Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » Die wysheid van die wurms
Die wysheid van die wurms [boodskap #19173] Vr, 13 November 1998 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
Volgens al die weerkundiges op die weerkanale en
ook die Farmer's Almanack sou die winter hierdie
jaar vroeg opdaag en laat bly. Volgens die weerkundiges
sou dit die gevolg wees van die invloed van La Nina.
Maar wanneer ons in die hysbakke die weer bespreek
(iets wat vir die deursnee Kanadees 'n heilige plig is),
dan is die algemene wysheid dat dit nie 'n baie koue
of lang winter hierdie jaar hier by ons in die oostelike
deel van Ontario gaan wees nie. Hoekom nie? Omdat
die "bye" (nie heuningbye nie, maar "hornets") se neste
baie na aan die grond is. Die wurms, waar die mense
in hulle tuine spit om die bolplante in te sit vir volgende
lente, is blykbaar ook baie na aan die oppervlakte.
Sover, moet ek sê, blyk dit of die wurms en die bye
nogal iets weet wat die weerkundiges nie weet nie. Ons
het nog nie een sneeuvlokkie hier in Ottawa gesien nie.
Nou wil ek weet: hoe op aarde weet 'n perdeby in die
somer hoe hoog die sneeu gaan wees?( Iets wat vir haar
belangrik is, want sy moet haar nageslag hoog genoeg
plaas dat dit nie in die sneeu en nat tot niet gaan nie.)
Hoe weet 'n wurm hoe koud die winter gaan wees,
dus hoe diep in die aarde in dit gaan vries?
Dit is wel 'n swaar winter veral in die weste van die
Noord-Amerikaanse vasteland. Dit sneeu al vir meer as
'n maand in die Rockies en omgewing, en sommer baie
ver suid ook. Verlede week was daar sneeustorms wat
die Midde-weste vir 'n dag of wat lamgelê het. Maar
hier by ons wil dit net nie soos winter lyk nie.
Ek het al in ander dele van Kanada agtergekom dat
die man in die straat 'n ander soort weerkunde navolg
as wat 'n mens op televisie sien. Hulle weet hoe die
temperatuur gaan uitdraai deur na die patroon van die
wolke te kyk. Of hulle bestudeer die manier waarop die
wind waai en uit watter rigting hy waai. Hierdie wysheid
het hulle seker geleer van geslagte se oorlewerings en baie
daarvan was heelwaarskynlik algemene kennis vir die
verskillende inheemse stamme wat hier gebly het voordat
die mense uit Europa opgedaag het. (Die mense uit Europa
is geneig om dinge oor die weer te glo wat in Engeland van
toepassing is, maar nie hier nie. Soos "if winter comes in
like a lion it will go out like a lamb." En "sun at seven,
rain at eleven" en omgekeerd.)
Waar ek in Suid-Afrika grootgeword het, dink ek nie
daar was so 'n kompulsie om te wil weet of dit 'n kort of
'n lang winter gaan wees nie. Ek weet dat my pa eenkeer
gesê het dat in sy leeftyd die tydstip wanneer die druiwe
ryp is om geoes te word vir die maak van rosyntjies
sowat twee weke later verskuif het. En ons kon ook aan
die waai van die westewind en die noordewind weet
watter soort weer ons in die volgende paar dae kon verwag,
veral in die somer. Maar ek dink nie ek het ooit my pa hoor
voorspel dat dit daardie spesifieke jaar 'n lang of kort winter
gaan wees nie.

Gloudina Bouwer
Vorige onderwerp: Liewe Hennerik
Volgende onderwerp: Rooibostee in Virginia
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Wo Jun 26 07:14:34 MGT 2024