Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Lekker » TV, flieks & vermaak » TV, seks, geweld.
TV, seks, geweld. [boodskap #6257] Ma, 15 April 1996 00:00
Frank Snyckers  is tans af-lyn  Frank Snyckers
Boodskappe: 68
Geregistreer: Maart 1996
Karma: 0
Volle Lid
Na aanleiding van Bernhard, Leendert en Hendrik se boodskappe (hoekom het
ek nie die "stiekem"-boodskap ontvang nie?):

TELEVISIE:

Telivisie skep eiesoortige probleme wat inhoud-regulasie betref.
Eerstens: solank die uitsaai-spektrum minder kan akkommodeer as wat
kan en wil uitsaai, sal staatsregulering deur lisensievoorwaardes
regverdigbaar bly. Die lisensie om uit te saai behels dan die voorreg om
'n openbare gerief te gebruik, en die gemeenskap het seggenskap deur
demokratiese regulasie en belasting. Dit geld natuurlik a fortiori vir
uitsaaistasies wat staatsondersteuning geniet. Selfs kabel-stasies moet
byvoorbeeld die munisipale eiendom gebruik, of paaie moet oopgekap word
om die kabels te l^e. Lisensies is dan weens skaarsheid regverdigbaar, en
met lisensies kom regulasie van inhoud.

Tweedens: Die moontlikheid van ongewensde blootstelling aan materiaal wat
aanstoot gee, is vir 'n openbare uitsaaiwese (privaat of nie) baie groter.
Natuurlik kan mens die tv-stel dadelik afskakel, maar sonder
waarskuwingspligte is dit dan ook nie moontlik nie. Dan kom die
jeug-probleem by. Alhoewel dit vryheidsprobleme skep vir die staat om te
besluit wat kinders mag sien, eerder as om dit aan die ouers oor te laat,
is daar twee feite wat moeilik weggepraat word:

1. Meeste ouers sou graag die staat se ondersteuning hê om hulle kinders
van onwenslike materiaal weg te hou.
2. Menige kinders se ouers stel net nie belang daarin om hulle kinders
van skadelike ervarings weg te hou nie, wat nog te sê van blootstelling
aan seksuele kykstof.

Ek besef dat hierdie feite my teenkanting teen internet-sensuur aantas,
maar ek voel dat die internet nie dieselfde "openbare" karakter besit as
die TV nie.

SEKS EN GEWELD

Hendrik verstaan nie die beheptheid met seks relatief tot geweld nie. Dis
'n ingewikkelde saak, maar ek sal 'n paar gedagtes daaromtrent opper:

Die seksbehepteid en relatiewe toleransie wat geweld betref, is 'n
fenomeen wat Suid-Afrika byvoorbeeld van Brittanje skei. In die donkerste
dae van ons sensuur-regime, is rolprente in Suid-Afrika as "All Ages"
vrygestel, of met 2-10 ouderdomsbeperkings, wat in Brittanje verban,
geknip, of met 16 of 18 beperkings weens geweld gereguleer is. Op daardie
stadium het 'n naakte bors 'n 2-18 beperking in ons rolprentteaters
behels, en meer as een bors vir meer as 'n flitsie, sommer 'n 2-21
beperking.

Brittanje (teenoor Amerika en Kanada) se definisie van "obscenity", sluit
byvoorbeeld ook geweld, of selfs dwelmhandel, in: "An article shall be
deemed to be obscene if its effect... is, if taken as a whole, such as to
tend to deprave and corrupt persons who are likely... to read, see or
hear... it". "Kundiges" mag dan getuienis lewer oor die kuns-meriete van
die item om dit as "in die openbare belang" te verskoon.

Die wet maak ook voorsiening vir die sensuur van video's wat die volgende
uitbeeld: "mutilation or torture of, or other acts of gross violence
towards, humans or animals", mits dit "to any significant extent" die
geval is.

SEKS EN KINDERS

Hoe dit ookal sy, die wêreld het nog altyd gemeen dat die
uitbeelding van eksplisiete seks 'n kind meer ernstige psigiese skade
aandoen as gruwelike geweld, middelmatige seks meer as middelmatige
geweld, en seks as konsep meer as geweld as konsep. Dit word natuurlik
ook betwis, maar ek meen daar steek iets in. 'n Kind kan homself die aakligste
geweldstonele voorstel, sonder om dit uitgebeeld te siene te kry. Maar
blootstelling, op 'n onsensitiewe manier, aan die konsep van seks, of dan
aan eksplisiete sekstonele, tref die kinderpsige soos 'n bom.

Seks behels sulke eienaardige sielkundige taboes in die samelewing -
skaamdele, ekskresie, ensovoorts - dat die ontwikkeling van 'n kind se
konsep van seksualitiet 'n ontsettend sensitiewe probleem is. Miskien is
die feit dat 'n wanontwikkeling in hierdie opsig 'n gruwelike onreg is om
'n kind aan te doen, verantwoordelik vir die ekstra sensitiwiteit t.o.v.
seks.

Groete, Frank
Vorige onderwerp: E-Posbom aan SAUK
Volgende onderwerp: Films gemaak met samewerking van die SAVM
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 13:10:46 MGT 2024