstaal. Die ontvanger het ook geen begrip van jou omstandighede en gemoedstoestand nie. Hier volg 'n paar riglyne om hierdie tekortkominge aan te spreek:

Wees duidelik:
Pos in die regte forum en maak seker dat die onderwerpreël (of titel) van jou posstuk die inhoud weerspieël.

Gebruik toepaslike taal:
As jy wonder of jy te emosioneel in 'n boodskap voorkom, moenie dadelik die boodskap stuur nie. Stoor dit eers en besluit later daaroor. Onthou: niemand kan jou bui raai of jou gesigsuitdrukking sien nie. Al waarop hulle jou boodskap beoordeel is die woorde wat jy gebruik en woorde kan die teenoorgestelde uitdruk van dit wat jy werklik voel.

Moenie heeltyd hoofletters gebruik nie:
Hoofletters beteken dat jy skree of gil! Gebruik bo- en onderkas en behoorlike leestekens, soos wat mens sou doen as jy 'n brief sou skryf en pos.

Wees kort en kragtig:
In vandag se gejaagde lewe het baie mense nie tyd om deur langdradige boodskappe te worstel nie. As jou boodskap kort en tot die punt is, sal meer mense dit wil lees.

Maak 'n goeie indruk:
Jou woorde en inhoud verteenwoordig jou. Proeflees en redigeer jou woorde en beelde voordat jy dit stuur.

Wees selektief ten opsigte van die inligting wat jy pos:
Inligting wat op die Internet verskyn is baie openbaar en kan deur enige persoon in die wêreld gesien word, ingeslote misdadigers, voornemende werkgewers en regerings.

Moenie varkpos stuur nie:
Varkpos ("spam") is die pos van ongevraagde boodskappe, dikwels advertensies, na 'n wye gehoor - 'n mens kan dit ook as elektroniese gemorspos ("junkmail") beskou. Vermy dit ten alle koste.

Moenie vlampos stuur of daarop reageer nie:
Moet nooit driftige boodskappe (mens noem dit vlampos of "flaming") stuur nie, selfs al word jy uitgelok. Onthou, dit is ook nie wys om op vlampos te reageer nie. Rapporteer eerder sulke boodskappe aan 'n moderator sodat die probleem aangespreek kan word.

Gehoorsaam wette en kopiereg:
Moenie ander se beelde, inhoud, ens. sonder toestemming reproduseer nie. Billike gebruik (kort aanhalings, asook werk wat ouer as 50 jaar is) is meestal wel toelaatbaar, maar gee erkenning indien jy 'n ander se werk by jou boodskap insluit.
Vorige onderwerp: Moderators
Volgende onderwerp: Twitter
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Mar 28 09:34:27 MGT 2024