Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Buiteslaap" deur GEORGE WEIDEMAN
"Buiteslaap" deur GEORGE WEIDEMAN [boodskap #50730] Di, 25 September 2001 17:08
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @home.com

BUITESLAAP
George Weideman

Somers kon ons buite slaap: wit
hopies wasgoed ál om die huis geskik.
Dan het ons lê en kyk hoe glad ons skip
- dié ou skedonk genaamd aarde -
deur 'n see van sterre en donkerte glip.

Ons kon soveel wys word uit die lug:
die jagter en sy hond, die Suiderkruis,
boogskutter en bok, die hele sodiak.
Die naaste ster was toe nog ver,
die eerste Spoetnik 'n verdoolde Kosak.

‘n Verskietende ster is 'n vonk verdwaal
uit die gode se smeltkroes;
miskien die melkweg se agteros;
of dalk, sou oupa knipoog, het daar
nou net 'n siel uit die vagevuur gedros.

En iewers, hoog en diep daarbo, in die engelebak
‘n hemeling of twee wat hul aan óns vergaap:
bondels in die maanlig op die bleik;
skerp afgeteken teen die kolesak
die blou en bruin skip van ons skimmeryk.

So sou ek wegdut en wakker word
en my tot ligword verwonder oor
ons kantelende reis.
In die verte speel 'n donkie doedelsak.
In die verte speel amazing grace.
Vorige onderwerp: "Pella lê 'n kruistog ver..." deur GEORGE WEIDEMAN
Volgende onderwerp: "Plaas-ensemble" deur GEORGE WEIDEMAN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: So Apr 28 15:00:35 MGT 2024