Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Rapport - Sigcau klap glo wag uit haar pad
Rapport - Sigcau klap glo wag uit haar pad [boodskap #67460] So, 13 Oktober 2002 07:30 na volgende boodskap
Oom Gert  is tans af-lyn  Oom Gert
Boodskappe: 38
Geregistreer: September 2002
Karma: 0
Volle Lid
MAAK VAN DIE EEN WAT JY WIL. GLOUDINA SAL SEKER DINK DIS OULIK.

Sigcau klap glo wag uit haar pad
GERHARD DE BRUIN

Die formidabele minister Stella Sigcau laat haar nie sommer keer nie. Toe 'n
veiligheidswag op die Durbanse Lughawe haar onlangs by 'n verbode uitgang
wou voorkeer, het sy hom glo 'n taai klap gegee.

Die wag het 'n klag van aanranding ingedien, maar is later blykbaar oorreed
om die klag terug te trek.

Die veiligheidswag, mnr. Johannes Mtolo, werk vir die veiligheidsmaatskappy
Fidelity Springbok Security Services (FSSS) op die Durbanse Lughawe. Hy het
Dinsdag 'n verklaring by die polisie afgelê oor die voorval op 1 Oktober toe
hy na bewering deur Sigcau, minister van openbare werke, geklap is.

Maar Woensdag het Mtolo die klag teen haar teruggetrek - glo onder druk van
veiligheidspersoneellede van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa).

Die beweerde onderonsie was nadat die minister voorverlede Dinsdag op vlug
543 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens van Johannesburg af op die Durbanse
Lughawe aangekom het. Toe sy in die binnelandse aankomssaal kom, het sy glo
'n familielid buite die saal gesien wat aangestap het na 'n vliegtuig van
British Airways op die laaiblad.

Sy wou glo die vrou gaan groet en het omgedraai. By die deur waar sy ingekom
het, het Mtolo haar voorgekeer. Luidens 'n verklaring deur Mtolo, waarvan 'n
afskrif aan Rapport gegee is, het sy hom uit die pad gestamp. Toe hy haar
aan die arm gryp om haar te keer, het sy hom na bewering geklap. Sy was toe
reeds buite die gebou.

'n Hewige woordewisseling het ontstaan. Die situasie is eers ontlont toe 'n
lid van British Airways en 'n werknemer van Acsa tussenbeide getree het.

Sigcau was glo woedend en het aan Mtolo gesê sy wil die volgende dag 'n
geskrewe verskoning "op haar tafel in Pretoria hê". So nie, sal sy die lewe
vir hom "uiters onaangenaam" maak.

Personeellede van Acsa het haar ná die voorval na die sitkamer vir baie
belangrike persone weggelei waar sy gekalmeer is. Daar is aan haar
verduidelik dat sy kragtens die veiligheidsmaatreëls op lughawens nie weer
na die laaigebied kan terugkeer as sy die gebou binnegegaan het nie.

Amptenare van Acsa se veiligheidsafdeling het Mtolo en sy toesighouer
Woensdagmiddag ontbied. Hy het kort daarna die klag teen haar teruggetrek.

Mnr. Colin Naidoo, woordvoerder van Acsa op die Durbanse Lughawe, het die
afgelope week ontken dat druk op Mtolo uitgeoefen is om die klag te laat
vaar.

"Ek weet niks van aantygings van intimidasie nie. Na my wete het hy dit uit
eie vrye wil gedoen."

Naidoo sê hy weet daar was 'n onderonsie tussen Sigcau en Mtolo. Hy het
later op die toneel aangekom en is nie bewus van 'n klap wat uitgedeel is
nie.

Sigcau het die afgelope week by monde van mnr. Lucky Muchalibane, haar
woordvoerder, die voorval bevestig. "Die minister is jammer daaroor en glo
dit was 'n ongelukkige misverstand."

Die minister beskou die voorval as opgelos en vergete en sy wil nou graag
voortgaan met haar lewe. Muchalibane sê Sigcau vereis ook nie meer 'n
geskrewe verskoning van Mtolo nie.

Mtolo kon nie vir kommentaar bereik word nie omdat hy volgens FSSS 'n kursus
bywoon.
Re: Rapport - Sigcau klap glo wag uit haar pad [boodskap #67550 is 'n antwoord op boodskap #67460] Wo, 16 Oktober 2002 01:20 Na vorige boodskapna volgende boodskap
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Oom Gert wrote:

> MAAK VAN DIE EEN WAT JY WIL. GLOUDINA SAL SEKER DINK DIS OULIK.
>
> Sigcau klap glo wag uit haar pad
> GERHARD DE BRUIN

Stella was duidelik verkeerd hier en moes
van beter geweet het. Dis jammer dat die
ou wat haar gaan verkla het, die klag
teruggetrek het.
Na 9/11 was daar baie soortgelyke
insidente hier in Noord-Amerika, waar bekende
mense aangeneem het dat hulle spesiale
behandeling sou kry net omdat hulle aanneem
dat almal weet wie hulle is.
Stella het uiteindelik self erken dat
sy verkeerd was. Dis soos ek die meisie
geken het wat ek in Standerd 9 Geskiedenis
en Afrikaans geleer het.

Gloudina
Re: Rapport - Sigcau klap glo wag uit haar pad [boodskap #67575 is 'n antwoord op boodskap #67550] Wo, 16 Oktober 2002 12:55 Na vorige boodskap
Oom Gert  is tans af-lyn  Oom Gert
Boodskappe: 38
Geregistreer: September 2002
Karma: 0
Volle Lid
Nou weet ek waar sy haar parmantigheid vandaan kry.

;o)

Groete

skryf in boodskap news:3DACBF9F.5020803@rogers.com...
>
> Oom Gert wrote:
>
>> MAAK VAN DIE EEN WAT JY WIL. GLOUDINA SAL SEKER DINK DIS OULIK.
>>
>> Sigcau klap glo wag uit haar pad
>> GERHARD DE BRUIN
>
> Stella was duidelik verkeerd hier en moes
> van beter geweet het. Dis jammer dat die
> ou wat haar gaan verkla het, die klag
> teruggetrek het.
> Na 9/11 was daar baie soortgelyke
> insidente hier in Noord-Amerika, waar bekende
> mense aangeneem het dat hulle spesiale
> behandeling sou kry net omdat hulle aanneem
> dat almal weet wie hulle is.
> Stella het uiteindelik self erken dat
> sy verkeerd was. Dis soos ek die meisie
> geken het wat ek in Standerd 9 Geskiedenis
> en Afrikaans geleer het.
>
> Gloudina
>
Vorige onderwerp: Insigte oor die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls
Volgende onderwerp: Dan Roodt
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Apr 29 05:32:37 MGT 2024