Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Wouter se Watergat deur Wouter Willemse (Hibberdene News)
Wouter se Watergat deur Wouter Willemse (Hibberdene News) [boodskap #74094] Do, 27 Februarie 2003 11:31
Tobie  is tans af-lyn  Tobie
Boodskappe: 581
Geregistreer: September 2000
Karma: 0
Senior Lid
Daar sit ou Mattewis Fourie van Hibberdene toe verlede week hier by die
watergat, laat die aand, na die soveelste dubbel Klippies en Coke, en staar
met 'n sielewroeging op sy gesig oor die see.
Hy sit daar totaal verslae met 'n brief in sy hand."Mattewis:, vra ek,
half bang ek versteur of hinder hom, "wat is dit?" Stilte. "Het die Sharks
verloor?" Stilte. Ek huiwer weer. "Het Hettie jou gelos?" Hy sê steeds niks
en ek kry die indruk hy sou beter gevoel het as dit maar die rede was. "Dood
in die familie?" Skielik stoot hy die brief oor die toonbank. "Lees dit" sê
hy.
Ek lees.

Liewe pa en ma,
Ons leierverkenner het gevra dat ons hier van die Voortrekkerkamp af aan
julle skryf, net ingeval julle die vloed op TV gesien het en bekommerd is
oor ons. Ons is ok. Net een van ons tente en twee slaapsakke het weggespoel.
Gelukkig het niemand verdrink nie, want ons was almal op die berg om na Jan
te soek toe dit gebeur het. Sê asseblief vir Jan se ma hy's ok. Hy kan nie
skryf nie, omdat sy arm in gips is. Ek het in een van daai
reddingshelikopters gery. Dit was lekker. Ons sou hom nooit in die donker
gekry het as dit nie vir die weerlig was nie. Verkenner Skroewie het kwaad
geword vir Piet omdat hy gaan rondloop het sonder om vir iemand te sê. Piet
sê hy het hom gesê, maar dit was seker tydens die vuur, so hy het hom seker
nie gehoor nie.
Het julle geweet as jy een van daai spuitblikke op die vuur gooi, dan
ontplof hy? Die nat hout wou nie brand nie, maar een van die tente en party
van ons klere het. Dawie gaan snaaks lyk tot sy hare weer uitgegroei het.
Ons kom Saterdag weer terug as Verkenner Skroewie die kar kan regmaak.
Die ongeluk was nie sy skuld nie. Die brieke was ok toe ons hier weg is.
Hy sê 'n mens moet verwag dat so 'n ou kar gereeld sal breek.
Dis seker hoekom hy nie versekering kan kry nie. Ons hou van die kar. Hy
gee nie om as dit vuil is binne nie, en partykeer laat hy ons op die dak of
voorop ry. Dit word warm binne-in met tien mense. Hy het ons in die sleepwa
laat ry totdat die polisie ons gestop en met hom gepraat het. Maar hy is 'n
goeie ou en drywer. Hy en Klasie is op die oomblik weg. Hy leer hom op die
bergpaaie bestuur, waar daar nie karre is nie, net groot vragmotors wat
boomstompe wegry.
Vanoggend het almal gaan swem, maar Verkenner Skroewie wou my en Jan nie
laat swem nie, want ek kan nie swem nie, en Jan se arm is in gips. Toe gee
hy vir ons di roeibootjie op die rivier. Dit was lekker. Party plekke is die
water so diep na die vloed, en daar is bome onder die water.
En Verkenner Skroewie is nie so kwaai oor lewensbaadjies soos daai ou
verlede jaar nie. Hy werk nou baie aan die kar so ons probeer hom nie veel
pla nie.
Raai wat? Ons het nou almal ons noodhulp-kentekens gekry. Toe Adriaan in
die water geduik het, het hy sy arm oopgesny, en Verkenner Skroewie het gesê
ons moet op hom oefen om die wond toe te werk. Ek en Herman het opgebring,
maar Verkenner Skroewie sê dis seker net vrot hoender wat ons gister geëet
het of iets. Hy sê hy het ook baie keer siek geword van vrot kos toe hy in
die tronk was. Ek is bly hy is nou uit, want hy sê hy het baie geleer terwyl
hy in die tronk was.
Wat is 'n pedofiel? Ek moet nou gaan. Ons moet nou dorp toe gaan om ons
briewe te pos. Moenie oor ons worry nie.
Ons is ok.Baai. Sakkie.

Dis toe dat ek vir my 'n trippel Klokkies skink en langs Mattewis gaan
sit en saam met hom oor die donker see tuur. My seun is die Jan wie se arm
in gips is.
---
Vorige onderwerp: Tot Later
Volgende onderwerp: Probeer dit
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Jun 01 15:14:02 MGT 2024