Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » essay deur Jeanne Goosen
essay deur Jeanne Goosen [boodskap #51889] Wo, 17 Oktober 2001 23:37
Danielle  is tans af-lyn  Danielle
Boodskappe: 157
Geregistreer: Desember 2000
Karma: 0
Senior Lid
http://www.let.uu.nl/nederlands/nlren/literatuurgeschiedenis ZuidAfrika/jeanne.html

Dis 'n slegte gewoonte om altyd oor kultuur te praat
Erfgoed! Watter morbiede onderwerp!

Dit omvat breedweg feitlik alles — van wat in die lyn van besittings
geërf word tot omgewing wat geskiedenis, opvoeding, kultuur, ens
insluit tot by die karakteristieke eienskappe wat geneties oorgeërf
word. Al wat 'n mens met sekerheid kan sê is dat niemand dit kan
ontsnap nie.

Die onderwerp bevat dus al die elemente van 'n tragi-komedie. Gun my
dus 'n mate van liriese sinisme. In my boekrak is meer as 'n 100
moordverhale. Die motief vir minstens 'n helfte van die moorde was
erfgoed. Geld, besittings, eiendom. In die geskiedenis self ken die
haat, geweld, venyn en jaloesie geen perke wanneer stoflike erfgoed in
die gedrang is nie. Besittings is dikwels 'n statement van mag — mag
om beheer uit te oefen oor ander, mag om tropleierskap van 'n groep te
bekom en mag om te manupileer. Maar, aan die ander kant, mag laat my
so onverskillig soos sommige familielede se voorhuise met hulle rye en
rye portrette van die voorgeslagte; wrede Afrikaners, mense wat van
die vervelige dinge van die lewe gehou het. In hulle onderskeie
woonbuurte was hulle die kerk se beste vriende. Hulle teorieë is dit
wat deur dom ordentlikes bewonder word: God sit op die dak en Christus
vermeerder brood en sardiens. Feitekennis bedreig, want dit kon mag
laat tuimel.

Kyk na die portrette: Daardie 'n ouma! 'n Stuk sleg opgestopte wors
met 'n hamburger onder haar ken vir 'n borsspeld; 'n home perm, 'n
stel ontwerperstande en 'n verloofring. Op sewentien was die ou girl
slaggereed om van die lewe 'n moerse sukses te maak.

Hierdie portrette van voorgeslagte met hulle oë wat jou oral volg en
tot in aller ewigheid, maak 'n mens bang vir vryheid. Maar oor
erfgoed, dit wat regstreeks of onregstreeks gesluk moet word, kan ek
net uit eie ervaring praat, my eie waarneming, my (on)sekerheid en
vermoedens.

Ek kom byvoorbeeld nie oor die weg met mense wat 'n gulsigheid
openbaar oor erfgoed nie, hulle eie óf die wat hulle van ander
afgebedel het. Ek ervaar hulle in die algemeen as 'n siek spesie wat
opgevreet is deur komplekse en gevoelens van minderwaardigheid. Daar
is 'n beheptheid met die verlede, maar verdag omdat ek dikwels
agtergekom het die sogenaamde liefde vir die erfgoed hoofsaaklik gaan
om die uiteindelike geldwaarde daarvan. In die algemeen is dié spesie
verslaaf aan begrafnisse, familie-uitlê en 'n alles oorheersende drang
om die dood lewend te hou. Sluit dit dalk aan by erotiek? Georges
Bataille sou kon sê.

Maar, wat het die sterkste invloed op 'n mens se lewe? Oorerwing of
omgewing? Dit is die miljoendollarvraag waarmee elke tweede
salonfilosoof sy tyd abstrak verdryf. Omgewing eis die onmoontlike.
Reeds in die wieg vind die konfrontasie plaas. Daar is voorafbeplande
riglyne. Dit is 'n erfdeel en heet opvoeding. Dit is gebaseer op jou
ouers se goeie bedoelings. Hulle meen hulle het alle dinge ondersoek
en die goeie behou. Wat hulle besluit die “goeie” is, word reeds vir
jou as suigeling met 'n lepel gevoer. Dit word ook dissipline genoem.
Hierdie dosisse goeie bedoelings moet dien as 'n fondament waarop 'n
toekoms uiteindelik gebou moet word. Alles is vooraf besluit, die
opvoeding tuis en ook dié van formele instansies later. Wat jy hier
erf, moet van wieg tot graf duur. Is jy wederstrewig, is daar altyd
die tien gebooie, God se oordeel, onterwing en nog 'n klomp giftige
vreesaanjaende dreigemente en jazz.

Die toets wat geslaag moet word, is die aanvaarding en aanhang van die
Freudiaanse en Calvinistiese eksegese. Tussenin is daar eksamenlokale:
Leë akademiese formules wat min of niks bydra tot die eksistensiële
nood waarin die mens hom bevind nie. En uiteindelik word die doel
bereik deurdat jy voldoende gesosialiseer is, wat beteken jy kan nou
volwaardig en saamklonterig voortwoeker in 'n gemeenskap. En hoera as
jy dit (kan) maak.

Kultuur kom kitsgereed,'n erfporsie wat meer as enigiets anders bloed
oor die planeet laat vloei het. Dit is 'n koue, blink parade van
woorde met primitiewe en emotiewe magte. Op sy beste kan dit vergelyk
word met 'n swak afgietsel van 'n stuk estetika wat ten alle koste
moet bly voortleef — afarms en vrot neus ten spyt.

