Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Die lewe is 'n ... classified ad (slegs vir volwassenes) deur Clinton V du Plessis
Die lewe is 'n ... classified ad (slegs vir volwassenes) deur Clinton V du Plessis [boodskap #66298] So, 15 September 2002 11:32
johanls  is tans af-lyn  johanls
Boodskappe: 197
Geregistreer: April 2002
Karma: 0
Senior Lid
Lees vroeër die stuk deur Clinton V du Plessis.

Ek het 'n teorie.

Dit is dat daar 'n verband bestaan tussen die vlak van verdraagsaamheid in
'n gemeenskap en die inhoud van die geklassifiseerde advertensies (veral dié
onder volwasse vermaak) van die koerante wat binne 'n spesifieke gemeenskap
gelees word.

In die Oos-Kaapse uitgawe van Die Burger soek jy jou lus skoon weg na 'n
stukkie Afrikaanse plesier - dié bestaan nie. Die enigste mate van
dekadensie word jou veroorloof as jy die groot Engelse dagblad daar lees. So
nou en dan vinger jy 'n verdwaalde "Wilde Willemien, op soek na 'n mielie om
te kielie," raak.

Die Wes-Kaapse Die Burger sien daar totaal anders uit, terwyl Beeld
natuurlik tol-los die koek vat! Dáár is die Afrikaanses heel rondborstig
onbeskaamd baldadig plesierig. Onlangs staan daar in dié einste koerant die
volgende triltergers, strategies geplaas in die "vroetelseksie" van die
snuffelgids.

Ry my.
Rev my.
Liefkoos
My.
Sy het kurwes
In al die regte plekke.

Pragtige raamwerk
Lieflike voorkoms.

Amerikaanse skoonheid
Laat hart vinniger klop.

Vuurwarm van voor
Oulik van agter.

Sien my
Voel my
Liefkoos my.

Lees jy egter die fynskrif, kom jy agter dit is 'n vernuftige advertensie
wat die deugde van 'n nuwe voertuig besing!

Dit verg nogal 'n bietjie flink-dinkwerk om hier die beste been voor te sit.
Ook boet jy objektiwiteit in as jy jouself moet bemark (seker maar soos 'n
digter wat sy eie werk uitgee), maar aan bekkigheid skiet die klomp geen
tekort nie.

Sonder om doekies om te draai beken sy:

Ek laaik .. kwaai.
Of sommer net stuitig, tong in die lies:

Madelein,
Vars van die see, kom proe my.
Ook een of twee het 'n voorliefde vir die poësie (hoe dan anders); geen
grootse poësie, met diepgang nie, maar (dr Etienne Bloemhof, hier's latente
talent!):

Boude is nat,
boude is glad,
boude is gemaak om aan te vat.
Moeg vir jou vrou,
sy wil nie nou,
kom na my,
hier sal jy kry.

'n Ouma nooi stuitig:

Lus jy 'n plooi om te looi?
Nog verder, knaterkordaat, op die man af:

Hit and run. R100.
Of met 'n boesem vol vertroue:

"Damn." Ek is goed.
Om te wys die Nuwe Suid-Afrika word ten volle "embrace":

Baie pret en kameelstyl. Witbank.
Alle rasse.
Plein wydsbeen-wulps:

Stoute meisie soek haar vleisie.
'n Bietjie "small comfort" terwyl die rand daagliks griekse styl deur die
spekulante die loef afgesteek word:

Betaal 1 keer, doen dit 2 keer.
Vroue behoort voortaan heel bekommerd te wees as hul mans die 4x4 opsaal of
die geweer laai, want daar is ook:

Oulike reisende poppies vir jag(s)naweke.
Ek wonder hoe dié een werk:

Langbome in Rustenburg
benodig nog dames. Besigste
tydperk Nov tot Des. R1 000+ per dag.
'n Lelike anglisistiese:

Volhuis. 21 jaar.
Vir dié wat 'n kuiertjie soek met 'n kulturele kleur of geur:

Ons doen dit met lyf, hande en mond -
die ou Boeremanier.
Lekker pramantig:

Pamela Anderson se "boob twin"
Tog lyk dit asof die Afrikaanses oor die algemeen nie so kooi-katools is
soos hul Engelse eweknieë nie. In die Star is daar (met apologie aan Philip
de Vos) veel meer "woester aspoesters".

Ewe woordspuls nooi ene:

Come see my cunning stunt.
'n Oudonderwyseres (prooi van rasionalisasie?) stoot haarself so op die
voorgrond:

Fab 49, ex school teacher, by
appointment only.
Al wat hulle nog hier moet adverteer is 'n Elna, of 'n Singer, of 'n Empisal
of 'n Bernina .

Ek het nog 'n teorie.

Dit is dat enige vrou, in 'n situasie desperaat genoeg, met 'n monetêre
vergoeding ruim genoeg, dieselfde sal doen as dié dames.

Die donker kruip tot teen die ruite en dit begin saggies druppel op die dak.
Ek gooi die koerante in die snippermandjie - vanaf die cd-speler spoel die
klanke ryk, diep en sielvol die koue kamer vol:

Want die stad se hart het ys geword
En niks wat hy gee, kan ons meer fassineer.

(Uit: Die ander kant, Johannes Kerkorrel)
Vorige onderwerp: 'n vrag ?
Volgende onderwerp: Logan skuldig
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Apr 19 08:47:50 MGT 2024