Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Jeremia" deur ELMARIE OTTO
"Jeremia" deur ELMARIE OTTO [boodskap #54166] Vr, 30 November 2001 02:41
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @home.com

Jeremia
Elmarie Otto

I didn't read the Bible, I dreamt it.
- Chagall

Jou portret het behoue gebly
toe Jerusalem in 586 vC vernietig is

in die kunssale van die wêreld
vertoef jy nou kragtig met sterk
breë skouers in Boedapest
oud en moeg gestry in diepe bepeinsing
jou kop in jou hand rus jy in Rembrandt
se fluweel skadu's: 'n hardegat profeet
in 'n blou barokse kleed en 'n blou bui
die weerbarstige trek om die mond is versluier nou
God se hand op jou lippe skaars voelbaar nog
Sy woorde in jou mond 'n mandjie voorvye op my stoep
'n amandeltak 'n linnegordel en 'n stuk grond
om low-cost huise op te bou

net soos jou kollega Jona
verkies jy die groen komkommerskadu
weier volstrek om jou die argwaan van bure
vriende familie volk en konings op die hals te haal

Profeet van Protes
verskeur tussen volk en God
hoe brand dit nie in jou hart
as jy jou woorde sluk

Maar God het jou 'n vestingstad 'n brons muur
'n ysterpilaar gemaak die kleipot kon jy breek
met witwarm woorde oor die gloeiende wind
wat oor die heuweltoppe kom:

die volk sal wildeals kry om te kou
gifwater om te drink
daar sal niemand wees om te treur
oor die kinders wat sterf niemand
om hulle te begrawe
soos hopies mis sal hulle op die grond bly lê
niks meer as prooi vir voëls en wilde diere

die gal van die oordeel laat jou braak
teen die Een wat aanhou om woorde
vir jou in te gee…waarom is daar geen
einde aan my pyn…

God was te sterk vir jou
sien ek nou waar jy roerloos
ineengedoke langs die koperbak
en die tosselkleed bly broei
maar vol genade was Hy ook

Hy het jou soos 'n boom
langs die waterstroom geplant
in jou groot kop die wysheid gelê
die bedrieglike taal van die hart leer verstaan
en jou toe in olieverf geraam

as die galery stil word soos nou
lig jy jou sware kop 'n hemelse lig
soos van die eerste son val stralend
op jou verweerde Hollandse gelaat

in jou oë sien ek
jy wat vir Baruk in moes roep
om die boekrol met ink te voltooi
jy weet hoe donners moeilik dit is om te skryf
Vorige onderwerp: "'n Bang Gedig" deur CHARL DURAND
Volgende onderwerp: " 10 Desember 1999" deur TOAST COETZER
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mei 03 15:39:28 MGT 2024