Die gekerm oor kultuur en om te behoort hou nooit op nie, ook nie die
nimmereindigende familiesagas wat gereeld deur skrywers geplunder word
nie. Kultuur, nes Christendom, bied seker op die ou einde beskerming
en troos, maar eers nadat dit daardie mense vernietig het.

Kultuur bewapen nie en dit is 'n slegte gewoonte om altyd oor kultuur
te praat. Dit is soos om spys te soek in 'n ou rommelsak vol
moralismes gebaseer op geloftes van die verlede. Dit is aanvaarde
fiksie soos geskiedenis dit ook is. Jy erf dit of jy dit nou wil hê of
nie. Jou blote bestaan maak jou 'n verteenwoordiger van dit waaraan
jou groep vasklou. Dit bring jou velkleur, die taal wat jy praat,
gedrag en alles wat jy of ander dink jy is of nie is nie in gedrang.
Jy moet byvoorbeeld volkome Afrikaner wees of ondergaan. Ter wille van
oorlewing moet jy ook glo jy is daardie ding wat jy eintlik nie is
nie.

Eksistensie is konflik. Vandag se oorloë en rewolusies het 'n duisend
jaar gelede begin en oor nog 'n duisend jaar sal dit bes moontlik nog
aan die gang wees. Die begin het biljoene jare gelede gebeur. Alles
het verander, alles het dieselfde gebly. Plato regeer steeds. Hy stuur
nog op die wêreld af. Jy erf 'n pituêre siel met 'n bol kak vir 'n
derde oog. Die elektroniese brein met sy morele lugleegte spoeg dag na
dag dieselfde boodskap uit: Pas aan of sak uit. Die wêreld verklein.
Dit is 'n universiële hap, die gonswoord is globalisering. Lewe (én
dood) is gereduseer tot 'n advertensie. Die Regop Mens se waarde word
ekonomies bereken. Ook vrede begin op 'n suksesvolle en beklinkte
saketransaksie lyk. Die inligting bombardeer. Inligting is common,
kennis raar. Lewe maak die waarheid onmoontlik. En daar was nooit
genoeg tyd en energie om elke dag te ontleer en om die ou denke te
verban nie. 'n Mens is nie die ding wat jy doen nie.

Die enigste erfenis wat hoegenaamd vir die menslike dilemma waarde kan
hê, is dit wat in die gene ingeskryf is. Die veld is egter nog nie
genoegsaam ontgin nie. 'n Mens weet (nog) nie hoe om dit te benut nie;
waarop die disparate brein gevoed moet word sodat dit tot nut kan wees
nie. Die ontsyfering van 3,1 biljoen biochemiese letters van die
menslike DNS bring mee dat 97 persent van die mens se gene egter nou
gekaart is. Alle belangrike eksistensiële vrae lei na biologie. Met
nuwe kennis en die moontlikhede wat dit skep wat wag op ontginning,
word die ou note dalk nou oplaas vals en kan 'n nuwe wysie ontstaan.
Dogma en wetenskap kan een word: Bestemming kom nie van bo af nie,
maar van die sub-menslike agente van kliere, genes, atome en golwe van
waarskynlikheid. Slegs feitekennis kan intellektuele hunkering stil.
Dit suiwer die siel en neem weg uit 'n wêreld van sinne en korrupsie.
Die matematisering van die menslike ervaring verryk. Die sedelesse en
gelowe wat op ons afgedwing is, is organies verstrooi in die klein
hoekies van die brein. In die reële toestand het dit geen bestaansreg
nie. Werklike realiteit behels matematies berekende bewegings en
meganiese beheer.

Dalk is die DNS-ketting van erflikheid 'n ander realiteit deurdat dit
in die chromosone in volmaakte isolasie in die liggaam leef en
terselfdertyd geskei is van die liggaam. Hulle is immers onsterflike
molekulêre strukture beskerm teen lewe en onaangeraak deur die
elementêre wette van fisika.

Dalk is die kreatiewe daad ook 'n ander realiteit. Die res sou
propaganda kon wees. Dalk behoort verbeelding ook tot 'n ander
realiteit, maar dit is gevaarlik deurdat dit soms te groot is. Dit
vernietig egter die armoede van die dag tot dag bestaan. Daar is soms
'n flits van 'n verlore Utopia in die pre-verbale staat.

Skeppende anargie? Miskien kan elkeen dalk uiteindelik in die toekoms
onbelemmerd by sy eie erf-eiendom, dws sy gene uitkom wanneer dié eers
ontsyfer is. Miskien kan irrasionaliteit en abstraksies hulle uit die
evolusionêre cul de sac vry wring sodat Homo sapiens tot herstel kan
herstel. Dit is soveel genadiger. Dié erfgoed moet werklikheid word.
Sluk dit. Of verwerp dit. Miskien is alles propaganda. Isaac Balshevis
Singer sê in elk geval as realiteit subjektief is, kan 'n mens seker
vir jou die realiteit kies wat jou die beste pas.

Have fun.
Vorige onderwerp: "Sonneblom" deur JEANNE GOOSEN
Volgende onderwerp: "simptoom" deur JEANNE GOOSEN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 20:20:09 MGT 2024