Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Pella lê 'n kruistog ver..." deur GEORGE WEIDEMAN
"Pella lê 'n kruistog ver..." deur GEORGE WEIDEMAN [boodskap #50657] Ma, 24 September 2001 16:33
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @home.com

Pella lê 'n kruistog ver (‘n voorlopige
rekonstruksie van 'n denkbeeldige gesprek
tussen Pella se eerste Rooms-Katolieke
sendeling en sy reisgids, anno 1875)
EX AFRICA SEMPER ALIQUID NOVI

deur George Weideman

u moenie kla oor die hitte nie, Vader Gaudeul,
dis nog nie naastenby die somer nie
en nou al lê die vuurklip en smeul
hier moet u maar die sagte groen van Lyons
uit die gedagtes weer
hier is die enigste groen perdalks die soom
van die verbeeldingstroom
varswater sal u, as balling hier,
uit die vate van die geheue moet tap
of wag tot eendag as daar na die reën
syferwater uit 'n oog opwel

hier sal jy die sin van jou roeping leer ken
tot in die oerbetekenis: geofferde, oblatus
geoffer aan die son van Afrika geoffer
aan die smeuling van die amper-woestyn
(kan die brandstapel feller wees
as Pella in Desember? sou die Hindoes
dit warmer aan die sole hê?) geoffer
aan die slu klein slangogies
listig soos die xnabbo self
geoffer aan khoikhoinse spraakverwarring
ja - te veel rooiwyn; nee - te veel soetwyn
maar dié maak jou jou vergeet vergeet!
geoffer aan die dors land
wat sobyso net brakwater ken
(hier sal jy dalk moet wolfsmelk drink!)
ook jy sal die brak smaak se nabitter proe
jy vra dat ek moet vertel, van Pella -
hier staan alles bloot, oblatus:
winterstyd is son en wind weer kop-in-een-mis
as die veld julienagte oopgespêr en wyd lê en wit
en alles blootgewaai word
deur suidewind en oostewind
en wit vuursteen en bruin graniet
uiteindelik blus;
hier sal jy ook moet vure slaan
en blare en barste balsem gee
ysblomme van die oë smelt...

Afrika is wyd en groot
fonteine min - ons sal u leer gorra maak
kleimisvloer smeer witgatwortel maal
daardie plante daar? word “halfmense”
genoem hier langs die rivier is baie
hoe goed kan u skiet? hiers nog tiers
in die berge en boesmans hel! die boesmans
en moenie Pella se skepsels vergeet nie....

o u weet wat skepsels is? nou ja die soort
onthou maar: vir 'n geweer
is hulle skytbang amper soos vir die bomeesterslang
en natuurlik die basilisk

nee, u moenie sug oor die hitte nie, Vader Gaudeul,
hierdie is maar ons voorland, die Voor-Boesmanland
ons moet die hinterland nog in
voor die son so menshoog staan
moet ons
die Here weet
vir Vagevuurskloof nog deur.
Vorige onderwerp: "Ek is 'n volstruis" deur MATTHEWS PHOSA
Volgende onderwerp: "Buiteslaap" deur GEORGE WEIDEMAN
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 19:27:34 MGT 2024