Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Uit Beeld-forum: SA kan obsessie met ras net nie los ( Ferdi Greyling)
Uit Beeld-forum: SA kan obsessie met ras net nie los ( Ferdi Greyling) [boodskap #99883] Do, 28 Oktober 2004 22:07
bouer  is tans af-lyn  bouer
Boodskappe: 4803
Geregistreer: Desember 2003
Karma: 0
Senior Lid
Beeld-forum:
SA kan obsessie met ras net nie los

Suid-Afrika onder die ou bedeling was kleur-mal.

Daar was die geel gevaar en die rooi gevaar buitelands en die swart gevaar
en alle soorte skakerings van bruin gevare binnelands.

Miskien is dit omdat ons land so droog is dat ons so 'n obsessie met kleur
het.

Destyds was dit groot vermaak vir veral buitelanders.

Toe kom die interlude van 1994 waartydens nie-rassigheid die sleutelbegrip
geraak het en ons nie mense volgens kleur gekategoriseer en beoordeel het
nie.

Maar dit lyk asof daardie kort interlude verby is en Suid-Afrika weer sy
obsessie met kleur begin uitleef, net in 'n ietwat ander formaat - danksy
ons Grondwet daal dit nie tot volslae rassisme nie.

Dit het ek onlangs besef toe ek en my kinders oor die jongste
Springbok-rugbyspan begin praat het.

Dit het gelei tot dié vraag: wanneer is iemand bruin en wanneer is 'n bruin
mens swart?

Ons afleiding was dat dit eintlik alles met politiek te doen het.

Kortom, 'n mens kan sê dat dit in sekere kringe afhang van wanneer iemand
eerw. Allan Hendrickse ondersteun het.

As 'n bruin mens hom ten tyde van die driekamerparlement onder P.W. Botha
ondersteun het, is hy 'n "Kleurling" ('n soort bruin). As hy die eerwaarde
egter ná 1990 in sy ANC-fase ondersteun het, is hy swart.

In die dae van apartheid was daar natuurlik lagwekkende klassifikasies van
bruin mense - alles amptelik volgens wet.

Daar was gewone Kleurlinge, daar was Kaapse Kleurlinge, daar was Maleise
Kleurlinge en dan was daar "Other Coloured" - so asof die klassifiseerders
moedeloos geraak en tou opgegooi het (wat hulle natuurlik uiteindelik gedoen
het).

Vandag het ons nie-amptelik dieselfde soort ding.

Daar is swart mense en daar is "Africans".

Swart mense kan mense insluit wat nie "regtig" swart is nie - soos bruin
mense.

As hulle Hendrickse op die regte tyd ondersteun het en hulle steun sigbaar
die ANC, die PAC of Azapo , is hulle swart.

Maar onder die breë kategorie "swart" is daar ook "African".

Dit beteken swart mense wat aan een van die etniese swart stamme behoort,
soos Zoeloe, Xhosa of Tswana.

Daarom is die vleuel Breyton Paulse in die nie-amptelike kwotastelsel wat
(nie) rugby geld (nie) 'n swart speler, maar Gcobani Bobo is 'n swart speler
wat ook 'n "African" is.

Dit beteken natuurlik nie dat Breyton nie 'n Afrikaan is nie. Hy bly in
Afrika, is 'n Suid-Afrikaner en is dus geografies 'n Afrikaan.

Hy kan dus oor twee weke aan 'n Brit in Londen sê "I am an African", maar as
hy omdraai en met 'n bestuurslid van die span praat, kan hy dit nie sê nie,
want hy is nie 'n "African" in die span nie. Net in terme van vasteland en
gebondenheid aan sy geboorteplek is hy een.

Asof dit nie genoeg is nie, was daar onlangs voorstelle dat die term
"Kleurling" by "swart" gevoeg moet word wanneer dit by kwotas/transformasie
in rugby kom. Dan sal die Bok-span (nie-amptelik) swart 'n Kleurlingspelers
volgens kwotas (wat nie geld nie) moet hê. Dit alles omdat ons
nie-rassigheid najaag.

My kinders wou weet of wit mense ook swart kan wees.

Ons het lank gedink en voorbeelde rondgegooi en tot die gevolgtrekking gekom
dat wit mense nie swart kan wees nie. Hulle kan slegs 'n staat van nie-kleur
bereik.

As daar ooit 'n wit man was wat politiek swart kon wees, was dit seker dr.
Beyers Naudé en ek kan nie onthou dat hy ooit 'n swart Suid- Afrikaner
genoem is nie.

Dus sal mnr. Marthinus van Schalkwyk nooit swart kan raak nie, al sluit hy
tien keer by die ANC aan. Hy sal op die meeste sy titel as "wit leier" kan
verloor en bloot "leier" word. Dis natuurlik te onderskei van mnr. Eugene
Terre'Blanche wat in sy perdry-dae "Die Leier" genoem is.

Breedweg lyk dit dan of swart mense, bruin mense en Indiërs almal swart
kan wees - afhangende van wie hulle in watter stadiums in die politiek
ondersteun het. Maar net swart mense kan "Africans" wees, hoewel ons almal
Afrikane is.

Wit mense is dus ook Afrikane, maar kan nooit "Africans" wees nie en ook
nooit swart wees nie, maak nie saak of hulle in die tronk dood is in die
geveg teen apartheid nie (soos adv. Bram Fischer) terwyl Hendrickse met
Botha parlementêre voetjie-voetjie gespeel het.

Wat hierdie land nodig het, meer as enigiets anders, is dat ruimtewesens met
drie bene en twee koppe hier land.

Dan gaan ons almal agterkom óns lyk eintlik dieselfde.
Vorige onderwerp: Natalie du Toit
Volgende onderwerp: Re: Webtuistes - DuPlessis.jpg (1/1)
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Mei 29 11:57:29 MGT 2024